h/v Buitenkant en Commercial Str
Kaapstad
8001
SUID AFRIKA

E-Pos VonkposE-Pos / Vonkpos

Menu
Tuisblad
Wie is Ons?
Wat Ons Glo
Geskiedenis
Foto Album
Ons Leraar
Gemeente Leiers
Naweek Pos
Aksie Uitreik
Bybelleesrooster
Preke
YouTube Kanaal
Bybelskool
Spreekkamer
Besoekers Register
Sitemap

Carin Olwagen
 
 
Administration
Site Administrators Only!

Bybelskool (Besigtig)

 
Datum:
2015-03-22
Outeur:
Dr. Chris Saayman
Titel: GODSDIENSTE VAN DIE WERELD: Boeddisme, Islam, ISIS, Jehowas, Nuwe Apostoliese Kerk, Rooms Katolieke K

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015
Godsdienste & Kultusse No 1: Islam


Lees: Romeine 3: 20-24

1. Die Islam (beteken: onderworpe) is ’n ná-christelike godsdiens. Dit het in die 7e eeu n.C. ontstaan tydens die lewe van Mohammed. Deur die eeue het die kerk relatief min sending-aandag aan die Islam gegee. Intussen het die Islam só gegroei dat elke 7de mens op aarde ’n Moslem is. Veral die gebeure in New York op “11 September” en die huidige aktiwiteite van ISIS, het die wêreld se aandag op die Islam gefokus en veral op die element van aggressie in hierdie godsdiens. Dit het by baie mense vrees jeens Moslems ontketen. Dit kan sendingwerk nog meer knielhalter.

2. Islam is ’n monoteïstiese godsdiens: Daar is slegs een God. Sy naam is ALLAH – die Arabiese woord wat “god” beteken. Dit is dieselfde woord as die Hebreeuse woord wat in die OT gebruik word. Dit laat by baie mense die vraag: Aanbid die Moslems en Christene dan dieselfde God? Is dit nie maar net twee verskillende maniere/weë om dieselfde God te dien nie? Die antwoord is ondubbelsinnig: Nee! Die God van die Bybel het die gelowige lief en die gelowige ken Hom persoonlik. Hy knoop die mens aan Homself sonder menslike meriete of verdienste. Allah is ’n koue, veraf god wat gehoorsame onderworpenheid eis of anders .. Hy eis van die mens goeie werke en verdienste.

3. ’n Mens verstaan dit beter deur te kyk na die ontstaan van die Islam. Ná die uitstorting van die Heilige Gees is die Evangelie in verskillende wêrelddele verkondig, maar die Arabiese skiereiland het onaangeraak gebly. Hier het die afgodery geseëvier en mense het talle gode aanbid. Die stad Mekka was die sentrum van die heidendom en ’n reuse meteoriet – genaamd die Ka’aba – was ’n godsdienstige heiligdom. Mohammed is in ongeveer 570n.C. gebore. Hy het met ’n ryk vrou getrou en het aansien geniet en baie gereis. Hy was lief vir mediteer. Dit was gedurende só ’n meditasie-sessie wat – so het hy beweer – die engel Gabriël aan hom verskyn het en hom geroep het om ’n profeet vir “Allah” te wees. Hy was nou oortuig dat daar slegs één God kan wees en dat die veelgodery in Arabië verkeerd was. Met Gabriël se hulp het hy die Koran (beteken: resiteer) geskryf. Met die skryf hiervan het hy gedeeltes van die Bybel gebruik asook allerlei buite-bybelse geskrifte. Hy was oortuig dat die Koran die NT vervul het en dat hý die laaste profeet was ná Jesus. Jesus was slegs ’n profeet, maar Mohammed is die finale profeet. Mohammed het gesê die Christene het hulle eie Bybel verdraai, daarom weerspreek die Koran die Bybel op talle punte. Dit is baie duidelik dat Mohammed nooit met wáre Christene kontak gehad het nie. Hy het nooit begryp wat die Bybel se eintlike boodskap is nie. Geen wonder dat die Koran in geen wesenlike opsig enigsins by die Bybel se boodskap aansluit nie, maar dit juis totaal weerspreek.

4. Die hartklop van Islam is nie om God te ken nie, maar om aan Hom onderworpe te wees as slaaf. Dit is wat ISLAM beteken: Onderworpenheid. MOSLEM is die méns wat onderworpe is. Allah wil net erken word – dis al. Allah is ’n koue, kliniese god wat op ’n afstand bly en erkenning en onderworpenheid eis. Dit is Islam se passie: om te sorg dat álle mense aan Allah onderworpe word. Hierdie passie is die essensie van die JIHAD (heilige oorlog). Sommige Moslemfaksies sal die swaard gebruik om mense hiertoe te dwing terwyl ander faksies sagter metodes verkies. Ten diepste ken die Moslem nie so iets soos “godsdiensvryheid” nie.

5. Vir sommige mag hierdie passie baie “Bybels” klink. Ons glo immers ook dat die ware God werd is om deur álmal geken te word. Tóg is daar ’n enorme verskil: Allah is hoog verhewe en eis onderworpenheid: Meester-slaaf. Op geen manier het hy ’n warm hart vir ménse nie. Daarteenoor is die ware God se binneste in Hom omgekeer oor Sý mense wat in sonde verlore is (Hos 11). Hy het Homself leeggemaak om sondaars te red. En op grond van hierdie barmhartigheid, roep Hy die mense om Hom te ken en te dien. Hy het Homself digby mense gebring en hulle digby Hom gebring. Hy is die God van verhoudings – die verbondsgod. Hy het Sy Seun van Sy bors afgeskeur en Hóm hel toe laat gaan eerder as die mense. En Hy gee Sy Gees om in hierdie mense se lewens te woon en te werk. Daarom kan Hy VADER genoem word – iets wat ’n Moslem nie ken nie. Hierdie God is aksie-deur-liefde-gedrewe. Sy liefde ontlok wederliefde. Allah eis kille onderworpenheid. Daarom is die Islam ten diepste gevul met aggressie en vrees.

6. Hierdie verwronge godsbeeld kom voort uit Mohammed se onkunde. Mohammed het ontken dat die mens ’n totaal verdorwe sondaar is wat radikale verlossing nodig het. Volgens hom het die mens wel foute en swakhede, maar dit kan reggestel word deur goeie dade en inspanning. Daarom is ’n Verlosser glad nie nodig nie. Daarom verwerp die Islam Jesus as Verlosser én as Seun van God. Want Mohammed het gedink dit impliseer dat daar meer as één God is. Mohammed het die Christene verdink van veelgodedom en hulle daarom verfoei. Tot vandag is dit die rede waarom Moslems nie ooghare het vir Christene nie. Hulle dink ons aanbid drie gode. Die Moslem verwerp dus die Verlosser en dink hy kan homself red met goeie werke.

7. Wat is die goeie werke waardeur die Moslem homself moet red? Daar is TWEE dinge: A. Jy moet die SHAHADA opsê en dit bedoel. Die Shahada is die Moslembelydenis en dit lui só: “Daar is geen god behalwe Allah en Mohammed is sy profeet.” Indien ’n mens dít bedoel en resiteer, is jy onmiddelik ’n Moslem. Hierdie Shahada word in pasgebore kinders én sterwende mense se ore gefluister deur die Imam. Deur hierdie belydenis bevredig jy Allah se begeerte om erken te word en wen jy guns in sy oë.


 


 

8. Maar dan moet jy as Moslem ook nog die opregtheid van jou onderworpenheid aan Allah bewys deur die VYF PILARE VAN ISLAM te onderhou. Jy moet dit so goed moontlik doen. Die vyf pilare is: 1. Elke dag die Shahada resiteer. 2. Gebed op voorgeskrewe manier. 3. Aalmoese vir die armes gee. 4. Vas gedurende Ramadan. 5. Minstens een maal in jou lewe ’n pelgrimsreis na Mekka onderneem. Hierdie pelgrimsreis het sóveel krag dat dit alle sondes met een slag uitwis.

9. Die Moslem het nooit SEKERHEID dat sy sondes vergewe is en dat hy die ewige lewe het nie, want hy weet nooit of hy die 5 pilare goed genoeg onderhou en of hy goed genoeg aan Allah onderworpe is nie. Sy saligheid lê in sy eie hande. Mohammed self het geen sekerheid gehad nie. Hy sê: “Though I am the apostle of Allah, yet I do not know what Allah will do to me” (Hadith Vol 5: 266).

10. Die daaglikse gebed moet 5 maal plaasvind op sekere vasgestelde tye. Dan bid alle Moslems wêreldwyd in hul kenmerkende geboë gebedshouding met die gesig in die rigting van Mekka. Die gebed bestaan uit ’n resitering van die Al-Fatitah – die eerste woorde van die Koran. Ander gedeeltes uit die Koran mag ook geresiteer word. Gebed is geen práát met ’n Vader nie. Die bidder bespreek nie sy gewone daaglikse lewe met God nie. Want onthou, Allah is ver en kil – hoog verhewe.

11. ’n Werklike toegewyde Moslem sal ook poog om vir Mohammed in alles na te boots. Sodoende reguleer en reël die Koran letterlik die Moslem se hele lewe – soos ’n robot. Byvoorbeeld: Sittende broek aantrek en regtervoet eerste wanneer skoene aangetrek word. Die Moslem probeer Mohammed naboots in sy gewoontes, houding, manier van praat, eet, beweeg ens. Al-Ghazzali het gesê: “the key to happiness is to imitate the Messenger of God.”

12. Streng gesproke is daar nog ’n ding wat die Moslem moet doen om die saligheid te verkry. Eintlik is dit die enigste ding wat aan hom werklik “saligheid” gee. Hy moet deel neem aan die JIHAD – die heilige oorlog. Die Koran is daaroor duidelik: Nie-Moslems (veral Jode en Christene) moet met geweld gedwing word om Moslem te word (Koran: Suras 2:191, 2: 193, 9:29, 8:60, 9:14, 9: 123). Mohammed het self gesê: “The best deed for a Muslim, next to believing in Allah, is to participate in Jihad in Allah’s cause.” (Al-Bukhari Vol 1:25). Die woorde “veg” en “doodmaak” kom meer kere in die Koran voor as “gebed.” Die enigste werklike “versekering” wat die Moslem het dat hy hemel toe sal gaan is deur te veg en te sterf vir die verspreiding van Islam (Koran Sura 3:157). Nou verstaan ’n mens waarom die selfmoord-bomaanvallers dit met soveel vreugde doen.

13. Dit is dus duidelik dat die Islam ’n godsdiens van “werke” is waardeur die mens homself moet probeer red. ’n Verlosser is oorbodig. Die mens is nie só verlore nie. Allah is ’n totaal ander god as die God van die Bybel.

14. Vraag: Hoekom wen die Islam dan so vinnig veld? Wat maak dit so aantreklik? Antwoord: Dit is ’n godsdiens wat uit die méns gebore is en daarom die méns se gevalle sondige natuur bevredig. In die Islam is die mens nie hulpeloos afhanklik van God se reddende genade nie. Die mens is nie verdorwe nie. Die mens word op die skouer geklop en dit lei tot geestelike hoogmoed en eiegeregtigheid. Die Bybel leer dat God – gedrewe deur Sy liefde – uitgereik het na die totaal verdorwe mens. Die Koran leer dat die mens oor al die potensiaal beskik om Allah te dien. Watter een sal die mens se natuur verkies? Laasgenoemde natuurlik!

15. Ons groot krisis: Groot dele van die Christendom/kerk verstaan self nie die boodskap van die Bybel as boodskap van VRYE GENADE nie, maar interpreteer die Evangelie só dat dit in beginsel nie verskil van die Islam nie! Só word die Evangelie ’n stuk makgemaakte heidendom. Geen wonder dat vele “christene” nie die verskil tussen die Bybel en die Islam kan sien nie. Hoeveel Christene verstaan die Evangelie só dat die mens homself gered moet kry deur toewyding aan God. Hoeveel prediking plaas die klem op die mens se potensiaal om self te kies. Hy moet net genoeg aangemoedig word. Eintlik is die mens selfgenoegsaam. Hy moet net vir Jesus by kry. En die 10 gebooie hou om te wys hy het ernstig gekies! Maar dit is juis waarom die Islam so aantreklik is vir die mens se natuur. Die mens se natuur hou van ’n godsdiens waar die MENS geëer word en waar die mens instaat is om aan die god se eise te voldoen en ’n medalje te kry. Met ’n “evangelie” wat in beginsel met die heidendom ooreenstem, sal sendingwerk onder Moslems nooit slaag nie.

 

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015

Godsdienste & Kultusse No 2: IS (Islamic State)


 

1 Die Islamitiese wêreld van 1.6 biljoen is verdeel in twee hoofstrome: Die Sunni's (90%) en Shia's/Shiite (10%). Die verdeling het begin by die dood van Mohammed in 632nC toe 'n opvolger vir Mohammed aangewys moes word omdat hy dit nie self gedoen het nie. Een groep het gevoel die opvolger moet uit Mohammed se bloedlyn kom (die Shia's = mense wat wegbreek) terwyl 'n ander groep gevoel het enigiemand wat die Moslem dogma's navolg en deur die Moslem gemeenskap gekies word, moet die opvolger wees (die Sunni's = mense van die tradisie). Die Shia's het vir Ali, Mohammed se neef en skoonseun, gekies. Die Sunni's het Mohammed se raadgewer Abu Bakr gekies. Die gevolg was dat daar gelyktydiglik twee parallelle lyne van opvolging geloop het. Onmeetlike konflik en verdeeldheid was die gevolg hiervan die afgelope 1300 jaar. Die twee groepe wantrou mekaar en beide verwag hul eie “messias” (Mahdi) om op die wêreldtoneel te verskyn en die hele wêreld in 'n Islamitiese staat te omskep.


 

2 Dit is belangrik om te verstaan hoe die Midde-Oosterse lande verdeel is tussen Sunni en Shia groepe. Saudi-Arabië is 'n Sunni vesting (85%) en Iran 'n Shia vesting (60%). Irak het ook 'n 60% Shia meerderheid asook Yemen en Bahrain. Sirië het 'n Sunni meerderheid bevolking (60%), maar 'n minderheid Shia's (13%) regeer die land in die persoon van Bashar al-Assad. In Libanon regeer die Shia Hezbollah party. Iran voel soos die weggooikind in die Islamitiese wêreld en Saudi-Arabië verdink Iran daarvan dat Iran die mees heilige plekke in Saudi wil regeer. Sunni Moslems is oor die algemeen geneig om neer te sien op die Shia's – en hulle selfs nie as egte Moslems te erken nie! In Irak is die Shia's geneig om meer ontfermend teenoor Christen minderhede te wees. Die geweld in Irak word veroorsaak deur Sunni groepe wat ontevrede is met die Shia bewind. Shia's verleen beskerming aan Christene wat deur die Sunni's bedreig word.


 

Met dit in gedagte moet ons die stryd in Sirië verstaan. Die meerderheid van die bevolking is Sunni maar die land word deur 'n Shia president regeer. Dis 'n kookpot. Daarby ondersteun Iran (Shia) die Siriese president (en Rusland staan agter Iran!). Intussen steun Saudi-Arabië (Sunni) die Sunni opposisie in Sirië teen die Shia president! Saudi-Arabië wil graag die Siriese president sien val en daarmee saam ook Iran. Intussen ploeg Iran baie vegters en geld en materiaal in Sirië.


 

3 Teen hierdie agtergrond moet ons die ontstaan van ISIS/IS (Islamic State) verstaan. IS het in 2014 in Sirië na vore getree, maar was die gevolg van jare se groepvorming van verskeie Sunni rebelle groepe wat sedert 2011 veg om van Sirië se Shia president ontslae te raak, maar eintlik reeds in 1999 ontstaan het. Gedurende die tydperk 2011-2013 het groot getalle buitelandse Islamitiese vryheidsvegters hierby aangesluit. Onder andere gesoute “Jihadi's” uit vorige “heilige oorloë” in Afghanistan en Irak.


 

Vroeg 2014 het 'n mengelmoes van rebelle die naam ISIS aangeneem om aan te dui dat hulle Sirië & Irak in 'n “suiwer” Islamitiese staat gaan omskep wat die “korrekte weergawe” van Islam sal aanhang. Met die verloop van maande het groot getalle mense uit ander Westerse lande by hulle aangesluit nadat hulle op Internet gewerf is. IS is sederdien bekend vir hulle wreedheid en moordlus en hulle voorliefde vir onthoofdings – in navolging van hulle profeet Mohammed wat self by geleentheid toestemming verleen het vir 700 gelyktydige onthoofdings.


 

4 IS se leier is Abu Bakr al-Baghdadi. Op 29 Junie 2014 het hy die IS verklaar tot die enigste wettige voortsetting van Islamitiese regering in die wêreld en homself tot die enigste wettige opvolger van Mohammed. Hierdie verklaring impliseer dat Abu en die IS volle religieuse, politieke en militêre gesag oor alle Moslems het. 'n Aanspraak wat deur die res van die Islamitiese wêreld verwerp is, maar wat tot gevolg gehad het dat IS ontpop het tot 'n monster by wie talle ander radikale Islamitiese groepe – wat dieselfde gees adem – hulself aangesluit het. Onder ander Nigerië se Boko Haram. IS se hoofdoelwit is om die Midde-Oosterse lande onder sy beheer te kry en van alle Moslems (ook Sunni's!) wat van IS verskil ontslae te raak. Dit moet eers gebeur voordat daar op Europa en die US gefokus kan word. Die onthoofdings van westerse joernaliste is slegs bedoel om te skok, aandag te trek en meer mense vir hulle saak te wen. Die eintlike bedreiging wat IS tans inhou, is vir die Moslems in die Midde-Ooste. Hulle teenwoordigheid verdeel die Midde-Ooste en veroorsaak groot onstabiliteit.


 

5 Hoe moet ons vanuit Bybelse perspektief hieroor dink? Het ons hier met die finale “antichris” te doen? Is die wederkoms op hande? Sal Islam uiteindelik die wêreld oorneem? Sal hulle Suid-Afrika oorneem? Wat staan ons te doen, behalwe om te bid?


 

Ons moet weet dat God soewerein is en dat ganse nasies vir Hom soos stofdeeltjies is (Jes 40:15-17). Sy troon is nie in beroering nie. Of dit die opkoms van die antichris is, weet ons nie en om daaroor te bespiegel is 'n mors van tyd. Of IS die wêreld sal oorneem lyk onwaarskynlik. Die geskiedenis bewys dat radikalistiese groepe – wat 'n vreesbewind wil voer – nie slaag nie en een of ander tyd hulleself uitwis. Dit is waar dat IS getalgewys groei, maar baie duisende Moslems besef dat Islam nie die antwoord is nie en begin soek na die Waarheid. Talle ontdek die Here Jesus Christus. Die beeld van Islam in die wêreld ly skade. IS het die potensiaal om die Islam te laat verkrummel alhoewel hulle die teenoorgestelde wil bereik. Ons glo dat die Here hierdie saak stuur na 'n verrassende einde. Die internasionale kerk van Christus kan eendragtig hiervoor bid en alle Moslems liefhê met Sy liefde.

 

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015

GODSDIENSTE EN KULTUSSE NO 3

Boeddisme


Streng gesproke is Boeddisme nie ‘n godsdiens nie, maar ‘n filosofiese lewenskode waarin geen godheid enige rol speel nie. Boeddisme leer dat die bron van blydskap (nirvana) binne in die mens self geleë is. Die begrip “buddhi” beteken “om te ontwaak”. Siddartha Gotama was ‘n Nepalese prins wat 500 jaar vC geleef het en soekende was na die sin vd lewe. Hy het besef dat materiële dinge nie ware geluk waarborg nie en wou die sleutel tot lewensgeluk ontdek. Hy het lewensbeginsels ontwikkel en sélf tot “ontwaking/verligting” gekom. Hy was dus die eerste Boedda. Hy was nie ‘n god nie, hy was slegs ‘n leermeester wat “waarheid” (dhamma) vanuit eie ondervinding aan ander geleer het. Boeddiste aanbid nie beelde van Boedda nie, maar buig in die rigting van hierdie beelde uit dankbaarheid/respek vir sy leerstellinge. Die doel van die beelde is om Boeddiste te herinner aan wat Boedda geleer het en hulle aan te spoor om innerlike liefde & vrede te ontwikkel.


Boeddisme wen groot veld onder westerlinge van wie baie ontnugter is met die sinneloosheid van ‘n gejaag na materiële dinge. Hulle vind in Boeddisme ‘n rus en ‘n lewenskode wat help om innerlike vrede (nirvana) te ondervind. Boedda het baie klem daarop gelê dat materiële dinge nie geluk waarborg nie. Die Boeddisme is ook verdraagsaam teenoor ander godsdienste – geen sendingwerk word gedoen nie, niemand buite die Boeddisme gaan “verlore” nie en geen ander godsdiens word as vals afgemaak nie. Dit maak die Boeddisme baie aantreklik vir mense wat ontnugter is met Christelike kerke en moeg is vir konflik en wrywing – veral diegene wat nooit vrede kon vind binne Christelike kerke nie vanweë wanbegrip van wat die Evangelieboodskap behels. Boedda se leringe kan ook in die praktyk getoets word. Boedda het gesê dat niemand sy leringe sonder meer as waarheid hoef te aanvaar nie, maar dat alles eers getoets moet word om te bepaal of dit “werk” of nie. Dit vra begrip, nie geloofsvertroue nie. Daarby draai alles om die méns & selfontwikkeling sonder die “inmenging” van enige godheid. Boedda het geleer dat die oplossing vir probleme in hierdie lewe binne die mens self geleë is – nie van enigiets/iemand buite die mens nie. Daarom bevat Boeddisme nie ‘n vasgestelde stel leerstellinge (dogmas) wat iemand vooraf moet aanvaar om ‘n Boeddis te kan wees nie. Enige individu kan die “waarhede” wat Boedda geleer het, op eie stoom bestudeer, uittoets en op eie manier implimenteer. “Waarhede” wat nie “werk” nie, kan ook goedskiks gelaat word. Dit hang van die individu se keuse af. Boeddisme is dus ‘n manier van lewe wat die mens soos ‘n handskoen pas. Dit is úít die mens, vír die mens.


Die “vier edele waarhede”


EERSTE > Die lewe is lyding/swaarkry/dissatisfaksie: Fisies (pyn, oudword, siekte, dood) en emosioneel (frustrasie, eensaamheid, teleurstelling, woede). Rede: Nie die mens óf wêreld is perfek & blywend nie. Alles is onvolmaak en nie-blywend. Niemand kan enigiets permanent behou nie. Blye oomblikke gaan verby, die mens gaan verby. Die vraag is hoe lyding vermy kan word en ware blydskap verkry kan word – dít is perfeksie (nirvana).

TWEEDE > Lyding word veroorsaak deur die mens se onophoudelike begeertes na dinge wat nie blywend is nie en die illusie dat materiële dinge (ook mense) blydskap gee/nie gee. Behalwe stoflike dinge sluit dit ook nie-konkrete dinge soos idees & gedagtes in. Die oorsaak vir swaarkry is begeerte en najaag van tydelike dinge, strewe om “iets” te wees/bekom/besit. Om te kry wat jy begeer, waarborg nie blydskap nie, want jy verloor een of ander tyd dit wat jy besit. Dit waaraan mense verkleef is, is tydelik en verbygaande. Verlies veroorsaak lyding. Die stryd om te verkry wat jy begeer, moet getemper word, want begeertes beroof ons van tevredenheid en geluk.

DERDE > Lyding kan oorkom word en blydskap en tevredenheid is moontlik d.m.v. nirodha. Nirodha beteken die tot-niet-maak van gehegtheid aan enigiets. Enige vorm van verkleefheid aan enigiets moet vernietig word. Die mens kan dit self doen deur die oorsaak van swaarkry te verwyder. Om geen-begeerte te bereik en te vervolmaak is ‘n proses wat uit verskillende vlakke bestaan maar uiteindelik uitloop op nirvana – vryheid van alle bekommernisse, probleme. Leer om elke dag een dag op ‘n slag te leef – nie te konsentreer op die verlede of toekoms.

VIERDE > Die geleidelike agt-voudige pad van selfverbetering is die weg wat lei tot die beëindiging van swaarkry en lyding. Soos wat hierdie 8-voudige weg bemeester word, verdwyn begeertes en passies (en hul gevolge) gaandeweg.



Die “agt-voudige weg”



EEN: KORREKTE INSIG: Om dinge te sien en verstaan soos dit regtig is (insluitend die 4 edele waarhede). Die nie-permanansie en onvolmaaktheid van alles moet deurgrond word. Korrekte insig vd wêreld sal lei tot korrekte gedagtes en optrede.



TWEE: KORREKTE VERSTANDELIKE EN GEESTELIKE ENERGIE WAT OPTREDE BEPAAL: Hierdie energie kom voort uit wilsbesluit en “commitment” tot selfverbetering, begeertes te weerstaan, welwillendheid, woede weerstaan, skadeloos te wees, medelye ontwikkels ensovoorts.



DRIE: KORREKTE WOORDE: Korrekte etiese optrede begin by wat jy praat. Woorde kan maak of breek.

VIER: KORREKTE LIGGAAMLIK OPTREDE: Verkeerde dade lei tot verkeerde gedagtes.



VYF: KORREKTE VERKRYGING VAN LEWENSONDERHOUD: Verkry jou brood en botter op die regte wettige manier. Vermy handeldryf met wapens, prostitusie, diere (met die doel om geslag te word), slawe. Vermy werk in slaghuise en die vleisbedryf. Vermy die verkoop van gifstowwe soos alkohol en dwelms.

SES: KORREKTE WILSINSPANNING: Wilsenergie moet gebruik word om te voorkom dat onheilsame toestande posvat en toestande wat alreeds posgevat het te verban. Heilsame toestande moet opgewek en behou word.

SEWE: KORREKTE VERSTANDELIKE HELDERHEID: Om verstandelik dinge te sien soos dit werklik is. Aanvanklike indrukke word blitsvinnig deur die verstand/brein verwerk sodat ‘n mens dikwels met ‘n obskure beeld van die oorspronklike indruk sit. Die verstand moet beheers word d.m.v. bepeinsing/kontemplasie.

AGT: KORREKTE KONSENTRASIE: Die verstand moet leer om slegs op een plek in te fokus naamlik op heilsame gedagtes en dade d.m.v. Meditasie.



Die totale leer van Boedda kan opgesom word met een sinnetjie: “Tem die verstand/gedagtes”. Indien die “hart” oorwin kan word, sal die hele lewe verbeter. Japanese ZEN Boeddisme probeer hierdie ideaal verwesenlik deur uiterste dissiplines van konsentrasietegnieke. Alle klem val op die denke wat moet leeg word d.m.v. ure se sit-in-een-posisie, opsê van mantras ensovoorts – alles o.l.v. Zen-meesters.



Wat hierbo beskryf is, is die klassieke THERAVADA Boeddisme wat steeds in groot dele van die wêreld bedryf word. ‘n Meer liberale vorm van Boeddisme, wat wêreldwyd veld wen, is die MAHAYANA Boeddisme wat uit vele verskillende skole en tradisies bestaan en wat makliker maniere van die bereiking van Nirvana ontwerp het. Mahayana behou tot ‘n groot mate die basiese filosofiese grondslae van Theravada, maar is baie meer liberaal en beïnvloed deur ander godsdienste, o.a. die Christelike Geloof. Mahayana wil dit vir álle mense maklik maak om ewige geluksaligheid te verkry – so maklik dat elke mens dié aspekte kan uitkies wat vir hom/haar die beste werk. In Mahayana Boeddisme sal ‘n mens heilige skrifte aantref, mitiese godheid/gode, tempels waarin mense ‘n paar keer per jaar feeste hou ens. Boedda word ook soms vergoddelik en aanbid alhoewel hy self ‘n ateïs was.

‘n Baie misleidende vorm van Mahayada Boeddisme – wat waarskynlik beïnvloed is deur oosterse vorme van Christendom – is die sg. “Pure Land” tradisie wat soms te same met Zen beoefen word. “Pure Land” leer dat ‘n mens slegs Amitaba Boedda moet vereer om Nirvana te bereik. Amitaba Boedda is ‘n mitiese hemelse boedda wat oneindige perfekte lig bewoon. Slegs deur vertroue op Amitaba te stel, kan jy “ingebore” word in die paradys wat hy bewoon. Amitaba help jou om Nirvana te bereik. Hierdie vorm van Mahayana Boeddisme sal terme soos “genade, geloof, vertroue, wedergeboorte” algemeen gebruik, alhoewel die filosofiese wortel steeds die oorspronklike Boeddisme is.




Evaluering

Vanuit bybelse perspektief is dit duidelik dat die Boeddisme – soos alle nie-Christelike godsdienste & kultusse – ‘n selfverlossings-sisteem is. Die mens is sy eie verlosser sonder om ooit die verlangde ideaal te bereik. Binne die Boeddisme mág die mens homself verlos omdat dit waarvan hy verlos moet word slegs maar lyding is. Bybels gesien is verlossing van buite nodig omdat dit waarvan die mens verlos moet word so groot en diep is: sonde & skuld. Dáárvan kan geen mens homself verlos nie. ‘n Verlosser van buite is nodig. Wat Boeddiste nie besef nie, is dat – a.g.v. die sondeverlorenheid van die mens asook sy korrupte & gevalle natuur, dit onmoontlik is om die 8-voudige weg te volg! Die wáre aard van die mens se ellende maak dit onmoontlik die hart te tem! Pragtige voorskrifte help nie! Daarom dompel die Boeddistiese sisteem die mens in ‘n diepe slawerny: eindelose probeerslae sonder enige sukses. Wie egter die ware menslike nood begin verstaan (Efes 2:1-10) sal die Verlosser, Jesus Christus, sonder meer aangryp. Hoe heerlik bevrydend dat ‘n mens nou reeds met sekerheid kan wéét dat jy die ewige lewe hét: wie die Seun het, hét die lewe (1 Joh 5:12).

 

 

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015

Godsdienste en kultusse: No 5: Jehowa se getuies

 

Jehovah se Getuies (JG) beskik oor eienskappe wat vele Christene beskaam. In ’n tyd waar alles as “onseker” voorgehou word, is hierdie mense ten volle oortuig van dit wat hulle glo. Daarby vertoon hulle ’n vertroudheid met hulle weergawe van bybel. Hulle is nie bang om ánders te wees nie en word aangevuur deur ’n dringendheid om hulle boodskap te versprei. Hoe wonderlik sou dit wees indien alle kerklidmate die kennis gehad het van wat hul glo (bv van die Drie-eenheid) soos wat die JG die kennis het waarom hulle dit (drie-eenheid) NIE glo nie!



Die JG is geskep deur CT Russell wat in 1879 die Zions Watch Tower tydskrif begin uitgee het. Russell het die meeste kernwaarhede van die Bybelse - Christelike Geloof verwerp en het in hierdie tydskrif sy eie teologie uiteengesit. Russell was ’n egoïstiese man met bedenklike morele waardes. Hy verwerp die bestaan van die hel en voorspel die wederkoms vir 1874. Hierdie datum verkry hy deur in die groot Piramide in Egipte rond te kruip en die gange op te meet. Hy glo die piramides bevat God se boodskap aan die wêreld. Later is die wederkomsdatum na 1914 gewysig. Hierdie jaartal speel steeds ’n deurslaggewende rol in JG teologie. Dit was die jaar van WO 1. Hulle glo die wederkoms hét toe plaasgevind – net onsigbaar. Jesus hét toe Sy troon as Koning bestyg – toe die aarde “ontplof” het met WO 1.



Russell se tydskrif en bybelstudies het later – o.l.v sy opvolger Rutherford – ontwikkel tot ’n godsdienstige genootskap – Jehovah se Getuies (1931) ook genoem die Wagtoring Genootskap. Steeds maak hulle baie van literatuur om hul boodskap uit te dra waarvan Die Wagtoring die belangrikste is. Dit word tans in 132 tale gedruk met ’n oplaag van 22 000 000. Hulle glo dat Jehovah self die redakteur is.



Wat glo die JG? Hulle verwerp die leer van die Drie-eenheid en glo dat God se Naam JEHOVAH is – ook in die NT. Dit lei hulle af van die Here se verbondsnaam in die OT wat bestaan uit die konsonante JHWH. In die Hebreeus is daar nie vokale nie. Dit word self deur die leser ingelees. Die Jode van alle eeue spreek JHWH uit as “Jahweh”, maar JG verander die vokale na “Jehovah”. Die JG beweer dat die Christene die Bybel verander het en die ánder Name vir God “ingeskryf” het naamlik THEOS (God) en KURIOS (Here). Hierdie “Jehovah” is die God van OT en NT. Jesus en die Heilige Gees staan in rangorde ónder Jehovah en is nie God soos Hy nie. Die JG beskou hulself as die enigste ware dienaars van God en almal wat hulle teëgaan as “vyande van J”. Russell het beweer dat dit onmoontlik vir enige mens is om God se plan van saligheid te verstaan lós van sý teologie en skrifstudies. ’n Mens kan selfs die Bybel nalaat en slegs sy studies lees – so sê hy. Wie egter die Russellisme as gids gebruik om die Bybel te lees, sal die “nuwe tydperk van die koninkryk” binnegaan. Dit bring ons by die hartklop van JG se siening: Die JG glo dat die huidige aardse bedeling sal oorgaan in ’n ewige aardse utopia (paradys). Die proses het reeds in 1914 begin toe Jesus – Jehovah se uitverkore koning – onsigbaar gekom het en ’n aardse koninkryk kom vestig het waar Jehovah koning is. Alle JG “kerkgeboue” staan bekend as “Kingdom Hall”. Tydens die slag van Armageddon sal alle nie-JG’s uitgewis word en sal ’n ewige AARDSE paradys aanbreek – ongelukkig nie vir ALLE JG’s nie, maar slegs 144000 uitverkore JG’s. Wanneer die Getuies van huis tot huis loop, is dít waarvan hulle gaan getuig: die seëninge van die komende paradysaarde (wat in 1914 sy beslag gekry het). In Die Wagtoring van 1 Mei 1981 (p. 17) word verklaar die JG ’n ANDER evangelie bring as die Christendom bring. Dit sien ’n mens wanneer die JG van naderby bekyk word….



Gestel jý sou ’n JG word – wat sou van jou verwag word? Die volgende:


1 Absolute lojaliteit aan die Wagtoring Genootskap en baie ure se harde werk as “getuie” van huis tot huis en op straathoeke.


2 Voortdurende ONsekerheid óf jý uiteindelik een van die 144000 sal wees wat die paradysaarde as beloning sal ontvang. Want jy kan nooit met sekerheid weet of jy genoeg gedoen het om guns in Jehovah se oë te kry nie. Jy sal net kan HOOP dat jý een van die 144 000 sal wees…


3 Jou kinders sal aan geen buitemuurse skoolaktiwiteite deelneem nie en verjaarsdae, Kersfees, Paasfees ens. sal nie gevier word nie.


 

 

4 Jy sal jou kind eerder laat sterf as om hom/haar ’n bloedoortapping te laat ontvang. Dit word verbied a.g.v. ’n tragiese misverstaan van Lev. 17: 13-14 waar van die EET van DIEREbloed gepraat word.


5 Jy sal ’n ANDER bybel hê as die Bybel. Die JG het hulle eie bybel geskep waarin hulle al Russell se dwaalleer kon “invertaal” en alles wat daarmee bots “uitvertaal”. Dit staan bekend as die New World Translation of Holy Scripture. Een voorbeeld: Joh 1:1 waar Jesus genoem word “’n god”. Oral waar die Heilige Gees as “hy” of “Hom” aangedui word, word dit vervang met “dit” – ’n onpersoonlike “krag”, want die Godheid van die Gees word verloën. In hierdie “bybel” word die Here se Naam oral vervang met Jehovah.


6 Jy sal NIE in Jesus Christus as Seun van God (Sy waaragtige Godheid) glo nie, want die JG maak van Jesus ’n “geskape wese” wat ’n magtige god is, maar nie die Almagtige nie. Jesus se Godheid word dus verloën.


7 Jy sal nie Christus se persoonlike wederkoms verwag nie, want Hy het reeds in 1914 (onsigbaar) teruggekeer.
 

8 Jy glo nie meer in Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood nie, want volgens JG het Hy as ’n “gees” opgestaan en Sy volgelinge om die bos gelei deur slegs van tyd tot tyd te materialiseer in sekere liggaamlike verskyningsvorme.


9 Jy glo dat jyself en alle ander mense soos diere is – geen gees/siel wat ná die dood deur die almag van God voortleef nie. Die JG ontken dat die mens ’n siel het. Niks bestaan voort ná die dood nie. Die mens sterf soos ’n dier. Die JG glo aan totale UITWISSING by die dood.


10 Jy glo nie dat daar iets soos 'n hel bestaan nie. In die denke van die JG is die GRAF die hel. Dit was die basiese aksent in CT Russell se denke – reeds as jong kind. ’n Mens sou kon sê die hele JG beweging het hieruit ontstaan.


11 Jy is ’n SLAAF. ’n Wagtoringslaaf, vasgeketting aan die misleiding van CT Russell.



Wat ’n heerlike bevryding bring die vreugdeboodskap van die Bybel! Ja, om die BYBEL te mag aanvaar net soos hy geskryf is. Wie dít doen, word deur die WAARHEID vrygemaak (Joh 8:32). Wie vrygemaak is, ontdek:


1 Jesus is nie maar net “’n god” nie, maar Hy is gelyk met die Vader. Jes 9:6, Joh 1:1, 8:58, Tit 2:13, Hebr 1:3, Filip 2:11, Joh 20:28, Joh 17:5, Joh 5:18.


2 Jesus het werklik liggaamlik uit die dood opgestaan – die hele 1 Kor 15, Open 1:18, Joh 2:21, 20:27, Luk 24: 39-44.


3 Alhoewel ’n mens ’n sondaar is wat die dood verdien, kan jy nogtans volle sekerheid hê dat jy vrygespreek is en die ewige lewe het. Dit hang nie af van jou harde werk en verdienste nie. Nie eens van die kwaliteit van jou geloof nie, maar 100% van Christus se verdienste op Golgota. Rom 5:10, 2 Kor 5: 19ev.


4 Ná die fisiese dood, is daar lewe. Jy as mens is nie uitgewis nie. Openb 6: 9-11, Hand 7: 59, Luk 23: 43, Filip 1: 23-24, 2 Kor 5: 6, 8. Mat 17: 1-3


5 Dit is ’n groot troos dát die ongelowige wat God se genade geminag het, die regverdige oordeel van God tegemoet gaan. Lukas 16: 19-31, Mat 5:22, 10:28, 2 Thes 1:9.

 

 

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015

Godsdienste & Kultusse No 5: Die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK)


 

Die stigter was die Skotse prediker, Edward Irving (gebore in 1792). Hy het vurig gepreek dat die einde van die wêreld naby is en dat die kerk swaar gesondig het deur nie al die ampte van Efes. 4:11 in te stel nie - veral ook die Apostelamp. Hierdie amp moes gou herstel word, voor die wederkoms, sodat die apostels die gelowiges kon verseël tot saligheid. In 1835 vind die wyding en afsondering van die eerste 12 “apostels” dan ook plaas. Die nuwe kerk brei uit na Europa - veral na Duitsland.


 

In 1865 vind daar egter 'n afsplintering plaas oor die vraag of daar meer as 12 apostels benoem kan word. Die afsplintering word genoem die Nuwe Apostoliese Kerk. Hierdie Nuwe Apostoliese Kerk sit in 1892 voet aan wal in die Kaap in die persoon van Evangelis Klibbe en hy vestig die NAK hier. Klibbe is egter vir 'n vergadering na Duitsland. In sy afwesigheid neem ene Schlaphoff tydelik waar. Die boot waarmee Klibbe sou reis, het egter vergaan. Schlaphoff het gemeen dat Klibbe in die ramp oorlede is. Klibbe het egter met 'n ander boot vertrek as wat gemeen is. Toe Klibbe dus terugkeer na SA, weier Schlaphoff om van sy “apostelskap” afstand te doen (agv finansiële voordele). Dit lei na 'n hofsaak in PE (1926). 'n Skeuring vind plaas en 'n nuwe kerk kom tot stand. Die regter bepaal dat die naam van die nuwe kerk die “Ou Apostelkerk in Afrika” sal wees met Klibbe as die apostel. Die Ou Apostelkerk is dus 'n latere afsplintering en die Nuwe Apostoliese Kerk is die oorspronklike kerk. Behalwe vir sekondêre verskille, is die twee kerke vandag nog baie dieselfde, maar baie vyandig teenoor mekaar en erken nie mekaar se apostels as ware apostels nie.


 

Ons moenie die AGS (Apostoliese Geloofsending) met die NAK/OAK verwar nie. Die AGS ("apostolies") is 'n Protestants-Christelike kerk terwyl die NAK/OAK nie hulself beskou as deel van die Protestantisme nie, maar as die enigste ware kerk(e) waardeur enigiemand salig kan word. Hulle glo nie dat daar verlossing buite die NAK/OAK moontlik is nie. Die NAK/OAK het daarom ook nie bande met ander kerke nie. Deur die eeue het Protestantse kerke die NAK/OAK as nie-Christelike kultusse beskou omdat hulle op geen manier enigsins by die leer van die Skrif staan nie. Vir die doeleindes van hierdie praatjie sal die fokus op die NAK geplaas word met dien verstande dat die OAK in hoofsaak dieselfde leer handhaaf.


 

Die NAK is 'n baie groot internasionale denominasie - en besonder groot in die Weskaap. Die grootste NAK kerkgebou in die wêreld is in Athlone, Kaapstad.


 

1 GESAG VAN DIE APOSTELAMP: Geloof in hedendaagse apostels, is die NAK se kerndwaalleer. Hulle glo dat die Here Jesus steeds Sy Kerk deur lewende apostels regeer. Hierdie apostels besit besondere magte, selfs om sonde te vergewe en met die Heilige Gees te doop. Hierdie apostels vorm saam met die sogenaamde stamapostel (hoofapostel) 'n gemeenskap wat aan die mensdom die Ewige Lewe bied, selfs aan afgestorwenes. Wanneer die lidmaat van die NAK dus die apostels as boodskappers van God aanneem en die sakramente uit hulle hand ontvang, word hulle ook kinders van God en nuwe skepsels uit die Heilige Gees. Die apostels word gesien as die godgewilde plaasvervanging van Jesus Christus in die vlees. Hulle is dus in 'n sekere sin Jesus Christus self! Dit blyk ook dat die NAK-apostels se verlossingswerk selfs nie by hul dood ophou nie, maar in die hiernamaals onder die dooies voortgesit word. Die stamapostel leef na sy dood in die lidmate voort wat daarop dui dat Stam-apostelverafgoding en -verheerliking geen grens het nie. Die stamapostel is die samebindende faktor. Hy is die sigbare hoof van die kerk en die hoogste gesag in alle aangeleenthede. Dus is hy die meeste bevoeg om die Skrif te verduidelik. Die stamapostel word dus in die praktyk letterlik verheerlik as God, as Christus en vrymagtige beskikker oor en skenker van die Heilige Gees.


 

WAT LEER DIE SKRIF? Die vereistes waaraan 'n apostel moes voldoen, dui daarop dat latere geslagte gelowiges nie apostels kon oplewer nie: Hand 1: 15-26 (moes teenwoordig wees tydens Jesus se openbare optrede vanaf die dag van Sy doop; getuie van Jesus se opstanding; die hemelvaart aanskou; deur die Here self aangewys en toegerus). Paulus was die uitsondering omdat hy 'n bepaalde taak sou hê (evangelieverkondiging aan nie-Jode) maar ook hy is deur die Here self geroep en aangestel (Hand 9:1-16). Paulus was ook 'n eerstehandse getuie van die opgestane Here. Die apostels was nie Christus-in-die-vlees nie. Hulle het niemand tot saligheid verseël nie en het nie die Gees uitgestort nie. Hulle was die grondleggers van die NT kerk (Efes 2:20). God self deel die heil uit - nie mense nie. Niks kan duideliker as 2 Kor 5: 18-19 wees nie. Die Skrif weet ook niks van 'n "stamapostel" wat Christus op aarde is nie. Die Bybel weet ook nie van Petrus wat die eerste stamapostel (of pous) sou wees nie. Wat 'n tragiese misverstand!


 

2 DIE GESAG VAN DIE SKRIF Omdat hierdie apostels hulleself as goddelik sien, is dit verstaanbaar dat die Bybel vir die NAK ondergeskik gestel word aan die woord van die Apostels. Die Bybel is dus vir hulle 'n dooie boek, want dit is net die apostels wat beklee is met die amp van die Heilige Gees en net hulle wat die uitstorters van die Heilige Gees is. Sodoende is die apostels van die NAK die enigste wat God se wil vandag aan mense bekend maak en daarom kry ons: dat die Bybel nie as die Woord van God en die manier waarop God vandag met die mens praat nie, gesien word; die preek van die lewende apostel is vir NAK lidmate Gods Woord en kom dit slegs vanaf die Stamapostel in Duitsland. Sonder lewende apostels was die kerk dan ook na die dood van die oorspronklike apostels, in duisternis, want die woord van die apostel was nie daar nie. Dit het die NAK in die 19de eeu kom herstel. Die belangrike lê daarin dat die preek in alle NAK gemeentes tydens elke diens op Sondae en Woensdae wêreldwyd presies dieselfde is: dit kom vanaf die Stamapostel, tans ene Jean-Luc Schneider. Slegs hy kan die Skrif onfeilbaar verklaar. (Herinner mens aan die Pous se mag en invloed in die Rooms Katolieke Kerk). Die "lewende woord" is dus die woord van die NAK apostels en die "verouderde woord" is die Bybel. Stamapostel Bischoff het in 1951 verklaar dat die wederkoms tydens sy leeftyd sou plaasvind.


 

Wie dit nie glo nie, se name sou uit die boek van die lewe geskrap word. Bischoff se dood in 1960 was die geweldigste slag wat die NAK ooit kon tref, tog kleef hulle steeds vas aan die onfeilbare "apostelwoord".


 

WAT LEER DIE SKRIF? Die Bybel getuig aangaande homself dat hy die die Woord van God is - genoegsaam, absoluut gesaghebbend. God self praat deur die Bybel. 2 Tim 3: 14-17 is afdoende bewys hiervan. Maar kyk ook hoe Jesus self die Bybel beskou het in bv Mat 22:31-32, Joh 10:35.


 

3 VERSEËLING Die NAK het 'n 3de sakrament naamlik "verseëling" wat slegs deur 'n apostel bedien kan word en is vir NAK lidmate van deurslaggewende belang. Die apostel salf die persoon met olie en lê hande op. Dit is die ontvangs van die Heilige Gees en die wedergeboorte. Hierdeur word die persoon kind van God. Hieruit word dit duidelik dat in die verseëling die verheerliking van die apostels 'n gruwelike uiterste bereik. Lidmaatskap van die NAK plus verseël wees deur 'n apostel, waarborg verlossing. Die grootste sonde is ook om die NAK te verlaat. Volgens stamapostel Bischoff word so iemand se naam uit die boek van die lewe gehaal.


 

WAT LEER DIE SKRIF? So-iets bestaan nie in die Skrif nie. Dit is 'n mensgemaakte "sakrament". Vrgl Galas 3:1,2,14 - Die Gees word deur die geloof ontvang. Uit gedeeltes soos Hand 2:14-18; Hand 10:44-48; Hand 8: 18-25 is dit duidelik van die apostel Petrus dat hy nie self die Gees uitgestort het nie, nie elke keer mense die hande opgelê het nie en nie die mag gehad het om sondes te vergewe en wedergeboorte te skenk nie!


 

4 NAGMAAL Hierdie weeklikse gebeurtenis is vir NAK lidmate 'n onontbeerlike lewenswyse vir gees en siel en word sonder wyn bedien (vgl Rooms Katolisisme) tot sondevergifnis. Die wat nie teenwoordig is nie, se sondes word nie vergewe nie. 'n Weeklikse nagmaal, en die wegbly daarvan wat beteken dat jou sonde nie vergewe word nie, het die uitwerking dat eredienste baie goed bygewoon sal word. Verseëlde en geredde NAK afgestorwenes kan elke Sondag saam met die lewendes deel in die nagmaal, want ook hulle het behoefte aan sielspyse en vergifnis. Verlore dooies wat by die stamapostel en apostels redding kom soek kan deel in die nagmaal by drie spesiale jaarlikse dienste vir dooies (sien punt 6 hieronder).


 

5 GELOOF "Geloof" vir die NAK het 'n totaal ander betekenis as wat dit in die Skrif het. Die NAK vind dit onmoontlik om vertroue te bou op 'n onsigbare Christus en iets wat in die verlede op Golgota gedoen is. Die NAK "glo" in die sigbare openbaring van Christus, naamlik die apostels (veral die stamapostel). Die aanskou van, ontmoeting met, hoor van, aanraking deur die stamapostel, is vir NAK-lidmate die allersaligste "geloofsonderving" denkbaar. Daarom hang daar foto's van apostels in alle NAK huise, want die blote SIEN van die (stam)apostel versterk die "geloof".


 

WAT DIE SKRIF LEER: Uit gedeeltes soos 2 Kor 4: 13-14; Joh 20:31, 27-29; Hebr 11:1-3 en Efes 2: 1-10 is dit duidelik dat ware geloof gebou word op dit wat in die Skrif staan, deur die Gees geskenk word en die historiese verlossingswerk van Jesus tot inhoud het.


 

6 REDDING VAN DOOIES Die NAK bied aan afgestorwenes die geleentheid om tot redding te kom deur die troon van genade van die NAK-apostels. Dit is sonder twyfel een van die NAK se gevaarlikste dwalings. Die hoogtepunt op die NAK kalender is die drie spesiale dienste wat op die eerste Sondag van Maart, Julie en November plaasvind waartydens die stamapostel, wat daarop aanspraak maak dat hy die sleutels van die doderyk hou, die doderyk oopsluit om aan ontslapenes die geleentheid bied om uit te kom en die aposteltroon te nader vir redding. Dit word moontlik gemaak deur die voorafgaande, toegewyde en verpligte gebede van lewendes en die getuienisse van afgestorwe “kinders van God" (NAK-geredde dooies) wat hierdie ontslapenes begelei na die troon van genade wat in die apostels gesetel is. Die stamapostel “bemiddel” dan die versoening in belang van al die dooies wat kom redding soek en bedien die nagmaal aan twee priesterlike ampsdraers in die plek van die dooies.


 

WAT DIE SKRIF LEER: Hierdie gebruik in die NAK is uiters gevaarlik omdat dit aan spiritisme grens en dus okkulties is. Bose geeste sal ongetwyfeld hierdie oop deur aangryp om die mense te belas en te bind. Uit bostaande is dit verstaanbaar waarom 'n gesprek tussen 'n Christen en 'n NAK-lidmaat prakties onmoontlik is: Die Christen redeneer slegs vanuit die Skrif terwyl die NAK nie deur die Skrif oortuig word nie en die woord van die NAK-apostels bó alles stel. Slegs die Heilige Gees kan in die NAK-lidmaat se hart werk om oortuig te word van die eenvoud van die waarheid van die Evangelieboodskap. Daarom moet die gelowige nie skroom om teenoor die NAK-lidmaat te getuig van persoonlike geloofsekerheid nie, want juis hierdie getuienis kan deur die Gees gebruik word.

 

TAFELBERG BYBELSKOOL 2015

Godsdienste & Kultusse No 2: Rooms-Katolieke Kerk

 

1 In 313 is die Edik van Milaan deur Keiser Konstantyn uitgevaardig. Dit het godsdiensvryheid gewaarborg, maar die kerk het aan die staat onderhorig geword. Die Keiser was die “baas” van die kerk. Gaandeweg is die direkte koningskap van Christus in Sy kerk ondermyn deurdat daar al hoe meer ‘n hiërargie in die kerk ontwikkel het. Wat word daarmee bedoel? Ampsdraers het oor mekaar begin heers. Kerkvergaderings het oor gemeentes gesag gekry. Die staat het gesag oor die kerk gekry. Die biskoppe het gehoorsaamheid aan hulle amptelike gesag begin eis omdat hulle opvolgers van die apostels sou wees! Ampte het ontwikkel wat bó ander aangestel was. Sodoende is Christus se heerskappy in die kerk ondermyn.

 

Vanaf 590nC het die groot verval in die kerk gekom. Die predikant (bedienaar van die Woord) het al hoe meer ‘n priester (besitter en uitdeler van die genade) geword en die priester het al meer mag gekry. Veral die biskop (opsiener/ouderling) van Rome het prominensie verkry. Dit was veral na afloop van die val van die Romeinse Ryk en die Romeinse Keiser mag verloor het, wat die biskop van Rome feitlik die plek van die Keiser oorgeneem het. Rome was eeue lank die hoofstad van die wêreld en dit het daartoe meegewerk dat die biskop van Rome prominensie gekry het. Die idee het gaandeweg na vore gekom dat Petrus die eerste biskop van Rome was en dat Petrus ‘n posisie bó die ander Apostels gehad het. Die biskoppe van Rome sou dus Petrus se opvolgers wees en hulle sou mag hê oor die kerk. Op hierdie manier het die posisie van “pouslike” regering gestalte gekry. Dit was nie lank nie of die Pous was gesien as Christus se verteenwoordiger op aarde. Die probleem is dat Christus as alleen-Hoof oor die kerk misken is. Die Pous het as “koning” regeer en die ampsdraers het oor die lidmate regeer.

Dit was veral Gregorius die Grote I (590-604) wat die kerk van Gods Woord af weggevoer het. Allerlei gangbare menslike menings het die leer van die kerk geword. Sodoende het engele en “heiliges” middelaars geword tussen God en mens, beeldediens is ingevoer, die nagmaal is omvorm tot die misoffer, die evangelie van genade is misvorm tot ‘n godsdiens van eie verdienste, die kloosterlewe is uit die Oosterse heidendom ingevoer ensovoorts.

 

2. Huidiglik het die RKK 1000 000 000 lidmate. Dit sluit almal in wat RKK gedoop is. Miljoene is egter nie praktiserende RKK nie. Dát baie RKK-lidmate ware Christene is, mag nie ontken word nie, maar in sy offisiële leer wyk die RKK in baie opsigte af van die Skrif. Dit maak dit vir lidmate moeilik om op slégs die verdienste van Christus te vertrou. Ons let vervolgens op die amptelike RKK leerstellings.

 

3. WIE IS JESUS CHRISTUS?

RKK handhaaf die leer van die Drie-eenheid volgens die Skrif. Alhoewel hulle Jesus as die Seun van God bely, het hulle egter velerlei ánder “Jesusse” ontwerp wat ’n skadu werp op wie Jesus werklik volgens die Bybel is (2 Kor 11:4).

EERSTE “ander Jesus”: Die Jesus van die hostie - die ronde broodjie wat tydens die Mis in die mond geplaas word. RKK glo dat die hostie fisies in Jesus se liggaam verander word en dat Hy tydens die Mis weer geoffer word. Hulle aanbid ook vir “Jesus” IN die hostie. Hy word ook fisies geëet.

TWEEDE “ander Jesus”: Die “Jesus” wat ontoeganklik is. Iemand anders is nodig om eers Sy hart sag te maak voordat die mens Sy guns kan kry. Daarom moet daar ’n middelaar tussen die mens en Jesus wees om by Hom te pleit: Sy eie moeder – Maria. ( 1 Tim 2:5). Op ‘n sekere skildery, uit die tyd van die Middeleeue, word Christus en Maria afgebeeld waar hulle in die hemel sit met ‘n leer wat van elk na die aarde gaan. Vanaf die aarde klim hordes mense langs beide lere op na die hemel. Diegene wat naby Christus kom deins terug van vrees terwyl diegene wat by Maria kom vriendelik ontvang word en na Christus gelei word. ‘n Ander skilder, Rubens, beeld vir Christus uit met vlammende weerligstrale in Sy hand, gereed om die aarde te verdelg, maar Maria en Franciscus hou Hom teë. Dít is wat die RKK van ons barmhartige Hoëpriester gemaak het. Wat van Hebr 2:17, 4:16?

DERDE “ander Jesus”: Die priester wórd Christus tydens die Misoffer wanneer hy verklaar dat die brood verander in Christus se liggaam. "Sacerdotus alter Christus est." (The priest is another Christ). Die priester het ook die mag om sondes te vergewe (Sakerdotalisme). Hebr 7:25 – Christus se priesterskap gaan nie op ’n ander oor nie.

VIERDE “ander Jesus”: Die dooie “Jesus” op die crucifix. Dit is die ikoon wat sentraal is in die RKK: Die beeldjie van die kruis met Jesus steeds daaraan. Sodoende hóú die RKK Hom op die kruis en ontkragtig Sy opstanding. Die kruis self is nie iets om te verheerlik nie. Dit is ’n vloek. Gal 3:13.

VYFDE “ander Jesus”: Die Pous is Vicarius Christos: Christus se plaasvervanger. Die Pous sit ás Christus in die Vatikaan. Daarom word hy “Holy Father” genoem – ’n titel wat slegs aan God toekom (Joh 17:11, Mat 23:9).

 

4. HOE WORD ’N MENS GERED?

RKK verwerp die Bybel se leer dat die mens algeheel verdorwe (Ef 2:1) is deur die sondeval. RKK leer dat die sondeval slegs die mens beroof het van sekere geestelike gawes, maar dat daar nog veel “goed” oor is wat net weer “opgebou” moet word. Die radikaliteit van die sondeval, wat ’n totale herskepping vereis, word dus ontken. Redding/verlossing beteken vir RKK: die terugplaas van dít wat verloor is deur sondeval. En wie doen die “terugplasing”? Die RKK self. Die RKK priesters en sakramente. God se “genade” “help” net in die proses. Die genade word deur RKK as iets substansieël verstaan. Dit word letterlik in ’n mens ingestort wanneer jy gedoop word en wanneer jy die hostie insluk. ’n RKK lidmaat het dus nooit sekerheid of hy gered is nie, want die redding is ’n lewenslange ingewikkelde proses en niemand kan ooit weet wanneer dit voltooi is nie.

 

Gedurende hierdie proses begelei die kerk jou d.m.v sy ampte. Die amp deel letterlik die verlossing fisies uit. Waaruit bestaan hierdie proses? ’n Aantal skakels wat nie buite die RKK beskikbaar is nie – iemand buite die RKK kan dus nie volkome gered word nie (Trente art 15). Die skakels is:

Een: Doop. Die doop (deur RKK priester bedien) is absoluut noodsaaklik om gered te word, want daardeur stort God Sy aanvanklike genade in jou in. Vroedvroue mag ook doop bedien.

Twee: Eucharistie/Mis. Tydens elke Mis word Christus se fisiese liggaam (hostie) geëet. Dit is noodsaaklik vir redding. Die eucharistie is die kern van RKK geloof en liturgie. Let op: Dit is NIE dieselfde as die Nagmaal nie. Dit is ’n OFFER. Christus word opnuut geoffer. Sy opstanding word kragteloos gemaak. Die EENMALIGE offer (Hebr 10:12) op Golgota word verloën. Die RKK vervloek elke mens wat die Misoffer ontken of bevraagteken. Die vervloeking wat die RKK Konsilie (sinode) van Trente (1545-1563) uitgespreek het, word steeds gehandhaaf. Die vervloeking lui: “Vervloek is elkeen wat ontken dat die liggaam en bloed, te same met die siel en godheid van Christus – dus die héle Christus – waarlik en reeël substansieël in die mees heilige Eucharistie bevat is – deur te sê dat Hy slegs deur Sy Gees teenwoordig is. Vervloek is elkeen wat ontken dat die brood substansieël verander in Christus se liggaam.” Alle gereformeerdes is dus vervloek. In die Heidelbergse Kategismus Sondag 30 bely óns dat die RKK Misoffer “vervloekte afgodery” is. In Sondag 29 bely ons met name dat die brood en wyn NIE verander word in Christus se liggaam en bloed nie. Dit is die kernrede vir al die vervolging en martelaardode deur die geskiedenis (vgl die Hugenote). Protestante en gereformeerdes met name, is voor die ultimatum gestel: Aanvaar die RKK se inhoud van die eucharistie óf sterf! Trente se vervloekinge word baie letterlik en ernstig geneem. Tot vandag!

Drie: Vagevuur. Rome handhaaf die onbybelse leer van die Vagevuur as ’n plek waarheen byna alle gelowiges ná die dood gaan om eers “gereinig” te word voordat daar toegang tot die hemel is. Almal wat sterf en nog die hemel “onwaardig” is, word in die Vagevuur “waardig gemaak”. Christus se offer is dus nie genoegsaam nie. A.g.v. hierdie leer, weet geen Katoliek met sekerheid óf en wánneer hy hemel toe sal gaan nie. Vergl egter 2 Kor 5:8!! Niemand weet óf hy Vagevuur toe sal gaan en hoe lank hy daar gepynig sal word nie. Agtergeblewe familielede moet egter goeie werke doen om die gestorwenes se verblyf in die Vagevuur korter te maak. Die kans dat byna álle gestorwenes daar is, is goed. Niemand weet nie. Daarom moet die agtergeblewenes gebede doen, “Hail Mary’s” opsê ens. In een geval het ’n familie 30 jaar ná ’n geliefde se dood nog goeie werke gedoen om die persoon uit die Vagevuur te verlos. Die belangrikste is om: a) Tot Maria te bid en b) afgestorwe heiliges te vra vir hulp. Beide Maria en die heiliges word gevra om in te tree by God soos ons iemand sal vra vir voorbidding. Die “heiliges” is sekere afgestorwenes wat baie goeie lewens gehad het en wat amptelik deur die RKK tot “heilige” verklaar is. Maria-verering (Maria-kultus) is prominent by RKK. Vgl die boekie: “O Lady of perpetual help” waarin talle gebede is waar tot Maria sélf gebid word om redding. Pous Benedictus XV (1922) het verklaar dat Maria saam met Christus gely het vir die sonde en Pous Pius IX (1854) dat sy sondeloos was. Dit alles in stryd met die Skrif se duidelike leer (bv Hand 4:12).

Die RKK verwerp die Bybelse leer van verlossing uit genade alleen, om Christus ontwil alleen (Trente art 12). Die Konsilie van Trente was juis gehou om die Reformasie teë te staan en die gereformeerde leer te verwerp. Die reformatoriese leer van “verlossing uit genade deur geloof alleen” (Efes 2:8-9) is eksplisiet deur Trente verwerp. Die RKK staan vandag nog daarby. Hoe duidelik en bevrydend is die Bybel wat die gelowige verseker: Joh 5:24

 

5. WIE DRA DIE OPPERGESAG?

RKK leer dat die kerk se tradisie/leerstellings dieselfde gesag dra as die Bybel. Volgens die RKK het die RKK die Bybel geskep en kan dit daarom met gesag verklaar. Die gesag van die Bybel verdwyn letterlik agter die gesag van die tradisie, konsillies se uitsprake en die Pous se gesag. RKK glo dat Petrus biskop van Rome was en dat die RKK se Pous, Petrus se direkte opvolger is. Die Pous verteenwoordig Christus op aarde en sy (ex cathedra) uitsprake is onfeilbaar (Sedert 1870 Eerste Vatikaanse Konsillie). Ook wanneer hy nie ex cathedra praat nie, moet alle Katolieke sy woorde eerbiedig (1965 Tweede Vatikaanse Konsillie). Dit is egter opvallend dat Petrus self nie hierdie soort gesag gehad het nie en homself nie “heilige vader” genoem het nie. Tewens, hy verwys na Christus as die hoeksteen (1 Pet 2: 6-18). Van homself praat hy net as ouderling (1 Pet 5:1), aanvaar geen aanbidding nie (Hand 10: 25-26) en ontvang selfs bestraffing (Gal 2: 11-14).


 

 

 
 


GOD SE WOORD BO ALLES


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.5 South Africa License.