Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PSALMS-REEKS NO 27
Psalm 27: Met vertroue en goeie moed

Psalm 27 is ‘n magtige psalm! Koning Dawid is die outeur. Maar, soos ons uit Handelinge 1:16 weet, het die Heilige Gees deur hom gepraat. In Hand 1:16 sê die Apostel Petrus helder en duidelik dat die Gees deur Dawid in die Psalms gepraat het. Ons het dus vanoggend die direkte woorde van die Heilige Gees gelees! Dink daaraan!

Die psalm bestaan eintlik uit 3 dele: 1) Verse 1-6 = Dawid wys vir ons wat die inhoud van sy geloofsvertroue is. En vers 13 kan dalk ook daarby aangehaak word. Vir die doeleindes van hierdie boodskap, lees ons vers 13 saam met verse 1-6. 2) Verse 7-12 = Dawid se privaat gebedslewe. 3) Vers 14 = Dawid se oproep aan óns adres!

In ‘n neutedop sê Dawid die volgende: “Die Here is self alles vir my… en dit maak my entoesiasties om met Hom in gebed te praat. En daarom wil ek vir julle almal (wat hierdie psalm lees) sê: Hy kán vertrou word! Skep moed!”

Kom ons zoom ‘n bietjie hierop in:

Onthou eerstens: Ons lees die Psalm vanuit ‘n NT-perspektief. Ons sal die Psalm dus in die OT gaan haal en oor die “brug van die kruis” trek om by ons te kry! Anders gesê: Ons lees die OT deur die LENS van wie Jesus Christus is en wat Hy gedoen het! Dis ‘n goue reël wanneer ons enige plek in die OT lees. Ons kan nie die OT lees asof die Nuwe Verbond nooit aangebreek het nie!

Hou byvoorbeeld ‘n vers soos 1 Korintiers 1:30 in gedagte: “Christus Jesus het vir ons geword: perfekte reg-wees voor God, heiligheid, vryspraak.” Hy is self jou reg-wees, jou heiligheid, jou vryspraak – daarom IS jy reg, IS jy heilig en IS jy vrygespreek van alle sonde indien jy ‘n kind van die Here geword het – gered uit genade!

Hier is ‘n belangrike waarheid om raak te sien: Christus gee nie die reg-wees/heiligheid/vryspraak as iets apart van Homself nie. Die reg-wees/heiligheid/vryspraak is nie “iets” wat Hy gee sodat jy dit kan besit – los van Hom – nie. Nee, HY IS DIT SELF! Daarom IS jy perfekte reg-wees/heiligheid en vryspraak! Want wat Christus is, IS ons in hierdie wêreld (1 Joh 4:17). Ons word nie dit alles wanneer ons ons deeltjie gedoen kry nie, maar ons geloofsvertroue ontdek dat die Here Jesus Christus die regwees/heiligheid/vryspraak in ons plek is en begin daarop vertrou en dit lei tot lewensverandering. God self waarborg dit. Maar geloof ontdek en vertrou. En dit is bekering = metanoia = om om te draai – heel eerste in jou denke. En dit lei tot onherroeplike lewensverandering.

Onthou wat Efesiers 1:4 sê: God het reeds voor die skepping (voordat daar iets soos tyd was (1 Kor 2:7; 2 Tim 1:9) – in Christus se dood en opstanding – aan ‘n uitverkore volk – wat toe nog nie eens bestaan het nie – heiligheid en blaamloosheid en aanneming tot kinders geskenk!! Ja, die sondeval het Hom glad nie ontkant gevang nie. Lank voordat Adam nog daar was, het God een plan gehad: Om ‘n uitverkore mensheid daar te stel en om in Christus daardie mensheid te predestineer om die aanneming tot kinders te ontvang. Ons sou kon sê God het die sondeval toegelaat en gebruik om by Sy oorspronklike doelwit uit te kom!

Daar is nie ‘n manier hoe menslike geloof ooit so iets kon realiseer nie! Geloof kan slegs mosterd-na-die-maal ontdek, vertrou, geniet, beleef!!

Kyk nou hoe stel Dawid hierdie NT werklikheid in OT terme: Die Here IS my lig, my redder, my toevlug, my veiligheid. Die Here bied nie die lig, redding en veiligheid as iets apart van Homself nie. Hy is dit self! Die lig, redding en veiligheid is nie iets wat Hy slegs skenk nie. Hy is dit self. Daarom IS Dawid in die lig, IS hy gered en IS hy veilig!

Daarom vrees Dawid niks. Hy is hoegenaamd nie bang nie. Hy beroep hom nie op sy posisie as koning, sy weermag, sy rykdomme om sy vrese hok te slaan nie. Hy sien homself as ingesluit by Jahwe, die Here God. Daarom is hy nie bang nie – al kom watse tipe vyand na hom toe aan! Dit voel vir hom asof hy op ‘n massiewe hoë rots staan terwyl hy afkyk op sy vyande. Die Here is daardie rots en die Here het vir hom wat Dawid is daarop gemonteer!

Die besef hiervan ontketen ‘n reaksie in Dawid: Hy raak al hoe meer ‘n man slegs van een saak! Vers 4: EEN DING begeer ek. Hy wil net meer en meer van hierdie lieflike Here smaak. Hy begin dit najaag om bewustelik die Here se teenwoordigheid (wat deur die Here se trou gewaarborg word en waarin Dawid altyd IS – al voel hy nie so nie!) te beleef, Sy goedheid te beleef en na Sy prag en skoonheid te kyk.

Wanneer jy besef dat die Here Homself aan jou vasgeknoop het en dat Hy self jou lig, redding en veiligheid is….. dat Hy self jou reg-wees en heiligheid en vryspraak is – dan ontketen dit ‘n reaksie by jou. Jy kan nie weer dieselfde mens wees nie. En jy raak “verslaaf” aan Hom – met respek gesê. Jou hart beur net altyd weer na Sy kant toe. Nie sodat Hy jou moet insluit nie, maar omdat jy ontdek het dat Hy jou – in Christus – vir ewig ingesluit het. Dat Hy ‘n hart vir jou het. Dat jou doop al hierdie belofte aan jou gewaarborg het toe jy nog maar ‘n pap babatjie was! Dat Hy nooit weer terugvat wat Hy gegee het nie (Rom 11:29).

As jy hierdie vrye genade ontdek het, besef jy hoe lieflik, mooi en pragtig die Here is. En jy wil net meer en meer daarvan sien. Sy skoonheid trek jou aan! Hy trek jou soos ‘n magneet aan. Jy voel of jy jou lewe daaraan kan spandeer om meer en meer en meer van Sy skoonheid te sien en meer daarvan te leer. Dis presies hoe Dawid dit beleef het. Dit is die normale gevoel van iemand wat die genade ontdek het. Ek wil Sondae, Maandae, Dinsdae, Woensdae, Donderdae, Vrydae, Saterdae en Sondae gebruik om na Sy prag te kyk en meer daarvan te wete te kom!

Kyk vers 8: “U’t gesê: SOEK MY AANGESIG. En my hart het vir U gesê: U AANGESIG, HERE, SOEK EK”

Dawid weet: DIS die lewe! Hy weet dat, indien hy nie hierdie ontdekking gemaak het nie, sou hy absoluut geen hoop gehad het nie. Ook nie vir die toekoms nie.

Maar nou weet hy dat hy die goedheid van die Here sal sien… ook in die verste toekoms. Ook na die dood. Al sterf hy ook, sal die Here se trou net voortgaan en voortgaan. Vers 13: EK GLO DAT EK DIE GOEDHEID VAN DIE HERE SAL SIEN IN DIE LAND VAN DIE LEWENDES. Let op: SAL sien! Dis toekomsmusiek, maar dis ‘n sekerheid in sy hart!

Maar hy sê: Indien hy NIE hierdie ontdekking gemaak het nie en dit nie geglo het nie…. sou hy misrabelik hooploos wees!

Is dit ‘n wonder dat hierdie ontsaglike geloofsinhoude vir Dawid daartoe lei dat hy spontaan met die Here wil praat? Noem dit ook gebed.

Toe Dawid ontdek wie die Here in sy lewe is, toe WIL hy bid! Hy wil met die Here praat. Gebed beteken om te reageer op Sy skoonheid en prag wat Hy in jou lewe kom vestig het. Gebed is gebou op ‘n vaste basis, ‘n vaste sekerheid.

Gebed probeer nie om ‘n trae God se aandag te trek of Sy arm gedraai te kry nie! Gebed worstel nie (met gepaardgaande vas) vir 40 dae en nagte om in die Here se teenwoordigheid te kom en Sy toorn weggedraai te kry en Hom so ver te kry om jou saak te verstaan en moontlik te beantwoord nie!

Ons moenie uit Dawid se gebed in verse 7-12 aflei dat die Here op ‘n afstand gestaan het en dat Dawid met pleit en smeking die Here se aandag probeer trek het nie! Onthou verse 7-12 staan binne in die omhulsel van verse 1-6 en 13! En in verse 1-6, 13 het hy sopas bely hoe intens ingeslote hy by die Here is en dat die Here self sy lig/redder/veiligheid/toevlug is!

Maar dit beteken ook nie dat dit nie soms VOEL of die Here afwesig is en ver staan en Homself verberg nie! Die MENSLIKE element van veral emosies en innerlike gevoelens speel ‘n groot rol in ‘n gelowige mens se lewe – veral op ‘n destruktiewe manier, want dit neem ons fokus weg van die Here se trou en Sy beloftes en fokus net na binne toe. Dis die verkeerde plek om te fokus.

Hoewel Dawid weet dat die Here sy herder is VOEL hy dat die Here dit nie eintlik so watwonders is nie! Hoewel hy besef dat sy gevoelens maar net gevoelens is – dis nie ‘n betroubare maatstaf van wat die waarheid is nie! En daarom mag koning Dawid sy gevoelens eerlik met die Here kommunikeer!

Sy gevoelens sê: Dalk wil die Here nie luister nie, nie verhoor nie, nie genadig wees nie. Dalk wil die Here hom verstoot of wegstuur of Homself verberg.

Ons weet nie wat Dawid se omstandighede was wat hom so neerslagtig gestem het nie. Maar ons weet dat dit gevoelens is wat ons almal dikwels ervaar! Dis so algemeen. Ons kan ons so vereenselwig met hoe Dawid voel.

Maar kyk nou hoe styg Dawid bo sy gevoelens uit. Hy weet sy gevoelens oor die Here is nie die waarheid nie – dit is maar menslik en dit word deur omstandighede beïnvloed. Maar Dawid weet daar iets is wat swaarder weeg as sy troebel visie: Die Here se beloftewoorde.

Hoor net hoe bid hy: “Onthou wat U gesê het, Here.” Ja, hy herinner die Here aan Sy eie beloftes. Hy staan op wat die Here gesê het! Ten spyte van sy emosies, het hy soveel sekerheid. Dis ondenkbaar dat sy eie pa en ma hom sal verstoot, maar selfs al sou hulle dit doen, die Here sal nie!

Pleks daarvan om in ‘n donker gemoed vasgevang te bly, eindig Dawid by sekerheid – soveel so dat hy vir ons wat die psalm lees in vers 14 aanmoedig: Vertrou op die Here! Hou goeie moed! As dit vir jou voel of die Here jou verstoot het en of Hy homself vir jou verberg en of hy dalk toornig is of nie na jou wil luister nie – SÊ vir Hom dat jy so voel. Praat reguit. Hy is jou Vader! Jy mag vir Hom presies vertel hoe jy voel.

MAAR: Moenie daar stop nie. Moenie aanhou binnetoe kyk nie. Kyk buitentoe! Kyk verder en sien hoe Hy jou ingesluit het by Homself. Kyk na Sy hartklop, Sy skoonheid en prag. Sien dat Hy self jou lig, veiligheid en redding is. Daar is geen afstand van Sy kant nie. Hy kan jou nie uit Sy gedagtes kry nie. Sy volle aandag is op jou. En daarom verlang Hy so baie na jou aandag! Hou goeie moed en vertrou!

Category Psalms

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)