Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PSALMS-REEKS NO 20
Psalm 20
Tema: Meer as oorwinnaars

“Dit is nie nodig vir ‘n gelowige om enige stryd te verloor nie”.

Dit is die kernboodskap van Psalm 20.

Die agtergrond van Psalm 20 is baie eenvoudig: Daar is ‘n weermag in opmars. Daar is ook ‘n vyandige mag teenwoordig. Die stryd is gereed om te begin. Diere-offers is aan die Here God gebring. Dawid is koning en aanvoerder van die stryd.

Kyk na Psalm 20:

Verse 1-6 > Die weermag bid namens koning Dawid.

Vers 7 > Dawid praat self.

Verse 8-10 – > ‘n Koor van soldate praat soos wat hulle opmars vir die stryd.

Dit is die agtergrond en struktuur van Psalm 20 – deur die Heilige Gees vir óns bewaar. Geskryf vir óns onderrig en lering (Rom 15:4).

Die vraag is wat die konneksie is tussen ‘n oorlogstryd wat duisende jare gelede in ou Palestina beslis is en óns vandag? Ons moet daardie konneksie vind andersins sal dit moeilik wees om die boodskap vir ons vandag te verstaan.

Ons moet onthou dat koning Dawid nooit een enkele veldslag verloor het nie. Nie één nie. Dit is nie nodig – wat ‘n Christus-gelowige betref – dat enige stryd verloor word nie. Hoewel dit soms bitter taai gaan. Dit ontken die Skrif nie. Maar verloor? Nee! Verloor Christene wel? Ja! Hoef dit te gebeur? Nee!

Ons moet ook onthou dat Israel destyds ‘n teokrasie was – God het sélf die volk regeer. God was self die koning van ‘n konkrete volk wat in ‘n konkrete land gewoon het! God was koning van ‘n spesifieke nasie op ‘n spesifieke plek met ‘n baie spesifieke doel.

Vandag bestaan daar nie meer iets soos ‘n teokrasie nie. God is nie aan die kant van enige spesifieke volk of nasie nie. Hy is ook nie aan die kant van een of ander politieke bestel nie. Sedert die uitstorting van die Heilige Gees is daar ‘n nuwe ras, ‘n nuwe mensheid – die Here se NT kerk – wat alle nasies omspan. En tog het ons nog steeds konflik en stryd.

Dáárdie oorloë van destyds was werklike oorloë en was werklike geskiedkundige gebeure. Óns oorloë is werklike oorloë en is werklike historiese gebeure. Maar, dit is nie dieselfde tipe oorlog nie.

Ons moet in gedagte hou dat Dawid en sy weermag dikwels ‘n prentjiesbeeld was van die Messias en Sy mense. Dawid was die gesalfde koning en die Messias is die gesalfde verlosser na Wie Dawid byna ‘n 1000 jaar vooruitgewys het. Die konflikte wat Dawid en sy mense beleef het, was dus prentjiesbeelde van óns konflikte omdat ons deel het aan die Groter Dawid, die Gesalfde, Jesus Christus.

Die gelowige hét konflikte – oorloë dikwels. As ons nie deel van Christus se span was nie, sou hierdie stryde glad nie bestaan het nie. Ons beleef dit juis omdat ons in Sý span is. Wanneer ‘n mens deur die Gees nuutgemaak word en ‘n Christus-gelowige word, ontdek jy meteens stryde wat jy nooit voorheen geken het nie. Jy het gedink dit gaan ‘n heerlike lewe wees, maar vergeet wat die Here Jesus in Matteus 10:34 gesê het: “Moenie dink dat ek vrede na die aarde gebring het nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want van nou af sal ‘n man teen sy pa wees en ‘n dogter teen haar ma en ‘n skoondogter teen haar skoonma, ja ‘n mens se vyande sal jou eie huismense wees.”

Wat bedoel die Meester met hierdie vreemde woorde? Wel, Hy verwys gewoon na die wrywing waar sommige openlik aan Sy kant is en ander nie – en dit binne een familie!

Konflikte was nie net Dawid se ervaring nie. Dit is die ervaring van almal wat nougeset agter die Groter Dawid aanloop.

Daar is die konflik met die wêreld. Bedoelende die wêreldsisteem wat in vyandskap met Christus leef. Hierdie sisteem probeer sonder ophou om Christusgelowiges in sy vorm in te druk. Konflikte met die wêreldsisteem se denkpatrone/kultuur/gewoontes hou in ‘n gelowige se lewe byna nooit op nie. Nie een enkele dag nie.

Daar is ook die satan self. Dikwels bevind ‘n gelowige hom/haarself in direkte stryd met demoniese magte – veral in die vorm van versoekings of gedagtes wat van wie weet waarvandaan kom. Somtyds kan hierdie goed so erg raak dat ‘n gelowige se innerlike letterlik soos ‘n slagveld voel.

Die derde konflik is die konflik teen sonde – wat éíntlik ‘n stryd is teen ongeloof, want sonde kry ‘n vastrapplek as gevolg van die feit dat ons nie gló dat ons in Christus totaal bevry is van sonde nie. Gebrekkige insig aangaande jou posisie wat jy in Christus besit, ly tot neerlae. Gebrekkige insig in wát met jou in Christus gebeur het, lei tot neerlae.

Hoor ‘n bietjie hoe beskryf een van ons gereformeerde belydenisskrifte dit. Die Heidelbergse Kategismus by name.

In Sondag 52 bely ons: “In onsself is ons so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van U Gees staande hou en versterk sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.”

En hier is die goeie nuus ook uit die Boek van die Psalms:

Psalm 20 leer vir ons dat dit nie nodig is om tweede te kom in hierdie stryd nie. En daar is sekere beginsels om te onthou:

1 BEGIN BY GEBED (vv 1-5) > Die soldate bid namens koning Dawid: “Mag die Here u verhoor op die dag van nood, mag Sy Naam u beskerm. Mag Hy u bystaan uit Sion en mag Hy u gee wat u hart begeer. Ons sal juig oor u oorwinning in die Here se Naam.”

In ‘n oorlogsituasie waar die wêreldsisteem jou druk of versoeking erg raak, bid!

U sal sien dat daar in hierdie paar verse nie minder nie as 9 versoeke is wat tot die Here gerig word. Nege gebedsversoeke – wat eintlik net één gebed is: Die Here word gevra om toe te tree tot die situasie. In hulle harte brand daar ‘n verlange na Goddelike ingrype.

Wanneer ‘n gelowige in ‘n stryd verkeer, is die eerste ding gebed. Spesifieke gebed. Nie algemeen en vaag nie. Gebed dat die Here sal toetree tot die stryd. Selfs al sien jy jouself as ‘n soort Jakob.

Jakob (die bedrieër) was die mees onwaarskynlike kandidaat om die Here se ingrype te beleef en tog het dit gebeur in die Jabbok rivier. Daarom is die God van spesifiek JAKOB (v 2), júís die God van alle genade. Voel jy jouself as ‘n soort Jakob, is jy ‘n goeie kandidaat om oorspoel te word met onverdiende genade en guns!

Maar daar is nóg ‘n wonderlike iets wat ons nie mag miskyk nie: Die gebed is dat die Here spesifiek uit SION (Jerusalem) sal hoor, dáár waar die brandoffers aanneemlik gevind word.

Sion/Jerusalem was die plek waar ‘n baie besonderse tent was. In hierdie tent was die verbondsark gehuisves. Dit was die dae nog voordat die tempel gebou was. Maar die verbondsark was die magtige simbool van die Here se blywende teenwoordigheid by Sy mense.

Voeg daarby die feit dat daar brandoffers gebring is voordat die veldslag begin het. Die diepste betekenis van die offers en bloed van die diere wat gevloei het, was dat God van Sy kant af versoening tussen die mense en Homself bewerk het – dat Hý die verhouding tussen die mense en Homself heelgemaak het. Sy teenwoordigheid by Sy volk was ‘n teenwoordigheid wat gebaseer was op versoening/vryspraak van sondeskuld/barmhartigheid.

Dit is baie belangrik om dit te sien, want dit beteken dat die God vir wie hulle smeek om in te gryp, eintlik alreeds ingegryp het! Hy is nie ver nie. Hy was nie besig om iewers weg te kruip nie! Hulle gebed was nie ‘n gesmeek, geroep en pleit om Hom oor te haal om goedgesind te word en op hulle stryd te let nie!

Dit sou wees hoe die heidene sou bid, ja. Christene bid egter nie só nie. Ons bid nooit net dat God moet ingryp – punt – nie. Ons bid dat God met ons sal handel OP GROND VAN die afgehandelde/klaargemaakte werk van Jesus op die kruis, die versoening wat volmaak is, Sy lewe wat afgelê is – en gevolglik Sy teenwoordigheid, Sy guns, Sy goedgesindheid. Dit is omdat God die kruisdood van Christus aanneemlik gevind het, wat Hy toetree tot ons veldslae en Hy ons voornemens laat geluk en ons hartsbegeertes skenk. Hartsbegeertes en voornemens wat voortkom uit Sy verhouding met ons, is in elk geval geheilig.

2 GEBED LEI TOT MOED/DAPPERHEID (v 6) > Skielik is daar die sekerheid: Dawid sál oorwin. Die veldslag het nog nie eens begin nie. Maar hulle weet reeds wie die oorwinnaar sal wees. Daarom ontplooi hulle die vlae – waarmee hulle vir die wêreld sê aan wie se kant hulle staan. Hulle is aan Dawid se kant. Hulle betree die veldslag sonder skroom.

Gebed lei tot moed. Die moed om uit te staan vir die Here. Die moed om ánders te wees as die massas. Die moed om NEE te sê in ‘n versoekingsituasie. Die moed om te praat binne ‘n vyandige omgewing.

3 MOED LEI TOT SEKERHEID (v 7) > Hier is die enkelsinnetjie wat Dawid self praat. Let op die grammatika: “Dit WEET ek: Die Here SAL my Sy oorwinning gee. Uit die hemel VERHOOR Hy gebed. Die Here GEE oorwinning.”

Dit getuig van sekerheid. Sekerheid van wát die uitkoms van die stryd sal wees. As mens by voorbaat voel dat jy aan die verloorkant is, sal jy verloor! Maar as jy met sekerheid die stryd betree, is alles anders. Dis die wonder van jou insluiting by Christus: jy kan geweldige veldslae ingaan, by voorbaat séker van die uitkoms!

4 SEKERHEID LEI TOT OORTUIGING (v 8-9) > “Sommige vertrou op strydwaens en perde, maar óns vertrou op die Naam vd Here. Die vyand sal val, maar óns sal vas bly staan.”

Hoor u die oortuiging?

Onthou, in Dawid se weermag was daar nie groot getalle perde nie – in ooreenstemming met Deuter 17:15. En daarom nie baie strydwaens nie. Die vyand se strydwaens was egter in oorvloed. En in daardie tyd was strydwaens soos oorlogstenks vandag sou wees.

Stel jou voor: die vyand het tenks en jy feitlik niks. Onmoontlike situasie, uit menslike perspektief gesien.

Maar, hierdie mense se fokus was op die Naam van die Here (Sy Naam is Hyself), nie op wapentuig nie. Hulle was oortuig dat die Here se Naam sterker is as oorlogtenks.

Wat ‘n ontsettende ding is dit nie?! Om ‘n oog te hê wat ‘n onsienlike realiteit kan raaksien wat bó die sienlike dinge uitgaan! (Vgl 2 Konings 6:8-17).

Dit is wat oortuiging is. Terwyl jy niks sien nie, síén jy!

5 OORTUIGING LEI TOT MEER GEBED (v 10) > Kyk of u die spiraal kan raaksien. Die psalm eindig weer met gebed. “Mag die Here ons gebed verhoor wanneer ons roep.”

Gebed lei tot moed. Moed lei tot sekerheid. Sekerheid lei tot oortuiging. Oortuiging lei tot gebed. Gebed lei tot moed. Moed lei tot sekerheid. Sekerheid lei tot oortuiging. Oortuiging lei tot gebed….. oneindige spiraal.

Indien ons binne hierdie spiraal leef, kan ons meer as oorwinnaars wees binne enige tipe veldslag. Want die oorwinning is reeds in Christus se opstanding behaal. Toe Hy uit die dood opgestaan het, het Hy élke mens wat ooit tot geloof sou kom verteenwoordig.

Ons weet nie wanneer ons weer Nagmaal sal vier nie. Dalk in Februarie soos geskeduleer, dalk nie.

Maar ek wil dat ons vanoggend Nagmaal vier op ‘n heeltemal ander manier. Ek wil net kortliks vertel wat die Nagmaal beteken en dit toepas op die boodskap van Psalm 20 – sonder dat ons fisies die tekens gebruik. Sommer net om te illustreer hoe wonderlik die sakramente die hele boodskap van die Skrif bevestig en onderstreep.

Sien in u verbeelding die brood en wyn en hoe dit aan u gegee word en u dit eet en drink. En probeer die volgende verstaan:

Wat die brood en wyn van die nagmaal doen, is om vir ons elkeen individueel die versekering te gee dat die klaargemaakte werk van die Here Jesus die basis is op grond waarvan die Here alreeds by ons stryde betrokke is en dit oorwin het. En met “ons” bedoel ek Christus-gelowiges.

Die Nagmaal is ‘n versekering. Net soos die verbondsark vir Dawid die versekering was van Gods teenwoordigheid. En die bloed van die offerdiere die versekering was dat God hulle verhouding met Hom heelgemaak het. Presies só verseker die brood & wyn ons van die klaargemaakte werk van Christus waarby Christus-gelowiges ingesluit is.

Die nagmaal is ‘n lieflike versekering uit die Here se hand – soos ‘n trouring vir jou die versekering gee: Hy/sy het vir my JA gesê!

Die brood & wyn wys op die Here Jesus se liggaam en bloed. Dit wys op iets wat Hy klaargemaak het en waarby God die Christus-gelowige mens ingesluit het sonder prestasies van die mens se kant af.

Wat het Hy met Sy liggaam en bloed klaargemaak? Hy het die oorwinning wat jy nie kán behaal nie, namens jou behaal en nou tel Sy oorwinning só vir jou dat jý die oorwinnaar is.

Vir wie is hierdie versekering/troupand bedoel? Vir die ónwaardiges. As jy jouself onwaardig voel, dan is dit net vir jou. Vir diegene wat weet dat hulle in hulleself bankrot is, wil die brood en wyn sê: God het jou ryk gemaak in Christus. Dis ‘n voldonge feit. Eet, drink, was jou gesig, staan op en begin léwe!

Category Psalms

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)