Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PINKSTER 2021: NO 4
Skrif: Handelinge 13: 1-12
Tema: Dit wat weerstand ontlok

Hfst 13 is ‘n draaipunt in die boek Handelinge vanweë 2 redes: a) die evangelieboodskap kring nou uit tot in Europa en b) die fokus verskuif weg van Petrus se bediening na Paulus se bediening.

In die eerste 12 hfste word hoofsaaklik op die Apostel Petrus gefokus en daarom op Woordbediening aan hoofsaaklik die Jode, maar vanaf hfst 13 kom Paulus se sendingreise in die kollig en daarom Woordbediening aan die nasies (sien Gal 2:7).
Ons het gisteraand in hfst 11 gesien hoedat die evangelieboodskap uitkring tot in die wêreldstad Antiochië, ‘n stad in, wat vandag as Turkye bekendstaan. Dit was ‘n barre heidendom waar bose geeste koning gekraai het, maar die oomblik toe ‘n klompie gehoorsame volgelinge van Jesus begin om die Woord daar te bedien, kom mense tot bekering en ‘n splinternuwe gemeente ontstaan (11:21). Uit barre droë grond spring ‘n groen plantjie op.

U sien: dis God die Heilige Gees wat dit doen d.m.v. twee instrumente: a) gelowiges wat praat en b) die Woord van God.

Barnabas & Paulus het vir ‘n jaar lank daar gaan bly en die nuwe Christene deeglik onderrig (11:26).

In hfst 13 lees ons dat daar later 5 geestelike leiers – profete & leraars – was, te wete Paulus, Barnabas, Lucius, Simon en Manaen.

Gedurende die eerste fase van die kerk se bestaan, voordat die NT-geskrifte voltooi was, het die Here die profetiese gawe gegee om Goddelike openbaringe aan gemeentes bekend te maak. Die profetiese gawe het behels insig in die OT asook die Apostels se prediking en hoe die twee met mekaar geïntegreer moet word en toegepas moet word. Die Bybel was immers nog nie voltooi nie.

Nadat die Bybel voltooi was, was nuwe openbaringe nie meer moontlik/nodig nie (Openb 22: 18-19). Die profete moes egter mekaar se woorde toets (1 Kor 14:32) en verder moes hulle woorde ooreenstem met die Apostels se lering (1 Kor 14:37). Eintlik was die profeet & leraar dieselfde gawe – die vermoë om die Woord uit te lê – en veral so NADAT die Apostels almal gesterf het en die NT voltooi is.

Hierdie 5 manne in hoofstuk 13 was sulke profeet-leraars. Daar was dus nie net een leier wat die septer swaai nie, maar ‘n span. En hulle was kultureel so divers, maar tog één in Christus. Paulus was ‘n Romeins-Joodse bekeerde Fariseër, Manaen uit Herodes se paleis, Lucius van Noord-Afrika, Simon ook ‘n swart man, want sy bynaam was Niger (swart). ‘n Pragtige eenheid ongeag die verskille.

Dit was juis een dag terwyl hulle besig was om saam te vas & te bid en die Here se aangesig ernstig te soek, wat die vonke spat toe hulle ervaar dat die Heilige Gees vir hulle sê om Barnabas & Paulus as sendelinge uit te stuur (13:2).

Om te vas beteken om jou doelbewus te onthou van sekere lewensnoodsaaklikhede (of genotmiddele) – soos bv kos – ten einde jou intens aan die Here te wy en Sy wil te soek in spesifieke belangrike sake. Sien Neh 1:4, Dan 9:3. Skuif (byvoorbeeld) kos opsy om op die geestelike te konsentreer. ‘n Baie geseënde gebruik. Dit is wat hierdie 5 leiers gedoen het.

Ons weet nie hóé die Heilige Gees met hulle gepraat het nie. Ons weet hulle fokus was 100% op die Here gerig. Hulle was besig met vas & gebed. En dit gebeur inderdaad dat, wanneer ‘n mens jouself afsonder met die Woord & gebed, dat jy die leiding van die Gees beter ervaar as andersins (vgl Luk 6:12-13).

Dit help nie ons spekuleer oor hóé die Gees hulle gelei het nie, want die Bybel sê niks daaroor nie. Daarom het ons gissings geen waarde nie. Wat ons egter met sekerheid kán weet is dat stilword & afsondering in gebed (met of sonder vas) ‘n mens se ore op ‘n besondere manier oopmaak en dit is des te meer belangrik in ons gejaagde samelewing met sy kitsmentaliteit.

En kyk nou net hierna: hier was ‘n baie jong gemeente, wat pas sélf uit sendingwerk ontstaan het, en hulle stuur reeds hulle eie eerste sendelinge uit na ánder onbereikte mensegroepe. Waterrimpels wat uitkring.

En let op: Die HERE beveel dit (13:2). Dit was die Here se uitdruklike wil dat die jong gemeente onmiddelik weer sélf sendelinge uitstuur. Geestelike asemhaling – asem nie net ín nie, maar ook úít! En nie watse sendelinge nie: hulle beste leraars! Die twee manne wat hulle die minste kon bekostig om te verloor!

Opoffering loop hand-aan-hand met gehoorsaamheid. Die gehoorsame & afhanklike gemeente moet dikwels ‘n prys betaal. Dit is totaal ‘n ánder insig as wat óns idee van sending is, nie waar nie?!

Vir ons is die plaaslike gemeente die belangrikste en die bereiking van onbereikte mensegroepe kom heel laaste – ás ons tyd & geld (en lus) het. Indien ons wél betrokke raak, sal ons nie ons beste gee nie, maar dit waarsonder ons reken ons kan klaarkom.

Kan u sien & hoor hoedat die Gees ‘n ander taal praat in Hand 13? ‘n Nuwe gemeente ontstaan in Antiochië en binne 2 jaar lei die Gees hulle om hulle beste leraars as sendelinge uit te stuur na verdere onbereikte gebiede! Die hart van God klop en pomp vir die uitdra van die Boodskap na mense wat nog nie daarmee bereik is nie. Waarvan daar derduisende in Kaapstad is! En ek sê: Indien DIT is hoe SY hart klop, dan MOET my hart ook so klop, anders is ek uit pas met Sy wil. En dit sal ek nie wil waag nie.

En wat gebeur toe in Antiochië? Daar is onmiddelike gehoorsaamheid: die hele gemeente gaan weer in ‘n tyd van vas & gebed (13:3) (waaruit ons sien hoe ernstig hulle is om die Here se wil te doen) en toe lê hulle vir Barnabas & Paulus hande op en stuur hulle uit (13:3).

Hande oplê beteken: “ons stuur julle as ons verteenwoordigers. Ons kan nie self gaan nie, maar julle gaan namens ons en ons ondersteun julle. Dis so goed asof ons almal gaan.”

En moenie vers 4 miskyk nie: “Die Gees het hulle op hulle weg gestuur.” Dis die gemeente wat hulle stuur en tog is dit die Gees wat hulle stuur! Die gemeente is die Gees se instrument! Dit wat die gemeentelede fisies doen (vas, bid, hande-oplê) is wat die Géés doen.

Ons moes eintlik vanaand ‘n kaart gehad het om te sien presies watter roete Paulus & Barnabas gevolg het op hul sendingreis.

In kort kom dit daarop neer dat hulle vanaf Antiochië na die eiland Ciprus gegaan het (13:4). Ciprus is ‘n groot eiland in die Middelandse See. Dink aan die landkaart. Die land Israel/Palestina is geleë aan die verre oostekant van die Middelandse See. Noord van Israel is Sirië en noord van Sirië is Turkye. Antiochië is op die grens tussen Sirië & Turkye.

Van daar het hulle omtrent 200 km wes gevaar tot by die eiland Ciprus en Salamis is die eerste stad aan die oostekant van die eiland. Pafos is ‘n stad aan die westekant van die eiland. Hulle het dus eers Salamis besoek (13:5) en toe oor die eiland beweeg tot by Pafos, die hoofstad (13:6).

Oral – soos hulle gegaan het – het hulle die Woord verkondig, eerste in die Joodse sinagoges (13:5) en daarná aan die nie-Jode.

Hoe wonderlik séker was hulle van hulle roeping: om die Woord te bedien, net waar hulle kom. En let op: sóós die Woord versprei, versprei die koninkryk! Die twee gaan saam. Dit is die boodskap van Handelinge: die vooruitgang van die Woord en daarom die vooruitgang van die koninkryk.

Dit was egter in Pafos waar die duiwel se geduld met die sendelinge opraak en hy d.m.v. sy handlanger Barjesus/Elimas die prediking teëstaan (13:6).

Pafos was ‘n nes van okkultiese & afgodiese bedrywighede, want dit was die hoofsentrum van die aanbidding van die godin Afrodites/Venus. Die godin van die liefde. ‘n Immorele nes.

Pafos was ook die sentrum van die Romeinse regering op die eiland Ciprus. Die goewerneur Sergius Paulus het belanggestel in wat Paulus & Barnabas verkondig (13:7), maar Elimas was ‘n towenaar in diens van die paleis. As towenaar was hy kniediep in die okkulte – die lokaas van die duiwel. Hy was beheers deur bose geeste. M.a.w. dit is die bose wat deur hom praat. Daarom staan hy vir Paulus-hulle teë en probeer verhoed dat die goewerneur tot geloof kom (13:8).

U sien: Paulus-hulle se bediening ontlok weerstand & aggressie van die bose. Waar die Woord verkondig word, manifesteer mense se demone. ‘n Mens kan in Hand 13 so duidelik sien wát veroorsaak dat die sielevyand op sy agtervoete gaan staan. Hy was alreeds ongelukkig oor die gemeente wat in Antiochië ontstaan het – én oor die erns van daardie 5 geestelike leiers – én oor hulle gebed & vas – én oor hulle gehoorsaamheid aan die Gees om sendelinge uit te stuur – én oor Paulus & Barnabas se Woordverkondiging op Ciprus. En nou is sy geduld op en bewerkstellig hy ‘n kop-aan-kop konfrontasie – d.m.v. die towenaar. Ten alle koste moet die goewerneur verhoed word om die Woord te hoor.

Is dit nie ongelooflik hoe realisties die stryd in die geestelike realm hier uitgebeeld word nie?! Hoe geweldig dit is wanneer iemand tot redding kom – ‘n mens sien dit in die reaksie van die bose! Van duisternis na die lig! Dit is vanaf die krag van satan na God! (vgl 26:18). Wanneer iemand tot geloof in Christus kom, is dit letterlik ‘n oorgaan van een koninkryk na ‘n ander! Die vyand haat dit! Hy haat die verkondiging van die Woord. Hy haat dit dat mense aandagtig luister. Hy haat geloofsreaksie. Hy staan dit teë en probeer mense se verstand verduister.

Die Here Jesus is ‘n werklikheid. Die werking van die Gees is ‘n werklikheid. Die Bybel is die waarheid – elke letter daarvan. Mense wat tot geloof in Christus kom, word waarlik verlos. As daar iemand is wat dit alles glo, is dit die satan en sy demone. Daar is ‘n werklike geestelike stryd en konflik aan die gang – 24 uur per dag.

Soms is die weerstand openlik en dramaties, soms meer subtiel en agteraf en bedek. Lees Efes 6: 10 e.v. Die subtiele weerstand wat ‘n Christen soms van ander mense ervaar, is van die bose wat deur die ongelowiges werk.

En daarby kry ons die mense wat hulleself voluit blootstel aan die duiwel se invloed d.m.v. die okkulte – soos Elimas. Mense wat op die terrein van die bose gaan beweeg d.m.v. toordery, voortekens lees, waarseêry, raadpleeg van dooies (vgl Deut 18:10-13) speel op gevaarlike terrein en die duiwel sal op ‘n meer dramatiese manier d.m.v. súlke mense die evangelieboodskap teëstaan. Dit was die geval by Elimas die towenaar.

Maar kyk nou na die aangrypende gesag wat die gelowige in Christus oor die bose het.

Vervul deur die Gees spreek Paulus vir Elimas in die Here se Naam aan – eintlik praat hy met die bose gees wat vir Elimas in ‘n greep het. “Jou duiwelskind! Hou op om in die pad van die Here te staan. Die Here sal jou nou met blindheid slaan!”

En onmiddelik word alles voor Elimas se oë donker.

Dít is die gesag wat élke Christen oor die bose het. Paulus het geen spesiale gesag gehad nie. Alle gelowiges het dit, want jy is IN Christus en Christus se voet is op die bose se kop (sien Efes 2:6 en Efes 1: 21-22). Ons besit egter nie die gesag om links en regs met die duiwel te gesels of hom te bestraf nie, maar om positief in oorwinning te lewe!

Maar kyk nou na die wonderbaarlike vers 12: die goewerneur (wat alles aanskou het) was diep onder die indruk van die leer van die Here. Nie die Here se gesag oor die bose nie. Nie die wonderwerk wat voor sy oë gebeur het nie. Nie Elimas wat stokblind rondtas nie. Nie die bonatuurlike nie. Nie die ervaring nie. Nee – dit wat die goewerneur se hart deurboor, is Paulus & Barnabas se prediking – die evangelieboodskap, die leer aangaande die Here Jesus Christus. Is dit nie verruklik nie?!

Dít is hoe ons weet dat dit werklik die Heilige Gees was wat daar werksaam was, want die Gees draai nooit die aandag op Homself en die wonders wat Hy doen nie, maar Hy trek mense na Christus en Hy gebruik daartoe die Woord.

Die Heilige Gees is nooit besig om – terwyl Christus en die Woord daar anderkant werk – duskant ‘n eie privaat vertoning van wondertekens op te voer nie. Nee, hy slaan wel vir Elimas met blindheid, maar dit is net om hom uit die pad te kry sodat die goewerneur se ore die Woord aangaande Christus kan hoor.

Indien ons vir iets wil bid, laat ons dan bid dat die Heilige Gees hindernisse verwyder en mense se geestelike oë oopmaak om in die Woord vir Jesus te sien en aan Hom verknog te raak.

Dít is die grootste wonderteken van almal en selfs die duiwel met al sy slinksheid kan nie in die pad staan wanneer die Here mense só na Homself trek nie!

Category Pinkster 2021

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)