Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PINKSTER 2021 NO 3:
Skrif: Handelinge 11:19 – 12:25
Tema: Klaarspeel met struikelblokke

Ons kan maar sê wat ons wil, maar geen struikelblok is vir die Here té groot om te oorwin nie.

In een sinnetjie, is dít wat in Hand 12 staan. Wanneer die Here besig is om Sy wil uit te voer, speel Hy klaar met alle struikelblokke wat in Sy pad kom en Hy voer Sy plan uit! En wee die dwase mense wat die struikelblokke in die Here se pad geplaas het!

Kyk, in die eerste 11 hoofstukke van Handelinge beskryf Lukas vir ons hoe die Here ‘n plan het en hoe Hy begin om dit tot uitvoering te bring.

Sy plan lyk só: Jesus staan uit die dood op. Hy vaar op na die hemele en sit op die troon. Die Heilige Gees word gegee. Die Gees getuig van Jesus. Die Gees maak dat sommige mense Christene word. Die Gees maak hulle getuies vir Jesus – Hy maak hulle evangeliste. En so groei die Here se gemeente. Eers in Jerusalem, dan na die volgende gebied en verder en verder – ver buite die Jodendom tot by die nie-Joodse nasies.

Gisteraand het ons in Hand 10 gesien hoe ‘n Italiaanse soldaat – Cornelius – ‘n Christen word. In Hand 11 het ons vaneffe gelees hoe Jesus se volgelinge die Woord in Antiochië aan Grieke verkondig en hoe die Here se hand daarop was en baie tot geloof & bekering gekom het (11:21). ‘n Hele nuwe gemeente het daar ontstaan en dit is dáár waar die volgelinge van Jesus vir die eerste keer “Christene” genoem is (11:26).

Barnabas & Paulus is toe soontoe en het die nuwe gelowiges vir ‘n jaar lank onderrig in die Woord, want onthou, die Gees praat & werk deur indringende lering/onderrig/prediking! Dit is hoe ‘n gemeente ontstaan & groei. Dit is ook hoe ‘n individuele Christen groei: deur soveel moontlik onder behoorlike onderrig te kom.

Sien u hoe werk die Here se wêreldplan?

Natuurlik wil die satan hierdie plan keer. Daarom probeer hy met alle mag struikelblokke ingooi.

Die struikelblok wat lewensgroot in Hand 12 staan, is koning Herodes. ‘n Instrument in die hand van satan. Dit is nie die Herodes wat in die tyd van Jesus se geboorte die seuntjies laat doodmaak het nie. Dit was sy kleinseun, maar net so goddeloos soos sy oupa. Ons sien hom soos ‘n muur staan teen die Here se werk. Ons sien in 12: 1-4 hoe “in beheer” hy was.

En ‘n verskriklike ding gebeur: Herodes laat die apostel Jakobus doodmaak. Sommer net so.

‘n Mens kan jou voorstel in watter verwarde toestand die gelowiges was, want dit is ondenkbaar dat die Here een van die apostels kon laat sterf … en dit nog op so ‘n sinnelose manier. Die apostels se woorde was tog die fondament van die gemeente (Efes 2:20). Dit maak nie sin nie! Waarom? Hoe sal Jakobus se dood enigsins die voortgang van die Woord bevoordeel? Dit kan tog nie!

Hoor u die stryd? ‘n Bekende stryd, nie waar nie? “Here ek verstaan nie!! Waarom het ek nie daardie werk gekry nie? Waarom is ek siek? Waarom kom my vriend nie tot bekering nie? Waarom laat U die geweld/korrupsie in SA toe? Waarom laat U toe dat so-en-so in daardie land regeer en soveel ellende veroorsaak? Waarom verwyder U hom nie? Waarom al die onverklaarbare dinge in die wêreld? Hoe lank moet ons nog met Covid sit?”

Maar, wag die ergste kom nog!

Herodes sien dat die Jode daarvan hou dat hy Jakobus laat doodmaak het. Toe gryp hy ook vir Petrus en boender hom in die tronk, want dit was Paasfees. Ná Paasfees sou hy met Petrus afreken.

En daar sit Petrus soos ‘n misdadiger met 16 wagte rondom hom! Petrus: die rots van die Here se gemeente! Dink aan hoe wanhopig die gelowiges nóú was! Hoe sou hulle kon voortgaan sonder Petrus? Herodes sal hóm ongetwyfeld ook doodmaak. Hy is die ruggraat van die gemeente. En daar is geen manier hoe hy uit die tronk sal kom nie.

Hoor u die wanhoop by die gelowiges oor wát God doen en waarom Hy dinge toelaat? Die oorweldigende gevoel van: die vyand is in beheer.

En dis waar: die kinders van die Here hét maar pateties & bedremmeld gelyk teenoor Herodes.

Maar tog – al kon hulle nie verstaan wat aangaan nie – het hulle aangehou glo dat die Here leef, dat Hy op die troon is en dat Hy eenvoudige gebed verhoor!

En daarom het ‘n hele klomp van hulle by Johannes-Markus se ma, Maria, se huis bymekaar gekom en begin bid! “Aanhoudend” (12:5). Eintlik (in Grieks): “inspannend”. Hulle het ernstig gebid. Hulle het nie speletjies gespeel nie. En tog: in vergelyking met die magtige Herodes, hoe pateties lyk die klompie biddende mensies!! So swak en weerloos.

Vandag is dit steeds so: gebed word deur sommige gesien as ‘n patetiese aktiwiteit, ja, ‘n teken van swakheid en die einde van jou eie vermoëns. “Dis sinneloos”, sê party mense. “Daar kniel en woordjies in die lug in prewel, terwyl niks gebeur nie en praat met ‘n skim wat net in jou verbeelding bestaan. Ag, kom nou! Dis tydmors!”

Wel, in Hand 12 was mensies besig om sogenaamd woorde iewers in die lug in te praat – daar in Maria se sitkamer. En, ja, daar hét eintlik niks gebeur nie. Petrus sit steeds tussen 16 wagte. Hy slaap rustig, sonder spanning, alhoewel hy weet sy kollega Jakobus se kop het net nou die dag gerol. Maar hy het vrede in die Here en hy slaap lekker.

Maar, terwyl Petrus op die Here vertrou en die gemeente op hul knieë staan, gebeur daar niks.

U sien, die Here wag tot op nommer 99. Kyk wat staan in vers 6: eers die nag net voordat Herodes vir Petrus voor die volk sou bring, verskyn die Here se engel in die tronk!! Nie die vorige nag nie! Nie toe die gemeente BEGIN bid het nie. Eers op die tippie, maar volgens presiese tydsberekening. Ja, by die Here is daar altyd hoop.

Jakobus het nie uit die dood opgestaan nie. Niemand verstaan waarom hy moes sterf nie. Maar Petrus word wonderbaarlik bevry! In antwoord op gebed! Eers is hy totaal gedisoriënteerd toe die engel hom uitlei, soos ‘n mens 3uur in die oggend is, wanneer jou telefoon skielik lui. Jou hare is deurmekaar en jou linkerpantoffel is aan jou regtervoet en jy stamp die glas water om.

Baie gou kom Petrus egter agter dat ‘n boodskapper van die Here (engel) besig is om hom probleemloos te bevry. Die boeie val af – terwyl die soldate rustig slaap. Die tronkdeure swaai oop. Die Here doen dit nie eens self nie. Hy gebruik net ‘n engel.

Al was dit nag, weet Petrus dat die gelowiges besig sou wees om te bid – en ook wáár hulle besig sou wees om te bid. Dit was dus ‘n gereelde instelling. Hy sny toe reguit oor na Maria se huis toe.

‘n Mens wonder wát die mense besig was om te bid!? Sekerlik het hulle nie baie verwagting gehad dat die Here vir Petrus sou bevry nie. Hoe sal Hy dan tog? Hy het dan nie vir Jakobus uit Herodes se hand gered nie! Waarom sal Hy nou vir Petrus red? Miskien het hulle maar gebid dat die Here tog vir Petrus sal sterk hou in die tronk en hom krag sal gee om – wanneer hy sterf – dit as ‘n getuie vir die Here te doen. Ander het dalk gebid dat die Here tog vir Petrus sal bewaar soos Hy vir Daniël in die leeukuil beskerm het.

Intussen is daar ‘n klop aan die deur. “Rhode, gaan kyk gou wie is dié tyd van die nag by die deur.” Hulle bid verder: “Here gee tog dat Petrus nie in die tronk sal sterf nie.”

Rhode gaan en hoor Petrus se stem. Sy word só opgewonde dat sy vergeet om die deur oop te maak. “Dis Petrus wat by die deur is” roep sy in die bidders se ore. “Jy is totaal mal, Rhode”, snou hulle haar toe.

Hoe ironies! Hulle bid: “Here, red vir Petrus!” Dan klop Petrus aan die deur en Rhode gil: “Petrus is by die deur!” Maar hulle sê: “Jy is van lotjie getik”.

Toe hulle sien Rhode is ernstig, sê hulle: “Wel, dan moet dit seker Petrus se gees wees. Herodus het hom onthoof en nou is sy gees hier by ons voordeur.” Hulle geloofshoop was maar skraal. Die Here het nie vir Petrus bevry o.g.v. die kwaliteit van die bidders se geloofshoop nie, maar slegs o.g.v. Sy vrye genade.

Wat ons moet raaksien is dat die Here klaarspeel met struikelblokke in die pad van Sy plan. Die Here laat nie toe dat die vloei van die rivier van Sy genade deur die wêreld geblokkeer word nie. Hy speel totaal klaar met die magtige Herodes.

Ewe skielik is dit Herodes wat pateties lyk. Nie net lig die Here met Sy pinkie vir Petrus uit Herodes se magtige tronk nie, maar Hy gee vir Herodes net ‘n ligte tikkie – en daar lê hy morsdood op die grond, nog so gedrappeer in sy vername glinsterende koningsgewaad, en wurms vreet hom op.

Dit het in Seserea gebeur toe Herodes eendag die mense toegespreek het. Hy het sy koninklike gewaad aangetrek en op sy troon gesit en praat. Toe skreeu die mense: “Dis ‘n god wat daar praat, nie ‘n mens nie!” En Herodes bestraf hulle nie! Hy hou daarvan dat hulle dink hy is ‘n god! Hy steel die eer wat aan die ware God toekom vir homself.

Toe tref die Here hom! Net daar! Die Here laat Hom nie bespot nie. Hy kan die magtigste mense grond toe bring. Binne-in daardie glinsterende koningsgewaad, was Herodes net ‘n gewone mens. En sy ingewande vol wurms wat hom gevreet het.

En moenie vers 24 miskyk nie: “Maar die Woord van God het verder versprei en veld gewen.” Herodes lê dood op die grond, maar die Here se Woord seëvier en versprei. Die bordjies is verhang.

Indien ons fyn luister, sal ons die Heilige Gees se stem met ons hoor praat uit Handelinge 12. Ek dink ‘n mens hoor ‘n paar dinge. Kyk of u dit saam met my kan raakhoor:

1) Dalk moet ons nie so maklik moedeloos raak wanneer daar goed gebeur wat dit laat lyk asof die Here nie weet wat Hy doen nie – en dat Hy nie omgee nie – en dat Hy aan die slaap is nie. Al verstaan jy nie waarom jou persoonlike “Jakobus” moes sterf nie, moenie moed opgee en jou rug op die Here draai nie. Kort voor lank word jou Petrus uit die tronk bevry! Want die Here leef en Hy sit op die troon. Sorg jý net dat jy aan Sy voete bly.

2) Al voel dit of gebed net ‘n sinnelose gegorrel in die lug is en jou gedagtes ronddwaal en jy halfpad aan die slaap raak – moenie glo nie: dit wérk, maar nie omdat jy so oulik óf so vrot bid nie OF omdat jy so geestelik is nie, maar slegs omdat die Here so genadig is. Laat ons meer maak van gebed en ook saambid in groepe. Spesiale tye van gebed bring groot seën & diepte in ‘n gemeente.

3) Struikelblokke in die Here se pad, wat soos yster tronkdeure lyk, kan probleemloos oopswaai. Die Here skrik nie vir koue pampoen nie. Skep moed!

4) Terug na 11:21 – in Antiochië het baie Grieke “tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer.” Hulle het daarop begin vertrou dat Jesus hulle van hulle sondeskuld gered het met Sy kruisdood en hulle het omgedraai na die Here toe. Eers dán kan jy met oortuiging sê dat jy ‘n kind van die Here is. Maak daarvan dubbeld seker!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)