Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 8
1 Timoteus 5: 1-16
Tema: Reflekteer God’s heiligheid

Om hoofstuk 5 reg te verstaan, moet ‘n mens in jou agterkop die uitgangspunt vashou wat vroeër in die brief gestel is, naamlik dat die gemeente van Christus die huishouding van die lewende God is. Dit is ‘n baie belangrike begrip. Dis ‘n familiebegrip. Gemeente = huishouding.

Binne ‘n huishouding is daar verskillende groepe onder een dak. Daar is pa’s, ma’s, jongeres, broers, susters, oupas en oumas.

In die lewende God se huishouding is daar bejaardes, jongeres, weduwees, slawe (tipies van daardie tyd) ensovoorts. Verskillende stande en leeftydsgroepe.

Timoteus was nog jonk, maar hy moes ampshalwe – as leraar – teenoor AL die groepe binne die Here se huishouding tot eer van die Here optree. Ja, as dienaar van Christus en verteenwoordiger van die Apostel Paulus.

Deel van Timoteus se ampswerk as Evangeliedienaar is ook om in die Naam van die Here te vermaan en tereg te wys. Dis deel van die Evangelieverkondiging, want die Here het die genade van die Evangelie ingebou in die vermaning. Hoor mooi: die GENADE van die Goeie Nuus ingebou in die VERMANING. Dit is sake wat nie mekaar uitsluit nie, maar insluit. Teregwysing moet lei tot bekering en herstel en ‘n dieper lewe met die Here. Vermaning is ‘n positiewe en goeie saak. Dit kan lewens red.

‘n Mens sien hierdie beginsel regdeur die OT – in besonder hoedat die profete se vermanings altyd die Here se volk se heil/verlossing/redding/behoud in die oog gehad het.

Hoewel Timoteus die gesag gehad het om te vermaan en te onderrig, mag hy nie mense uit die hoogte benader nie en moes hy ‘n sagte toon handhaaf – met ootmoed beklee soos 1 Petrus 5:5 sê.

Ouer manne moes hy hanteer asof hulle sy eie pa is en jongeres asof hulle sy eie broers is. Die liefde van ‘n kind en broer dus.

Ouer vroue moes hy benader asof hulle sy eie ma is en jonger vroue asof hulle sy eie susters is. IN ALLE REINHEID voeg die apostel by wanneer dit by die jonger vroue kom. Timoteus moes ekstra waaksaam wees wanneer dit by die jonger vroue in die gemeente kom – wetende dat die vyand op die uitkyk sal wees om struikeling te bewerk. IN ALLE REINHEID verwys dus na seksuele reinheid – wat baie punte by God tel.

Oor die algemeen adem hierdie twee verse ‘n stuk skoonheid en prag – iets van die Here self wat deurskyn wanneer dinge binne ‘n gemeente reg loop en onder die koningskap van die Here Jesus is.

Af nou na verse 3-4 …

Die apostel onderskei twee soorte weduwees in die gemeente van Efese. ‘n Weduwee is iemand wat alleen agtergelaat is, maar sommige is heeltemal sonder die steun van familie en ander het wel steun.

Binne die konteks van daardie tyd, het die samelewing erg teen weduwees gediskrimineer. Hulle was meesal sonder heenkome en het veral finansieël swaargetrek.

Eersgenoemde groep – die weduwees wat geen steunbasis van haar familie het nie – moet daadwerklik deur die gemeente gehelp word en versorg word. In Markus 7:9-13 het die Here Jesus uitdruklik beveel dat hierdie tipe weduwee stoflik/materieël ondersteun moet word. Dit is trou aan die 5de gebod.

God is self die regter van die weduwee (Ps 68:6). Hy kom op vir hulle regte – juis omdat hulle in die destydse samelewing die meeste uitgebuit en onbeskerm was. Die Here HAAT onreg en Hy haat uitbuiting. Hy is altyd VIR diesulke kwesbares se behoud. In Jakobus 1:27 lees ons selfs dat dienswerk in hierdie opsig (weduwees en wese) tot die wesenlike kenmerke van die ware Christelike godsdiens behoort! So ernstig is die Here God hieroor.

Geen wonder dus dat die Apostel Paulus vir Timoteus opdrag gee om OOK in die gemeente van Efese, nie net die weduwees wat totaal alleengelaat is te versorg nie, maar toe te sien dat hulle met eer en respek behandel word. Dit is so vreeslik baie die hartklop van die Here!

In die geval van weduwees wat wel familie het en ondersteuning het, is dit – volgens apostoliese instruksie – die kinders – indien hulle wel tot geloof en bekering gekom het en met die Here leef – se plig om daardie weduwees te versorg. Dit is weer eens die uitvoering van die 5de gebod. Die Here verlang dit van hulle in Sy Woord. Dit is Sy eksplisiete wil. Nie die gemeente nie, maar die familie self dra eerste verantwoordelikheid teenoor so ‘n weduwee.

Dit is nie net ‘n kwessie van plig nie, maar dit is ‘n stuk dankbaarheid vir die Here Jesus Christus se kruisverlossing. Die hele lewe van ‘n ware Christen staan immers in die lig van dankbaarheid en niks anders nie. Gehoorsaamheid aan God is nie pligpleging nie, maar ‘n uitvloeisel van ‘n stuk dank en verwondering.

Daar is sommige hedendaagse predikers wat niks van GEHOORSAAMHEID wil weet nie, want hulle reken dat dit ‘n deur vir verdienstegodsdiens oopmaak. Jy is gehoorsaam sodat God jou moet beloon. Jy probeer Sy guns verdien. Nee, sê hulle, jy lewe net as Christen deur te glo dat jy vir tyd en ewigheid op die kruis van Golgota reggestel is met God. Jy glo net dit en klaar. En soos wat jy glo, sal Sy Gees in jou werk en jou lewe sal vanself in pas kom met dit wat Hy wil.

Soos altyd, is dwaling met waarheid vermeng – daarom klink dit so aanloklik.

Die waarheid is: Ja, die Christus-gelowige is inderdaad deur Jesus se kruisdood 100% met God reggestel en hierdie feit kan slegs maar geglo/vertrou word. Dit is waarheid.

Wat soms egter verswyg word, is dat hierdie reggestelwees-met-God-uit-genade-alleen-en-sonder-verdienste produseer vrug van dankbaarheid en dit is aktiewe gehoorsaamheid. Dis nie die Heilige Gees in jou wat gehoorsaam is nie. Dis JY wat gehoorsaam is. NIE om daardeur jou posisie van reggestelwees-met-God te behou of verdien nie, maar omdat die nuutgebore hart van die verloste God liefkry en Sy wil wil doen. En een daarvan word in verse 3-4 genoem: die versorging van weduwees en mense wat sonder steun is.

Verse 5-7 vervolgens

Vir die Apostel Paulus (en dus vir die Here deur hom) is dit belangrik dat mense wat die Here Jesus as verlosser bely – gemeentelede dus – volgens die standaarde van die Woord van God sal leef. Onberispelik, sê hy. Daarmee bedoel hy nie sondeloos-volmaak en perfek nie, maar getrou aan die Evangelieboodskap en die apostoliese leer.

Daartoe moet die leraar – Timoteus in hierdie geval – sonder ophou aanhou en aanhou om alles wat hy by Paulus geleer en gesien het, by die gemeente in te skerp. Inskerping en nogmaals inskerping – sonder om moeg te word. DIT moet ‘n getroue leraar onvermoeid en voortdurend doen. En die gemeente moet van hom VERWAG om dit te doen. Want nie alle belydende Christene IS noodwendig belydende Christene nie – of nie almal LEEF hulle belydenis sigbaar uit nie.

Neem die weduwees – waarna in die vorige verse verwys is – as voorbeeld. Bedoelende weduwees wat gemeentelede is en wat geen familie het wat vir hulle kan versorg nie en uitgebuit word deur die samelewing en dus in aanmerking kon kom vir materiële hulp van die gemeente se kant af.

Sommige van hulle – nadat hulle mans oorlede is en hulle totaal alleen agtergelaat is – reageer op hulle krisis van verlies, deur na die wêreld terug te keer en soos ongereddes/onverlostes te gaan leef.

Ander van hulle WYS weer dat die Here hulle eerste liefde is. Hulle lewens wys dit.

Sommige verwerk dus hulle krisis en verlies deur WEG te draai van die Woord NA losbandigheid en oorgawe aan ‘n wêreldse lewenswyse en sinlike genot. Dalk gaan hulle in ‘n ongehude saamwoonsituasie met ‘n man – watter patetiese onchristelike voorbeeld dit vir hulle kinders en kleinkinders is, ten spyt.

SO ‘n weduwee, so ‘n persoon, is lewend dood. Fisies is hulle lewend, maar geestelik dood – soos Openb 3:1 sê. Sy kan nie eintlik aanspraak maak op versorging van die gemeente nie.

Ander weduwees hanteer hulle krisis op ‘n manier wat prakties WYS dat hulle weergebore Christene is. Hulle is nie net in naam lidmate van die gemeente nie, maar hulle is dit werklik!

Dikwels is dit krisisse wat wys waar ‘n mens geestelik staan. Ons sien dit baie duidelik in hierdie uitgerekte periode van pandemie. Die eise wat dit stel wys wie is wie, nie waar nie.

Wat betref die onuitspreeklike, verskriklike, onrusbarende krisis in KZN en Gauteng – tussen hakies – moet ons veral bid dat dit daartoe mag lei dat die ware dissipels van Christus met krag sal kan uitstaan vir die Here soos nog nooit te vore nie.

Hierdie tweede groep weduwees, sê die apostel, werp hulleself totaal op die Here, want van Hom alleen is al haar verwagting. Sy maak van gebed haar lewensasem – of dit dag is en of dit nag is. SO ‘n persoon is fisies lewend EN sy LEWE ook werklik vir ewig – sy het die ware lewe – wat oneindig is – ontdek. Krisis en verlies ten spyt.

Nou dan vers 8 ….

Die BEGINSEL in die vorige verse is dus dat die familie ‘n eenheid is, waarin die een vir die ander moet sorg dra. Sorg vir die weduwees is ‘n voorbeeld daarvan.

Maar in vers 8 stel Paulus dit nog veel sterker! Baie sterker. Hy sê: Indien ‘n man nalaat om vir sy huisgesin en eie mense te sorg, is hy op geen manier ‘n verloste mens in Christus nie. So ‘n man se belydenis van geloof beteken niks. Dis dood, wát die skyn na buite ookal mag wees. Jakobus onderstreep dit in Jak 2: 14-17, waar hy onomwonde sê dat die geloof wat nie vrug dra in DADE nie, dood is. En Jakobus verwys juis ook na die versorging van noodlydendes.

‘n Man wat nalatig is wat betref sy huisgesin, doen iets wat heidene nie eens doen nie. Ook barre heidene, wat niks van die Evangelieboodskap weet nie, gehoorsaam tog wel die stem van die liefde en eerbied vir ouers en hulle weet om om te sien na hulle gesin. Die belydende Christen – wat dit nalaat – is dus slegter as die heiden.

Dis ‘n geweldige uitspraak om te maak, maar die Apostel praat met God se Woord in sy mond.

Indien ons 1 Kor 5:1 hierby sou vergelyk, is dit duidelik dat só ‘n nalatige man – wat bely dat hy verlos is in Christus – ‘n voorwerp van kerklike tug is.

Die punt is net so duidelik: Waar die Gees van die Here regtig ‘n werk in iemand se lewe gedoen het, SAL daar vrug wees wat duidelik sigbaar is. Net soos ‘n liggaam wat lewe, asem sal haal – ‘n boom se vrug praat altyd die waarheid oor watse boom dit is.

Verse 9-10 vervolgens

Destyds het die weduwees – wat ‘n sekere ouderdom bereik het en godvrugtig geleef het – spesifieke dienswerk in die gemeentes verrig. Ons weet nie spesifiek WAT dit was nie en dit lyk nie of dit in die ampte van ouderlinge en diaken was nie, maar daar was ‘n lys van dienende weduwees en daar was sekere voorwaardes waaraan hulle moes voldoen. Indien hulle as ouderlinge of diakens sou gedien het, was daar geen nodigheid vir ‘n aparte lys nie.

Paulus meet godsvrug aan sekere duidelike kenmerke. Dit is nie moontlik om godvrugtig te wees SONDER dat dit duidelik sigbaar word vir ander mense om te sien nie. Timoteus moes gaan kyk WAAR hierdie kenmerke sigbaar is en dan DAARDIE weduwees op die dienslys plaas.

Die vroegste kerk het in heidense omgewing en onder ‘n vyandige owerheid geleef en Christene was aan allerlei verdrukking blootgestel en was dus aangewese op die bystand van mede-gelowiges. Dit het geleentheid gebied aan weduwees om hulp te verleen.

Die Apostel wou egter toesien dat diegene wat dien absoluut oorgegee moes wees aan Christus en Sy werk. Daarom moes hulle verkieslik nie weer trou nie sodat niks hulle aandag kon weglei van 100% diens aan Christus nie. Vandaar die ouderdomsperk wat hy stel.

Weduwees wat getrou was aan hulle mans en sedelik rein geleef het asook goeie opvoeding aan hulle kinders gegee het, kon op die lys kom. Hulle moet daarvoor bekend wees dat hulle gasvry is en nederige liefdesdiens verrig.

Die apostel is nie hier besig om voorskrifte te gee van hoe dinge vandag nog gedoen moet word nie – byvoorbeeld voetewas en vreemdelinge huisves nie. Dit was die situasie in daardie tyd. Maar die beginsels is steeds van toepassing naamlik godvrugtigheid wat sigbaar is in liefdesdiensbaarheid en die handhawing van ‘n hoë geestelike standaard.

Ons sien dus in hierdie twee verse so baie duidelik hoe heilig die Here is, want hierdie standaarde reflekteer vir Christus self. Wie IN HOM is, sal deur die Gees ‘n nuwe lewe begin leef – ANDERS as wat die ongeredde mens dink en doen en optree. En dit moet in Christus se gemeentes sigbaar word na buite.

Verse 11-12…

Dis net asemrowend om dop te hou en te sien hoe die lewende God se kop werk en hoe Sy hart klop en dan te wens dat myne ook só kan werk.

Die Evangelieboodskap is ‘n saak van alles of niks. Indien ‘n Christen ‘n belofte afgelê het om in diens van Christus se gemeente te wees, mag niks hom/haar halfhartig maak nie.

Die apostel se uitgangspunt is dat ‘n CHRISTENweduwee wat ongetroud bly, ALLES sal gee in toewyding aan die Here en Sy gemeente. Omdat sy ‘n Christus-gelowige is, SAL sy so doen. Sy sal haar belofte om die Here so te dien, nakom.

Maar trou sy, word haar aandag dalk verdeel en begin sy die Here se werk afskeep. DIT is die Paulus se vrees. En daarom wil hy nie weduwees onder 60jr op die lys van besondere dienswerk binne die gemeente hê nie. Want dalk kon hulle gaan trou en dan halfpas begin werk. In daardie tyd was 60 jarige ouderdom al gevorderd in jare en die kanse van ‘n huwelik klein.

Verse 11-12 beteken NIE dat weduwees (of enigiemand) wat trou, hulle afwend van Christus en hulle hulle trou aan Hom verbreek nie. Paulus praat nie TEEN die huwelik as sulks nie. Vroeër in die brief het hy dan juis gesê dat dit vals leraars is wat mense verbied om te trou.

Nee, ons moet hierdie verse verstaan in die lig van ‘n gedeelte soos 1 Korintiers 7:32-34 waar Paulus sê dat die ongetroude Christengelowige se aandag minder verdeel is as dié van die getroude. Die ongetroude kan sy/haar volle aandag aan die Here gee, maar die getroude se belange is verdeeld. Dis die gevaar waarteen hy waarsku, want vir die Here gaan dit oor alles of niks wanneer dit kom by dankbaarheid en gehoorsaamheid.

Dieselfde geld vir verse 11-12. Weduwees wat spesiale diens in die destydse gemeentes verrig het, het ‘n belofte voor die Here afgelê en die Apostel wou hê dat hulle dit prioriteit moes maak. Want só werk die hartklop van die Here. Hy wil Sy mense heeltemal vir homself hê soos Jakobus 4:5 dit stel. En Sy Gees werk so kragtig in die gelowige se lewe, dat daardie persoon begeer om voluit te gaan.

Ten slotte verse 13-15…

Om saam te vat: In die vroegste gemeentes kon weduwees BO 60jr spesiale dienswerk verrig en het hulle ‘n belofte van trou hiertoe moes aflê. Weduwees ONDER 60jr is nie gebruik nie omdat hulle dalk weer kon gaan trou en dan is hulle aandag verdeeld.

Maar daar was nog ‘n rede: Die dienswerk wat weduwees vervul het, het behels dat hulle van huis tot huis besoek moes aflê. EN dit kon weer daartoe aanleiding gee dat hulle hulle huislike pligte versuim en rondloop soos mense wat niks te doen het nie en tyd verkwis en hulle met ander se sake bemoei. Dit sou afbreuk doen aan die saak van die Evangelie en in Satan se hand speel.

Binne die heidense en vyandige omgewing waarbinne hierdie gemeentes meesal geleef het, was daar altyd diegene wat op loer was vir geleenthede om met lasterstories die Here se kerk te benadeel. Satan self was die uitdinker hiervan.

Die apostel was juis bewus van ‘n klompie jong weduwees in Efese wat op hierdie manier reeds in die duiwel se strik getrap het. Dis was dus net veiliger – vir die saak van die Evangelieboodskap – dat jonger weduwees NIE op die lys van dienende weduwees kom nie.

Maar dit beteken nie dat hulle nie ‘n lewensdoel het en ‘n goddelike roeping kan vervul nie. Hulle kon weer gaan trou – met ‘n ware Christus-gelowige man – volgens die voorskrif in 1 Kor 7:39. Hulle kon weer kinders hê en godvresende huisgesinne opbou. So sou hulle die monde snoer van diegene wat skinderstories wou versprei en op hierdie manier sal die duiwel tweede kom.

Hoewel ons nie meer vandag dienslyste vir weduwees het nie, kan ons steeds soveel uit hierdie verse leer.

Ons leer hoe belangrik dissipline vir God is. Persoonlik en kerklik. Ons leer hoe belangrik ‘n heilige lewe vir Hom is. En hoe WERKLIK die geestelike stryd tussen lig en duisternis is. En hoe belangrik ons getuienis na buite is. Christene leef nie op ‘n eiland nie. Ons leer ook hoe versigtig ons moet leef en waaksaam teen onverskilligheid.

Dit is die dinge wat die Here behaag.

En hoe groter die krisisse rondom ons raak, hoe meer moet die Christen aan hierdie dinge verkleef raak.

Dis Covid en dis sterftes en onsekerhede en dis ‘n land wat brand – alles skep net spanning en ‘n gevoel van insekuriteit en onstabiliteit.

Maar gaan dit ‘n negatiewe uitwerking op die Christen se toewyding hê en ‘n demper plaas OF sal dit die ware Christen aanspoor tot ‘n dieper en dieper en ernstiger wandel met die Here? Sal dit daartoe lei dat die kerk wakkerskrik en besef dat die Evangelieboodskap Suid-Afrika se enigste ware hoop is? Sal die kerk uit sy gemaksone kom en die Evangelie roekeloos begin verkondig? Tydig en ontydig.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)