Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 7
1 Timoteus 4: 6 – 16
Tema: Totale toewyding

Timoteus was ‘n jong leraar in die gemeente van Efese en die Apostel Paulus is besig om aan hom onderrig te gee aangaande sy persoonlike lewe voor God en ook sy praktiese bediening in die kerk.

Timoteus was Paulus se geestelike kind. As senior pastor skryf die apostel aan sy jonger kollega met diepe pastorale bewoënheid. Daarom word 1 & 2 Timoteus asook Titus in kerklike taal die sogenaamde “pastorale briewe” genoem.

Ons duik in by verse 6-7…

Daar is ‘n sekere manier waarop Timoteus teen dwaalleer en vals leraars in Efese moes optree:

1 > Hy moes die waarheid wat die Apostel in die vorige verse uitgespel het en in die res van die brief sal leer, aan die gelowiges in die gemeente ernstig voorhou

2 > hy moes die dwalings duidelik en helder verwerp

3 > hy moes ‘n persoonlike voorbeeld stel van ‘n toegewyde lewe passievol vir Christus en die waarheid van die Woord

Die gemeente is God se huishouding en die lidmate van die gemeente is broers en susters van mekaar en verantwoordelik vir mekaar in liefde.

Timoteus (hy was self nie ‘n apostel nie) moes die suiwer leer van die apostels aan hulle gaan VOORHOU en nie afdwing nie. Dis hoe ‘n goeie dienaar van Christus doen. ‘n Goeie dienaar/herder/pastor/ouderling regeer nooit oor ‘n gemeente deur te hiet en gebied wat gedoen en wat nie gedoen moet word nie. ‘n Goeie dienaar wys die gemeente op die Skrif en sê: “Kom ons almal stel ons onder hierdie leer.” En verder stel hy ‘n voorbeeld.

Die gemeente sou weldra agterkom dat Timoteus ‘n goeie dienaar van Christus is, terwyl hyself geestelik sal groei omdat hy met geestelike voedsel gesterk word. Hierdie voedsel is natuurlik alles wat die apostels geleer het (wat nou in ons NT is) te same met die Ou Testament. Die enigste ware goeie leer – en niks anders nie.

Vals godsdiens is behep met voedselwette, maar die ware Christus-gelowiges voed op die Waarheid van die Woord.

Vers 6 sê niks anders nie as dat mense wat getrou aan die Here wil leef, hulleself moet verlustig in Sy Woord – dit as’t ware moet eet. En die voorgangers – soos Timoteus was – moet die voorbeeld hierin stel. Goeie dienaars lei deur middel van ‘n voorbeeld te stel. Timoteus moes so doen. Die ouderlinge moes so doen.

Maar, te same met – gelyklopende met die positiewe eet van die Woord – gaan die aksie van besliste afwysing van dwaling en leuens. VERDIGSELS noem die Apostel dit. Want dit kom absoluut net uit die MENS se hart. Daarmee moet radikaal gehandel word. BLY WEG sê vers 7. In ons idioom beteken dit: bly weg van die radio waar vals profete praat. Bly weg van TV, aanlyn, YouTube. Waarsku ander en gebruik alle middele daarvoor.

Maar meer belangrik: Wees dikwels in die Gym. Die Here se gimnasium. Oefen jouself om toegewyd te leef. Oefening kos natuurlik tyd en dissipline en prioritisering en inspanning. Dis die tipiese pad van iemand wat gevul is deur die Heilige Gees.

Vir enigiets anders wat ‘n mens se verbeelding aangryp of waarvoor jy passievol is, sal jy met graagte tyd maak en aandag gee en tyd spandeer – ja jouself gee. Jy doen dit gewoon outomaties. Dit kom vanself.

Nou ja, waarom dan nie só met die wandel met God nie – jy en ek BELY dan dat jy in Christus gered is en dat jy ‘n ernstige volgeling van Christus is! Maar, uiteindelik is dit jou praktiese lewe van elke dag en jou spontane lewenskeuses wat WYS waar jou prioriteite regtig lê.

Dis so interessant om daarna op te let:

Wanneer ‘n persoon hom/haar oorgee om ‘n sekere doelwit te bereik, word hy van oral toegejuig. Ek dink byvoorbeeld aan die man wat aan die begin van die jaar man-alleen van Kaap na Rio geroei het.

Mense GEE hulle tyd, energie, dissipline aan soveel dinge. Hulle is bereid om sekere dinge te prioritiseer. En hulle word bewonder. “Wow, dis wonderlik hoe toegewyd hy is met sy skilderwerk..”

Maar laat iemand nou net dissipline, oefening, tyd en energie inploeg in die Koninkryk van God – byvoorbeeld ‘n gedissiplineerde gebedslewe najaag. Gedissiplineerde studie van die Skrif maak. Oorgegee wees aan die uitdra van die evangelie. Dan word gesê: “Ag nee, het hy/sy dan nou kêns geword? Niks wat TE is, is goed nie. Dis net ‘n dweper wat so te kere gaan!”

Ek herinner u graag aan die Heilige Gees se opinie hieroor – soos dit geskryf is in 1 Johannes 2:15 – “Moenie die wêreld liefhê en die dinge van die wêreld nie. As enigiemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want al die dinge van die wêreld – die begeertes van die vlees, die begeertes van die oë, die trots van die lewe – is nie van die Vader nie, maar van die wêreld. En die wêreld en al sy begeertes gaan verby, maar wie ookal die wil van God doen, bly vir ewig.”

Wil ‘n mens jou alles gee vir dit wat verbygaan – wat jy in elk geval eersdaags gaan verloor – of vir dit wat vir ewig bly?

Ja, die onverloste, onwedergebore menslike natuur GRIL vir die gedagte om algeheel aan die Here oorgegee te leef. Die onverloste natuur wil aan homself oorgegee wees. Maar, waar die Here Jesus Christus die stuurwiel oorneem, begin dinge anders werk.

Ons skuif nou af na verse 8-9…..

In vers 7 het die apostel verwys na die gimnasium waarin Timoteus (en eintlik alle Christene) daagliks moet oefen. Oefen in godsvrug en toewyding aan die Here.

Maar wat dan nou van liggaamlike oefening? Is dit nie ook belangrik nie? Ja, dit is baie belangrik, maar in vergelyking met geloofsoefening, het dit net ‘n bietjie waarde.

Paulus kontrasteer die twee. Dit help nie jy kan ‘n maraton suksesvol bemeester, maar jy is power en swak in godsvrug, gebed, Woordstudie, ‘n heilige lewe, erns met oorwinning oor sonde en heiligmaking en die uitdra van die Evangelie nie. Toewyding aan die Here het in alle opsigte baie waarde, want dit bevat ‘n stuk LEWE – nie net lewe wat betref hierdie kortstondige lewe nie, maar ook die lewe hierná.

Sommige mense spandeer ure per dag aan liggaamlike oefening, maar feitlik niks aan oefening in godsvrug nie. Twee ure in die gym en 2 minute in gebed en 2 minute in die Woord. Sommige kerklidmate bely met die mond: “Ek is beslis ‘n dissipel van Christus”, maar hulle het weinig aptyt vir God se Woord. Dit is slegs die Heilige Gees wat ‘n mens se oë vir hierdie dinge kan oopmaak.

Die apostel se oog kyk altyd na DIT wat die swaarste weeg, wat die belangrikste is en veral DIT wat waarde vir die ewigheid het. En ons weet dit is eintlik die Here self wat deur Paulus praat en argumenteer omdat hy ‘n apostel is.

Mense wat nie hierdie Geesvervulde perspektief het nie, sal altyd geneig wees om die TYDELIKE en kortstondige te verabsoluteer en byvoorbeeld oordrewe waarde te heg aan iets soos sport.

Nee, ‘n ware Christen – volgeling/dissipel van Christus – mag nie onverskillig wees teenoor sy/haar liggaam en fiksheid en gesondheid nie – die liggaam is immers tempel van die Heilige Gees sê 1 Kor 6:19 – en volgens Rom 12:1 moet ons juis ons LIGGAME in Sy diens stel.

Liggaamlike oefening is beslis belangrik, maar dit is egter nie vir ALLES nuttig nie. Dit beteken weinig vir ons verhouding met God en vir die ewigheid.

Iemand in wie die Heilige Gees kom woon het, het altyd hierdie bril en sig op die ewigheid. Maar iemand in wie die Gees nie woon nie, haak altyd vas op die hier en die nou en die tydelike en sigbare en tasbare. Sy/haar lewe draai 99% dáárrondom.

Hierdie is ‘n absoluut betroubare woord, sê vers 9. Dit kan sonder enige voorbehoud aanvaar word.

Die mens se hart wil mos altyd bevraagteken en betwyfel en die Here se woord weeg. Soos die slang vir Eva laat doen het: “HET God regtig gesê?” Maar dit mag nie. Die Woord kom van Bo en is daarom ten volle waar en betroubaar. Wie HOOR, mag onmiddelik GLO! Wie glo, se lewe word deur die Gees bekragtig.

Verse 10-11 vervolgens…

‘n Godvrugtige lewe, hou ‘n belofte in van LEWE – nie net in hierdie lewe nie, maar vir ewig. Dit word in vers 8 gesê.

En daarom – soos ‘n atleet wat voortbeur om deur die lint te kan breek – span Paulus hom in met al sy krag en stry hy vir die Evangeliebediening en ‘n persoonlike heilige lewe. Want dit is die moeite werd! Dit is oor en oor die moeite werd.

Maar dit is nie ‘n vergeefse inspanning nie, want die apostel se sekere toekomshoop is op die lewende God vasgenael. En omdat HY lewe, is niks tevergeefs nie. Die feit dat die Here die LEWENDE God is, gee sin en betekenis aan alles. Dit maak die inspannende stryd, sinvol.

Die lewende Here is immers die verlosser van almal, sê hy. Almal wat gelowiges in Christus is.

Die woord ALMAL word weer eens – net soos vroeër in die brief – nie universeel bedoel asof dit elke individu op aarde insluit nie. Dit is ALMAL in ‘n beperkte sin – almal wat op Christus hoop. Jesus is die Verlosser van almal wat op Hom hoop.

Die woord VERLOSSER word eintlik op ‘n tweeledige manier bedoel: Verlosser van die verderf en konsekwensies van sonde, ja, maar ook in die sin van onderhouer/versorger. DIT is Jesus inderdaad van alle mense (soos Handelinge 17:25 bevestig), maar Verlosser van sondeskuld/oordeel/straf is Hy net van die Christus-gelowiges. Hy kan onmoontlik nie die Verlosser IN DAARDIE BETEKENIS van alle mense – kop-vir-kop elke individu – wees nie, want dit sou in stryd wees met die res van die Skrif wat leer dat die meerderheid mense verlore gaan.

Die Skrif leer volstrek nie universalisme nie – naamlik dat alle mense uiteindelik verlos sal word nie. Dis ‘n dwaling wat deesdae weer kop uitsteek in sommige kerke – maar dit is kettery.

Dit wat ons in ons kerke moet predik en leer en onderrig en waarin ons moet lewe, is dit wat die apostel Paulus in hierdie verse beveel. DIT en niks anders nie, sê vers 10. Met geen afwykings nie. Meer as ooit is dit noodsaaklik dat ons die suiwer leer moet najaag, kos wat wil.

Vervolgens verse 12-13

In hierdie gedeelte van die brief gee die apostel Paulus vir Timoteus riglyne rakende die praktiese versorging van die gemeente in Efese, waar Timoteus leraar was.

Timoteus was nie ouer as 35jr nie en die moontlikheid het bestaan dat veral die ouderlinge op hom kon neersien. Hy moes egter nie toelaat dat so ‘n houding hom ontmoedig nie, maar moes deur sy optrede en godsvrug bewys lewer dat hy die hoedanighede besit om voorganger te wees.

Dit is altyd hoe die vrug van die Heilige Gees werk: ‘n Christen bewys nie hom/haarself deur self te verdedig of argumenteer nie, maar deur te LEEF. Dit wat GELEEF word, is onaanvegbaar en lewer onbetwisbare bewys van die realiteit van Christus in ‘n mens se lewe. ‘n Voorbeeld in woorde, dade, liefde, geloofsvertroue, reinheid – in teenstelling tot die onsuiwerheid van ‘n wêreld wat nie die Here ken nie. SO moes Timoteus sy kritici op hul neuse laat kyk het. En so is dit vandag nog steeds.

Timoteus moes twee dinge te alle tye doen: 1> ‘n Voorbeeld wees en 2> Sonder ophou die Woord verkondig

Hierdie twee loop hand aan hand. Hoofsaak vir ‘n leraar (soos Timoteus was) is die toelê op die lees, prediking en onderrig van God se Woord. Die “Skrif” waarvan die apostel hier praat wys natuurlik eerstens op die OT – want dit was hulle Bybel omdat die NT uiteraard nog nie voltooi was nie – hoewel gedeeltes wel beskikbaar was.

Vers 13 is ‘n klinkklare bewys van wat die prioriteit in die vroegste gemeentes was: Die Skrif en die prediking. Waar dit verruil word vir 5 minute troosboodskappies en stories en verhaaltjies en aanhalings en gediggies en prentjies en videotjies, kan ‘n mens tereg vra óf dit nog ware kerk van Christus is.

Wat Paulus duidelik sê, is dat Timoteus hom moet toelê op deeglike onderrig in doktrine – die ware leer – iets soos kategetiese onderrig. DIT is hoe die Heilige Gees die gemeente wil opbou – en op geen ander manier nie. En alle Christene moet hulleself toegewyd aan hierdie onderrig GEE en nooit nalaat om dit mee te maak nie.

Ten slote verse 14-16

Dit is reuse verantwoordelikhede wat die apostel in die vorige verse op Timoteus geplaas het. Veral daardie vers 13: die nougesette kompromielose Woordbediening. Timoteus kon dalk terugdeins. Maar, dit mag nie, want hy besit immers ‘n genadegawe wat nie ongebruik mag bly nie.

Timoteus was immers tog afgesonder vir die bediening deurdat die ouderlinge vir hom hande opgelê het en die Heilige Gees deur hulle mond bevestig het dat Timoteus die gawe van prediking besit. Dit het in Listre plaasgevind. Byna soos Josua deur Moses hande opgelê was (Numeri 27).

Daar kleef niks magies aan die handoplegging nie, maar dit is hoe die Heilige Gees wil dat Evangeliedienaars afgesonder moet word vir hulle taak. Die Gees werk dus daardeur. Dit is ‘n simboliese handeling. En die Gees herinner die ouderlinge aan sekere Skrif uit die OT en uit die apostoliese prediking om profeties oor die een vir wie hande opgelê word uit te spreek. SO is Timoteus verseker van sy roeping. Die ouderlinge het dit aan hom bevestig. En nou moes hy dit gaan gebruik met alle toewyding en dissipline.

Om jou TOE TE LÊ op iets en IN TE LEEF IN IETS is sterk taal. Dit spreek van 24/7 toewyding.

En dit is belangrik dat ANDER die vordering in Timoteus se lewe en bediening moes kon sien! HIER IS ‘N MAN wat die Here hart en siel dien. En dit – die sien van die vordering in sy lewe – gee hulle vrymoedigheid om te luister na die inhoude wat hy bedien en verkondig.

Namate ‘n mens jouself uitverkoop aan die werk van die Here, vind ongekende groei en verdieping plaas en dit maak weer ‘n impak op ander mense.

‘n Evangeliedienaar se beide LEER en LEWE is baie belangrik. Om aan te hou en aan te hou let op leer & lewe en te sorg dat jou teologie gesond bly, bevestig jou eie redding, maar lei ook tot ander se redding. Ja, die Here gebruik dit om tot ander se hart te spreek.

Hoe moet ons nie – in hierdie lig – vir ons Evangeliedienaars en ouderlinge bid nie – sodat hulle getrou kan bly tot heil en seën vir die kerk van Christus.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)