Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 5
1 Timoteus 3: 1-13
Tema: Godsvrug tel al die punte

In hoofstukke 2-3 gee die Apostel Paulus vir sy veel jonger kollega Timoteus, ‘n klompie voorskrifte oor hoe die ware kerk van Christus se samekomste/eredienste en kerkregering daar moet uitsien. En omdat ‘n APOSTEL dit sê, is dit God self wat dit sê en behoort enigeen wat dit lees of hoor baie aandagtig te luister.

Die apostel skuif nou in hoofstuk 3 oor na die ampte van ouderling en diaken as sodanig.

Een ding is waar: Iemand wat die begeerte het om ouderling te wil wees, begeer iets voortreflik. Ja, Christus Jesus is die ENIGSTE hoof van die kerk, deur Sy Woord, maar Hy regeer die gemeente deur ‘n wettiglik verkose liggaam van ouderlinge. Hulle is deur die gemeente self verkies. Ouderlinge is die leiers/opsieners wat moet omsien na die gemeente.

In die NT is daar drie verskillende woorde vir presies dieselfde amp, naamlik presbuteros (oudste), episkopos (opsiener) en poimen (herder/pastor).

Hier in hfst 3 word episkopos gebruik, maar in Titus 1 presbuteros en episkopos alternatiewelik. In Handelinge 20:12,28 word al drie woorde in twee verse gebruik.

Dit is dus een en dieselfde amp, maar elke woord belig ‘n sekere faset van die amp wat neerkom op toesighou, regeer en omgee. Presbuteros (regeer), episkopos (toesighou) en poimen (omgee/sorg). ‘n Reuse verantwoordelikheid dus. Regtig, gemeentes moet vir hulle ouderlinge en kerkraad bid.

Nadat die tyd van die apostels tot ‘n einde gekom het, was die ouderlingamp die enigste vorm van gemeenteleierskap. En meesal was daar diakens wat hulle medewerkers was om na die maatskaplike en sosio-ekonomiese welsyn van die gemeente om te sien.

In die vroegste kerk: is ouderlinge in elke plek waar gemeentes ontstaan het, aangestel (Hand 14:23; Titus 1:5), het hulle vir siekes gebid (Jak 5:14), hulle het regeer (1 Tim 5:17), het hulle die Here se kudde opgepas soos herders met skape doen (Hand 2:28), het hulle waggehou oor ander se siele (Hebr 13:17), maar primêr het hulle die kerk bestuur en versorg (vers 5).

Verder heers hulle en gee onderrig (1 Tim 5:17; 1 Thes 5:12; 1 Tim 3:2). Hulle lei die gemeente (Titus 1:17) en beskerm die kerk teen vals leraars (Hand 20:17). Hulle waak oor die suiwer leer en besoek siekes. Hulle dien dus Christus se gemeente op ‘n herderlike manier deur toesig te hou, te lei en te versorg.

Uit 1 Tim 5:17 is dit duidelik dat sommige ouderlinge die spesifieke amptelike taak van Woordbediening gehad het. Vandag se leraars of predikante is dus ouderlinge wat hierdie toegespitste taak en verantwoordelikheid het, maar sonder die ander, kan die bediening in ‘n gemeente nie na wense uitgevoer word nie. Dis spanwerk en almal moet hulle deel doen.

Om net terug te kom na die eerste deel van vers 1: Iemand MAG wel sy hart daarop plaas om die Here as ouderling te dien, maar moet geduldig wag om gekies te word. Niemand mag hom daartoe gaan indring of opdwing nie. Maar, om die verlange te koester, is nie verkeerd nie. Dis ‘n reuse voorreg van genade om op hierdie manier diensbaar te mag wees.

Ons skuif nou af na verse 2-3..

Nou kom die Apostel by ‘n lys kwaliteite waaraan iemand moet voldoen om as ‘n opsiener/ouderling in die gemeente van Christus te kan dien.

Dis baie duidelik dat hy van die vertrekpunt uitgaan dat die ouderling ‘n manspersoon sal wees – ons sien dit uit die woord hy/hom wat deurgaans gebruik word… die man van een vrou… Dis ondenkbaar dat ‘n vrou die man van een vrou kan wees!

Die feit dat hy hier na die ouderlinge as manlik verwys, korrelleer presies met die laaste paragrafie van hoofstuk 2 waar hy gesê het dat hy nie vroue toelaat om die Woord amptelik – dit is in die erediens – te bedien nie.

Die ouderling is ‘n dienaar van Christus – wat die Hoof van die kerk is – en moet aan bepaalde sedelike eise voldoen.

ONBERISPELIK beteken nie sondeloos-volmaak nie, maar SO dat niemand ‘n vinger na hom kan wys nie.

Opvallend dat die ouderling nie aan hoër vereistes voldoen as alle ander lidmate van die gemeente van Christus nie. Die dinge wat die apostel hier noem is maar net die kenmerke waaraan ALLE Christus-gelowiges geken word, maar ‘n ouderling word dikwels onder ‘n vergrootglas geplaas en Christus se naam moet deurentyd in en deur sy lewe geëer word.

HOE word die Here Jesus se Naam deurentyd in ALLE ware Christene se lewens geprys en geëer? Wel, deur die vrug van die Heilige Gees. En HOE lyk en vertoon daardie vrug van die Gees prakties? Die Apostel sê: Kyk na die ouderlinge, want DAAR sien jy dit!

Iemand in wie se lewe die heerskappy van Christus deurgebreek het, sal getrou bly aan sy vrou! In die destydse wêreld was prostitusie, egbreuk, die aanhou van byvroue, buite-huwelikse saamwonery en praktisering van homoseksuele uitwasse iets alledaags. Dit was die atmosfeer waarbinne die Christene ANDERS moes wees.

Teenoor die promisküe lewenstyl van die wêreld waarbinne hulle geleef het, lyk die ouderling se lewe totaal anders. Huwelikstrou seëvier.

Verder is die ouderling nugter, sê die Heilige Gees deur die apostoliese pen. Nugter beteken: instaatwees om ‘n helder oordeel te kan vorm.

Verder ook verstandig en fatsoenlik en ‘n oop hart en liefde vir ander asook instaat om ander in die Woord te onderrig – of minstens bereidwillig om daarvoor toegerus te word.

Die Boodskap van die Evangelie word nie deur engele verkondig nie, maar deur MENSE van vlees en bloed. Die voortgang van die kerk hang ten nouste saam met Christene en ouderlinge se getuienistaak in die wêreld. Net soos jy vir almal sal gaan vertel indien jy iets ontdek het wat jou van Covid kon genees, net so sal jy die Evangelie met almal wil deel indien dit jou genees het. ‘n Geslote mond getuig van ‘n geslote hart.

As die GEES ‘n mens vervul, kan goed soos rusies en selfsug en onvrede en die najaag van geld jou nie vul en bevredig nie. Dis OF die een OF die ander.

Die invloed van alkohol kan jou ook nie vul nie. Efes 5:18 is daaroor baie duidelik. Dis beter vir ‘n Christen se getuienis na buite om hiervan weg te vlug en rotsvassterk vir die Here se eer te staan. Al moet jy ook alleen staan, maar staan moet jy staan!

Soos u kan sien is die Apostel se instruksies ondubbelsinniglik duidelik. Dit is vir geen misverstand vatbaar nie.

En dan af na verse 4-5..

Niks is vir die Here God so belangrik soos huisgesinne nie. God is immers 100% die God van die Verbond – dis nou eenmaal hoe Hy werk. Statistiek uit die VSA verklaar dat 94% van alle mense wat Christene word, dit deur die invloed van die huisgesin word. Dis by uitstek die Here se manier om Sy uitverkorenes te versamel en te verlos.

Die hedendaagse sataniese en bose aanslag op die mensdom wil hierdie Godgewilde strukture vernietig op vele maniere, soos die omverwerp van die gesin deur gesag te vernietig en die Godgewilde huwelik te verwoes deur dinge soos geslagsverwarring en transgenderisme.

Hierdie massiewe aanslag was tot 10-20 jaar gelede nog onbekend en kom sonder twyfel van die Bose en die enigste veilige hawe van behoud wat God daargestel het, is die gemeente van Christus! Binne die gemeente behoort verbondsgesinne veilig te wees MITS die ware leer van die apostels daar geleer en gedoen word.

DIT is wat kerk ware kerk maak en nie eerstens hoeveel aksies en groepies en warmte en mooi musiek en sop-en-broodjies daar is nie. In die ware kerk van Christus is daar diepe liefde vir en ontsag vir die gesonde Apostoliese leer en behoorlike Skrifverklaring en passievolle uitleef van daardie Skrif wat uitmond in die dissiplines wat vir GOD belangrik is soos gebed en evangelisasie. En oorkoepelend hieroor: die herderlike waaksaamheid van die ouderlinge.

Dit alles kan nie beter gesê word as wat verse 4-5 dit doen nie. Die Here het alles in die ouderlinge se hande geplaas. Alles. Alles. HULLE moet die voorbeeld stel van gesonde, Bybelse gesinne te hê en Godgewilde gesag oor hulle kinders uit te oefen – presies dit wat die wêreld juis ondermyn.

En vanuit hulle eie gesinne, moet hulle die Here se huisgesin – Sy kosbare gemeente – op dieselfde manier versorg en regeer. Die Apostel sê: DIS die taak van die ouderlinge: die sorg van die gemeente van Christus wat Hy met Sy eie bloed vir Homself verkry het. In sy eie huisgesin regeer die ouderling tog nie soos ‘n outokratiese diktator nie en daarom ook nie in die Here se huisgesin – die gemeente – nie. Hy heers deur te dien en mense te wys op wat die Skrif leer. Presies soos Jesus gedoen het.

Daar is dus ‘n noue verband tussen die huis en die gemeente. Ons veg dus vir die suiwere behoud van beide, al sal ons nooit gewild wees by die wêreld nie. God se waarheid is 1000X belangriker as wat die wêreld en die mense dink en sê.

Verse 6-7 vervolgens…

Steeds gaan dit hier oor die kwalifikasies waaraan ‘n ouderling voldoen – dit is die HY van wie die Apostel hier praat.

Soms gebeur dit in vandag se gemeentes dat iemand tot geloof en bekering kom en sterk aan die brand raak vir die Here Jesus en onmiddelik word so ‘n persoon dan tot ouderling verkies.

Dit is verkeerd, sê die Apostel (en die Heilige Gees deur hom). Ten spyte van die goeie bedoeling, kan so ‘n man in ‘n versoeking gestel word – ‘n strik van satan – naamlik om verwaand te word net soos die duiwel self toe hy tot ‘n val gekom het. Hoogmoed lei altyd tot die val.

Ons weet uit gedeeltes soos Openb 20:10, Jes 14 en Eseg 28 dat Satan self deur verwaandheid tot ‘n val gekom het. Paulus dink ongetwyfeld aan hierdie gedeeltes wanneer hy vers 6 skryf. Lucifer se selfverheffing teenoor God en sy trots op sy skoonheid het veroorsaak dat hy sy posisie verloor het en ‘n gevalle engel geword het.

Dieselfde oordeel kan ook oor ‘n ouderling kom, wat ‘n selfdunk ontwikkel. Dit is ‘n strik van die duiwel.

Maar daar is ook ‘n tweede strik en dit is wanneer daar nie rekening gehou word met mense BUITE die gemeente nie. Nie dat buitestanders vir die gemeente kan voorskryf wie as ouderling mag dien nie. Maar die getuienis – die publieke getuienis – is vir die Apostel belangrik. Die gemeente van Christus moet sover moontlik ‘n goeie getuienis na buite weerkaats. Buitestanders moet eerder nadergetrek as afgestoot word.

Nie-Christene sal beslis nie iemand wat totaal na Christus gedraai het, se lof besing nie – maar hulle MOET erken dat die persoon se lewe positief verander het en dat die persoon ‘n nuwe skepsel (2 Kor 5:17) is. In Handelinge lees ons dat buitestanders die kerk gerespekteer het.

‘n Ouderlingkandidaat na wie buitestanders steeds ‘n vinger kan wys van hoe hy die kat in die donker knyp, kan gewoon nie as ouderling dien nie.

Ja, die standaarde is hoog, want die Here leef en Hy is heilig.

Nou dan verse 8-9..

Die apostel spring nou na die kwalifikasies waaraan diakens moet voldoen.

Die diakenamp het ‘n spesifieke oorsprong in Handelinge 6. Die woord beteken DIENAAR en is gewoonlik gebruik van mense wat tafeldiens doen soos in Joh 2:5 en Luk 17:8 – byna soos ‘n kelner in ons dag.

In die vroegste kerk was dit die gewoonte om maaltye NA die eredienste te hê en dikwels ook nagmaal te vier. Daar was altyd gelowiges hiermee behulpsaam, maar later het die kerk in Jerusalem só gegroei dat die apostels nie alles kon behartig nie en – sodat hulle op gebed en Woordbediening kon toespits – is dienaars (diakens) gekies om met die maaltye en die nagmaal asook die versorging van die weduwees te help – barmhartigheidswerk dus. Soms het hulle ook die Woord bedien soos in die geval van Filippus – maar hoofsaak was die hulpverlening in voetspoor van Jesus self wat gekom het om te dien en nie gedien te word nie (Mark 10:45).

Uit Filip 1:1 blyk dit dat diakens ‘n gevestigde amp geword het. Mens sien dit ook hier in 1 Tim 3 waar die Apostel onder leiding van die Heilige Gees voorskrifte gee van die hoë sedelike standaarde waaraan diakens moet voldoen.

Omdat hulle dikwels met geldinsameling werk, mag hulle nie hulleself probeer verryk nie en moes hulle betroubaar wees.

Hulle moet ook manne van goeie karakter wees – dus moet hulle respek afdwing en waardig lewe. Mense moenie onnodiglik rede hê om ‘n vinger na hulle te wys nie.

Hulle moet ook ligloop vir alkohol en nie uit twee monde praat nie. ‘n Dienaar van Christus mag nie mense na die mond praat en sê wat mense wil hoor nie, maar streng hou by die inhoud van die Waarheid van die Woord. Dit geld trouens vir alle Christene.

AL hierdie vereistes geld vir alle Christene. Veral ook vers 9: Hou vas aan die geopenbaarde Waarheid van die Geloof. GELOOF bedoelende die objektiewe pakket van waarheid – in ons taal die OT en NT. Hou ten alle koste daaraan vas! Lees dit, leer dit, onthou dit, glo dit, bid dit, bely dit, bedien dit en moenie een millimeter na links of regs afwyk nie. Want dit is van BO geopenbaar. Dit kom van God. Dis SY Raadsplan en Woord.

En dan – ten slotte – verse 10-13

Ja, daar moet keuring wees van wie as ouderlinge en diakens kan dien, want hulle moet blaamloos wees. Nie sondeloos nie, maar blaamloos. Daar moenie vingers gewys kan word nie. Hulle moet die gemeente se goedkeuring hê.

Dit klink byna asof die Apostel strenger is met die diakens se keuring as met die ouderlinge, maar ons moet dit eerder só verstaan dat hy dieselfde dink oor beide ampte.

Ook VROUE (vers 11) moet aan sekere vereistes voldoen en Christus se hartklop weerspieël deur betroubaar en van goeie karakter te wees – nie bekend as iemand wat skinder nie ensovoorts. Absoluut betroubaar wees.

Die woord “vroue” is sonder ‘n bepaalde lidwoord in die Grieks en kan verstaan word as OF die diakens se vroue OF as vroue wat as diakens in die gemeente werk. In Romeine 12:1 lees ons van Febe wat in Rome as dienares/diaken gedien het. Of dit regtig die diakenAMP was, weet ons gewoon nie. Maar DAT vroue as dienaars/diakonesse in die vroegste kerk werksaam was, is ‘n sterk moontlikheid, hoewel ons dit nie klinkklaar in die Skrif sien nie. Dit is duidelik dat ouderlinge/leraars manspersone moet wees, maar oor die diakens is daar ruimte om te argumenteer dat vroue ook sulke dienaresse sou kon wees.

Hoe dit ookal sy – die belangrike boodskap is die hoë premie wat die Heilige Gees plaas op ‘n Christus-verheerlikende lewenswandel. DIT is te alle tye belangrik.

Terug by die diakens in verse 12-13, is sy persoonlike gedrag binne die privaatheid van sy huisgesin – net so belangrik as in die geval van die ouderlinge. Huwelikstrou is ‘n vereiste asook goeie beheer oor sy kinders – dit is ononderhandelbaar.

Om die Here só te mag dien in Sy gemeente, bring vreugde en lewensvervulling. ‘n Getroue diaken se aansien styg in die gemeente en boesem vertroue in by ander.

En vir iemand in wie die Heilige Gees regtig kom woon het, is daar niks belangriker en lekkerder as om deel van Christus se gemeente te wees nie. Dis totaal onmoontlik om in Christus Jesus verlos te wees en nie absolute hoë premie te plaas op deelwees van Sy gemeente op aarde nie. Die twee loop onlosmaaklik hand aan hand.

Die diaken wat getrou dien, se geestelike lewe groei en word versterk. Net soos wat ‘n kool wat flou brand weer opvlam wanneer dit tussen ander gloeiende kole is. So ‘n mens se geloofsopenhartigheid en vrymoedigheid neem net toe. Veral vrymoedigheid teenoor die Here self – deur geloofsvertroue.

WAT kan vergelyk word met ‘n hart wat gevul is met geloofsvrymoedigheid teenoor die lewende God? Niks op aarde nie.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)