Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 4
1 Timoteus 2: 8-15
Tema: Godgegewe rolle vir man & vrou in die kerk

In hoofstukke 2-3 gee die Apostel Paulus ‘n klompie instruksies oor hoe die samekomste/eredienste van gemeentes en oor hoe gemeentes se kerkregering daar moet uitsien.

Die ware kerk van Christus mag nie en kan nie sommer net na willekeur handel en doen wat mense goeddink en die grille van die tydsgees navolg nie. Die Here se wil moet nagevolg word en die Here het altydblywende instruksies deur Sy apostels gegee. Dit is in die NT opgeteken. Soos hier byvoorbeeld. En dit is ons taak om daaronder te buig in gehoorsaamheid. Die Skrif heers oor ons. Ons heers nie oor die Skrif nie. Ons besit ook nie oor meerdere kennis wat beter as die Skrif weet nie.

Ten opsigte van die eredienste asook hoe die kerk regeer moet word, is die onderskeie rolle van man en vrou belangrik omdat die Here God by die skepping reeds aan beide geslagte ‘n eie unieke identiteit en rol toegeken het – iets wat nie gelykgestel mag word nie – of omgeruil kan word nie – so asof die twee geslagte maar dieselfde is – soos die Apostel dit baie duidelik stel in ‘n gedeelte soos 1 Korint 11: 1-16.

En omdat hierdie APOSTOLIESE voorskrifte is, moet ons ekstra goed luister, want dit kom van die Here af! En dit is ewiggeldend.

Wanneer die Apostel in hierdie paragraaf oor “mans” en “vroue” praat, gaan dit spesifiek oor hulle onderskeie rolle in die plekke van amptelike samekomste van die gemeente – die eredienste. DAAR moet voorbidding gedoen word, het hy aan die begin van die hoofstuk gesê. Waar die gemeente vergader is, moet daar gebid word. En diegene wat die leiding moet neem in die gebede, is die mans. Op elke plek waar ware gemeentes van Christus vergader is, moet dit só geskied, sê die Apostel Paulus hier in vers 8.

Waar ookal Christus se gemeentes vergader is, moet mans voorgaan in voorbidding. Vers 8 haak dus aan verse 1-2.

Dit beteken glad nie dat slegs die mans mag bid en vroue nie mag bid nie. In 1 Kor 11:5 sê dieselfde Apostel baie duidelik dat die vrouelidmate in Korinthe meedoen aan die openbare gebede. Maar die voorgangers, diegene wat leiding neem, wat geestelike gesag uitoefen, moet mans wees. En sekerlik dink hy in besonder aan die ouderlinge.

Maar, daar is ‘n verdere belangrike voorskrif. En dit is belangrik vir ALLE Christene wat waar ookal bid – nie net in die eredienste nie – en dit is: Die innerlike toestand van die hart asook die lewenswandel, is voor God belangrik.

Met “hande ophef in gebed” bedoel die Apostel nie die letterlike fisiese gebaar van hande oplig nie – hoewel dit in die OT voorkom op plekke soos 1 Konings 8:22, Psalms 28:2, 63:4, 134:2 – en die Jode het dit steeds gedoen.

Maar, dat Paulus die ophef van hande simbolies bedoel blyk uit die feit dat hy sê die hande vry moet wees van die sondes van die hart. Die hande moet skoon wees. Dit moet heilige hande wees – opsygesit vir die Here. Dit kan dus nie letterlike hande wees nie. Dis eerder simbolies van iets soos lewensaktiwiteit, lewenswandel.

Die belangrike punt is wat Psalm 66:18 reeds sê en in Jakobus 5:16 beklemtoon word, naamlik dat die gebed vry moet wees van ‘n lewe in bewuste onbelyde sonde. ‘n Lewe in onmin, twis, onenigheid, haat, bitterheid, wraak. Hierdie sondes verhinder die gebed. Dit verstop die pyp. Die verstoppings moet verwyder word. 1 Johannes 1 wys vir ons HOE sulke verstoppings verwyder word: Die Christen moet eerlik voor die Here word, sy/haar sondes erken en bely en die reiniging van die bloed van Christus gelowig aanvaar.

Dit is waarom voortgaande bekering so nodig is in die daaglikse lewe van die Christusgelowige. Ook vir voorgangers in die kerk. Bewuste, onbelyde sonde is dikwels die oorsaak vir geestelike verstoppings. Maar die belofte in 1 Joh 1:9 staan vas: Die Here vergewe en reinig waar die sonde bely word. Dis seker.

In Jakobus 4 kom die opdrag vir Christene – reeds-verlostes – wat met bewuste onbelyde sonde sit en dit vertroetel: “Onderwerp julle dan aan God. Nader tot God. Was julle hande, sondaars. Suiwer julle harte, dubbelhartiges. Treur en huil. Laat julle lag in droefheid verander en julle vreugde in smart. Verneder julle voor die Here en Hy sal julle ophef.” (verse 8-10).

Ja, ook Christene moet bekeer en God se belofte is dat hulle vergifnis en reiniging sal ontvang.

Dit wat betref die lering van vers 8. Nou beweeg ons af na verse 9-10..

Wanneer die gemeente in eredienste vergader, is die vroue ook betrokke. Die manier waarop hulle heilige hande in gebed ophef, is naamlik in hoe hulle hulle voordoen, hulle kleredrag, gedrag en houding – die innerlike hart.

Volgens 1 Korint 11:7 is die vrou die heerlikheid van die man en het daarom ‘n natuurlike ingeboude geneigdheid om haarself te versier om die man te behaag. Dit is reg en goed, maar dit moet binne perke wees, sê die Apostel.

Veral tydens die erediens moet die vroue se kleredrag en bykomstighede waardig en beskeie wees. Die natuurlike Godgegewe neiging van die vrou om haarself te versier moenie onderdruk word nie, maar moet onder die beheer van die Heilige Gees wees. Sodat dit nie ‘n aanleiding word tot sonde teen die Here nie.

Die woord wat ons in vers 9 met “beskeie” vertaal, is die Griekse woord “aidos” wat beteken ‘n stuk selfbeheersing. En dit sluit in selfbeheersing ten opsigte van seksuele begeertes. Dieselfde geld vir die woord “ingetoë” wat ook in vers 15 en in Handelinge 26:25 gebruik word.

Die Griekse woorde wys vir ons dat die apostel met “waardige kleredrag” spesifiek verwys na klere wat nie mans verlei om met begeerlike oë na die vroue te kyk nie – soos Jesus in Mat 5:28 sê.

Die fokus en klem by die Christenvrou in die gemeente se eredienste moenie op die uiterlike wees nie. Die Apostel praat nie TEEN haarkapsels, juwele en goeie klere nie. Wat die Heilige Gees wel sê, is dat die uiterlike nie die Christusgelowige vrou se EINTLIKE versiering is nie. Uiterlike dinge moet die INNERLIKE dinge dien.

Vers 10 sê wat die innerlike versiering is – wat voor die lewende God baie punte tel, soos 1 Petrus 3:4 ook sê. God let naamlik op die innerlike – die lewenshouding. Goeie werke is die uiterlike vrug van ‘n lewe wat innerlik voor God ‘n sierraad is.

‘n Vrou wat openlik in die erediens bely dat Sy die Here dien en verklaar dat sy haar voor die Here stel en nie eerstens voor mense nie, sal weet hoe om aan te trek en hoe om haarself te versier. Vroue wat in die erediens teenwoordig is met ander bedoelings, sondig teen die Here. Vir die mens gaan alles oor die uiterlike, maar vir die Here gaan dit oor die innerlike en DIT beïnvloed die uiterlike om in ooreenstemming te wees met die apostoliese voorskrifte hier in 1 Timoteus 2.

Nou dan verse 11-12:

Die nuwe lewe in Christus, het Christenvroue bevry van ‘n posisie van niks-wees in die destydse Joodse asook Griekse kulture. In die heidendom van daardie tyd was dit ondenkbaar dat vroue lering en onderrig kon ontvang en dat hulle vryelik kon meedoen in godsdienstige byeenkomste. Maar, in die vroegste Christelike kerk was vroue aktief betrokke by Woordonderrig op verskeie terreine soos blyk uit gedeeltes soos Titus 2: 3,4 (vroue gee onderrig en lei ander vroue op); Romeine 16:3-5 (werk in gemeentes); Filip 4: 2 (dames wat sy aan sy met die apostels gearbei het) en 1 Kor 11:5 (bid en profeteer).

In 1 Tim 2-3 gaan dit egter oor die amptelike erediens – waar die gemeente saamkom om te aanbid. Alhoewel Christenmans- en dames in Christus Jesus dieselfde waarde voor God besit (Gal 3:28) het hulle kragtens God se skeppingsordening verskillende rolle om te vervul byvoorbeeld in die huwelik (Efes 5) en ook in die regering van die kerk en kerk se eredienste.

Volgens verse 8-9 is daar verskille tussen mans en vroue wanneer gebedshande opgelig word in die eredienste: die man neem die leiding ensovoorts.

Verse 11-12 gaan oor amptelike Woordbediening – die onderrig gee uit die Woord. En ook daar het mans en vroue verskillende rolle te vervul, wat spesifiek te make het met posisies van geestelike gesag.

Die Apostel laat nie vroue toe om amptelike Woordonderrig in die erediens te gee en geestelike gesag oor mans uit te oefen nie – in besonder verwys hy na die ouderlinge, wat vir die kerkregering verantwoordelik is. En ons weet uit hoofstuk 3 en Titus 1 dat die ouderlinge mans was. Vroue kon dus nie ouderlinge óf leraars wees nie. Dis ‘n rol wat kragtens God se skeppingordening aan die man gegee het. En dit is nie met die koms van Christus ophef of verander nie, want hier handhaaf die Apostel dit vir die NT-kerk!

Met “stil wees” en “onderdanigheid” bedoel Paulus nie dat die vrou enige minderwaardige posisie neem nie, maar dit beteken spesifiek ‘n weerhouding daarvan om bepaalde geestelike gesag – wat God aan die man/ouderlinge toegesê het – wederregtelik op te eis.

“Stil wees” beteken nie dat daar geen klank uit ‘n vrou se mond gehoor mag word nie! Vroue mag inderdaad gehoor word en moet gehoor word. Dames mag baie bedrywig en aktief wees ter wille van die Evangelieboodskap. Dit beteken egter dat die Here nie aan haar die rol en taak van amptelike Woordbediening gegee het nie. Wat DIT betref moet sy stil wees (met ander woorde: dit nie doen nie) en haar onderwerp aan die Here se instruksies. STIL WEES beteken in die Grieks meer iets soos “die afwesigheid van wanorde”. Met ander woorde ‘n innerlike rus en vrede ten opsigte van die Here se instruksies.

Waarskynlik was dit juis wat in die kerk in Efese (waar Timoteus leraar was) gebeur het: Vroue het die ouderlinge oorheers deur daarop aan te dring om die prediking waar te neem – nie met lelike bedoelings nie, maar omdat hulle so begeesterd was deur die Blye Boodskap van die bevryding in Christus! En omdat hulle ‘n innerlike drang gevoel het om dit te doen en gedink het dit is die Heilige Gees wat hulle roep om dit te doen. Die Heilige Gees sal egter nooit ‘n dame roep tot iets wat strydig is met Sy eie Woord nie. Dit is nie mense se emosies of gevoelens of oortuigings of gemoedsaandoeninge wat die deurslag gee nie, maar God se Woord. Die Woord is bó alles.

Die apostel sê dus vir Timoteus om die orde in die gemeente van Efese te herstel en die dames daarvan te weerhou om gesag oor die mans uit te oefen, want dit is strydig met God se skeppingsordening.

Dieselfde instruksie vind ons ook in 1 Korintiers 14: 33-35 – dat die vroue nie in die erediens wanorde mag veroorsaak deur tussen-in te praat of allerlei vrae te vra nie sodat dit lyk of hulle wil oorheers en dit terwyl die ouderlinge daar is en dit húlle taak is om leiding te gee en húlle taak is om die amptelike Woordbediening waar te neem.

Dus was die apostel Paulus te alle tye konsekwent en duidelik in sy denke hieroor. Hierdie instruksies het niks met die kultuur van daardie tyd of met die veranderende kulture van alle tye te make nie. Dit is vasgelê toe God man en vrou geskep het VOORDAT die sondeval nog enigsins plaasgevind het. In verse 13-14 begrond hy sy instruksie in die skepping van man en vrou in Genesis 2. Dis asof hy vooruit weet hoeveel beskuldigings na hom geslinger sal word – van hoe agter die klip hy is en hoe seksisties hy is en watter onreg teen vroue hy aanblaas ensovoorts. Daarom wys hy dat sy instruksie op God se skeppingsordening gebou is.

Binne vandag se post-moderne kultuur klink hierdie apostoliese leer en instruksies onvanpas en polities-inkorrek en selfs belaglik en word inderdaad deur progressief-denkende leraars ter syde gestel – en ongelukkig is min kerklidmate goed onderlê in wat die Skrif hieroor leer en kan daarom nie behoorlik onderskei nie en volg maar net blindelings dit wat hulle predikante of sinodebesluite vir hulle sê.

Ons weet egter uit Joh 8:32 dat dit net die waarheid is wat werklik vrymaak – vir die individu en ook die kerk as geheel. En daardie waarheid is alleenlik die Skrif. Wyk af van die Skrif en jy sit net met menslike wysheid/menslike menings.

Dus: alle Christusgelowige mans en vroue besit in Christus gelyke waarde. Steeds het hulle egter verskillende identiteit en rolle van God ontvang wat betref die huwelik en leierskap in die Here se kerk.

Soos al die lede van ‘n sportspan gelyk is, maar iemand die rol van kaptein het. En soos Vader, Seun en Gees gelyk is, maar die Seun hom aan die Vader onderwerp (1 Kor 15:28), só het God dit reeds by die skepping gewil dat die man die leiersrol opneem. Die vrou het ‘n ander rol om te vervul wat die man nie beskore is om te vervul nie.

Die Apostel begrond dus sy instruksies vir die erediens in die skeppingsordening van God. Die man was eerste geskep en daarna die vrou. Mans en vroue moet op hierdie manier in hulle onderskeie rolle die lewende God se heerlikheid reflekteer.

Die sondeval het God se oorspronklike (voor-sondeval) bedoeling met die geslagte bevestig, want toe die vrou haar man se beskerming opsyskuif en na die slang gaan luister, word sy meteens kwesbaar en val vir die duiwel se leuens.

Daarop minag die man – op sy beurt – sy leierskapsrol en volg die vrou in die sondeval en dompel sodoende die ganse mensdom in verlorenheid.

God het met Adam gepraat en Adam het God se woord aan Eva deurgegee. Dit is volgens God se orde. Maar satan draai God se orde om en praat met Eva eerste en sy beïnvloed vir Adam. Die gevolg was ‘n totale verval weg van God en die paradys.

Die herstel wat die Here Jesus gebring het, was juis om die oorspronklike Godgegewe rolle van man en vrou te heilig, sodat die in-Christus-verloste man weer spankaptein kan wees en die in-Christus-verloste vrou – gelyk in status met die man – die man se rol eerbiedig en haar onder sy geestelike gesag stel – net soos Christus met Sy Vader doen.

Dit is op grond van hierdie skeppingsordening van God – wat in Christus herstel en geheilig is – wat die Apostel die orde binne die kerk reël – soos hy dit hier in verse 1-10 doen en ook in Efes 5 rakende die huwelik.

Dit mag dalk indruis teen die huidige post-moderne tydsgees, maar dit is die Bybelse waarheid wat vir ewig sal staan. Dit is die rede waarom die reëling binne die ware kerk van Christus van alle eeue nog altyd was dat dames nie as ouderlinge en as leraars dien nie. Die kerk het die Skrif op hierdie punt baie duidelik verstaan. Dat vroue wel deesdae in sommige kerke as ouderling en leraar dien, is ‘n onlangse verskynsel wat verband hou met die tydsgees en die geweldige druk van die feminisme. Maar die kerk van alle eeue het nooit so iets geken nie.

Die uniekheid van gelowige vrou-wees – wat die man glad nie besit nie – is dat die vrou redding vind in moederskap. Vers 15. “Redding” in die sin van bevryding van die stigma van dat SY die aanleiding tot die sondeval was (soos vers 14 dit stel).

Die apostel spring in vers 15 van Eva af na die Christusgelowige vrou in die algemeen.

Die vrou wat met volharding die Here liefhet in vertroue en ‘n heilige lewe najaag en selfbeheersd leef – SO ‘n vrou het geen deel aan die stigma van dit wat by die sondeval gebeur het nie, want sy kan boonop nou kinders baar en hulle opvoed in die weë van die Here. Ja, sy KAN nou sommige UIT die sondeval NA verlossing in Christus lei – veral deur haar unieke band met haar kinders – wat die man nie besit nie.

Ek lees onlangs op FB die volgende mooi getuienis van ‘n Christendame – ‘n getuienis wat so ‘n mooi samevatting is van die leer van die Skrif:

“As ‘n vrou – en een wat God se orde volg en my man ondersteun as leier van ons gesin – ondervind ek glad nie dat die leer van die Skrif onregverdig is nie. As skepsels van God, verskil mans en vroue totaal. Ek vaar goed as ma, onderwyser en vrou vir my man. Ek ondersteun my man in alles. Ek is ook ‘n begaafde spreker en besit die gawe om ander te leer, maar ek gebruik dit nie in die kerk om leierskap oor mans uit te oefen nie. Ek gebruik dit om ander vroue en kinders te onderrig. My man neem sy taak as leier in die gesin ernstig, maar hy waardeer my idees en gedagtes en opinies en neem my altyd in alles in ag. Hy sien my nie as ondergeskik aan hom nie, maar het my lief soos Christus die kerk liefhet. God se orde is perfek. Hy maak nooit ‘n fout nie. Hy het man en vrou geskep met ‘n rede. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie. Dit is nie ons taak om God se skeppingsorde te verstaan nie, maar om dit te eerbiedig en ons daarby neer te lê.”

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)