Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 3
1 Timoteus 2: 1-7
Tema: Motivering vir voorbidding

Hoofstukke 2-3 van die Apostel Paulus se eerste brief aan Timoteus bevat van die heel oudste en heel vroegste apostoliese voorskrifte vir die manier waarop Christus se gemeentes se eredienste asook kerkregering daar moet uitsien.

Nee, dis nie volledig nie, want hy gee net bondige instruksies soos wat dit destyds van toepassing was op die gemeente in Efese waar Timoteus bedien het. Maar ons glo dat God die Heilige Gees hom gelei het in dit wat hy moet skryf en wat om nie te skryf nie. Daarom is dit wat wel hier staan, God se instruksies aan die kerk van alle eeue. Ook vir ons vandag.

Die Apostel bespreek drie aspekte: 1 > Die noodsaaklikheid van voorbidding in die openbare erediens 2 > Hoe man en vrou se rolle in die erediens verskil en 3 > die vereistes waaraan ouderlinge en diakens moet voldoen. By nrs 2-3 sal ons in die volgende weke kom. Vandag eers nr 1.

Eerstens dan die noodsaak dat voorbidding gedoen moet word sodat daar gunstige omstandighede vir die voortgang van die Evangelie mag wees. Ja, smeking, voorbidding en danksegging, sê die Heilige Gees deur die pen van die Apostel.

Dit kom eintlik alles neer op voorbidding – ernstige voorbidding – in die wydste betekenis van die woord. Te same met lof en dank. Selfs al voel dit of die Here nie verhoor nie. Voorbidding moet gedoen word met ‘n wilsbesluit wat gebaseer is op God se Woord en nie gebaseer is op emosies en gevoelens nie. Jou hart en gevoel kan jou maklik mislei om te wil dink dat God nie hoor nie. Terwyl die Skrif sê dat Hy wel hoor! Waar die Skrif en ons eie gevoelens vir ons twee verskillende dinge vertel, moet ons die Skrif kies en ons gevoelens verloën (vrgl Jer 17:9).

Hoe onteenseglik belangrik is gebed nie. Veral ook waar die gemeente saam is in die erediens.

Dit KLINK egter asof die Apostel regtig hier ‘n onmoontlike voorskrif gee. Want hy sê daar moet vir ALLE mense gebid word. En dit is tog prakties gewoon onmoontlik. ALLE mense? Soos in: ALLE? Kop-vir-kop elke individu? Hoe op aarde moet dit gedoen word?

Kan dit wees dat die begrip ALLE/ALMAL dalk op sommige plekke in die Bybel nie letterlik ALLE beteken nie? Byna soos wat ons ook sal sê: “Die HELE Kaap was Saterdag op Nuweland..” Dit beteken seer sekerlik nie ELKE Kapenaar kop vir kop nie. Dis maar net algemene spreektaal om te sê dat dit ‘n groot getal was.

ALLE kan ook beteken “almal sonder onderskeid” in plaas van “almal sonder uitsondering”. Dis presies hoe dit hier in hierdie 7 verse gebruik word, want die ALLE/ALMAL loop regdeur die 7 verse: Vers 3 > God wil dat ALLE mense gered word. En vers 6: Jesus het Homself as losprys vir ALMAL gegee. Is dit almal sonder uitsondering of almal sonder onderskeid?

Dikwels sien ons hoedat die NT op plekke in universalistiese terme (universalisties = almal – soos in elke individuele mens op aarde) praat, terwyl nie letterlik almal (kop vir kop elke individu) bedoel word nie. Dit sien ‘n mens telkens uit die konteks. En hierdie einste vers 2 is ‘n goeie voorbeeld daarvan!

In vers 2 sê die Apostel baie duidelik WIE hierdie “alle mense” is. En ook wie die “alle mense” (wat God gered wil sien) van vers 4 is. En wie die ALMAL is vir wie Jesus homself as losprys gegee het (vers 6)

Want die “alle mense” van vers 1 is ook dieselfde “alle mense” van vers 4. Dit is dieselfde groep. Naamlik “almal sonder onderskeid” en nie “almal sonder uitsondering” nie. Bedoelende: verskillende SOORTE mense nie NET uit die Jode nie, maar ook uit alle nasies – veral dié wat gesagsposisies beklee – van watter aard ookal.

In Paulus se tyd was dit die antichristelike Romeinse Ryk en die Keiser en die regeerders. Want juis op hierdie mense rus die verantwoordelikheid – deur God gegee – om vrede te handhaaf. En dit is mos die doel en mikpunt van al die voorbidding: Dat die kerk in volkome toewyding aan die Here moet kan leef. En daarom moet – sover as moontlik – omstandighede DAARVOLGENS wees. En die regeerders en gesagvoerders speel hiertoe ‘n reuse rol – om die omstandighede te skik.

Maar ons leef in ‘n gebroke wêreld waar dinge allermins na wense is. Juis daarom is die gemeente se voorbidding so belangrik! Voorbidding – wat nie maar net ‘n gepraat-in-die-wind is nie. Die Here gee opdrag dat voorbidding gedoen moet word en daarin lees ons ook Sy belofte dat Hy verhoor! Indien Hy sê ons moet, dan sê Hy mos in dieselfde asem dat Hy hoor.

Dus: Bid vir ALLE mense beteken: Bid vir diegene in gesagsposisies – nie net diegene wat Jode is nie, maar ook diegene wat nie-Jode is.

Dit wat betref verse 1-2.

Verse 3-4 gee vervolgens die diepste grond/basis vir die oproep in verse 1-2 dat daar vir “alle mense” – dit is almal in gesagsposisies (uit alle nasies, nie net die Jode nie) gebid moet word. En wat is hierdie basis? Antwoord: Hulle redding en bekering!

Die “alle mense” in vers 4 is nog steeds dieselfde “alle mense” as in verse 1-2, naamlik mense in outoriteit – van alle nasies. Ja, dit gáán daaroor dat daar vrede en wet en orde moet wees – soos vers 2 dit stel, maar die diepste rede vir die voorbidding is dat hierdie mense tot kennis van die Waarheid van die Evangelie moet kom. DIT is die saak wat éintlik op die Apostel se hart is en dus ook op Gód se hart is.

God is immers die “Verlosser”. Dit is tog God die Vader wat die verlossing van mense in Sy Raadsplan bepaal het – nog voordat die skepping daar was – en DIT het Hy in Christus Jesus tot uitvoering gebring.

God se wil is nie ‘n WENS nie. God WENS nie dat mense tot redding en saligheid moet kom nie – maar o aarde, dan gebeur dit nou ongelukkig nie omdat die meeste Hom wegstoot nie.

Soms word die Woord wel só verkondig dat dit klink asof God ‘n geweldige begeerte/verlange het dat alle mense – kop vir kop – elke individu – tot saligheid moet kom, maar Hy kan ongelukkig nooit Sy wens vervul kry nie omdat die meerderheid mense dit in ongeloof teenstaan. Selfs al staan net EEN mens dit teen, is Sy wens ongelukkig nie vervul nie. “Jammer, Here, maar U kan maar wens en begeer soveel soos U wil, die mens is ongelukkig in staat om u wens te fnuik”.

Daar is ‘n ander vers wat ons soms hoor en dan klink dit ook of God ‘n sterk begeerte het dat alle, alle, alle mense tot bekering moet kom, maar ongelukkig kom Sy begeerte tot niks.

Dit is 2 Petrus 3:9 > “God is geduldig met julle en wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie, maar dat ALMAL tot bekering moet kom”.

Maar ook in daardie teks beteken ALMAL nie letterlik alle mense nie, want Petrus sê baie duidelik dat dit net ‘n begrensde groep is, naamlik JULLE. Die ALMAL is sy lesers. Wat gemeentemense was.

U sien hoe uiters versigtig ons moet wees om net op die klank af ‘n teks te hoor en dan ‘n teologie daarvan te maak.

Om te wil sê dat God ‘n geweldige begeerte het dat alle mense – kop vir kop – elke individu – tot saligheid moet kom, maar dat Hy ongelukkig nooit Sy wens vervul kry nie omdat die meerderheid mense hom fnuik – wel – dit is ooglopend ‘n onbybelse en verkeerde opvatting.

Dit wat God WIL – dit bring Hy ook daadwerklik tot uitvoering.

Volgens ons teksvers WIL (nie WENS) Hy dus hê dat “alle mense” – dit is mense uit alle nasies wat in gesagsposisies is, tot lewende kennis van die Waarheid moet kom en daarom – omdat Hy DIT wil – SAL Hy sulkes daartoe bring – en Hy inkorporeer die gemeente se voorbidding in hierdie verlossingsaksie.

Uiteraard sal die lewende God nie ALLE MENSE (dit is: elke individu – kop vir kop) in gesagsposisies tot geloof en redding bring nie, maar beslis diegene wie Hy voor die skepping reeds aan Sy Seun gegee het om deur Hom verlos te word.

Luister gerus na Joh 17:2 waar Jesus vir die Vader sê: “U het aan my gesag oor alle mense gegee OM die ewige lewe te gee aan almal wat U aan my gegee het.”

En in Joh 6:37 sê die Here Jesus Christus: “Almal wat die Vader aan My gegee het, SAL na my toe kom…” Die feit dat sommige nooit kom nie, sê dus dat die Vader hulle nie aan Jesus gegee het nie.

Wie kom dus beslis na Christus toe? Diegene wat deur God die Vader aan Christus gegee is. Dit is hulle wie se name reeds van voor die skepping af in die Boek van Lam geskryf staan (Open 13:8; 17:8).

God wens/begeer dus niks. Hy WIL en Hy DOEN dit wat Hy wil! Diegene wie Hy aan Sy Seun gee, sál kom! Want God is soewerein (Psalm 115:3). Die mens se inherente geestelike doodsheid en ongeloof kan nie die uitvoering van God se Raadsplan kniehalter of dwarsboom nie.

Deur die gemeente se gebede (voorbidding) SAL God mense in gesagsposisies – uit Jodendom EN alle nasies – tot die kennis van die waarheid bring – almal wat daartoe verordineer is (Hand 13:48).

Is dit nie asemrowend om te dink dat – in die uitvoering van hierdie geweldige groot saak – Hy óns gebed WIL gebruik nie! En dit inderdaad doen! Hoe spoor dit nie ‘n mens aan om te bid nie!

Ons skuif nou aan na vers 5 toe.

Oral in Efese – waar Timoteus bedien het – was daar afgodediens en veelgodedom. Maar die waarheid is, dat daar slegs EEN ware God is. En Hy sit nie iewers ver en afsydig nie, o nee, Hy hét versoening bewerk met mense van vlees en bloed – almal wat ooit in Christus sou wees. En hierdie versoening het Hy bewerk deur ‘n Middelaar te voorsien en deurdat daardie Middelaar ‘n losprys betaal het – met Sy eie bloed en lewe! Timoteus moes – binne die klimaat van heidendom waarin hy gewerk het – stewig vasklem aan hierdie waarheid.

Hierdie waarheid is 100% uniek aan die Christelike Geloof en is die hart van die bybelse boodskap. Die hele Ou Testament ROEP om ‘n middelaar, want die verlore mens kan deur absoluut NIKS wat hy/sy self doen homself met die Heilige God versoen kry nie.

Hebreërs verduidelik byvoorbeeld vir ons hoedat die kern van die Ou Testamentiese teologie om die noodsaaklikheid van ‘n middelaar gedraai het. Dink maar aan al die offers in die tabernakel/tempel en die bediening van die priesters. “Ag, as daar tog maar net ‘n middelaar kan wees wat Sy hand op beide God en myself kan lê”, roep Job uit in 9:33.

CHRISTUS JESUS is die fenominale antwoord op die Ou Testamentiese uitroepe. ‘n Middelaar is ‘n tussenganger tussen twee onversoende partye. Die middelaar bewerk mediasie. Die middelaar moes in staat wees om beide partye te verteenwoordig. Christus Jesus moes dus God EN mens wees, want Hy bewerk versoening tussen God en mens. Hy is waarlik God en waarlik mens in een Persoon verenig. Deur Sy menswording, Sy gehoorsaamheid aan Sy Vader, Sy lyding en kruisdood en opstanding, bewerk Hy vrede tussen God die Vader en almal wat die Vader aan Hom gegee het. Op hierdie wyse het Jesus dít wat onmoontlik was vir die mens om te verrig, perfek gedoen.

Let op wat die Apostel sê: Jesus is NOG STEEDS mens! Hy het nie ná Sy opstanding sy mensheid afgelê nie en toe weer slegs as God voortgegaan nie – soos wat Hy van ewigheid af VOOR Sy menswording was nie. Nee, Hy het Sy mensheid behou en besit dit vandag nog steeds. Die opgestane Jesus kon byvoorbeeld vis eet en Sy mense kon aan hom vat. Paulus sê: Hy IS mens.

En dit is wonderlik, want nou kan die gelowige – wat ook mens is – werklik met God versoen wees en in Sy teenwoordigheid leef, want ons ware Plaasvervanger en Hoëpriester is as MENS in ons plek by die Vader. Dit is die enigste grond waarop ons kan staan dat ons by God volkome aanvaar is.

Vervolgens vers 6… (lees weer die vers)

Reeds voor die skepping was dit God die Vader se bedoeling dat Jesus Christus self die losprys sou wees wat almal wat die Vader aan Hom gegee het, sou loskoop. Ja, ‘n uitverkore volk.

Daardie ewige bedoeling van God se Raadsplan was oor 1000de jare in die Ou Testamentiese tydperk op verskillende maniere uitgebeeld en verkondig, maar het eers 2000 jaar gelede fisies werklik geword toe Jesus op die kruis sterf as losprys vir almal. Weer eens die ALMAL – bedoelende nie net Jode nie, maar ook nie-Jode – almal wat ooit tot ware geloof in Christus sou kom vanuit die hele mensdom – almal wat die Vader aan hom gegee het. Openbaring 5:9 > “Deur Sy bloed het Hy mense vir God losgekoop vanuit elke stam en taal en nasie.”

Ja, Jesus se kruisdood besit wel genoeg krag om alle individue op aarde – kop vir kop – met God te versoen, maar dit is slegs effekief in die lewens van HULLE – en hulle alleen – wie die Vader aan Jesus gegee het – hulle wat werklik tot geloof en bekering sal kom – uit alle nasies. Dit sê Paulus in soveel woorde 4:10 – “Jesus is die Verlosser van almal – in besonder is dit DIE wat glo!” En in Titus 2:14 sê die Apostel dat Jesus homself vir ONS – dit is vir die gelowiges – gegee het om vir homself ‘n volk as eie besitting te reinig.

Christus betaal dus die losprys aan Sy Vader deur SELF die losprys te word.

In die antieke tyd het slawe letterlik aan eienaars behoort, maar kon ook deur iemand anders losgekoop word teen ‘n goeie som geld. Daardie betaling het dan die slaaf losgekoop om die slaaf van die koper se eiendom te word.

God het in Christus Sy mense letterlik losgekoop van Sy eie toorn/oordeel/straf oor sonde. Nou het die Christus-gelowige van eienaar verwissel. As jy ‘n kind van die Here geword het, is jy nie meer die eiendom van sonde/skuld/satan nie. Jy is mos met Christus se bloed/lewe losgekoop. Jy behoort aan ‘n nuwe eienaar en Heer – die lewende Drie-enige God self. En dit is ge-anker en gewaarborg in/deur Sy bloed wat op die kruis gevloei het.

Ten slotte vers 7 (lees dit weer)

Die Apostel Paulus was so absoluut glorieryk oortuig van sy hemelse roeping. DIT is wat hom deurgedra het dwarsdeur die moeilikste tye van aanvegting en vervolging.

En nou is hy byna by die einde van sy lewensreis en kyk hy terug met die sekerheid dat God self hom geroep en aangestel het as prediker/leraar en apostel (wat gestuurde beteken).

As apostel was hy met unieke, onherhaalbare gesag beklee om God se Woord direk te kon ontvang en oordra. Maar hy was ook prediker/herout/leraar.

As ‘n mens dink WAAR Timoteus homself bevind het, naamlik in Efese waar vals leraars bedrywig was – was dit nodig dat Timoteus se bediening die sterk stempel van die waaragtigheid van PAULUS se roeping en bediening moes dra. Dis waarom die apostel die beklemtoning byvoeg – al weet Timoteus dit alreeds – wanneer hy sê: “ek praat die waarheid, ek lieg nie”. Timoteus moes ekstra seker wees van die inhoude wat die apostel hom leer.

Maar, natuurlik help dit ook vir ons in die 21ste eeu om radikale sekerheid te hê van die inhoud van die Evangelieboodskap wat ons by die apostels geleer het. Ons kan dubbeld en dwars weet: Die Apostel Paulus het die suiwere Godgegewe waarheid bedien. Dit kan en mag en moet sonder meer omhels word.

En veral die gelowiges uit die nie-Joodse nasies kan dit met sekerheid weet, want Paulus was spesifiek die apostel vir die NIE-JODE – die sogenaamde “heidene”. Heidene is alle nie-Joodse nasies op aarde.

Vir ONS vandag klink hierdie dinge soos van geen waarde of belang nie, maar destyds was dit ‘n baie moeilike kopskuif om te maak dat God se verlossing vir ALLE nasies bedoel is – nie net vir die Jode nie.

Die groot boodskap wat die Apostels bedien het was dus onophoudelike onderrig in die waarheid en die geloof. “Geloof” in die sin van die pakket van waarheid wat buite-om die mens vas en waar is en waarop die kind van die Here se vertroue rus.

Dis wonderlik om vir tyd en ewigheid te mag rus op iets wat vas en betroubaar is. ‘n Huis wat op rots gebou is, wandel nie in die tyd van storms en wind nie. DIT is die posisie van iemand wat Paulus – die apostel – se woorde ter harte neem.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)