Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 2
1 Timoteus 1: 12-20
Tema: Stry die goeie stryd

Die Apostel Paulus is nie besig om sy eie mening/sienswyse aan Timoteus te gee nie. As outentieke APOSTEL is die waarheid van die Evangelie deur God self aan hom toevertrou. Dis die Evangelieboodskap wat die heerlikheid en glorie van die Drie-enige God verkondig en dit maak diegene wat dit omhels, gesond. Dis die gesonde leer. Bedoelende: dit maak gesond. ‘n Boodskap wat die MENS probeer vermaak of beïndruk of streel of die MENS voorop stel, maak nie regtig gesond nie, want die WARE Evangelieboodskap verkondig en stel die glorie en eer van God self voorop!

Die grootste voorbeeld van die gesondmakende krag van die suiwer waarheid van die evangelie is Paulus self! Hy is self ‘n lewende voorbeeld van wat hierdie krag kan vermag. Daarom kan hy nie anders as om net ‘n kort getuienissie te gee en alle lof aan die HERE te gee vir wat in sy eie misrabele lewe gebeur het nie – ja HY wat voorheen die Here belaster en beledig het.

Hy het mos in sy stik donker duisternis gedink dat hy vir God ‘n guns doen deur Christus-gelowiges te vervolg en te laat martel. Wat hy nooit besef het nie, is dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het en dat sy (Paulus) se vervolging van die Christene eintlik ‘n vervolging van Jesus SELF is. Vat aan die verloste gelowige en jy vat aan die Here self. Dit het Paulus deeglik agtergekom op die pad na Damaskus.

Nooit ooit – gedurende die res van sy lewe – kon hierdie man daaroorkom dat hy die lewende Here God se kerk vervolg het nie.

Maar meer nog: Nooit ooit kon hy ophou om hom oopmond te vergaap aan God se weergalose genade en vrye guns wat vir hom binne-in sy sondedood kom ontmoet het en bevry het en verlos het en gered het nie. BINNE-IN sy sondedood het God hom kom ontmoet.

Kyk hoe stel hy dit hier: Christus Jesus is van A-Z ALLES! Die onverklaarbare guns van God – dat Hy iemand wat slegs die ewige dood dubbeld en dwars verdien, kom oorlaai met guns en geloof en liefde in Christus Jesus die Seun van die Allerhoogste God. En dit terwyl Paulus (Saulus) in die duistere onkunde van ongeloof vasgevang was.

Maar NIKS kan die Here God stop wanneer Hy van plan is om iemand te verlos en te bevry nie. Dis die opwekkingskrag van die opstanding van Christus wat ‘n sondaar se hart transformeer en duisternis verdryf en ewige lig laat skyn!

In ‘n neutedop is dít die lering van verse 12-14.

En dan kom vers 15 – een van die juwele in die Nuwe Testament (lees dit weer).

Dit wat in die Apostel Paulus se eie persoonlike lewe gebeur het, bevestig die groot evangeliese waarheid dat die Here Jesus Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red.

Om dan ernstige nadruk op hierdie waarheid te lê, gebruik die Apostel die plegtige woorde: “Dit is ‘n betroubare Woord en werd om 100% aangeneem te word.” Ja, die Woord MOET daadwerklik aangeneem word.

Dink ook aan die Here Jesus se woorde aan Saggeus in Lukas 19:10: Die Seun vd Mens het gekom om te soek en te red wat verlore is. Nie mense wat dink hulle is OKAY nie, maar wat weet en besef hoe diep verlore hulle is.

En dit is presies wat met Paulus self gebeur het toe die Here God hom letterlik uit die hemel kom arresteer het op die pad na Damaskus. Ja, hy is heerlik gered – hoewel hy die ewige straf verdien het. En dit terwyl hy by verre die vernaamste van alle sondaars is.

Die mens wat werklik met God wandel, sien nooit homself as geestelik volwasse nie.

Let mooi op watter tydsvorm hy gebruik: IS en nie WAS nie. “Van hulle IS ek die grootste”.

Onthou Paulus is nou reeds aan die einde van sy lewensreis. Hy sit vir die tweede maal in gevangenskap in Rome en weet dat sy dood voor die deur is. Hy het toe reeds vir dekades met God gewandel.

Hoe kan hy dan sê dat hy NOG STEEDS die grootste van die sondaars is? Moes hy nie die verlede tyd gebruik het nie? Ja, hy WAS dit, maar daar het intussen tog groot oorwinning gekom…

Nee. In Efesiers 3:8 sê hy dat hy die geringste van die heiliges is. Weer eens die teenwoordige tydsvorm. En in 1 Kor 15:9 noem hy homself die geringste van die apostels. Weer eens die teenwoordige tydsvorm.

DIT is die groot kenmerk van geestelike vordering. Hoe meer ‘n Christen vorder, hoe kleiner word jy. Hoe dieper jou groei, hoe groter jou sondebesef. En hoe groter jou sondebesef, hoe vaster kleef jy vas aan die perfekte verdienste van die Here Jesus as plaasvervanger in jou plek.

Ek skuif nou af na vers 16.

Wat ‘n stuk dinamiet van ‘n vers! LEES DIT WEER. Hier waar die Apostel Paulus kom getuig oor hoe die Here God uit genade sy oë oopgemaak het en hom kom oorlaai het met Sy guns – HY – Paulus – wat die elledigste van sondaars is.

MAAR daar was ‘n groot doel met dit alles. En ons mag dit nie miskyk nie. Paulus beskou homself as die grootste sondaar en juis aan die GROOTSTE sondaar kom betoon die lewende God AL Sy verdraagsaamheid. Waarom dan? Sodat hy (die begenadigde Paulus) ‘n voorbeeld kon wees vir miljoene ná hom.

Dink net vir ‘n oomblikkie daaraan: Wat Paulus – toe nog Saulus – verdien het om te moes ontvang, was dat die heilige God hom moes vernietig. Hy het immers boonop die GEMEENTE van Christus vervolg. Hy het mense wat aan Christus behoort, vervolg en sodoende die Here self vervolg. Hy het Stefanus se moord goedgekeur. Hy was aandadig daaraan. Hy was selfvoldaan en arrogant in – wat hy gedink het – die perfeksie is van sy wetsonderhouding om ‘n indruk op God te probeer maak. God het hom niks minder nie as die ewige straf geskuld nie.

Maar nou: Juis aan HOM betoon God al Sy verdraagsaamheid om van hom ‘n voorbeeld te maak vir letterlik ALMAL wat tot in die verste toekoms op Christus sou vertrou vir die ewige lewe. Dit sluit met ander woorde vir WIE in? Vir my en jou in die 21ste eeu.

Genade is regtig groter as sonde.

Dit beteken geensins dat ‘n begenadigde mens sal wil voortleef in sonde nie, nooit, maar die mens IN WIE die Heilige Gees woon, ja, SO ‘n mens weet dat God se genade die taaiste, taaiste sonde oorwin.

Dit bring ons by vers 17.

Dit is tipies van die Apostel Paulus se styl om – wanneer hy iets besonder groots gesê het – eers in ‘n stukkie lofprysing uit te breek voordat hy verder gaan. Onder leiding en inspirasie van die Heilige Gees natuurlik. Soos hier in vers 17.

Nadat hy kortliks vertel het van HOE onbeskryflik genadig die Here HOM, as grootste van sondaars was/is, laat hoor hy die lofprysing. Want in die Evangelieboodskap gaan alles van A-Z oor die Here God en NIE die mens nie. Die mens is geen aandeelhouer saam met God nie.

Paulus se siel is SO vol van dankbare blydskap oor die lewende GOD se guns, barmhartigheid en lankmoedigheid. HY is die Koning van die eeue – van die verloop van die eeue, vanaf die skepping tot by die wederkoms – die HERskepping – daar is absoluut niks wat Sy heerskappy kan of sal ontvlug nie en niks wat sonder Sy beskikking kan gebeur nie. Hy is gewoon net ANDERS as alle geskape dinge. Hy is ewig, onverderflik, onsienlik en uniek.

En tog is Hy regtig by ons teenwoordig deur Sy unieke Koningsheerskappy. Dis wat die Apostel met die woord ENIGSTE bedoel. Dit beteken die UNIEKE. Hy is die gans andere.

Dit herinner sterk aan die Jode se daaglikse gebed en geloofsbelydenis in Deuteronomium 6:4: “HOOR, ISRAEL, DIE HERE ONSE GOD IS DIE ENIGE HERE.”

Dis darem wonderlik vir ‘n mens in wie die Heilige Gees kom woon het, om te mag weet jy is die eiendom van Iemand wat onverganklik is. Sy bestaan sal nooit ophou nie. Sy heerlikheid duur vir ewig. En die verloste mens mag DAARAAN deel hê. Ons kan net saam met Paulus daarop AMEN sê. AMEN beteken: “Dis waarheid, dus laat dit so wees”. Want die Evangelie IS die waarheid. Dis ‘n AMEN werd!

Dus – in die voorafgaande verse wyk die Apostel net vir ‘n oomblik af om net eers gou sy getuienis te gee en dit loop uit op lofprysing. Maar vanaf vers 18 haak hy weer aan by sy opdrag aan Timoteus in vers 3 naamlik dat Timoteus in Efese moet aanbly om vals leraars te stuit – soos ons in verlede Sondag se studie gesien het.

Hy noem vir Timoteus deernisvol “my kind” – in ‘n geestelike sin natuurlik. Paulus weet sy eie heengaan is naby en daarom wil hy die bediening in jonger manne se hand laat en in besonder Timoteus – wat die presiese boodskap van die Apostel moes gaan bedien.

Sy opdrag aan Timoteus is nie uit sy duim gesuig nie, maar in ooreenstemming met sekere profesieë aangaande Timoteus wat vroeër van tyd reeds uitgespreek was en wat aangedui het dat Timoteus deur die Here bestem was as opvolger vir Paulus. Nie opvolger as APOSTEL nie – want dit kon nie – maar as BEDIENAAR – om sy boodskap te gaan bedien.

Ons moet egter nie die profesie wat oor Timoteus uitgespreek was, HOOR asof dit dieselfde soort verskynsel is as wat in sommige hedendaagse kerkkringe gepraktiseer word as nuwe openbaring van God wat mense in hulle binneste kan hoor of in visioene sien en dan oor ander gaan uitspreek nie.

Nadat die NT voltooi is, kan so iets eenvoudig nie gebeur nie.

In Paulus se tyd was leraars afgesonder vir bediening deur handoplegging en was daar woorde van die Here uitgespreek gebaseer op die OT (hulle Bybel) en op die apostels se prediking – deur die Heilige Gees gegee.

Paulus verwys dus terug na ‘n spesifieke geleentheid – wat ook in hfst 4 asook in 2 Tim 1 genoem word – waar die ouderlinge vir Timoteus hande opgelê het om hom vir die bediening af te sonder. By daardie geleentheid het die Here hom gesalf met ‘n besondere gawe wat hom geskik gemaak het vir die werk. Vanuit daardie ouderlingkring het ook ‘n profetiese woord gekom waarmee die Heilige Gees duidelik gemaak waartoe God vir Timoteus geroep het.

Profetiese woorde was ingewings van die Heilige Gees gebaseer op dit wat God alreeds in die OT-Skrif asook Apostels se prediking gesê het.

Sedert die NT voltooi is en God se openbaring volledig en geslote is, ontvang ons – in 2021 – profesie slegs net uit die Skrif – soos die Gees die Skrif vir ons oopmaak en dit toepas binne allerlei lewensomstandighede.

Dit is waarom Timoteus kon voortgaan om kragtig en met vrymoedigheid die goeie stryd van die Woord te stry. Want daar was ‘n spesifieke WOORD aan hom gegee. Maar die heel belangrikste saak van alles – is dat daar eenvoudig net onverpoosd voortgegaan moet word met Woordverkondiging.

Wanneer Paulus van die voortgang van die evangelie in die wêreld praat, gebruik hy dikwels militêre terme en hy stel die Christus-getuie as ‘n krygsman/soldaat van Christus voor – kyk maar byvoorbeeld na 1 Kor 9:7; 2 Kor 10: 3-6; Fil 2:25; Efes 6: 11-16 ens.

Maar, dieselfde Christus-getuie wat as krygsman vir Christus in die wêreld uitgaan, besit ook ‘n eie persoonlike verborge innerlike – wat baie kwesbaar is. Dit is waarop verse 19-20 fokus.

Daar is ‘n sekere MANIER waarop die Christen – en in besonder ook die bedienaar van die Woord soos Timoteus was – as krygsman die goeie stryd in die wêreld stry EN DIT IS: deur te waak oor die innerlike mens. Die uiterlike stryd word gestry deur middel van die innerlike mens wat aan twee belangrike dinge gelyktydiglik moet vashou: aan die geloof en aan ‘n goeie gewete.

Met DIE GELOOF (met die bepaalde lidwoord) word nie bedoel die subjektiewe innerlike vertroue op God se beloftes nie, maar die objektiewe waarheid (wat buite ons vasstaan) soos gevind in die OT en die apostels se prediking. DIE GELOOF is dit WAAROP die persoonlike vertroue vertrou en bou – die volledige pakket van waarheid. Die ewige waarheid van die evangelieboodskap.

Ken ‘n mens dit, maar wyk daarvan af, sal jou gewete jou aankla indien die Heilige Gees in jou woon. Jou gewete sal besoedel en ontwrig wees en jy sal dit WEET – jy sal dit nie kan uitstaan nie!

Ignoreer ‘n Christen (en veral ‘n Bedienaar vd Woord) hierdie twee stemme: Die Waarheid en die gewete, dan wag daar moeilikheid. Dan sal so ‘n persoon se geloof (sonder die bepaalde lidwoord) skipbreuk ly. Hier beteken GELOOF nou weer die subjektiewe persoonlike vertroue. Dit word oorboord gegooi waar die stemme van die waarheid en gewete geïgnoreer word.

En WAAR speel hierdie konflik af? Daar waar niemand dit kan sien nie: Die innerlike mens. Die kwesbaarste plek.

Dit is in die innerlike mens waar die Christen aan die Waarheid moet vashou, dit moet ken, dit moet koester en omhels, daarin onderlê moet wees. Niemand kan hier – in die Christen se innerlike – help nie, slegs die Heilige Gees.

Voeg daarby die gewete wat met die Heilige Gees gesalf is. ‘n Skoon gewete is een van die Christen se kosbaarste besittings. Kosbaarder as goud. Geen gelowige kan lewe indien die gewete besoedel en belas is nie. Net die bloed van Christus kan dit reinig.

Hierdie waarhede laat ons besef hoe ons vir ons leraars moet bid – veral diegene wat ernstig is om die pad van die Waarheid nougeset te stap. Want misleiding en dwaling kom maklik in en dit begin altyd wortelskiet in die geheime kamers van die innerlike mens waar niemand anders kan sien nie. Dis ‘n baie gevaarlike situasie.

In die gemeente van Efese (waar Timoteus bedien het) was daar twee sulkes – wat in hulle innerlike mens sonde en kompromie verdra het en uiteindelik die pad byster geraak het: Himeneus en Alexander. Hulle het die waarheid verloën. Die Apostel het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle kon wakkerskrik en terugkeer na God se Woord.

In 1 Korintiers 5 verduidelik Paulus in meer detail wat hierdie “aan satan oorgee” beteken. Dit kom neer op tug en dissipline en om diesulkes van die gemeente los te maak sodat hulle terug in die wêreld kan wees, DAAR waar satan se domein is (1 Joh 5:19).

Iemand wat waarlik weergebore is en in wie die Heilige Gees woon en wat só kerklik gedissiplineer word, se oë sal hopelik genadiglik oopgaan en daar sal hopelik berou en ‘n stuk terugkeer na die Woord wees.

Hoe nodig is kerklike dissipline nie ook in ons dag nie. Dit is ‘n suiwer Bybelse opdrag. Systap dit en kerke kan ‘n puinhoop word. Tewens dit is een van die redes waarom die NG Kerk tot ‘n mate ‘n negatiewe gedaanteverwisseling ondergaan het. Waarom? Omdat tug, dissipline en afsetting van afvallige teoloë en leraars oor jare heen agterweë gelaat is en progressiewe denke en afvalligheid van die Woord net totaal oorgeneem het. Laat onkruid toe om ongehinderd te groei en dit sal baie gou die hele wêreld vervuil.

Mag die Here ons waarlik help en begenadig om die goeie stryd te stry. Nie net op persoonlike vlak nie, maar ook gemeentelike vlak en binne die kerkverband asook as getuies in die hele wêreld.

Wandel met God – ‘n lewe met die Here – impliseer stryd. Christenwees is nie bedoel vir sissies nie. Wanneer God ‘n bepaalde mens weergebore laat word, word so iemand oorgeplaas uit een koninkryk en gevestig in ‘n ander koninkryk waarvan die poort smal is en die pad nou. Dis ‘n kwessie van OF 100% voluit gaan OF alles net uitlos. Niks tussen-in is moontlik nie.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)