Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 8: Bewapen julleself
SKRIF: 1 Petrus 4: 1-11

Die Apostel Petrus se eerste lesers was Christus-gelowiges wat onregverdiglik gely het en vervolg is as gevolg van hulle verbondenheid met Christus en hulle breuk met hulle vorige heidense lewenswyse. Dinge het maar rof gegaan en die trane het gevloei. Maar hulle het desondanks vasgebyt en deurgebyt in hulle toewyding aan die Meester.

Nou verseker die Apostel hulle dat hulle swaarkry ook ‘n positiewe uitkoms inhou. En dit is: Loutering – wat tot hulle heiligmaking dien.

Sonde-beheersing staan TEENOOR liggaamlike lyding en swaarkry. Sonde en die gevalle sondige natuur sukkel hard om staande te bly in die teenwoordigheid van onskuldige lyding en swaarkry. Liggaamlike lyding is nie die plek waar sonde wil voortwoeker nie. Dit stop eerder. En die wil van God en die heerskappy van die Heilige Gees seëvier in sulke omstandighede.

En wát wil ‘n ware Christen nou meer hê as juis dít. As jy waarlik deur die Gees weergebore is in Christus, SMAG jy na heiligmaking en die afwesigheid van die heerskappy van sondes en oorwinning oor sonde. Die weergebore mens se innerlike verlange en begeerte en lewensuitkyk verskil immers dramaties van dié van die onverloste mens. Die mens in wie die Heilige Gees woon VERLANG na Christusgelykvormigheid en ‘n heilige lewe en bevry-wees van inwonende sonde. Maar gemaklike en lekker lewensomstandighede VEG hierteen. Swaarkry bevorder egter ‘n lewe van heiligmaking en Christusgelykvormigheid.

Ja, Christus Jesus het IN Sy mensheid vir die gelowige se sondes gesterf. Maar IN Sy sterwe het DIE GELOWIGE ook vir die sondes gesterf, want God het ons ingesluit Sy Jesus se dood.

Hierdie waarheid moet ‘n Christen daagliks aanneem as wapen teen die uitkruipsels van sonde. Dit is byvoorbeeld ook die soortgelyke leer van Romeine 6 (vir selfstudie).

In die proses van heiligmaking is dit dus eerstens belangrik om die waarheid van ons eie sterwe saam met Christus se sterwe doelbewus aan te neem. Soos Hy getriomfeer het, ook ons.

Tweedens word ons soms bevoorreg om ook liggaamlik te mag ly en hierdie loutering bring ‘n reinigende en heiligende resultaat prakties na vore. En selfs al moet ons fisies sterf, is ons steeds oorwinnaars en dan finaal en totaal bevry van die sonde en volkome in die hemel waar God se wil perfek heers. Vir die kind van God beteken die dood slegs ‘n verandering van adres.

Dit wat met Petrus se eerste lesers gebeur het, was nie aangenaam nie, maar was eintlik ‘n wonderlike getuienis in hulle guns. Verse 3-5 maak dit vir ons oop, naamlik hoe hierdie kinders van die Here se vriende, kollegas en familie die verandering in hulle lewens gesien het en dit hulle SO geïmpakteer het dat hulle hulle begin beswadder en beskinder het. Dis die tipe beswaddering wat die Here verheerlik, want dit getuig van egte lewensverandering aan die kant van die Christene. Hulle lewens het ‘n “vroeër” en ‘n “nou” gehad. En die NOU het diegene wat nog by die VROEËR was, só geïrriteer dat hulle diegene wat by die NOU was, begin beskinder en beswadder het.

Waar satan heers is daar altyd ‘n mate van losbandigheid, wellus, drinkery, dronkenskap wees – dit alles is suiwer afgodery. VOORDAT Petrus se lesers die Here geken het, was hulle in hierdie sondes vasgevang soos in ‘n spinneweb. Tóé was vriende, familie, kollegas hulle goedgesind en die ene dierbaarheid.

Maar toe stap die soewereine Here Jesus Christus by hulle lewens in en die Heilige Gees neem besit en skielik verander sake. Hulle lewens word spliternuut gemaak. Die krag van God is eenvoudig sterker as die mag van énige sonde of verslawing of binding of wêreldsgesindheid. En nou kon familie, vriende en kollegas dit nie hanteer nie. Hulle bose harte kom in opstand teen Christus die Here en teen die realiteit van die ander se Geesbeheerde lewens. Dit word ‘n warm patat: onhanteerbaar. Hulle vind dit uiters vreemd dat die nuwe Christene se lewens so kon verander het. Is hulle besig om kêns te word of wat gaan aan?

Presies hier sien ons die kernoorsaak vir die Christene se lyding en probleme.

In verse 3-5 is daar dus ‘n klompie kragtige waarhede waarvan ons moet kennisneem:

1 > Bekering is lewensnoodsaaklik

2 > Christus lewe regtig en Hy verander lewens

3 > Die sterkste sondes is nie opgewasse teen die Here se kruisverlossing nie

4 > Iemand wie se lewe deur die Here verander het, kan nie dit privaat hou nie en kan teenstand verwag van mense wie se lewens NIE verander het nie.

5 > Daar kom beslis ‘n finale oordeelsdag. Ja, wat die onverlostes nie besef nie, is dat hulle op ‘n sinkende skip partytjie hou. Die koms van die Here is op hande en Hy sal lewendes en dooies oordeel. En elke mens wat kinders van God ‘n harde tyd gegee het, SAL aan Hom rekenskap moet gee – aan Hóm wat gereed staan om die lewendes en dooies te oordeel. Dit is die waarheid! ‘n Waarheid wat bitter min mense werklik besef: Die realiteit van die finale oordeel en die waarheid dat ELKE mens verantwoordbaar is. Dit breek eers vir ‘n mens oop wanneer die Heilige Gees jou hart verlig.

Hier is die realiteit van vers 6: Dis juis as gevolg van die feit dat die koms van die finale Groot Wittroonoordeel op hande is, wat die Blye Boodskap van Christus se verlossing verkondig word en ook verkondig MOET word. Dis dringend. Dis noodsaaklik. Dis ‘n kwessie van lewe en dood.

In Petrus se onmiddelik konteks skryf hy hierdie dinge aan mense wat dalk die marteldood sou kon sterf en uit hulle midde HET sommige inderdaad die marteldood gesterf. Hulle het verseker tonne bemoediging nodig.

Maar prys die loof die Here: VOORDAT hulle Christus-gelowige vriende en familie gesterf het, was die Evangelieboodskap aan hulle verkondig en het hulle alles gelos en DAAROP begin vertrou. En daarom, omdat hulle deur God se genade gered en weergebore was, het hulle liggame wel gesterf toe hulle gesterf het, ja, maar na die GEES (menslike gees) LEWE hulle soos wat God self lewe!

Die sterf in die liggaam is wel ‘n tipe oordeel van God wat alle mense tegemoetgaan, maar vir ware Christus-gelowiges is dit net ‘n voorlopige lot. Die EINTLIKE lewe kan deur geen dood getref word nie. Dis die lewe deur Jesus se opstanding in die krag van God die Heilige Gees. ‘n EWIGE lewe soos wat God self leef.

Die APOSTOLIESE versekering in vers 6 is dus: Onverloste mense sterf na liggaam EN gees en staan voor God se oordeel. Maar mense wat sterf as mense wat VOOR hulle dood die Evangelieboodskap gehoor en geglo het, sterf wel na die liggaam, maar nié na die gees nie. Die angel van die dood is uitgetrek. Wat ‘n glorieryke en triomfanklike goddelike boodskap!

Christus-gelowiges se dood is dus ‘n triomf! Veral ook nog diegene wat swaargekry het t.w.v. Christus of wat marteldode gesterf het.

Maar, Christus-gelowiges se onregverdige lyding en swaarkry sal óók ‘n oorwinning en triomf wees – nie net by hulle eie dood nie – maar ook by Jesus se wederkoms! Wanneer die EINDE kom! Want Sy koms is die DOELWIT van alles! Die EINDE is op hande, sê vers 7!

Die woord wat hier met EINDE vertaal word beteken nie iets wat net kronologies stop nie. Dit beteken dat ‘n doelwit / resultaat behaal/bereik is. ‘n Voleinding is bereik. DAN sal die Christus-gelowige se swaarkry en lyding ‘n lekker groot oorwinning wees.

Ja, die apostels het geLEEF met die verwagting van die EINDE – Christus se persoonlike wederkoms. Die sogenaamde EINDTYD is ‘n tydperk wat alreeds by Jesus se opstanding uit die dood begin het. Dis nie ‘n tydperk in die 21ste eeu nie. Dis nie die Covid19 tyd nie. Volgens Hand 2:17 was die uitstorting van die Heilige Gees reeds die “laaste dae”. Dis die hele tydperk waarin God ‘n bruid vir Sy Seun vergader en verlos. En vir Hom is een dag soos 1000jr en 1000jr is vir Hom soos een dag (2 Petr 3:8).

DIS die rede waarom vers 7 sê DIE EINDE VAN ALLES IS NABY. Vir die individu is dit natuurlik ook so naby soos jou eie fisiese dood. Wat ENIGE dag kan wees.

In die lig van hierdie feite, roep die Apostel Petrus ons tot ‘n lewe van heiligmaking en ‘n lewe van verwagting en ‘n lewe van uitsien. Dis net ‘n absolute dwaas wat nie hierop ag slaan nie. Dis ‘n wyse ding om eerder ‘n ewigheidsperspektief op die lewe te handhaaf. En dit kos natuurlik dissipline en toewyding en ‘n keuse wat 3 dinge behels:

Selfbeheersing > nugterheid > gebed.

A → Die Christen mag hom nie laat meesleur deur die wêreld en vrees en lyding nie. Selfbeheersing is ‘n vrug van die Gees. B → Nugtere denke wat op God se Waarheid fokus, is onmisbaar. C → Gebed hou ons fokus reg. DIT is hoe mense leef wat ‘n lewende toekomsverwagting het en vorentoe kyk na die groot dinge wat die Here nog GAAN doen!

Kan u aanvoel en sien hoe die Heilige Gees eenvoudig net keer op keer die uitkruipsels van die gevalle sondige hart van die mens nek-omdraai. O, hierdie woorde is SO die woorde van die Here self. Dis so TEEN die mens se hart, maar ook so VIR die mens bedoel. En onthou Petrus, die skrywer, het presies net so ‘n gevalle sondige hart gehad. Hy skryf dus wat hy skryf TEEN sy eie gryn in. Maar, die Heilige Gees dryf hom, u sien.

Die gevalle sondige hart van die mens is altyd so selfgesentreerd en vol selfliefde en negatief en klaerig. Maar nié so JESUS se hartklop nie. Jesus se hartklop is vol selfverloëning en vurige liefde. En Sy hartklop is in die weergebore mens oorgeplant. Die verloste mense besit dit. Daarom kan die verloste mens ook selfverloëning toepas en vurig liefhê soos verse 8-9 vervolgens leer. Dis so nodig namate die kind van God besef dat die einde op hande is.

Die woord VURIG in die Grieks beteken iets soos die strek van spiere – soos ‘n langafstand atleet doen. VURIG liefhê.. en iemand anders se geestelike nood VOOR eie begeertes en gemak kan plaas – selfs ten spyte daarvan dat jy soms onvriendelik of vyandig behandel word. Dis die tipe liefde wat ander se sondes kan bedek en vergewe en vergeet (1 Kor 13:4-7; Spreuke 10:12). Eintlik kan sondes wat ander teen jou pleeg glad nie bedek word sónder hierdie tipe liefde nie. Dis gewoon nie moontlik vir die gevalle menslike hart om dit te kan doen nie. Dis uit en uit net die Here Jesus se hartklop IN ‘n mens wat dit kan vermag.

Dieselfde geld ook vir vers 9: Gasvryheid sonder om te kla en te murmureer oor die moeite en opoffering wat dit meebring. Gasvryheid in die Grieks beteken letterlik liefde vir vreemdelinge. Die agape liefde is nie eerstens ‘n saak van gevoel en emosies nie, maar prakties vanuit die wil.

In Petrus se tyd het die Christene hulle eie huise beskikbaar gestel vir eredienste en vir rondreisende predikers en hulpbehoewende mede-gelowiges. Dit was deurslaggewend in tye van vervolging en marteling. Die rigting en koers is altyd WEG van eiebelang. Maar die kern van alles is natuurlik om self eers te weet dat JY vergewe is en dat die Here hierdie tipe liefde aan JOU betoon het. Jy moet SY gasvryheid ken, om dit so te stel. En dan word daardie liefde deur die bediening van die Heilige Gees op jou oorgeplant sodat jy ook iets daarvan mag uitleef.

Kan u sien wat ek bedoel het toe ek vaneffe gesê het dat die Heilige Gees – wat in hierdie teks die eintlike outeur is – die menslike gevalle natuur nek-om draai?

En Hy gaan voort om dit te doen in verse 10-11.

Want wat presies doen gasvryheid en vurige liefde in praktyk? Wel dit dien ander met Godgegewe gawes natuurlik. Dit fokus op ander en dien hulle.

Maar wat dink die MENS waarom ontvang Christene geestelike gawes? Wel, vir EIE opbou en stigting natuurlik. Ek ontvang gawes ter wille van MYSELF. Maar die Here sê: Nee, dis met die oog op ANDER dat jy gawes ontvang het. Dis bedoel om ander mee te dien.

En let op: ELKE mens wat uit genade tot redding gekom het, IS ‘n bedienaar van die genade van die verlossingsboodskap. Nie die leraar nie, maar elkeen! Elke mens in wie die Heilige Gees kom woon het, besit gawes.

Dis nie gewone menslike talente wat alle mense tot ‘n mate besit nie, nee, dit is gawes/geskenke wat die Gees aan God se verloste kinders as vrye/gratis geskenke gee met die doel tot die opbou van die liggaam van Christus – dit is die gemeente, die kerk.

Die fokus is dus op mede-gelowiges en nie op EIE opbou of groei nie. Niemand het besitreg op gawes nie. Almal is teenoor die Gewer verantwoordelik. Gelowiges is soos bestuurders wat God se huishouding bestuur.

Natuurlik ontvang almal verskillende gawes, na die mate waartoe die Here kies om dit te gee. Die Apostel bedoel dat daar hoofsaaklik TWEE kategorieë van gawes is: PRAATgawes en DIENgawes. Hy stippel nie ‘n lys gawes uit nie. Hy noem net hierdie twee kategorieë. Sy oogmerk is nie detail nie. Hy wil net ‘n spesifieke punt maak. En die punt is dit: Dit moet in alles altyd oor die HERE en Sy verheerliking gaan en nie oor die MENS nie, nie oor die onheilige drie-eenheid EK, MY & MYSELF nie.

Aan God die Vader behoort die heerlikheid en krag deur Jesus Christus – vir ewig en vir altyd. En Hy deel Sy eer met niemand anders nie (Jes 42:8).

As jy ‘n ware Christen is, besit jy OF ‘n PRAATgawe of ‘n DIENgawe of beide.

Praat jy, moet jy seker maak dat jy die Here se geskrewe Woord, die Bybel praat. Net die Bybel en niks anders nie. Praat dus dit wat reeds gesê is!

En dien jy, doen dit in Sy krag wat Hy verleen. Bly dus afhanklik van Hom.

En sodoende bly jy altyd geestelik bewapen!

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)