Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 5: Oorwinning in die huwelik!
SKRIF: 1 Petrus 3: 1-7

Die apostel Petrus stoom nog steeds voort om aan te toon hoe Christene binne ‘n vyandige wêreld vir Christus moet en kan lewe – deur Sy genade en die kragtige werk van die Heilige Gees. In die eerste eeu is Christene erg vervolg – onder andere – omdat hulle geweier het om die Romeinse Keiser Claudius “here” of “god” te noem. Die Apostel Petrus skryf dus om hulle te herinner aan hulle lewende hoop in Christus en hulle aan te spoor tot volharding.

Binne ons huidige konteks is die vervolging teen Christene nie noodwendig so openlik nie, maar meer subtiel. In Noord Korea en China en sekere Moslemlande is dit, ja, maar in Suid-Afrika is dit geneig om meer subtiel te wees.

Die druk is altyd op Christene om te konformeer en nie-Christelike en onbybelse sienswyses en lewenspraktyke te aanvaar. Veral ook op die vlak van seksualiteit en geslagtelikheid en huwelik is daar uiters baie druk om te konformeer.

Om te wys hoe erg die kerk reeds gekonformeer het, kan ons sommer net verwys na hoe probleemloos “Christene” die saamwoon van ongetroudes aanvaar as “normaal” omdat “tye verander het”. Probleemloos. Dit wat die Skrif sien as egbreuk en immoraliteit, word vandag aanvaarbaar gemaak. Maar in dáárdie mens se lewe waar die Heilige Gees kragtig aan die werk is en die Skrif weer vir so iemand allerbelangrik word, ontwaak die siel en wil so ‘n mens skielik staak met ‘n lewe van kompromie. Dis asof die skille van die oë afval. En dan begin die probleme.

In hfst 2 het die Apostel Petrus alreeds na twee lewensareas verwys, waar Christene vervolg word en waar hulle – deur die genade van God – oorwinnend moet leef, naamlik die sosiale samelewing en die werkplek. In hfst 3 noem hy nou nog twee lewensareas: die huwelik en die plaaslike gemeente. Die Skrifperikoop wat ons vandag bestudeer fokus spesifiek op die huwelik. Die huwelik van twee kinders van die Here asook die huwelik waar slegs een van die twee partye ‘n Christen-gelowige is en die ander nie.

Indien ‘n Christen-gelowige ‘n suksesvolle getuie vir die Here Jesus Christus in die samelewing wil wees, is dit absoluut belangrik om te onderwerp aan die ORDE wat God (sedert die skepping) daar gestel het – dit het die Apostel reeds in hfst 2 gesê.

Maar, wat nou van (byvoorbeeld) ‘n huwelik waar die vrou ‘n weergebore Christen is en die man nie?

In die Skrif is Christenvroue op geen manier minderwaardig teenoor Christenmans soos wat dit in die destydse kultuur die geval met mans en vroue was nie. In die destydse Grieks-Romeinse kultuur was die vrou die man se besitting – met weinig regte. Vroue was op dieselfde vlak gestel met slawe.

Nee, sê die Heilige Gees deur die apostoliese pen: Christenvroue is nie minderwaardig teenoor Christenmans nie. ‘n Christenvrou kan met haar Christenman se leierskap leef sonder om enigsins ‘n vloerlap te wees. Net so min as wat ‘n Christenmens minderwaardig is teenoor die owerheid – selfs ‘n goddelose owerheid – deur hom/haar aan daardie owerheid se gesag te onderwerp. Net so min is die Christenvrou minderwaardig teenoor haar man.

In Christus, is vroue nie ondergeskik aan mans en minder-mens as mans nie. Hulle is in Christus presies gelyk. En tóg het God ‘n spesifieke orde in die huwelik gestel wat leierskap betref. Dis soos enige span ‘n kaptein moet hê om enigsins te kan funksioneer.

God het bepaal dat die man die kaptein van die huwelikspan moet wees. En die vrou stel haarself daaronder. In Efesiers 5 wys Paulus dat presies hierdie verskil in rolle, ‘n aardse afbeelding is van Christus se verhouding tot Sy kerk – waar Christus die kaptein/hoof is en die gemeente Hom liefhet. Die gemeente is nie minderwaardig teenoor Hom of sy vloerlap nie. Dit gaan oor rolle. Man en vrou is gelykwaardig in Christus en besit verskillende rolle binne huwelik en kerk. Alhoewel man en vrou gelykwaardig is in Christus, mag die vrou nie binne die kerk ‘n rol vervul waar sy oor die man gesag het nie (dit is die apostoliese leer in 1 Tim 2:12). Dis ‘n verskil in rolle dus. Dieselfde geld vir die huwelik. Man en vrou is gelykwaardig in Christus, maar ontvang verskillende rolle. Die vrou is nie bestem om in die huwelik die leierskap te neem nie.

Maar wanneer ‘n Christenvrou se man onverlos is, gaan dit moeilik – – dinge raak taai. Die apostel spoor sulke vroue egter nie aan om te skei nie. En dit stem ooreen met die apostel Paulus se onderrig in 1 Kor 7: 13-16. Alhoewel Paulus in daardie Skrifgedeelte leer dat – waar die ónverloste party in die huwelik – en hy noem spesifiek die man – kies om die huwelik te vernietig, die verloste party (die Christen) nie gebonde is nie en nie verplig is om aan daardie huwelik vas te klou nie. Egskeiding is egter nooit die eerste prys nie. Nie by die Apostel Paulus nie en ook nie hier by die Apostel Petrus nie.

Petrus moedig sulke gelowige vroue ook nie aan om vir hulle onverloste mans te preek nie. Dit is “preek” in die negatiewe sin van die woord. Dit beteken om aanhoudend te neul en kerm oor hulle nodigheid om gered te word. “Sonder woorde”, sê Petrus, kan die mans moontlik gewen word.

Hy spoor die vrou ook nie aan om haar regte op te eis nie. ONDERWERP is presies die teenoorgestelde gesindheid. Ja, die kragtigste evangelisasie-instrument waaroor die Christenvrou beskik, is haar lewenswandel. So sê die Heilige Gees deur die Apostel se pen. ‘n Konsekwente Godvresende voorbeeld in die Heilige Gees se krag KAN DALK sê hy (nie SAL nie) die man vir Christus wen. Lewenswandel en konsekwente gedrag praat baie hard en is onweerlegbaar. En dit kán moontlik ‘n instrument in God se hand wees.

Dit is in kort die lering van verse 1-2.

Maar verse 3-4 klink soos ‘n taai toffie. Lees dit weer.

Sê die Heilige Gees in hierdie verse dat ‘n Christenvrou nie mag haarkapper toe gaan nie, geen mooi klere aantrek nie en geen ringe en juweliersware mag dra nie? Hoe moet ons hierdie stukkie Goddelike onderrig kleinkry?

Nee, onthou die KONTEKS! Die Apostel Petrus is mos besig om te praat oor die manier waarop ‘n Christenvrou teenoor haar nie-Christen man moet optree en hoe die Here dalk die man se hart sal wil beweeg. En DIT geskied deur die vrou se innerlike skoonheid asook haar lewenswandel en nie deur uiterlike versiersels en skoonheid nie (wat ooreenstem met 1 Tim 2: 9-10). Alle Skriftekste moet altyd binne die gegewe konteks gelees word.

Petrus praat nie TEEN die uiterlike nie. Hy praat oor WAAR die Christenvrou se fokus moet wees ten einde ‘n gereedskapstuk in die hande van die Here te kan wees – indien dit Hom sou behaag. En DIT geskied baie beslis nie deur haar grimering of haarstyl of diamantringe nie! Daardie dinge is nie die wáre skoonheid wat by die lewende God waarde het nie!

Dit beteken egter nie dat die uiterlike moet of kan afgeskeep word nie. Dit is ook belangrik, maar die innerlike is waar die HERE se oë sien en kyk. Dit is waar Sy belangstelling fokus. Die HART is vir Hom baie waardevol. Wat natuurlik in lyn is met wat ons in Spreuke 31 lees.

Die Christenvrou word nie verbied om haar hare te laat doen of juweliersware te dra of klere wat in die mode is nie. Uiterlike versiering is in elk geval ‘n kulturele ding wat van plek tot plek verskil. Wat binne die een kultuur aanvaarbaar is, is binne ‘n ander kultuur nie aanvaarbaar nie. Die Apostel sê doodgewoon dat die Christenvrou nie haar skoonheid in die uiterlike moet definieër nie, nie onnodige aandag op haarself vestig nie, nie aantrek of grimeer op ‘n manier wat die Here oneer aandoen en mans se fokus op haarself trek nie. Die Heilige Gees – wat in die ware Christen woon – is ‘n baie sensitiewe Persoon en mag onder geen omstandighede bedroef word nie. Alles moet in pas met die Gees en die Skrif geskied. Ja, die wêreldse vroue lag hieroor, maar nie vroue wat weergebore is en beheers word deur die Heilige Gees nie. Húlle BEGEER om die Here te eer.

Die Here gebruik dus die vrou se innerlike om tot die ongeredde man te spreek. Die skoonheid van die innerlike mens is van groter waarde as goud, sê die Here se Gees. Grimering en ‘n knewel van ‘n diamantring of mooi klere moet heeltemal oorskadu word deur die innerlike skoonheid van beskeidenheid, nederigheid en kalmte van gees. Sulke dinge tel groot punte by God. GROOT punte. Dis vir Hom baie kosbaar. Baie waardevol. Baie spesiaal. Ook in die geval van ‘n man, is hierdie innerlike gees van groot waarde voor God.

Dit is natuurlik ‘n baie moeilike boodskap om te moet hoor, want ons almal weet dat dit heelwat makliker is om uiterlik te versier as om innerlik te versier! Innerlike transformasie neem ‘n leeftyd van wandel met God, tyd uitkoop, gebed en kruisiging van die oue mens. Dis ‘n smal pad.

Dit gaan egter nie hier oor die MENS se sogenaamde vermoë nie, maar oor die effektiwiteit van die Heilige Gees se beheersing en krag. Die innerlike skoonheid waarvan hier gepraat word, is niks anders nie as die vrug van die Heilige Gees. Die vrug wat HY produseer in die lewe van die mens wat met die Here wandel!

Wat die Apostel dus eintlik hier sê, is dat die Christenvrou haarself daarop moet instel om daagliks oorgegee te wees aan die heerskappy van Christus deur Sy Gees! Hou op om self te probeer en gee oor! Vertrou Hom! Sien op tot Hom! Verwag Hom! Hoop op Hom!

In die 21ste eeu klink hierdie woorde van die lewende God heel vreemd. Eintlik klink dit vreemd vir die gevalle natuur en hart van die mens, al is dit WATSE eeu! Dit druis gewoon in TEEN die gryn van die mens wat buite die paradys is. Maar, Jesus het gesê DIE WAARHEID MAAK VRY (Joh 8:32). Die waarheid wat die Apostel Petrus hier leer, is dat die weergebore vrou se innerlike skoonheid die instrument kan wees wat God sou kon (nie noodwendig nie, want niemand weet in wié se lewe die Here die weergeboorte wil skep nie) gebruik om die onverloste man se hart te raak. En as GOD sê dit is so, dan is dit so! En dit maak vry!

Deel van hierdie innerlike skoonheid is onderwerping aan die kapteinskap van die man in die huwelik soos verse 1-2 uitspel. In die OT-tyd het gelowige vroue dit presies so gedoen.

Soos byvoorbeeld Sara wat met eerbied na haar man Abraham verwys het en sy leierskap eerbiedig het. Sy het byvoorbeeld nie vir Abraham uitgelag en van hom ‘n grap gemaak by die gedagte dat sy – op gevorderde leeftyd – swanger sou word nie. Sy het hom met respek behandel.

Die feit dat sy hom “heer” genoem het – soos die Grieks sê – pas natuurlik binne die kultuur van die antieke Midde-Ooste. Dit beteken nie ‘n Christenvrou moet in 2021 haar Christenman as “heer” aanspreek nie. Maar die manier waarop Sara binne daardie kultuur na haar man verwys het, dui op respekvolle behandeling en DIT is wat vandag steeds die geval moet wees waar die Heilige Gees ‘n huwelik onder Sy beheer het. Maar, ook in die geval waar die vrou ‘n verloste is en haar man nie. Ook dan geld dieselfde beginsel.

Vir ‘n Christenvrou wat met ‘n ongeredde man getroud is, kan hierdie instruksie vrees inboesem en bedreigend voel, want waartoe is só ‘n man nie dalk in staat nie? Moet sy haar nou maar onderwerp aan die “leierskap” van ‘n man wat haar vloek en skel en misbruik en in sonde intrek en emosioneel of selfs fisies mishandel? Nee, op geen manier nie. Sy onderwerp haar beslis nie daaraan nie.

Die Apostel sê vir sulke vroue: Moenie julle laat afskrik deur iets wat bangmaak of vir julle moontlike bedreiging inhou nie. Verse 5-6. Moenie dat vrees inkom nie. Julle volg NIE die man se leierskap in die sonde en dit wat teen God se wil indruis nie, maar in dit wat goed is (vers 6). En daarin sal die Here jou bekragtig.

Dis ‘n geweldige belangrike opmerking hierdie in vers 6. Die Christenvrou wat met ‘n onverloste, onwedergebore man getroud is wat deur godlose optrede vrees en bedreiging by haar inboesem, en sodoende eintlik die huwelik per definisie verbreek en vernietig, mag haar nie laat bangmaak en afdreig en boelie nie. Dis nie DAARIN wat sy aanhou om so ‘n man se leierskap te volg nie.

Die onverloste man wat buite Christus is, weet en besef baie goed dat die gelowige vrou hom nie kan en mag en sal volg in goddeloosheid nie. Dis nie alle vroue wat geestelik toegewyde en godsvrugtige mans het soos wat Sara in Abraham gehad het nie!

Wat Petrus sê is dat daar ‘n hooffokus van beginsel in die hart van die verloste vrou moet wees: Naamlik om hulle mans te eerbiedig en hulle leierskap te volg in alles wat nie teen die Here is nie. Hulle mag dus nie in beginsel, van die staanspoor af, opstandig wees nie. En dit is HIERDIE hartklop by die vrou, wat die Here kan gebruik om in die onverloste man se hart in die spreek tot lewendmaking, want dit is ‘n baie kragtige stille getuienis!

Maar – volgens Efes 5:21 is onderdanigheid ook die MAN se voorreg in die huwelik! Wees aan MEKAAR onderdanig, sê die Apostel Paulus in daardie vers. Waar beide man en vrou (beide in-Christus-verlostes) in die huwelik DIENAARS is, is dit so tipies van mense in wie die Heilige Gees die stuurwiel oorgeneem het, om onderdanig te wees.

MAAR: In die Christelike huwelik, stel die man nie homself onder die vrou se leierskap/kapteinskap nie, want God het bepaal dat die MAN die kaptein van die spannetjie moet en sal wees. Man en vrou het dus verskillende rolle van God ontvang.

Hoewel die man die kaptein is, is sy verantwoordelikheid om hom te onderwerp aan die liefdevolle plig om sy vrou in alles in ag te neem, sensitief te wees vir haar behoeftes, vrese en gevoelens en terug te staan en haar eerste te stel. Die manier waarop die Christenman leiding gee, is deur sy vrou eerste te plaas. Hy moet dus sy eie behoeftes en gevoelens ONDER hare stel – of sy ‘n Christen is of nie.

Hoor net hoe stel die Heilige Gees dit deur Petrus se pen: Die Christen-gelowige man moet teenoor sy vrou verstandig en begripvol wees en haar eer bewys. Dit is immers hoe Christus teenoor Sy kerk voel en optree, sê Efes 5 vir ons. En die huwelik is mos ‘n aardse afbeelding van Christus se verhouding met Sy kerk, waar die kerk voortdurend behoefte het aan die hemelse Bruidegom se voorsiening en beskerming.

Volgens Galasiërs 3:28 is die vrou nie geestelik minderwaardig of ondergeskik aan die man nie, maar sy is wel fisies swakker en daarom het sy behoefte aan beskerming en eerbewys.

Hierdie Bybelse en Godgewilde huweliksverhouding is die beste tipe verhouding wat hierdie aardse lewe aan die mens bied – en dit is ‘n genadegawe van Bo – dis nie maar net iets menslik uitgedink of ‘n kulturele verskynsel nie.

Leef die Christen-gelowige man (let op: nou nie die onverloste nie) NIE volgens hierdie beginsels nie en die vrou moet sug en steun onder sy verkeerde en onbybelse behandeling, kan sy gebede groot skade ly – sê die Apostel – dit beteken sy verhouding tot die Here sal skade ly. Gebed verteenwoordig tog die relasie tot God. Gebed is simbolies van ‘n Christen se totale relasie tot God. Die Christenman se optrede teenoor sy vrou het dus alles met sy geestelike lewe te make en sy onbybelse optrede teenoor sy vrou, kan sy lewe met die Here kniehalter. Dis iets waarvan ons deeglik moet kennisneem.

Uit alles wat in hierdie 7 verse gesê is, kan ons sterk agterkom dat God se standaarde nie die standaarde van moderne Suid-Afrika is nie en beslis nie die standaarde van die huidige post-moderne kultuur is nie. Dit wys vir ons hoe nie-christelike maniere van dink en doen in die kerk inslag gevind het en dit help ons om daarvan te bekeer en terug te draai na die Waarheid en beter getuies te wees van die Evangelie van Jesus Christus.

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)