Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 11: Soos ‘n brullende leeu
SKRIF: 1 Petrus 5: 8-14

Ja, al ís dit volkome waar dát die lewende God sorg en die Christus-gelowige sy/haar sorge op Hom mag neerwerp – soos ons in ons vorige studie by vers 7 gesien het – is dit ook nét so waar dat die Christen nugter en waaksaam moet wees. Nugter.. en … waaksaam.

Onthou net weer die konteks van die brief: Die apostel Petrus skryf vir Christene wat swaarkry en selfs vervolg word vir hulle verkleefdheid aan die Here Jesus en die absolute eksklusiewe waarheid van God se Woord (iets wat baie spoedig ook HIER gaan gebeur).

Maar hy sien AGTER hierdie vervolging en lyding en onreg, SATAN se werksaamhede. Want wat presies beoog Satan? Hy wil natuurlik die Christus-gelowiges deur middel van die onregverdige probleme wat hulle verduur, afvallig maak van die Drie-enige God en die Woord en die Waarheid. Ja, die probleme en moeites word deur die Soewereine God beskik – dit word uit Sy hand ontvang – maar die vyand kom – onder die toelatende wil van God – en buit die situasie uit.

Petrus wil dus hê sy lesers moet die korrekte vyand identifiseer. Naamlik die brullende leeu – wat op die uitkyk is wie hy kan verslind.

Natuurlik is dit totaal onmoontlik dat satan of enige demoniese mag ‘n ware weergebore Christenmens VERLORE kan laat gaan. Dit is gewoon ‘n onbybelse gedagte. Met ander woorde dis totaal onmoontlik dat satan (en sy handlangers) die wedergeboorte ongedaan kan maak en die verloste persoon in die Poel van Vuur kan besorg. O nee, Jesus gee die goue versekering in Johannes 10:28 dat NIEMAND Sy kind uit Sy hand kan ruk nie.

Nogtans wil die brullende leeu verslind – dit beteken: groot skade veroorsaak. Want hy is ‘n gedugte vyand. Hy is allermins ‘n onpersoonlike non-entiteit – soos wat die NG kerk se sinodebesluit van ‘n paar jaar gelede ons wil laat glo nie. Nie indien ons die Skrif ernstig neem nie. Nee, hy is soos ‘n brullende leeu. Nie: hy IS ‘n brullende leeu nie, maar hy is SOOS ‘n brullende leeu. En enige Christen wat op watter manier ookal onreg ly of swaarkry ter wille van die Here Jesus en Sy saak, weet hoe WAAR dit is.

En daarby is satan ‘n HY/hom, sê die Heilige Gees deur die Apostoliese pen. Hy is manlik en hy is ‘n persoon. Hy is nie vroulik nie en hy is nie ‘n onpersoonlike krag of mag nie.

Die woord satan “teëstander” beteken ‘n aanklaer in ‘n regsgeding. En die woord “duiwel” beteken juis beskuldiger. Ja, hy gebruik alle middele om God se verloste kinders te beskuldig. Maar, tevergeefs sê Romeine 8:33. Want GOD is dit wat vryspreek kragtens JESUS se suksesvolle sterwe.

Nêrens sê Petrus ONS moet die brullende leeu probeer oorwin of bestraf of uitoorlê nie. Ons moet net wakker wees. Op ons pos. Die oorwinning is mos klaar behaal. ‘n Volmaakte oorwinning – deur Christus se opstanding beklink. Die Christen STAAN net gewoon vas IN die volbragte oorwinning. Dit korreleer 100% met Efes 6 waar die apostel Paulus duidelik sê dat God se wapenrusting die gelowige moet help om STAANDE te bly. NIE om die satan ‘n loesing toe te dien nie, maar persoonlik staande te bly – op sy/haar pos.

Daar is dus geen twyfel nie dat – Petrus se eerste lesers Christene in Klein-Asië was wat baie gely omdat hulle Christene was EN DAT DIT DIE BRULLENDE LEEU (Satan) SE KAPHOUE WAS waaronder hulle deurgeloop het.

Dit moet ons goed raaksien, want ons is geneig om allerlei dinge wat ONS DINK die brullende leeu aan ONS doen, daar in te lees. En dit is nie noodwendig verkeerd nie – maar dan moet ons onthou dat onregverdige pynlike onreg wat Christene ter wille die Christus ly, die PRIMÊRE aksie van die brullende leeu is.

En in vers 9 herinner die Apostel hulle dat – wat met hulle gebeur – glad nie so vreemd en uniek is nie, tewens dit gebeur oral in die destydse Romeinse Ryk met Christene. Oral verduur gelowiges dieselfde soort aanslae wanneer hulle vir Christus uitstaan. Sy lesers moes dus goed weet dat hulle nie alleen staan nie. Christus se ware kerk is Sy liggaam en is regoor die planeet versprei. En ‘n volgeling van Christus Jesus is nooit alleen nie. Ook nie in sy/haar pyn nie.

Wat die Apostel dus sê, is dat hulle SAAM – as verenigde broederskap van Christus-gelowiges – die vyand – dit is satan – moet teëstaan. Standvastiglik. Dit beteken: so solied soos ‘n rots.

Petrus se woorde stem 100% ooreen met Jakobus se woorde in Jak 4:7: Onderwerp julle aan die Here en weerstaan die duiwel en hy SAL wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

En dit klop weer volkome met Efesiers 6:11-13 waar die Apostel Paulus sê: Trek die wapenrusting van God aan sodat julle staande kan bly teen die planne van die duiwel. Ons worstelstryd is immers nie teen MENSE nie, maar teen die bose geeste in die lug.

Die vraag is HOE? HOE moet Christus se volgelinge opstaan teen die vyand?

Wel, beslis nie deur spesiale formules uit te spreek of woorde direk teen satan te slinger nie, maar wel deur standvastig te staan in die Waarheid van die Evangelie.

Kyk, Petrus sê eksplisiet HOE ons die duiwel moet weerstaan. Hy sê: BLY STANDVASTIG IN DIE GELOOFSVERTROUE. M.a.w KLEEF VAS AAN DIE WAARHEID EN STAAN ROTSVAS DAARIN. Vaster en vaster en vaster vaskleef.

Dit korreleer met 2 Korint 10:3-5 wat sê dat ons die geestelike wapens van die Evangeliewaarheid moet gebruik om sataniese vestings van leuens aan te val en te verbreek. Verkleefdheid aan die Woord en gebed en die aktiewe uitdra van die Woord, is die drie magtigste wapens denkbaar. Dit praat van triomf!

Kyk na verse 10-11 en sien hoe getuig dit van die grootste triomf. Die vasstaan in die waarheid is outomaties die weerstaan van die duiwel. En dit lei tot die sekere wete dat God soewerein is en dat die ewige krag aan Hom behoort. En net aan Hom! En boonop DEEL die weergebore mens alreeds daarin! Elke kind van God doen so!

In verse 10-11 wil die Apostel ‘n stuk sekerheid by sy lesers tuisbring. Hulle moes iets baie goed weet en verstaan. Wat moes hulle weet en verstaan? Hulle moes weet en verstaan dat God se bedoeling en plan met hulle vir die toekoms dikwels in die hede pyn meebring. Terwyl die kind van God deur die brullende leeu aangeval word, is die Here besig om groei en geestelike volwassenheid by die persoon te skep. En die uiteinde daarvan is nie dood of verlies nie, maar oprigting, moedigheid, sterkte en standvastigheid. SO sê die Heilige Gees deur die apostel.

Ons moet dus raaksien met watter vasberade bedoeling voor oë, die lewende God met al Sy ware kinders aan die werk is. Mense wat in die Here Jesus tot redding gekom het. Die Here het slegs EEN oogmerk met hulle: En dit is om standvastige, vertrouende, bekragtigde karakterbou tot stand te bring. En Hy doen dit onder andere deur middel van die Christen se stryde en val en opstaan. Soos wat ‘n pêrel gevorm word d.m.v. die langdurige irritasie wat sandkorrels binne-in die skulp veroorsaak.

Ons moet immers in gedagte hou dat geen Christen-gelowige uit eie wil en besluit na die Here Jesus gekom het nie. Dit was suiwere genade van SY kant. Dit was HY wat geroep het. En Sy roeping is effektief. Dit MAAK gewoon dooies lewend, sê Joh 5:25. Die verlore mens kom meteens in beweging en word ingesluit by Christus as gevolg van God se effektiewe saligmakende roepstem.

En met hierdie groot waarhede kom die Apostel dan in verse 12-14 by die slotparagraaf van hierdie majestieuse brief.

En daar sien ons dat hy toe al die tyd nie sélf met sy eie hand die brief geskryf het nie, maar dat hy van Silvanus as sekretaris gebruik gemaak het, wat geskryf het soos wat die Apostel dikteer. Ons weet dat die Apostel Paulus dieselfde metode gebruik het. En Silvanus was Paulus se reisgenoot op sy tweede sendingreis en in die boek Handelinge word Silvanus SILAS genoem. En nou is hy by Petrus in Rome en hy skryf wat Petrus dikteer en daarná gaan lewer hy die brief af by die gemeentes.

Die punt in vers 12 is net: Die Apostel ag vir Silvanus as ‘n getroue broer in Christus Jesus. Die opskrifstelling van God se Woord moes volgens absolute waarheid en getrouheid geskied. Selfs die persoon wat net maar neerskryf wat die Apostel sê, moes getrou en tot op die been betroubaar wees. Sodat ONS vandag sekerheid mag hê dat dit die betroubare waarheid is! Die hele doel waarom Petrus die brief skryf was mos juis om SEKERHEID te gee.

Christene is mense wat sekerheid het. Sekerheid oor God. Sekerheid oor Sy Woord. Sekerheid oor Sy Waarheid. Sekerheid oor redding en saligheid. Sekerheid oor vergifnis. Sekerheid oor kindskap. Sekerheid oor God se ewige toekoms. In kort: Sekerheid oor God se genade. Sy WARE genade. Sodat ons kan en mag vasstaan – veral wanneer dinge taai raak.

Dit is eintlik Petrus se hele doel met die skryf van die brief. Om Christene te vermaan om in tye van verdrukking nie aan God se genade te twyfel of te wanhoop nie, want Sy genade is WAAR – dit beteken God sal woordhou – end-uit woordhou. Dis juis omdat ons DIT glo, wat ons sekerheid het. Ons sekerheid is nie geanker in een of ander gevoel in ons binneste nie, nee, dit is geanker in Sy trou!

Ja, dit gaan in hierdie wonderlike brief van begin tot einde oor die rotsvaste trou van God in Christus deur die Gees. GENADE beteken niks anders nie as die onverdiende guns van God in Sy trou. Ons het ‘n verlossing ontvang wat ons op geen manier verdien nie. Dit is suiwere guns van God. En indien dit dan van die begin af Sy guns is – waarom sal Hy dan later – of wanneer dit swaar gaan – skielik ontrou word? Dis onmoontlik, sê Petrus.

Maar nou kan ons ook baie beter verstaan waarom alle ware Christus-gelowiges in die NT – en hier weer in vers 13 – UITVERKORENES genoem word. Want hulle is dan alleenlik deur die genade en die besluit van God lewendgemaak uit die sondedood. Dan is hulle mos deur Hom gekies. Hulle verlossing is die heerlike resultaat van die keuse wat God vóór die grondlegging van die wêreld gemaak het óm hulle aan Sy Seun te gee – soos Efes 1 so duidelik leer.

‘n Ware gemeente van Christus – soos die een in die destydse Rome waar Petrus was – is dus ‘n uitverkore gemeente – soos dit hier in vers 13 geskryf staan. Hulle is wat hulle is slegs o.g.v God se vrye genade en Sy ewige besluit.

En hy sê vir sy lesers dat die gemeente in Rome – wat net soos hulle uitverkies is – vir hulle groete stuur. Markus – wat by Petrus is – stuur groete asook die gemeente in Rome – waar Petrus op daardie oomblik was – stuur groete.

En die Apostel noem die gemeente in Rome simbolies BABILON wat vir die Christene ‘n aanduiding daarvan was dat Rome die sentrum was van sondige praktyke en gruwels en afgodsdiens – net soos wat Babilon in die OT was.

Dink daaraan: Reg in die hartland van hierdie goddelose stad, het die Here vir Hom ‘n gemeente gered en geroep en aangestel om die Lig van die Evangelie te laat skyn. Die Here plaas Sy mense meesal in donker plekke – as getuies van Sy Naam en van die Waarheid van die Evangelie.

Ons weet uit die geskiedenis dat Petrus self in hierdie einste Rome/Babilon vir Sy Here en Heiland wat hy so liefgehad het, die marteldood sou sterf.

Markus – van wie hier in vers 13 sprake is – was Petrus se geestelike kind. Markus het die Here leer ken uit Petrus se geestelike arbeid. Dit is Johannes-Markus hierdie – wat ook Paulus se reisgenoot was op sy eerste sendingreis. Dis ook hy wat die Evangelie van Markus in ons NT geskryf het – heel waarskynlik met Petrus se hulp. Markus EVANGELIE in ons NT, is eintlik Petrus se herinneringe wat deur Markus neergeskryf is.

Nou was Markus by Petrus in Rome om ook as Petrus se tolk op te tree. Ja, hoe wonderlik is die broederskap in Jesus Christus nie. Eenheid in die een ware Evangeliewoord skep ‘n eenheid tussen mense wat biologiese bloedbande nooit kan skep nie. Die geloofsband in Christus oortref net eenvoudig alles in krag.

En dit bring ons dan by die heel laaste vers van die brief. Vers 14.

Hier is die vraag nou: Sal die onreg en vervolging en swaarkry wat Petrus se eerste lesers verduur het, die innerlike vrede in hulle lewens kon uitwis? Hulle wat IN CHRISTUS is, soos hy dit hier stel. Hulle wat INGESLUIT is by Christus.

Nie alle mense is in/ingesluit by Christus nie. Slegs die verre minderheid is. Maar alle mense wat kragtig deur die Heilige Gees nuutgemaak is, is verseker by hom ingesluit. Ingesluit by Sy maagdelike geboorte, Sy gehoorsaamheid, Sy geregtigheid, Sy lyding, Sy dood, Sy begrafnis, Sy opstanding, Sy hemelvaart, Sy troon, Sy wederkoms, Sy Gees. Alles wat Hy is, tel vir jou indien jy by Hom ingesluit is. Dit tel op jou rekening vir jou voordeel. God die Vader het alles wat Christus s’n is, op jou naam oorgeboek. Dit is “toegerekende geregtigheid”. En ‘n gelowige weet en beleef dit slegs deur vir God daarvoor te vertrou/glo op grond vanSy Woord.

En die gevolg van hierdie insluiting, is VREDE. En die vrede is die vrug/produk van die Heilige Gees. Dis bonatuurlik gegee en word bonatuurlik deur Sy krag in stand gehou. Die nuutgemaakte mens – deur wie die vrug van die heiligmaking borrel – is die produk van ‘n magtige hemelse goddelike werk van Bo.

Daarom: die antwoord op die vraag is: NEE – onreg en lyding kan nie hierdie vrede vernietig of bedreig nie. Dis onmoontlik.

In die vroegste Christelike kerk was mense wat hierdie vrede leer ken het (te same met hulle kinders) deur die Here se Gees saamgesnoer in gemeentes. Hulle was aanmekaar gebind deur Christelike liefde. En hulle het dit prakties geïllustreer deur mekaar te groet met ‘n kus. Volgens Markus 14:44 was dit ook gebruiklik by Jesus se dissipels om só te doen. Maar, dit was eintlik ‘n kulturele gebruik.

Die apostel se bevel in vers 14 is dus nie letterlik op óns van toepassing nie, want ons kultuur is anders. Maar die BEGINSEL is op ons van toepassing, naamlik dat Christene onderling sigbaar in die eenheid van die Here se liefde moet leef. Dis nie bedoel om ‘n ONSIGBARE eenheid te wees nie. Dit moet prakties gedemonstreer word.

Opsommend dus: Die brullende leeu is ‘n realiteit en sy aanslae op Christus-gelowiges is ‘n feit. Maar hulle is meer as oorwinnaars in Christus. Ons moet dus leer om VANUIT die oorwinning te leef en nie NA die oorwinning toe nie.

Openbaring 17:14 som alles op in ‘n neutedop: “Die Rooi Draak, die dier uit die see, die dier uit die aarde en almal wat die merk van die dier het, maak oorlog teen die Lam, maar die Lam oorwin hulle, want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings en so ook almal saam met Hom wat geroep, uitverkies en getrou is”.

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)