Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 10: Onderwerp en leef!
SKRIF: 1 Petrus 5: 1-7

In tye waar Christus-gelowiges (die kerk van die Here Jesus) vervolg word en swaarkry, is sterk geestelike leierskap noodsaaklik. Dit is altyd nodig, maar des te meer wanneer die kerk swaartrek.

En die Nuwe Testament ken slegs EEN soort geestelike leierskap en dit is die kies van en aanstelling van ouderlinge wat as opsieners funksioneer, geestelike leiding gee en die Woord van God bedien.

Die Apostel Petrus GEE ook leiding deur – as mede-ouderling – die ouderlinge te mobiliseer. Hoewel ‘n ware outentieke Apostel – en die ander nie – was Petrus geensins verhewe bó die ander nie. Hy beskou homself as ‘n ouderling nes die ander, want die leierskap in die vroegste kerk het uit ouderlinge/opsieners/herders/toesighouers bestaan. Gewoonlik ‘n klein raad van ouderlinge (daarom die meervoud hier) waarvan sommige spesifiek Woordonderrig gegee het (1 Tim 5:17).

Petrus het egter die gesag van Apostel gehad, wat die ander ouderlinge nie gehad het nie, want hy was ‘n ooggetuie van Jesus se aardse lewe, lyding, sterwe, opstanding, hemelvaart. Hy was self daar. Dit was nie moontlik om ‘n Apostel te kon wees sonder om ooggetuie te moes wees van die Heiland se verlossingswerk nie (Hand 1:21). Daarom is dit (tussen hakies) onmoontlik om vandag nog apostels te hê. Alle hedendaagse sogenaamde apostels is vals en self-aangestel. Vandag – tewens die hele afgelope 2000jr – het ons slegs ouderlinge wat, so getrou moontlik, die boodskap van die outentieke Apostels (soos in die NT vervat) verkondig en bedien.

Ons het dus vandag nog steeds ‘n apostoliese bediening. Die BOODSKAP van die outentieke apostels word bedien. En SO bou God Sy kerk op die vaste fondament. Nie die apostelAMP is vandag meer nodig nie, maar wel die apostelBOODSKAP.

Maar let nou op die volgende twee wonderlike waarhede in vers 1:

EEN: Daar is ‘n baie spesifieke heerlikheid wat geopenbaar sál word. Daar is ‘n versekerde toekoms wat baie beslis vir Christus-gelowiges weggebêre word. En dit is God die Vader se toekoms wanneer Christus weer verskyn met Sy wederkoms. ‘n Allesoortreffende heerlikheid wanneer alle getroue herders/ouderlinge LOON sal ontvang. Dis ‘n toekomsrealiteit wat die ouderlinge moet aandryf wanneer dinge taai raak. Die toekoms wat ons voor oë hou.

TWEE: Let op Petrus se eie persoonlike sekerheid van saligheid/verlossing. Hy sê hy WEET dat hyself deel SAL hê aan die toekomstige heerlikheid. En dit is presies dieselfde sekerheid wat elke Christen moet en mag en kan hê. Geen twyfel meer nie: Ek IS waarlik gered. En IS Syne. En my lewe getuig prakties daarvan.

Petrus se sekerheid was beslis nie gebaseer op iets voortreflik in homsélf nie. Geen persoonlike goeie kwaliteite wat veroorsaak dat God van hom sou hou en hom as kind aanneem nie. Hy kon tewens met veel pyn terugdink aan hoe hy Jesus verloën het. Nee, sy sekerheid was solidêr gebou op die perfekte verlossingswerk wat Jesus vir hom en in sy plek suksesvol verrig het. DAAROP rus sy vertroue. En so ook elke ware Christen tot in ons dag. Jou en my sekerheid van saligheid berus nie op enigiets IN ONS nie – nie iets wat ons gedoen het nie, nie iets wat ons voel nie, nie een of ander ervaring wat ons gehad het nie… nee… ons saligheid berus SLEGS op Jesus Christus se kruisdood en opstanding IN ONS PLEK verrig. DIT red ons vandag en môre en altyd. So was dit ook in die geval van Petrus.

In kort is dit die lering van vers 1. Kom ons skuif nou aan na verse 2-3 waar die Apostel spesifiek met die ouderlinge praat.

In die NT word die begrippe ouderling/herder/biskop/opsiener afwisselend vir dieselfde amp gebruik. Dit was die enigste leiers in die NT gemeentes en soms ook diakens daarby. Dit is die ampte wat blywende was – tot by ons vandag.

Mens kan sien dat die ouderling ‘n herder is, want Petrus praat daarvan dat hulle die “kudde” moet oppas. Nes herders in die antieke tyd in die Midde-Ooste gedoen het. Dit gaan suiwer oor omgee en toesig. Geen baasspelerigheid nie. Leierskap in die Here se kerk werk nie soos leierskap by ‘n 21ste eeuse maatskappy of besigheid nie. Die ouderlinge is omgeemense met herdersharte. Dis immers die hart en gesindheid van die Opperherder, Jesus Christus. ‘n Herder wat bereidwillig is om sy lewe vir die skape af te lê, is werd om gevolg te word. Die skape wil maar alte graag so ‘n herder volg.

Dit is waarom Jesus se Koningskap iets is waaraan ons ons WIL onderwerp, want Hy is die Koning wat Sy lewe vir ons gegee het. ‘n Ouderling wat SO ‘n hartklop het, sal ook ‘n geseënde kudde lei.

Want kyk nou mooi: Die kudde IS AAN die ouderlinge toevertrou en gegee. Deur wie? Deur God die Vader! Met Christus se bloed, het die Vader hierdie kudde gekoop, sê Handelinge 20:28. Eers gekoop en dan toevertrou aan herders. Te lieflik vir woorde.

In die ouderling se mondering is daar dus niks van die SELF en eiegewin nie. Ook niks van dwang nie, maar ‘n stuk gewilligheid uit liefde vir die Here. Christus is DIE voorbeeld en Sy voorbeeld weerkaats deur die ouderlinge NA die kudde toe. So sê die Heilige Gees. Daarom dien die ouderlinge die kudde vanuit ‘n stuk diepe toegewydheid. Wat is mooier as iemand wat regtig TOEGEWYD is aan die Here en aan Sy kudde?

Ons skuif aan na vers 4 …

In vers 4 sien ons hoe die Apostel die opsieners sterk aanmoedig deur vir hulle te wys op die toekoms wat op hulle wag – veral op diegene wat getrou was en in Christus se voetspore gevolg het. ‘n Heerlike toekoms wag op hulle. ‘n EWIGE toekoms.

Maar, dit is natuurlik die toekoms waarna AL die Here se mense mag uitsien. Ja, daar kom verseker ‘n dag wanneer die Opperherder – die Herder van alle herders – sal verskyn. Dit is natuurlik die Here Jesus Christus self. In die OT was Hy alreeds as groot Herder voorspel bv in Jes 40:11 en Sag 13:7. Maar ook in NT gedeeltes soos Joh 10:2,11,12,16 en Hebr 13:20-21. Die Skrif is vol daarvan.

Die Skrif is ook so erg duidelik oor die Wederkoms van die Here Jesus Christus – wanneer Hy NIE as Verlosser kom nie, maar as Regter. En 1 Kor 3: 9-15 sê dat diegene wat Hy as herders aangestel het om pastors oor Sy kudde te wees, sal in besonder geëvalueer word en hetsy loon ontvang of verbeur.

Mens kan hier dink aan die podium waarop die wenners NA ‘n atletiekwedloop staan en toekennings ontvang. In die antieke tyd was dit krone of kranse. Maar, by Jesus se wederkoms sal die krone/kranse DIE HEERLIKHEID wees, sê Petrus. Onverganklik. Dit beteken dit sal nooit, nooit vergaan of tot niet gaan nie. Ewige heerlikheid. Onophoudelik. Dit is die kroon wat wag en wat alles die moeite werd maak. Dit is die moeite werd om die swaarkry in hierdie kort lewe te verdra ter wille van só ‘n ewige heerlikheid. Baie mense kies heerlikheid op aarde en raak daaraan vasgegom. Maar dis dom, want dit is kortstondig en gaan verby – dis nie blywend nie. En die Opperherder se kroon oortref alles in heerlikheid en is ewig-blywend.

Kan u hoor hoe is die Apostel nog al die pad besig om troos en bemoediging uit te deel aan toegewyde Christene wat swaarkry as gevolg van hulle vasstaan by Christus en hulle vasstaan op die Waarheid van die Woord? DIT waaroor die hele brief mos gaan. Dieselfde geld vir hulle ouderlinge.

En ook geld dit vir kinders en jongmense – voort na vers 5.

Wat is die lewende God se perfekte wil vir jongmense en kinders binne die gemeente – wat in die dampkring van God se verbond grootgeword het en wat persoonlik tot geloof en bekering gekom het – en die beloftes van God se verbond omhels het. Wat is God se wil vir sulke jongmense en kinders?

Antwoord: Nederige onderwerping aan die leiding wat die ouderlinge gee – en ouer mense oor die algemeen.

Onthou: vers 5 skakel met die voorafgaande verse waar hy met die ouderlinge gepraat het.

Natuurlik mág Christenjongmense standpunte/opinies hê – wat dalk van die leiers en ander s’n verskil. Maar verskille mag nooit vanuit ‘n gesindheid van opstandigheid wees nie. En dit mag nooit standpunte wees wat strydig is met die Skrif nie.

Kinders en jongmense is nie bekrompe en ingeperk nie. Wat die deurslag gee is altyd maar weer die hartklop van die Here Jesus. En SY gesindheid in die hart en lewe van Sy mense – dis presies wat Petrus hier sê. Nederigheid. Onderdanigheid is die teenoorgestelde van opstandigheid en om die eie self teenoor ander te stel. Ja, dis die natuurlike neiging van die mens, maar dit moet afgelê word tot eer van die Here.

Dis nou maar eenmaal só dat God hoogmoedige mense weerstaan en Sy barmhartigheid op die ootmoediges uitstort. Dit staan onder andere in Spreuke 3:34. Dis immers deur hoogmoed wat Lucifer tot ‘n val gekom het ( 1 Tim 3:6). Maar, Jesus se hartklop is presies die teenoorgestelde.

En dan sê Petrus ‘n verrassende ding. ALMAL moet trouens teenoor almal onderdanig wees en mekaar van hulp wees. Dis nie net jongmense nie, maar almal! En indien almal só gesind is, help dit weer almal om só gesind te wees!

Dis soos Paulus van die huwelik sê in Efes 5:21. Man en vrou moet teenoor mekáár onderdanig wees. Dan is dit vir die vrou maklik om die man se Godgegewe rol van kapteinskap te volg. Wat van die huwelik geld, geld dus van álle gelowiges in die gemeente teenoor mekaar. Daarom is dit noodsaaklik dat alle Christene by ‘n goeie Bybelgefundeerde gemeente MOET behoort en nie as individue ronddwaal nie. En beslis nie van YouTube videos leef nie!

Maar nou: Indien dit dan só is soos vers 5 sê, naamlik dat God hoogmoediges weerstaan en aan nederiges barmhartigheid gee, wat is dan die logiese verdere instruksie van vers 6?

DIT: Onderwerp! Onderwerp julle dan in ootmoed aan Sy kragtige Hand, want Hy is baie goed in staat om julle op SY gekose tyd op te rig.

Onthou die Apostel skryf vir moedelose Christene wat swaarkry juis as gevolg van hulle toewyding aan die Here. Eintlik is dit ‘n OT-simbool wat hy hier in sy agterkop het van God se kragtige werking in Sy mense se lewens om Sy soewereine doelwitte te bereik. Mens lees daarvan in byvoorbeeld Eksodus 3: 19-20 en in Job 30:20-21 en in Miga 6:8.

Wanneer die Here God se soewereine hand ‘n kind van God deur beproewing lei, is dit sinneloos om teen Hom te veg of in opstand te kom. Christene wat tasbare lyding verduur voel natuurlik DAARIN die kragtige hand van die Here. Dis immers God se wil en bestiering dat hulle ly. Ons glo glad nie – volgens die Skrif – dat daar enigiemand of iets anders is wat heerskappy uitoefen nie. Nie die verdorwe mens nie, nie satan nie, nie die natuur nie, nie noodlot nie, nie blinde sinistere magte nie. Niks en niemand. SLEGS die Vader van ons Here Jesus Christus. HY ALLEEN. En, om in SY hand te wees, is die beste plek ooit.

Die verhoging SAL plaasvind – die swaarkry sal nie die laaste woord spreek nie. Al moet dit by die wederkoms en op die nuwe aarde wees. Maar, die Here het ‘n bestemde tyd! Ons taak is NIE om in Sy verborge Raad te wil inkyk nie, maar om Hom getrou en lojaal te dien, al bars die bomme ook rondom ons!

Dus: Van bekommernisse en kwelling het Petrus se eerste lesers oorgenoeg gehad. Dit moes vir hulle baie moeilik gewees het om staande te bly. Die apostel praat en skryf egter onder meevoering van die Heilige Gees en kom na hulle met ‘n stuk lewende hoop. Ons sien dit in vers 7.

Wanneer ‘n kind van God sorge, kwellings en vernedering uit God se hand ontvang, mag en moet hy/sy dit op die Here werp in vertroue! Onderwerping, nederigheid en vertroue is die drie fondamentstene van ‘n oorwinnende, triomferende Christelike lewe. Oor die eerste twee (onderwerping en nederigheid) het hy in die vorige verse gepraat. In vers 7 gaan dit oor die derde: vertroue.

Dit kan maar baie moeilik gaan om by die punt van onderwerping uit te kom. Om te aanvaar dat vervolging en swaarkry uit die Here se hand kom. Maar wanneer ‘n Christen – deur die genade – by die punt van onderwerping en ootmoed gekom het, dan word vertroue makliker. Wanneer jy besef dat die Here absoluut soewerein is en jy die beproewing uit Sy hand ontvang het, dan besef jy meteens dat Hy ook die een is wat in elk geval vir jou sorg. Selfs al werp jy NIE jou sorge op Hom nie!

Kyk mooi hoe stel die Apostel dit: Hy sê NIE: “Werp al julle bekommernisse op Hom en dán sal Hy vir julle sorg” nie. Hy sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy SORG (in elk geval) vir julle”. ‘n Gegewe feit dus – onafhanklik van of jy jou sorge op Hom werp of nie.

Dit maak ‘n enorme verskil. Sy sorgsaamheid is reeds ‘n gegewe realiteit. Daarom kan/mag/moet jy en ek AL ons bekommernisse op Hom werp. Nie SODAT die Here iets kan doen nie, maar OMDAT Hy dit in elk geval doen. Hy sorg.

Die woord “werp” beteken om iets op iets anders te gooi. Soos die dissipels hulle klere op die donkie waarop Jesus Jerusalem ou binnery, gegooi het (Mat 21:7).

Bring jou sorge en kwellinge. Die goed waaroor jy snags wakkerlê. En werp dit op HOM – wat in elk geval sorg! Bid – en laat God bekommerd wees, het Martin Luther gesê.

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)