6 tot 8 ketting
Bid iewers tussen 6 en 8 elke oggend vir die volgende
Maandag 02 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:9-11, oordink dit en omskep dit in gebed * Bid asb vir die náprediking van gister se boodskap in harte – veral die besoekers wat hier was. Ons bid dat Hy vrug sal gee * Ons dank die Here vir geestelike groei by almal wat aan die afgelope gebedswag deelgeneem het. Wonderlik dat ‘n “gebedskultuur” al meer begin gestalte kry in gemeente – dit moet nou net vorentoe gaan onder aansporing van die Gees.
Dinsdag 03 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:18, oordink dit en omskep dit in gebed * Bid asb vir ons FEBA radioprogram wat vanaand om 19h15 uitgesaai word na Midde-Afrika gemik op die Yawo’s * Oom Stokkies is beter ná ‘n erge longontsteking * Bid asb vir ons amptenare – hulle doen ‘n ondankbare werk waarsonder die gemeente nie kan voortgaan nie: Abé, Lawrence (by garage), Stockenströms, Diederick, Celeste.
Woensdag 04 Augustus
Gebed: Lees Ps 119:25-28, oordink dit en omskep dit in gebed * Vanaand gebedsaand * Bid asb vir ons kerkraadslede – almal probeer nougeset hulle werk doen – Awie (nou leier van kerkraad), Gielie, Robert, Johannes, Kotie, Dries, Jacqueline, Rudolf.
Donderdag 05 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:116, oordink dit en omskep dit in gebed * Bid asb vir Heleen, Jeanette & Callie wat die weeklikse kategese behartig asook die “kinderkerktannies” wat tydens die eredienste die klein kindertjies versorg. Ons het altyd nóg hulp en hande nodig.
Vrydag 06 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:130, oordink dit en omskep dit in gebed * Talle lidmate woon nooit of selde eredienste by. Bid asb dat die Here met hulle sal ontmoet en hul omstandighede skik sodat daar ‘n geestelike ontwaking kan plaasvind. Soms skud die Here mense d.m.v. omstandighede. Bid ook dat mense wat gereeld eredienste bywoon, maar nog nie gered is nie, tot ontwaking sal kom.
Saterdag 07 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:160, oordink dit en omskep dit in gebed * Bid asb vir Groei-Konferensie in Koppies (Vrystaat) waar Chris minstens 4 keer moet preek vanaf vanaand tot Maandagoggend. Daar sal ook opnames vir Kruiskyk-TV gemaak word. Bid asb ernstig vir hierdie optredes en dat die seën sal uitkring ook deur CD’s en DVD’s.
Sondag 08 Augustus
Gebed: * Lees Ps 119:162, oordink dit en omskep dit in gebed * Bid asb steeds vir die Groei-Konferensie in Koppies wat tot môreoggend duur * Bid ook vir Ds Hennie se Skrifprediking van vanoggend * Komende Saterdag is Bo-Kaap uitreik. Die vyand is nie ingenome nie maar Efes 1:21-22 is waar.
|