|
Aksie Uitreik
EVANGELISASIE - INISIATIEWE
GELOOFSBELOFTE - OFFERS
MY PERSOONLIKE GELOOFSBELOFTE - OFFER
EVANGELISASIE - INISIATIEWE
Tafelberg Gemeente het begin om gelyktydiglik by 5 uitreikasies betrokke te wees. Volgens Handelinge 1:8 sal ons mos Sy getuies wees in Jerusalem, sowel as Judea, sowel as Samaria tot by die uithoeke van die aarde. In kerkraadgeledere heers daar opgewondenheid en die hoop is dat elke lidmaat net so opgewonde sal word. Die 5 aksies is die volgende:
1. BETROKKENHEID BY LIVING WATERS CHRISTIAN CHURCH-GEMEENTE VAN DIE REFORMED CHURCH IN AFRICA – Benewens die VGK, is die RCA die ander kerk wat destyds deur die NG Kerk se sendingwerk onder die Indiërs totstandgekom het. In die Kaap is daar net een gemeente geleë in Cravenby in die Parow area. Ds Francois Botes is die leraar sedert 2007. Die gemeente reik effektief uit na die Hindoes en Moslems wat in die gebied woon. Talle het al tot bekering gekom. Indien ons by die RCA betrokke is, het ons deel aan die daadwerklike bereiking van mense van nie-Christelike godsdienste soos die Hindoeïsme en Islam. Ons hoop om finansieël te help met hul bedieningsbehoeftes en verder te ondersteun d.m.v. die bywoon van hul bedrywighede asook gebed. Hierdie verbintenis impliseer ongelukkig dat ons nie meer betrokke sal wees by samewerking met die VGK nie.
2. DIE BORG VAN 'N RADIOPROGRAM VAN FEBA RADIO IN DIE SUIDE VAN MALAWI – FEBA RADIO saai Evangelistiese boodskappe uit na wêrelddele wat grootliks onbereik is met die Evangelieboodskap. Die radio is 'n effektiewe medium vir die verkondiging van die Woord. In die suide van Malawi woon ongeveer 100 000 Yawo's wat grootliks Moslems is. FEBA het 'n radiostasie en sender opgerig wat in 'n 40 km radius uitsaai. Daar was alreeds reaksie op die programme. Buks vd Merwe is die stasiebestuurder en Anton & Lucy Meyer is die sendelingpaar wat daar werk. Die stasie is nog nie ten volle operasioneel nie. Dit sou moontlik kon wees dat ons gemeente verantwoordelikheid neem vir die uitsending van 'n weeklikse 15 minute program. Later meer besonderhede. Ds Geo de Kock is FEBA se skakelpersoon in die Weskaap.
3. VRIENDSKAPS-EVANGELISASIE IN DIE BO-KAAP – Die Bo-Kaap is die woonarea tussen Buitengracht, Strand en Carisbrook strate met Seinheuwel as westelike grens. Dit is 'n Moslem gebied. Dit is die gemeentes in die middestad se verantwoordelikheid om die Goeie Nuus na hulle te neem. Ons wil graag daar betrokke raak d.m.v. gebed en die praktiese uitreik na die mense d.m.v. die bou van vriendskapsbande. Ons sou byvoorbeeld Saterdagmiddae van deur tot deur kon gaan met die aanbod om vir behoeftes te bid. Waar daar gebedsverhoringe plaasvind, sal daar reaksies wees. Ons benodig iemand in die gemeente wat die projek op sy/haar skouers kan neem en gemeentelede mobiliseer.
4. VRYDAGNAG UITREIKE SAAM MET STRAATWERKSPANNE – Straatwerk is die NG Kerk aksie wat vir baie dekades reeds in die Middestad werksaam is om mense wat hooploos leef, op te help. Vrydag- en Saterdagnagte beweeg ervare spanne in sekere strate om die Here se liefde met hooplose mense te deel. Onervare persone word saam met ervare persone in die strate geplaas. Enige belangstellendes van ons gemeente sou van tyd tot tyd kon gaan meedoen, maar... dit moet georganiseer word. Ook hiervoor is daar 'n voorvatter nodig wat kan organiseer en mobiliseer.
5. EVANGELISASIE CD'S UITDEEL IN DIE KOM VAN KAAPSTAD – Reeds in 2006 het ons gemeente begin om op maandelikse basis CD's wat 'n evangelistiese boodskap bevat, in Vredehoek in posbusse te plaas. Ons het meer as 2000 CD's uitgedeel. Ons wil graag hiermee voortgaan. Awie van Zyl (0732810587) het reeds na vore getree om hierdie projek te fasiliteer. Ons visie is om soveel CD's as moontlik in die middestad te plaas. Die gedagte is nie om meer mense na ons gemeente te lok nie, maar om die Evangelieboodskap binne die bereik van soveel as moontlik mense te bring.
Finansiering: Die kerkraad sal 'n maandelikse bedrag besikbaar stel, maar die hoofbron sal Geloofsbelofte-offers wees waartoe ons lidmate hul op vrywillige basis verbind. Sien meegaande pamflet wat dit verduidelik.
Keuse Blad
GELOOFSBELOFTE - OFFERS
HOE WERK DIT?
Ons gaan voortaan die sogenaamde Geloofsbelofte-offer sisteem gebruik om ons gemeente se evangelisasie inisiatiewe te finansier. Die sisteem opereer met anonieme vrywilligers en wel soos volg:
* Elke vrywilliger neem deeglik kennis van wát die evangelisasieprojekte inhou.
* Die vrywilliger ontvang 'n Geloofsbelofte-offer vormpie wat aan die persoon die geleentheid gee om a) 'n voorneme in te vul en b) die voorneme aan die kerkraad bekend te maak. Sodoende kan die kerkraad vooruitskat met watter bedrag maandeliks gewerk kan word.
* Die vrywilliger maak dit 'n saak van gebed en kies 'n maandelikse bedrag waarvoor die Here vertrou kan word om te voorsien bo en behalwe die gewone dankoffer. Die ideaal is dat 'n mens nie die bedrag uit jou gewone inkomste neem nie, maar die Here vertrou vir 'n ékstra bedrag. Dit sal byvoorbeeld moontlik kon wees om sekere opofferings in jou lewenstyl te maak, sodoende geld te spaar en dáárdie bedrag as geloofsbelofte-offer beskikbaar te stel. Dan word die gekose bedrag op die boonste deel van die vormpie ingevul en iewers bewaar. Die bedrag word ook op die onderstel deel ingevul. Dit word afgeskeur en aan die kerkraad terugbesorg. Die vormpie is anoniem.
* Elke persoon plaas maandeliks die beloofde bedrag in 'n gewone koevert en merk dit as “Geloofsbelofte-offer”. Dit word tydens die erediens in die mandjies geplaas. Dit sou moontlik wees om elke eerste Sondag van die maand 'n spesiale Geloofsbelofte-offer insameling tydens die erediens te doen waartydens almal op een slag hul koevertjies gee.
* Die geld word direk aan die betrokke instansies uitbetaal. Geen geld word vir enigiets anders aangewend as waarvoor dit gegee is nie. Indien iemand sy Geloofsbelofte-offer vir 'n spesifieke projek wil oormerk, kan dit so op die koevert aangedui word, mits dit een van die goedgekeurde projekte is waarop die hele gemeente fokus.
* Die geskiedenis van Geloofsbelofte-offers het bewys dat die Here hierdie metode ryklik seën tot uitbreiding van Sy Ryk.
DRUK ONDERSTAANDE BELOFTE-VORMPIE UIT EN PLAAS DIT IN DIE KOLLEKTEMANDJIE TYDENS DIE EREDIENS
OF
VUL DIE BELOFTE-VORMPIE OP HIERDIE WEBBLAD AANLYN IN
...............................................................
MY PERSOONLIKE GELOOFSBELOFTE -OFFER
ten behoewe van my gemeente se evangelisasie-inisiatiewe
Ek het kennis geneem van Tafelberg Gemeente se 5 evangelisasieprojekte te wete: Suntosham RCA Gemeente, FEBA RADIO se Malawi-projek, Bo-Kaap, Straatwerk en Middestad CD-verspreiding.
Ek is hart en siel deel van die uitdra van die Woord na die wêreld.
Ek onderneem, in vertroue op die Here, om maandeliks R................. by te dra as Geloofsbelofte-offer. Ek vertrou Hy sal dit vir my moontlik maak om volhardend hierdie bedrag te gee.
................................................................
Keuse Blad
MY PERSOONLIKE GELOOFSBELOFTE -OFFER
ten behoewe van my gemeente se evangelisasie-inisiatiewe.
Ek het kennis geneem van Tafelberg Gemeente se 5 evangelisasieprojekte te wete: Suntosham RCA Gemeente, FEBA RADIO se Malawi-projek, Bo-Kaap, Straatwerk en Middestad CD-verspreiding.
Ek is hart en siel deel van die uitdra van die Woord na die wêreld.
Ek onderneem, in vertroue op die Here, om maandeliks die bedrag hieronder aangebui by te dra as Geloofsbelofte-offer. Ek vertrou Hy sal dit vir my moontlik maak om volhardend hierdie bedrag te gee.
Keuse Blad
GOD SE WOORD BÓ ALLES
|