WAT BETEKEN DIT VIR ‘N GEMEENTE OM TE DOLEER?

1. Die begrip kom uit die Nederlandse kerkgeskiedenis en beteken om te treur. ‘n Beweging van dolerende gemeentes word genoem ‘n doleansie, wat ‘n drukgroep binne ‘n kerkverband vorm

2. ‘n Dolerende gemeente is dus ‘n treurende gemeente wat treur oor ‘n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie (onmiddelik) af nie, maar laat die kerkverband duidelik weet en besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering by die kerk kom en ‘n terugkeer na die Woord plaasvind

3. Prakties sou dit die volgende beteken:

3.1 ‘n Kerkraad kan besluit om te doleer sonder om die gemeente vooraf daaroor te raadpleeg – slegs met ‘n helfte-plus-een stem
3.2 Die gemeente se naam word (tydelik) verander na (byvoorbeeld) “Tafelberg Gemeente (Dolerend)”. So word die naam op alle korrespondensie, nuusbriewe ens aangedui. Dit is tydelik want die doel van dolering is om weer op te hou doleer! Niemand wil oneindiglik treur nie! Mits daar bekering by die kerkverband sigbaar word.
3.3 Die kerkraad gee hiervan kennis aan die Ring en Streeksinode. Die kerkverband neem daarvan kennis dat die gemeente treurend sal bly totdat daar bekering plaasgevind het
3.4 Sekere duidelike aksiestappe kan die proses vergesel om die erns daarvan duidelik te maak soos byvoorbeeld 1) die (gedeeltelike) opskorting van betrokkenheid by die Ring, Sinode, VBO ens. 2) opskorting van ‘n % van sinodale aanslag. Iemand wat treur deel nie straf uit nie, maar kan ook nie soos voorheen binne ‘n verhouding optree nie.

4. Wanneer die getal dolerende gemeentes vermeerder word dit ‘n beweging wat doleansie genoem word en hierdie gemeentes sou kon begin skakel en korrespondeer. Dit sou byvoorbeeld kon lei tot die vorming van ‘n modaliteit – wat in die destydse Hervormde Kerk in Nederland bekend was as die Gereformeerde Bond. So ‘n Bond sou sekere onderlinge afsprake kon reel soos byvoorbeeld om slegs predikante uit eie geledere te beroep, sekere kategesemateriaal te gebruik, ‘n bepaalde liturgie te volg, gereelde vergaderings en samekomste te hou ensovoorts

5. Die moontlikhede en vrug van ‘n Doleansie is ondenkbaar. Dit kan nie vooraf beplan word nie, maar ontwikkel soos die Hoof van die Kerk lei

6. Wanneer daar bekering by die kerkverband plaasvind en ‘n daadwerklike terugkeer na die Skrif en belydenis sigbaar word, word die dolering opgeskort en die Doleansie getermineer. Want die hele oogmerk van so ‘n reformatoriese aksieplan is juis dat die kerkverband weer die knie voor die Hoof van die kerk sal buig. Daar word dus gedoleer met die doel om op te hou doleer! Die doel is bekering, genesing, herstel – in kort: ‘n terugkeer na die Skrif – want dit is wat reformasie beteken. Kerke van die reformasie hou aan om te reformeer = terug te keer na die Skrif alleen