Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

SAGARIA-REEKS NO 12
SAGARIA 8
GESEËND OM TE KAN SEËN

Hoofstuk 8 is eintlik deel van hoofstuk 7, want dit bevat die laaste 2 van die 4-ledige antwoord van God aan die afgevaardigdes van Betel waarvan die begin van hoofstuk 7 berig. Hierdie mense het eintlik namens die Jode – wat jare tevore reeds uit Babilonië (waar hulle in ballingskap was) teruggekeer het – die profete in Jerusalem kom raadpleeg aangaande die jaarlikse vaste wat hulle sedert die begin van die ballingskap jaar na jaar onderhou het. Aangesien die tempel nou feitlik herstel was, was hulle vraag of dit nog nodig is om die vastye te hê.

Die Here antwoord hulle deur Sagaria se mond deur ‘n vierledige antwoord te gee. Die eerste twee antwoorde is in hoofstuk 7 en dit is: 1 Hulle motiewe waarom hulle vas was verkeerd en 2 Bekering is nodig. (Verlede week se preek)

In hoofstuk 8 kom die res van die antwoord naamlik :

Antwoord No 3 (verse 1-17): God se guns oor Sy mense sal terugkeer.

Antwoord No 4 (verse 18-23): Vaste gaan in feeste verander.

Kom ons kyk nou in meer detail na hierdie twee antwoorde. Let op: Dit is die HERE die Almagtige wat dit spreek. Dit is Sy Woord. Deur Sagaria se pen. En Hy is magtig om wat Hy hier sê, waar te maak.

Vooraf dalk net eers ‘n belangrike opmerking wat ons hele verstaan van hierdie hoofstuk (en die OT as sulks) erg kan beïnvloed:

Wanneer ‘n mens ‘n hoofstuk soos hierdie lees, konfronteer die vraag jou: “Waar en wanneer het hierdie dinge wat beloof word, ooit gebeur? Ons weet nie van iewers in die geskiedenis waar dit vervul is nie. Hoe moet ons dan die beloftes wat die Here oor Israel se toekoms gemaak het, verstaan? Wanneer sal dit vervul word? Hoe sal dit vervul word? Waar sal dit vervul word?”

Die geweldige beloftes wat die Here in hierdie hoofstuk maak is tog duidelik gerig aan ISRAEL. Daarom dink baie Christene dat dit dalk onvervuld sal bly tot net voor Jesus se wederkoms, wanneer God dit in die Joodse nasie (wat dan op aarde is) sal vervul.

Ander Christene dink weer dat hierdie beloftes wel aan Israel geadresseer is, maar in die NT kerk (bestaande uit verloste Jode en Nie-Jode) vervul is omdat die kerk Israel se plek geneem het.

‘n Mens se insigte hieroor maak ‘n groot verskil in hoe jy die boodskap van Sagaria 8 vir jouself sal verstaan, want om dit te verskuif na die Jode wat vlak voor die wederkoms in die land Israel woon, sou impliseer dat die kerk van Christus van vandag dit nie op haarself van toepassing mag maak nie. Ons sou dan Sagaria 8 moes lees en maar net by ons laat verbygaan, want dis bedoel vir Jode wat iewers in die toekoms Jesus se terugkeer sal beleef.

Ek raak al hoe meer oortuig dat die NT vir ons duidelik kom sê dat die NT kerk – die liggaam van Christus wat bestaan uit alle in-Christus-verloste Jode en in-Christus-verloste-Nie-Jode – die nuwe Israel van God is (sedert die dag van Pinkster). Wat die Jode betref – diegene wat tot geloof in Christus kom, is deel van die kerk. Dis die “Israel” van die Nuwe Testament = die kerk van Christus.

Gaan kyk maar byvoorbeeld na ‘n gedeelte soos Hebreërs 8 wat handel oor die Nuwe Verbond. Dan staan daar duidelik in vers 8 dat die NV met die HUIS VAN ISRAEL opgerig sal word. Dis ‘n aanhaling uit Jeremia 31. Maar die Hebreërskrywer het geen probleem om die NV van toepassing te maak op die NT kerk nie! Sy lesers (wat ons insluit) is nou die “huis van Israel”. Geen Christen sal vandag huiwer om te erken dat ALLE Christus-gelowiges ingesluit is by die NV nie! Wie is dus die “huis van Israel”? Alle Christus-gelowiges uit Jode en Nie-Jode wat die kerk vorm!

In Romeine 9-11 gebruik die apostel Paulus ‘n ellelange argument om slegs EEN ding te sê: God het ‘n vasgestelde werksmetode waardeur Hy die NT-kerk bou – vanaf die dag van die uitstorting van die Heilige Gees tot by die wederkoms – en dit is: Hy bring AL die uitverkorenes uit Jode en Nie-Jode tot geloof in Christus. ‘n Volle volmaakte getal.

Of kyk na ‘n gedeelte soos Handelinge 15 tydens die Sinode in Jerusalem waar Jakobus in vers 16 uit Amos 9 aanhaal waar God beloof het dat hy die “vervalle tent van Dawid” (Jode dus) sal herstel. Maar Jakobus maak daardie belofte in Amos 9 van toepassing op wat sedert Pinksterdag begin gebeur het, naamlik dat ook mense uit die NIE-JODE tot geloof kom en by Christus ingesluit word en Sy kerk is. Deurdat NIE-ISRAELIETE die verlossing in Christus ontvang, word die vervalle tent van DAWID (Jode) herstel!

Presies net so mag en moet ONS vandag (wat nie Jode is nie) Sagaria 8 se beloftes op onsself van toepassing maak.

En hier is dit nou:

A VERSE 1-17 > GOD SE GUNS OOR SY MENSE SAL TERUGKEER

Ná al die jare van die verwoesting wat die Babiloniese Ballingskap meegebring het SAL die Here weer Sy seëninge oor Sy volk uitstort (verse 1-8) en hierdie belofte is ook van toepassing op die oorblyfsel van Sy mense wat in Sagaria se dag die tempel sou herstel (verse 9-17).

Verder sal die mense wat deur God geseën is ‘n seën vir alle nasies word en hulle vastye sal verander word in feeste soos wat hulle die genadige seën van die Here se verlossing beleef (verse 18-23)

En let baie mooi op hoe hierdie paragrawe telkens omraam word met die woorde: “Dit is die woorde van die Here van die Leërskare”. Met ander woorde: Dit is NIE Sagaria se gedagtes en drome nie. Met ander woorde: Twyfel die mense dalk aan die inhoud van hierdie heerlike beloftes, moet hulle net bietjie onthou WIE dit gespreek het.

En dit is nodig om dit te weet, want die skerp kontras tussen God se beloftes en die benarde toestand waarin die mense was, was SO erg, dat hulle met reg kon sê: “Ons ervaar ‘n RONDE NUL van hierdie seën wat God beloof. Niks. Al wat ons het, is probleme.”

Daarom is dit goed om te weet WIE hier aan die woord is. Dis nie beloftes wat voortkom uit Sagaria se optimistiese persoonlikheid nie. Dis nie wensdenkery nie. Dis die HERE se Woorde. Elf keer in die hoofstuk staan daar: “Die Here sê”. Oor en oor sê die Here: EK SAL, EK WIL…

Die Here gee beloftes oor die toekoms om Sy mense te bemoedig om te volhard in die hede – te midde van teëspoed. Om getrou te bly in die beproewing van die hede, fokus die Here hulle oë op die toekoms. Daar sal ‘n herstel kom. God se mense sal herstel word in God se verbondsgenade en seën.

Hierdie herstel berus slegs op die getrouheid en waaragtigheid van God self en glad nie in die mense nie. Hy is ‘n verlossende, reddende, vergewende God. Hy is volkome in staat om Sy mense te herstel in ooreenstemming met Sy eie besluit en Raadsplan sonder om enigiets in HULLE in aanmerking te neem. God se besluit om vir Homself mense te red ter wille van Sy eie eer en heerlikheid – DIT is die basis van Sy toekomsbeloftes. En daarby sal Hy bly – kos wat dit wil!

En die uitkoms van hierdie beloftes hang nie af van die mense se respons nie. Hy sê NIE in Sagaria 8 iets soos: “Ek kan wel vooruitsien in die toekoms dat Israel na my toe sal draai en Ek is so bly daaroor, want ek wil hulle graag seën. Ag dankie tog dat hulle uiteindelik reg sal kies en ek hulle kan seën ..”

Nee, Sagaria 8 sê: “EK SAL dit en dat met hulle doen – deur die krag van My mag”. Hy sê: “Ek sal my mense red” (8:7).

Hy sê NIE: “Ek gaan alles doen wat ek kan, maar hulle is ‘n rowwe klomp, dus weet ek nie hoe hulle sal reageer nie..”

NEE Hy sê: “EK sal hulle terugbring. En hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God in waarheid en geregtigheid wees.” (8:8). In vers 12 sê Hy: “EK SAL MAAK dat die oorblyfsel van hierdie mense alles sal beërf”. En “Ek sal julle verlos sodat julle ‘n seën vir ander word” (vers 13). “Ek het besluit om aan Jerusalem goed te doen” (vers 14-15).

U sien, God se besluit en wil en mag sit agter die seën wat op die mense gaan kom.

Dit alles is belangrik ook vir wie in 2020 kinders van God is. Want dit impliseer dat jou sekerheid van verlossing skarnier aan God wat ‘n goeie werk in jou begin het en dit ook sal voltooi (Filip 1:6). Indien jy tot geloofsvertroue en bekering gekom het, kan jy seker weet dat daardie geloofsvertroue nie uit jouself ontstaan het nie. Dis God se vrye gawe (Efes 2:8). Verlossing kom van die HERE (Jona 2:9).

Maar tog: ten spyte van die sekerheid van God se beloftes, beleef ons almal tye wanneer dit voel asof dit totaal onmoontlik is dat wat God beloof het enigsins kan gebeur.

Presies só voel die mense van Sagaria se tyd ook. Hulle reageer met JA… MAAR… Die gedagte aan ‘n voorspoedige Israel, lyk so onmoontlik. Totaal onmoontlik dat die Here sê: “In die toekoms sal Jerusalem gevul wees kinders en almal sal veilig woon (8:4-5).

Daarom sê die Here in vers 6: “Hierdie dinge mag dalk vir julle onmoontlik lyk, maar sal dit te moeilik wees vir HOM?”

Die mense het God se vermoë gemeet aan hulle eie vermoë. Maar die Here red nie deur baie nie en ook nie deur min nie (1 Sam 14:6). Hy verlos nie volgens die maat waarmee ONS meet nie! Goddank daarvoor!

Verder werk die Here altyd deur ‘n oorblyfsel (8: 6,11,12). ‘n Oorblyfsel. Nie massas nie. Ook nie almal nie. Meeste van die tyd ‘n minderheid, maar verkies deur genade. Dit is waarom die toegewyde gelowige soms voel of hy/sy in ‘n verloorspan is. Soos Elia, wat gedink het dat hy alleen oorgebly het as iemand wat die Here dien (1 Kon 19:10). So voel Christene soms. Ontmoedig. So kan ‘n dolerende NG gemeente soos Tafelberg ook voel teen ‘n oormag van gemeentes wat besluit het om NIE die pad van die Woord te stap nie. En wanneer jy in die minderheid is, kan jy begin wonder: Is ek nie dalk verkeerd nie? Is die meerderheid nie reg nie?

Elia was egter nie die enigste wat oorgebly het nie. God het ‘n oorblyfsel bewaar. 7000 ander wat nie voor Baal gebuig het nie (1 Kon 19:18). Gideon en sy 32000 man was hopeloos te veel. Die Here het veel minder as dit nodig. Daarom verminder die Here die Gideonsbende na 300 (Rig 7). Paulus sit in die tronk in Rome en sê vir Timoteus: “Net Lukas is by my” (2 Tim 4:11). Ja, God werk deur ‘n getroue oorblyfsel. Wees daarin bemoedig!

Van hierdie oorblyfsel met wie die Here werk, verwag Hy ‘n respons. Kyk verse 9-17. Wat sal Sy belofte van seën aan hulle doen? Hoe reageer hulle daarop?

Wel, hulle moet ophou bang wees en begin om die tempel te herstel. Hulle moet begin werk. Wie God se belofte van seën regtig glo, SAL ophou vrees en begin werk. Die oorblyfsel wat die Here besig is om te bewaar SAL so reageer. Hulle sal begin bou en herstel.

In ons taal vandag: Nie die herstel van ‘n fisiese gebou nie, maar om Christus se kerk te bou – wat – nes destyds – ‘n baie frustrerende en ontmoedigende taak kan wees. Geen wonder dat die Here vooraf eers beloftes van seën opstapel nie!

En die oorblyfsel sal ook begin om heilig te leef en aan God gehoorsaam te wees wat betref hulle praktiese lewenswandel (verse 16-17). Hulle begin om dinge te haat wat God haat. Dinge soos onreg en leuens en valsheid en boosheid. ‘n Mens kan nie vertrou op God se belofte van seën maar terselftertyd genot vind in dinge wat die Gees van God bedroef nie. Bid en roep liewer uit: “Here, maak my ook bedroef oor die dinge waaroor U bedroef is. En plaas binne in my ‘n dors na U Waarheid en vrede (vers 19c), laat DIT my lewe beheers.”

Hier is heldere waarhede uit hierdie paragraaf:

Nommer 1: Die Here bewaar vir homself ‘n oorblyfsel – diegene wie HY kies om vir Homself te bewaar. Nommer 2: Die oorblyfsel ontdek en vertrou God se beloftes van seën. Nommer 3: Die vertrouende oorblyfsel begin moediglik aan Christus se gemeente bou. Nommer 4: Die vertrouende oorblyfsel wat aan die gemeente bou, begin afgesonderd vir die Here leef en hulle praktiese lewe begin vrug dra wat by bekering pas. Nommer 5: Die geseënde oorblyfsel begin ‘n seën vir ander word.

HIERDIE 5 dinge is die tipe vas wat God behaag (verwysende terug na hoofstuk 7), die WARE vas – selfs al vas jy nie!!

Hierdie 5de punt sien ons uitgewerk by verse 18-23…. Die geseënde oorblyfsel begin ‘n seën vir ander word.

B VERSE 18-23 > VASTE GAAN IN FEESTE VERANDER WORD

Die Here seën ons sodat ons vir ander ‘n seën kan en moet wees, sê vers 13 so duidelik. En verse 19-23 spel dit in meer detail uit. Maar let baie mooi op: Dis deurdat die geseëndes vir ánder tot seën is, wat die tye van vas ‘n vreugde en vrolikheid word (vers 19).

Ons moet net weer in gedagte hou dat hierdie hoofstuk deel is van God se antwoord aan die afgevaardigdes van Betel wat in Jerusalem by die profete kom aanklop het met die vraag OF die Jode nog met hulle vastye moet voortgaan noudat die tempel byna herstel is. Daardie vastye was egter so formalisties en dood – eintlik het hulle dit net uit selfbejammering gedoen. Totaal onaanvaarbaar in God se oë.

Nou sê die Here in sy antwoord aan hulle: Daar sal ‘n tyd kom wanneer vastye ‘n vreugde sal word – wanneer die Here Sy seën op ‘n uitverkore oorblyfsel uitstort en hulle die praktiese vrug van bekering voortbring en ‘n seën vir ander word.

Dit is HIERDIE belofte wat vervul is in die NT-kerk (wat met Pinksterdag met die uitstorting van die Gees begin het en tot by die wederkoms sal duur) wat ‘n gestuurde (missionêre) evangeliserende liggaam van Christus sal wees.

Indien ons na verse 20-23 kyk, sien ons helder en duidelik OP WATTER MANIER die geseëndes vir ander tot seën sal wees.

Dis wanneer ander VOLKE na die Here se mense toe kom om die Here te kan leer ken. Baie volke! Nasies (vers 22). Hulle kom in Jerusalem – bedoelende na Christus se NT gemeente waar ookal in die wêreld – om na God se wil te soek. En die een moedig die ander aan om ook te gaan. En daar is ‘n gewilligheid en ‘n dorstigheid.

So dringend is dit dat uit al die nasies 10 mense 1 Jood – bedoelende NT Christus-gelowige – aan die klere gryp en sê: “Luister, ons wil deel wees van julle, want ons hoor God is by julle. Dis by JULLE waar ons Hom kan leer ken. Kan ons aansluit asb”.

U sien wat ons daarmee bedoel het toe ons vroeër in die boodskap gesê het dat die OT beloftes met betrekking tot Israel se toekoms uiteindelik in die NT kerk vervulling vind EN NIE op ‘n klompie etniese Jode vlak voor die wederkoms nie!

Die ware kerk van Christus is die oorblyfsel op wie die Here seën uitstort en wat vrugte van bekering dra en wat vir ander tot seën is.

En die primêre MANIER van om vir ander tot seën te wees, is om vir hulle die weg tot saligheid te vertel en te leer – met ander woorde om die evangelieboodskap te kommunikeer. Daarom is onvermoeide evangelisasie-arbeid DIE kenmerk van die ware kerk en individuele Christen.

Kyk ons mooi na die teks, sien ons iets besonders:

Dis asof die mense van buite na die gelowiges toe aangetrek word. Hulle KOM en soek en vra en raadpleeg. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie na hulle uitgereik word nie, maar dit wys op die Goddelike krag wat daarin werksaam is en hoe Hy self daarvoor sorg dát mense tot die kerk toegevoeg word. Dis ‘n werk van Bo dat mense op die Evangelie ag slaan en begerig is om gered te word. Ons taak is om die saad te saai. Die Here gee die vrug wanneer Hy wil en waar Hy wil en hoe Hy wil.

In ‘n woestyn is daar EEN misdaad wat erger is as moord. En dit is om te weet waar daar water is, maar dit nie vir ander te sê nie.

Dis ‘n misdaad om deur die Here met die saligheid geseën te wees en dan daaroor stil te bly en dit nie passievol met alle ander mense te deel nie.

Daarteenoor is dit die grootste seën om deur die Here geseën te wees en vir ander tot seën te gaan wees.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Sagaria

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)