Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

SAGARIA – REEKS NO 11
Sagaria 7
Tema: Ware godsdiens

Die 8 visioene wat die Here aan Sagaria gegee het, is nou voltooi en die tyd spring (in hfst 7) na Desember 518vC – dus ongeveer 2 jaar nadat hy die visioene ontvang het en 2 jaar voordat die herstel van die tempel heeltemal voltooi sou word. Nou kom ‘n heel ander onderwerp egter aan die orde.

Ons gee eers ‘n kort geheeloorsig oor die hoofstuk en kom dan terug na die kernboodskap wat die Gees van God uit hfst 7 tot ons spreek.

Baie dekades tevore het Nebukadnesar die tempel in Jerusalem verwoes. Dit was toe hy – as instrument in God se hand – die grootste gedeelte van die volk na Babilon in ballingskap weggevoer het. Die Babiloniërs het ook ‘n man met die naam van Gedalja as goewerneur van Juda aangestel – oor diegene wat wel agtergebly het – nadat koning Sedekia tereggestel is. Gedalja is egter in ‘n sluipmoordaanval vermoor. Jeremia 41:2-3.

Sedert daardie tyd het die Jode veral twee gereelde jaarlikse vastye ingestel waardeur hulle die val van Jerusalem asook die dood van Gedalja betreur en bekla het. Daar was meer sulke vaste, maar hierdie twee was die belangrikste. Die val van Jerusalem was onthou deur 4 vaste in die vierde, vyfde, sewende en tiende maande van die Joodse kalender. Maar omdat die tempel in die 5de maand (Julie-Augustus) verbrand is, was die vas in die 5de maand vir die Jode die belangrikste. Dis egter duidelik dat, hoe langer hoe meer, hierdie vaste vir die Jode net ‘n vermoeiende, siellose, uitputtende ritueel geword het.

Dit was in elk geval ook nie iets wat die Here beveel het nie. Dit was mensuitgedink. Die enigste jaarlikse vas wat die Here beveel het, was die vas tydens die Groot Versoendag (Joom Kippoer) (Lev 23:27). Die verbondsvolk het dus vir baie dekades vaste onderhou wat nie in God se hart gebore was nie, nie deur Hom beveel was nie, en wat in dooie godsdienstige ritueel ontaard het.

Nou is dit die jaar 518vC en die bouwerk is sterk aan die gang om die tempel te herstel. ‘n Vraag ontstaan nou in die Joodse gemeenskap oor die wenslikheid daarvan om met die twee genoemde vaste voort te gaan. Wat is tog die sin en betekenis daarvan?

‘n Afvaardiging van Betel – ‘n dorp ongeveer 20km noord van Jerusalem – kom dus na Jerusalem om vir die priesters en die profete Sagaria en Haggai te vra: “Noudat die tempel so mooi herstel word en die ballingskap verby is, moet ons nog voortgaan om die verwoesting van die tempel te betreur en met ons vaste voort te gaan?”

Dit is belangrik, want dit wys vir ons op watter geestelike vlak die godsdiens van die verbondsvolk – diegene wat uit die ballingskap teruggekeer het – op daardie stadium was. Hulle was terug in die land, hulle was herstel uit ballingskap, maar hulle begrip van wat ware godsdiens is, was baie vlak. Hulle was uiterlik godsdienstig, ja, maar loop die ware vrug van ware geloofsvertroue mis. Dis ‘n uiterlike pligpleging sonder die warmte van ‘n lewende wandel met God – wat in gehoorsaamheid aan God uitmond. Presies soos hulle voorvaders was in die jare voordat die Ballingskap plaasgevind het.

Sagaria sluit volledig aan by vorige profete om te wys hoe die mense van sy tyd presies dieselfde sonde van hulle voorgeslag herhaal. Die rede waarom die Godsvolk in ballingskap gegaan het was juis as gevolg van hulle dooie ritualistiese godsdienspleging – sonder ‘n lewende wandel met God en praktiese gehoorsaamheid. En dit het hulle geestelik ryp gemaak om in afgodery te verval. Die voorgeslag het hulle harte so hart soos ‘n diamant gemaak – verhard TEEN die Here se Woord. En nou kom die Jode wat uit die ballingskap teruggekeer het en doen dieselfde sonde weer oor. Dit mag nie. Dit kan nie.

Daar was veel meer van ‘n eiebelang in hulle godsdiens as ‘n liefde wat graag vir God self in die fokus wou stel. Eintlik is DIT die groot rede waarom die Here dekades tevore die Ballingskap beskik het as tugmaatreël en straf – en nou is dit so erg tragies dat hierdie geestelike doodsheid nog steeds teenwoordig is. Dis asof hulle niks geleer het nie. Niks verander het nie. Geensins geestelik verdiep en verander en getransformeer is nie. Hulle het gedink so lank as wat hulle die uiterlike vasgeleenthede onderhou, is alles reg. Intussen het hulle in sonde geleef en goedsmoeds toegelaat dat onreg gedy.

Om dit kort te sê: “Ons ongehoorsaamheid kan tog sekerlik uitgebalanseer word deur ons ernstige pogings om te vas?” So het hulle geredeneer. “Solank ons ernstig en getrou is met ons kerkbywoning – om dit so te stel – sal dit sekerlik ons sondes uitbalanseer? Ons rassisme en neersien op ander en verslawing aan singenot. Ons loerdery na pornografie en ons kul hier en kul daar. Ons vloektaal en ydelike gebruik van die Here se Naam. Ag nee wat – ons is oortuig dat hierdie dinge nie so swaar weeg indien ons net (aan die ander kant) ernstig godsdienstig is nie.

Die afvaardiging van Betel kom vra dus die profete: Het dit nog enige sin dat ons aanhou om die vastye te onderhou?

Die Here gee dan aan hierdie afvaardiging ‘n duidelike antwoord – deur Sagaria se mond. Die antwoord bestaan uit VIER boodskappe – waarvan twee in hoofstuk 7 en twee in hoofstuk 8 opgeteken staan. ‘n Belangrike vierledige boodskap van die Heilige Gees – waarvan ons deeglik moet kennisneem.

Kom ons kyk nou in meer besonderhede na die Here se antwoord aan die afvaardiging van Betel en hoor wat die boodskap is wat hieruit tot ons spreek.

EERSTE TWEE ANTWOORDE VAN GOD AAN DIE AFVAARDIGING VAN BETEL:

1 VERSE 4-7 > JULLE MOTIEWE IS VERKEERD

Uiteraard is dit iets wat ons nie graag wil weet of glo nie, maar die Here God ken ons diepste motiewe en beweegredes. Sy oordeel sny deur tot in die hart en niere. Psalm 7:10 en Openb 2:23.

Die eerste deel van die Here se antwoord is dus ‘n bestraffing. Ja, julle vas en bid, pragtig, maar dis lewelose vormgodsdiens, want julle doen dit met die verkeerde motiewe.

Dit is nie iets nuuts of vreemd nie. Die Heilige Gees het 300 jaar tevore presies dieselfde ding gesê in Jesaja 58: 3-9 waar die VOOR-ballingskap Godsvolk ook gevra het: “Waarom vas ons, maar die Here sien dit nie?” Met ander woorde: “Ons bid en bid, maar die hemel is soos van koper gemaak.”

En dan antwoord die Here die VOOR-BALLINGSKAP volk (in Jesaja 58) en sê:

“Hier is die rede: Julle vas en bid, ja, maar terselftertyd lewe julle in sonde. Julle wanverhouding met God is sigbaar in hoe julle teenoor julle medemens optree. Julle behandel julle arbeiders sleg. Julle twis en kyf. Dit help nie julle buig plegtig julle hoofde in gebed, maar julle maak nie die bande van goddeloosheid los nie! Julle bid, maar julle verdruk ander mense. Kom ek vertel vir julle watter soort vas ek verkies. Dis dat julle bande van goddeloosheid losmaak en dat julle brood gee vir die hongeriges en naaktes klee. En ophou om julle besig te hou met leuens. DAN sal julle lig deurbreek soos die daeraad en julle sal genees word en die Here se heerlikheid sal julle agterhoede wees en julle sal bid en ek sal antwoord”.

Wat Jesaja 58 sê, vind ons nou weer hier in verse 5-6 van Sagaria 7.

Die Here God vra vir die afvaardiging van Betel ‘n deurdringende vraag:

VIR WIE vas en bid julle? Is dit regtig vir MY? Soek julle MY eer daardeur? Soek julle MY Naam daardeur? Soek julle MY wil daardeur? Doen julle dit vanuit ‘n ware stuk bekering en selfondersoek of doen julle dit uit selfbejammering omdat julle mense in ballingskap weg is en julle stad vernietig is en julle julle inkomste kwyt is en dit met julle sleg gaan, nou sit en huil julle op ‘n hopie?

Terug na Jesaja sien ons dieselfde bestraffing uit die Here se mond in Jesaja 1:10-15.

“As julle julle hande na my uitbrei in gebed, bedek ek my oë vir julle. Ek luister nie. Julle offergawes is skynheilig en gruwelik. Ek moeg en sat vir julle brandoffers. Ek het nie behae in die bloed van julle offers nie. Ek haat julle feeste. Dis vir my ‘n oorlas. Weet julle waarom? Want julle vermeng dit met ongeregtigheid. Julle wil my dien, maar julle wil terselftertyd ook in sonde voortleef. Julle verkies om op twee stoele gelyk te sit.”

Terug by Sagaria 7.

Vers 7 maak duidelik wat presies in die hemel tel. Wat is dit wat belangrik is op God se hart? Is dit rituele? Godsdienstige rituele? Nee. Dis gehoorsaamheid wat tel. Daar hoef absoluut geen vastye te wees nie, maar as daar ‘n stuk nederige gewilligheid in die hart is om gehoorsaam te wees, tel dit vir God ‘n duisend keer meer as enige vas.

In die geskiedenis van God se Ou Testamentiese volk Israel, het gehoorsaamheid groot blydskap en vrede en voorspoed gebring. Dink maar aan die tyd van Dawid en selfs Salomo.

Maar wanneer God se mense gehoorsaamheid versaak en in die plek daarvan godsdienstige rituele stel, sal hulle hulle blydskap en vrede en selfs voorspoed verloor.

Maar hier is vraag: WANNEER EN WAAROM stel ‘n gelowige of ‘n gemeente of kerk godsdienstige ritueel in die plek van gehoorsaamheid?

Dis wanneer die innerlike motief van die hart korrup is. Wanneer die Here self nie meer die verlange en dors en passie van die hart is nie, maar die SELF die passie en fokus van die hart is.

Dit is God se eerste antwoord aan die afvaardiging van Betel.

2 VERSE 8-14 > JULLE BENODIG BEKERING

In hierdie verse sluit Sagaria absoluut 100% aan by die waarskuwings van vroeëre profete – bv Jesaja 1:11-17 en 58:1-7 en Amos 5.

Wat die VOOR-ballingskap volk nie besef het nie, was dat dit werklik die HEILIGE GEES was wat deur daardie profete Jesaja en Amos gepraat het (vers 12). Dit was regtig God se Woord. Maar hulle het hulle harte verhard. En daarom het die Here hom doof gehou vir hulle gebede (vers 13). Die uiteinde was die tragiese ballingskap. ‘n Pragtige land het ‘n verwoeste wêreld geword (vers 14).

Dit was waar van die VOOR-ballingskap Godsvolk. Sonde het hulle en hulle land vernietig – want dis wat sonde konsekwent doen: dit vernietig.

En nou wil die NA-ballingskap Godsvolk dieselfde paadjie loop? So vra die Here hulle deur Sagaria se mond. Wil julle REGTIG dieselfde pad loop? Nie? Wel, kom dan tot inkeer. Breek in. Laat julle trane vloei. DRAAI hartgrondiglik na die Here toe. En onderwerp julle aan die gesag van Sy Woord. Stel gehoorsaamheid aan Hom in die plek van gehoorsaamheid aan jouself.

Daar moet praktiese lewensvrug van geregtigheid wees wat gehoorsaamheid aan God’s Woord vergesel. In Nuwe Testamentiese taal sou ons kon sê: daar SAL lewensvrug van geregtigheid wees, want daardie vrug is die vrug wat die Heilige Gees produseer in en deur die lewe van die mens wat deur God se genade gewederbaar is.

Jakobus 2 stem daarmee 100% ooreen waar hy sê dat die ware geloofsvertroue (wat ‘n gawe van God is – Efes 2:8) SAL lewensvrug na vore laat kom. WERKE noem hy dit. En Sagaria 7:9 spel daardie werke/lewensvrug uit – in samehang met ander profete soos Hosea, Amos en Miga.

Vers 9 noem die 4 Hebreeuse woorde: Mishpat, Emed, Gesed, Ragam. Geregtigheid, waarheid, liefde, barmhartigheid.

GEREGTIGHEID: Doen wat billik en reg is. Ook in die howe. Laat REG geskied – tot in die fynste besonderhede.

WAARHEID: Nie alleen die waarheid praat nie, maar dit ook leef.

VERBONDSLIEFDE: Om gaaf en vriendelik en goed en vol medelye te wees veral teenoor diegene teenoor wie jy dit nie hoef te wees nie. Want dit is hoe God is.

BARMHARTIGHEID: Die gesindheid van ‘n ma wat na haar kind omsien. Wie vervul is met barmhartigheid sal nie vreemdelinge en armes en weeskinders en weduwees – met ander woorde die kwesbares in die samelewing – verdruk en boelie en indoen nie.

In kort: Gehoorsaamheid aan God wat uitspeel in verhoudings – OOK verhoudings teenoor jou vyandiges en diegene benede jou stand.

Waarom manifesteer hierdie Godsvrug dan teenoor ander mense? Moet dit dan nie manifesteer teenoor God self nie? Is goed soos gebed en vas en Bybelstudie en meelewing by die gemeente dan nie belangriker as iets soos om iemand reg en billik te behandel nie?

Die Jode het gedink: Ek onder-vergoed nou wel my huiswerker so ‘n bietjie, maar ek is absoluut getrou en toegewyd wanneer dit by die vasmaand en gebede kom! Kyk hoe is my Bybel onderstreep!

Terwyl die Here sê, nee, kry eers jou sake met jou huiswerker in orde en dan kan jy kom vas en bid. Want ons doen en late teenoor ander weerspieël ons lewe en wandel met die Here God. Maar indien die wandel met God ontbreek, is die doen en late teenoor ander net uiterlike pligpleging.

Opsommend: Wat leer ons uit Sagaria 7?

1 Uiterlike geestelikheid sonder die innerlike realiteit van ‘n lewe met die Here, is ‘n reuse gevaar en moet onmiddelik aangespreek word. Bekering is dringend nodig.

2 Ons oë moet oop wees vir die geneigdheid om mensuitgedinkte (kerkuitgedinkte) reëls en rituele na te jaag wat nooit deur die Here gegee is nie.

3 Ons oë moet oop wees vir die geneigdheid om deur allerlei betekenislose aktiwiteite te gaan en te dink dat dit ware geestelikheid is en dat dit kompenseer vir ander sondes wat ons akkommodeer.

4 Ons moet kyk na ons motiewe en onsself afvra WAAROM ons geestelik betrokke is waarby ons betrokke is. Gaan dit werklik oor die Here se eer?

5 Uiterlike godsdiens sonder die innerlike werklikheid van ‘n lewe met die Here, lei tot geestelike verharding van die hart en dit ontstaan oor ‘n tydperk waar ons gehoorsaamheid aan onsself plaas in die plek van gehoorsaamheid aan God en ons nie buig onder die gesag van die Woord nie. En sodoende ontstaan verharding. En verharding lei tot Goddelike dissipline en selfs tot die ervaring dat gebed nie verhoor word nie.

6 Bekering bring mee dat ons fokus verskuif na die Here en weg van onsself af. En dit lei tot gehoorsaamheid en het ‘n uitwerking op ons verhouding tot ander mense. Innerlike herstel het spontane uiterlike gevolge.

7 Die Here Jesus Christus is die eintlike fokuspunt van Sagaria 7. Deur in ons plek (namens ons en in ons skoene) voor die Vader te leef en staan, het HY die gehoorsaamheid volbring wat ons nie kan nie.

Die realiteit van ‘n lewe met God is slegs IN CHRISTUS te vinde. Dis nie iets wat ons kan bewerk deur beter en strenger toewyding nie.

Meer gebedsure per dag is ‘n goeie ding, maar dit waarborg nie heiligmaking en ware geestelike lewe nie. Ook nie die daaglikse lees van 10 hoofstukke uit die Skrif nie. Hoewel dit ook ‘n goeie ding is om te doen.

Maar daar bestaan nie ‘n meganiese oplossing vir ‘n ware lewe met God nie. Ons kan nooit sê: “Ek het vandag twee ure in gebed spandeer, dus verwag ek nou ware diepe geseënde geestelikheid as beloning” nie.

Die antwoord lê in die lewende Here Jesus self. Die wynstok in wie die loot rus en die wynstok se lewensap gevolglik deur die loot vloei. En vrug dra.

Ware Christenwees gaan oor ‘n oomblik tot oomblik fokus op Christus Jesus die Here. Deur geloofsvertroue wat op Sy Woord geanker is, lewe ek doelbewus in gemeenskap met God.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Sagaria

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)