Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 6

Romeine 4: Verlossing in die oertyd


Wat sou u skat, hoeveel godsdienste is daar min of meer op aarde? Wie gesê het “twee” is in die kol. Ja, daar is slegs twéé godsdienste op aarde. Elke mens – van die ongeveer 7000 miljoen – val in een van twee kategorië. Hierdie twee is radikaal in botsing met mekaar.
Eerste godsdiens: In die sentrum staan koning mens met sy ywer, vroomheid, geloof en goeie werke. Tweede godsdiens: In die sentrum staan die God van die Bybel, met Sy genade in Christus Jesus. Albei kan nie waar wees nie. Hulle sluit mekaar uit soos olie en water.

Godsdiens nr 1: In die sentrum is die flink en bedrywige mens – hard besig om sý deel van die ooreenkoms na te kom. ‘n Selftevrede mens. Hy probeer wat hy kan, kom die reëls na…. en verwag om iets in ruil te ontvang.

Godsdiens nr 2: In die sentrum ‘n mens so klein dat jy hom byna nie kan sien nie. ‘n Mens wat weet dat hy niks het om in te roem nie en geen aanspraak kan maak op loon nie. Indien hy beloon moes word, o.g.v. wat hy verdien, sou dit die ewige dood wees. Tog is hy besig om leë hande na Iemand uit te steek. Want sien, hy het woorde van hoop gehoor. Hy het gehoor van ‘n God wat goddeloses vryspreek, nie mense wat eers hulleself verbeter het nie. Goddeloses! Hy het gehoor van ‘n Sondelose Man aan ‘n kruis. Hy gryp hierdie belofte vas soos ‘n drenkeling ‘n reddingsboei. Dis Godsdiens nr 2.

Ons sien hierdie twee godsdienste reeds by die eerste mensepaar, Adam en Eva. 1) Selfgemaakte vryeblare. 2) Geklee in bloedvelle wat God gemaak het. 1) Verwag die ewige lewe o.g.v. pligte wat nagekom is. 2) Klou slegs vas aan Jesus se kruisdood en opstanding.

Baie van die vrome Jode in Paulus se tyd was deel van Godsdiens nr 1. Hulle het staatgemaak op hulle onberispelike onderhouding vd Wet en die feit dat hulle besny was en nasate was van Abraham. Hulle het Abraham byna verafgod.

Nou haal Paulus ‘n magtige troefkaart uit die mou: Ábraham was by Godsdiens nr 2!! Die Jode was vir Paulus kwaad omdat hy verkondig het dat ‘n mens (nie net Jode nie) alleenlik gered word deur vertroue op Jesus se kruisdood – sonder Wetsonderhouding, sonder besnydenis, sonder enigiets ekstra. Geen plusse by Christus nie. Nét Christus.

Wel, dink die Jode, as Ábraham gered was deur Wetsonderhouding en besnydenis, dan is Paulus verkeerd. Maar Paulus sê: JUIS Abraham was gered (in die regte verhouding met God geplaas) sónder Wet & besnydenis! En daarmee pluk hy die mat onder die Jode se voet uit, want as jy met Abraham torring, torring jy met die hele fondasie waarop die Jode staan. Hulle het altyd gereken dat Abraham vir God aanvaarbaar was o.g.v. wat hy alles gedoen het. Godsdiens nr 1 dus. Paulus sê: Volstrek nie. Abraham was by Godsdiens nr 2. Eintlik is daar slegs één godsdiens, nie twee nie. Al die gelowiges in die oer-tyd/ OT-tyd het op dieselfde manier kinders vd Here geword as díé in die NT-tyd. Die Jode het dit egter nooit, maar nooit besef nie. Hulle het gedink Abraham was deur God vrygespreek/vergewe/gered (in God se goeie boekies) omdat hy dit darem op ‘n manier verdien het. Hy was tog so gehoorsaam aan God. Hy was so gewillig om vir Isak te offer. Hy was ook besny. Hy móés tog daarvoor beloon word met die ewige lewe! Dit móés net!!

Paulus draai hulle hele siening op sy kop. Hy sê: As dít Abraham se godsdiens was, is hy vir ewig verlore. Abraham was immers deur God vrygespreek nog lank voordat die Wet daar was (430 jaar). Hoe kon hy dan deur Wetsonderhouding vrygespreek gewees het? Hy was ook vrygespreek voordat die besnydenis daar was. Hy was vrygespreek voordat hy vir Isak kon offer. Hy kon dus onmoontlik nie vrygespreek word op grond dáárvan nie.

Hóé dan, Paulus? Jy verwar ons heeltemal.” So vra die Jode vir Paulus. Mens hoor hom antwoord in Romeine 4. Abraham het niks gehad om vir God aan te bied nie. Hy het niks gehad waarin hy kon roem nie. Maar, God het hom kom opsoek en aan hom ‘n belofte gegee. ‘n Geskenk. ‘n Belofte ís ‘n geskenk, wat op geen manier verdien kan word nie. Hy het vir hom beloof dat hy die vader van baie nasies sal wees en dat in sy saad (wat Jesus sou wees vlgs Gal 3:16) die nasies geseën sal word. God het m.a.w. aan Abraham JESUS beloof. En, daar is net een ding wat ‘n mens met ‘n belofte/geskenk kan doen. Nie iets presteer nie. Net vat of los. Vertrou die een wat belowe het of vertrou hom nie. Abraham het die Here God se Woorde geglo en het die belofte-geskenk geneem (Gen 15:6). En hy is vrygespreek. Daar en dan. En daarná, as onvermydelike resultaat/vrug vd vryspraak, het Abraham se lewe prakties bewys dat hy ‘n nuwe mens geword het (gehoorsaamheid/Isak offer ens). Dit is Godsdiens nr 2.

Ek wonder of u & ek al ooit hierdie boodskap régtig verstaan het. Indien ons al op die punt gekom het van ‘n bedelaarsposisie om net die belofte/geskenk van God – wat die ewige lewe in Jesus is – te glo! Aan te gryp. Volle gewig daarop te plaas. Net dit. Geen plusse & ekstras nie. Net dit.

Nou, wié is werklik kinders van Abraham? Wie is die werklike ISRAEL? Die Jode? Nee, sê die Apostel. Almal wat glo, soos Abraham geglo het, is sy kinders – maak nie saak van watter nasie nie. Abraham is die groot voorbeeld van die enigste ware godsdiens op aarde. Hy was absoluut verkleef aan God en Sy belofte. Sy hele wese het net dáárop gehoop.

En, omdat die Here weet hoe moeilik dit vir ‘n mensekind is om op die onsigbare te hoop, het Hy vir Abraham ‘n sigbare/tasbare waarborg gegee – in sy liggaam – die besnydenis (v 11). Die besnydenis was nie ‘n ekstra dingetjie wat ‘n paar ekstra punte getel het om in God se goeie boekies te wees nie. Dit was ‘n hulpmiddel om vir Abraham in sy vertroue te versterk. ‘n Waarborg (seël). ‘n Waarborg dat hy werklik o.g.v. God se genade alleen gered is. Elke keer as Abraham na sy besnede liggaam kyk, was hy weer van voor af doodseker dat God sal woordhou! Soos ‘n seël op ‘n koevert. As die Poskantoor die seël sien, weet hulle dat daar verseker vir die versending vd posstuk betaal is. ‘n Seël is ‘n waarborg, dit gee versekering.

Dink net daaraan: Menslik gesproke was dit onmoontlik dat daardie Godsbelofte/ geskenk, kon waar word. Abraham het immers glad nie ‘n seun gehad nie. Daarby was beide hy en Sara baie oud. Haar moederskoot was reeds verstorwe, sê die Woord. Dit was onmoontlik om kinders te hê. Abraham was in ‘n radikaal hopelose situasie. Sy toekoms was uitsigloos. Hý, ou man, getroud met ‘n bitter bejaarde vrou, sou die vader van baie nasies word!! Uiters onmoontlik. Die Verlosser, Jesus Christus, sou sy uiteindelike saad wees? Wel, hy sien geen seuntjie voor sy tent speel nie! Dis ‘n saak van onmoontlikheid.

Abraham het egter geweier dat die werklikhede van sy situasie sy uitsig op Gods belofte vertroebel. Hy het geglo dat God dinge wat nie bestaan nie, kan roep asof hulle bestaan (v 17). Dat hy lewe uit die dood kan skep. Dat Hy ‘n waarmaker van Sy Woord is. Só het Abraham die eer aan God gegee. Hy het vasgehou aan God se belofte-geskenk, al wou die realiteite hom soms oorweldig.

Dit is die lewenstyl van ‘n volgeling van die Here Jesus. Só in kontras met die wêreldse mense. Steun op die Here Jesus alleen, al vergaan die wêreld ook. Hý is die ruspunt van die bange hart.

Dalk kom die tyd al hoe nader dat ons sal moet begin besef dat ál wat eintlik regtig uiteindelik die deurslag sal gee, is die waarheid van die Here Jesus Christus. Ons sal al hoe meer manne, vroue, jongmense, kinders moet kry wie se hele hart op Christus gerig is. Wat nie links kyk of regs kyk nie.

Hoe behoort Romeine 4 grond te vat in ons eie lewens? Ons is ligjare ver van Abraham af. Aan niemand van ons beloof die Here ‘n seun, ‘n nageslag, of dat Christus uit ons gebore sal word nie of dat die nasies deur ons geseën sal word nie. Op watter manier kan ons dan glo soos Abraham geglo het – en sodoende sy nageslag wees, sónder om Jode te wees? Aan Abraham het God belowe/toegesê dat Jesus uit hom gebore sou word. Hy het sy vertroue daarop geplaas – al kon sy vrou nie meer kinders hê nie. En God het hom vrygespreek en hom as Sy kind aangeneem – sonder dat hy die Wet onderhou het óf besny is. Hoe werk dit in ons geval?

Is daar nie dalk iewers in die Bybel ‘n vers waar God se beloftegeskenk aan óns kernagtig saamgevat word in ‘n neutedop nie? Wat presies is die belofte wat God gee aan elke mens wat die Bybel lees of hoor? Ons weet wat Hy aan Abraham gegee het. Maar wat gee Hy aan ons? Ja, daar ís ‘n vers waar hierdie belofte in ‘n neutedop saamgevat word. 1 Joh 5:11 > “God se getuienis/belofte behels dit: Hy het ons die ewige lewe gegee. En dié lewe is in Sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe. Wie die Seun nie het nie, het nie die lewe nie.” Vir Abraham het Hy gesê: My Seun – Jesus Christus – gaan uit jou gebore word tot ‘n seën vir alle nasies. Vir ons sê Hy: My Seun – Jesus Christus – ís toe uit Abraham gebore en ek het vir jóú die ewige lewe deur Hom gegee! Kan u sien dat dit presies dieselfde beloftewoord/geskenk is?

Ons is Abraham se kinders indien ons ons bekeer, wég van vertroue op onsself, ná vertroue op God se belofte alleen. Dis ware godsdiens.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)