Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 4

Romeine 2:17 – 3:20: Volpunte vir myself!


Die blye boodskap van Jesus Christus is niks anders nie as genesing wat hóú. Genesing (oplossing) vir die diepste nood van elke mens: vervreemding van God. Daarom is Romeinebrief so ‘n toptreffer. Want dit gee ‘n logiese uiteensetting van hierdie blye boodskap.

Dit is egter so duidelik soos daglig: geen mens sal ooit die geneesmiddel omhels alvorens daar nie ‘n behoefte-besef ontstaan nie. Dis presies die logika wat die Apostel Paulus in Romeinebrief gebruik. Hy spandeer 64 verse (1:18 – 3:20) om duidelik te maak in watter ontsettende geestelike nood elke mens verkeer. Naamlik: hopeloos verlore, vervreemd van God, geen vermoë om sélf daaraan iets te verbeter nie. Baie, baie donker prentjie. In 2:7 (verlede week se boodskap) het hy dit so hoog opgegee dat “die wat in goeddoen volhard en soek na ewige heerlikheid, die ewige lewe sal ontvang.” Daaruit klink dit jou werklik asof Paulus sê ‘n mens kán deur goeie werke jouself in die hemel in opdompkrag! Klink byna asof hy die taal praat van alle nie-Christelike godsdienste. Maar, die punt wat hy júís wil maak is dat geen mens daartoe instaat is nie – vanweë die totale bedorwenheid van die menslike natuur. Almal is in die mag van sonde (3:9). Die hele wêreld is strafwaardig voor God (3:19).

n Mens voel om te wil vra of die Apostel nie effens oordryf nie? “Kan dít van mý waar wees?? Ek probeer darem tog ‘n suiwer pad stap. Kan ek nie tóg wel die ewige lewe behaal op grond van my inspanning nie?” So redeneer ‘n mens mos van nature. Tewens, ál die mensgemaakte godsdienste van die wêreld is juis op hierdie veronderstelling gebaseer: “ek kan die ewige lewe behaal d.m.v. my toewyding & selfverbetering.” Dít is nou die juis die punt waar die Christelike Geloof totaal van alle ander godsdienste verskil. Paulus sê: ‘n Sondaar is só hopeloos verlore dat hy slégs deur Iemand anders se kruisdood gered/geregverdig kan word – Jésus s’n. Maar, geen mens sal ooit werklik by Jesus uitkom alvorens daar nie diepe sondebesef & sondeoortuiging kom nie. Nooit. Nooit. ‘n Ware toekeer tot die Here Jesus spruit altyd voort uit ‘n besef van sondeskuld & verlorenheid.

Die kans is goed dat iemand wat nie aan die brand is vir Jesus nie, wat poer-poer in die koninkryk van God – juis in só ‘n toestand is omdat so ‘n persoon nog nooit by die begín begin het nie. Nog nooit hopelose verlorenheid besef en neergeval het aan die Heiland se voete nie.

Sommige mense mag dalk sê: “Ja, maar ek wás al in groot nood: groot siekte/ verlies/ finansiële krisis”. Nee, Paulus praat nie hier van daardie tipe nood nie! Hy praat van verlorenheidsbesef. Ag, ons is altyd so besorgd oor ons fisiese nood. Kyk maar hoe sit dokters se spreekkamers vol. Vir die geringste liggaamlike probleem, soek ons genesing. Ons maak voorsiening vir nood d.m.v. assuransies ens. Maar ons besef nie dat ons voorsiening moet maak vir die grootste krisis in ons hele lewe nie! En dit is: ontmoeting met lewende God. Amos 4:12. Indien u en ek vandag sou sterf, bly alles wat fisies/stoflik/materieël is agter en ons gaan die ewigheid in. Indien ons ons geestelike nood enigsins sou besef, sou geestelike raadgewers/beraders se spreekkamers gepak gesit het. Dit sou beslis tye van herlewing inlui!

Dít is die strekking van 1:18 – 3:20. Vanaf 3:21 kom die ommeswaai, die oplossing, die goeie nuus. Maar, dit is eers nodig om te besef waarom die oplossing so desperaat noodsaaklik is: die verlorenheid van elke mens.

Paulus sluit hierdie betoog af in vandag se gedeelte: 2:17 – 3:20. In hierdie gedeelte wys hy spesifiek daarop dat níémand van nature minder verlore is as ‘n ander nie. Of jy in die verbond gebore is of nie, of jy ‘n groot sondaar of ‘n klein sondaar is, of jy ‘n kerkmens of ‘n buitekerklike is. 3: 9-20 > die totale menslike ras is in een en dieselfde bootjie.

n Mens kan jou goed voorstel hoedat hierdie woorde die diep godsdienstige Jode moes gegrief het. Geen wonder dat hulle vir Paulus so graag wou doodmaak nie. Hoe op aarde is dit moontlik dat hy húlle op dieselfde vlak kon stel as die heidene & nasies buite die verbond?! Hulle was tog lid van Gods volk (nr 1) . Hulle het tog gereken die Wet kan hulle regverdig voor God (nr 2). Hulle weet tog dat die ware God húlle God is (nr 3). Hulle ken tog Gods wil (nr 4). Hulle weet immers wat werklik belangrike dinge is (nr 5). Hulle is tog die ligdraers vd koninkryk (nr 6). Hulle is leermeesters vir die onkundige nasies (nr 7) (2: 17-20). Heel belangrikste: Besny. Hulle is gemerk vir die Here. Daar is tog ‘n enorme verskil tussen húlle en die kerklos mense. Dit is tog onmoontlik om sommer net so verlore te wees. En dat God die mense met die besnydenis dieselfde sien as diegene daarsonder!! Absurd.

En dan kom Paulus met goddelike wysheid en slaan hy hulle voete totaal onder hulle uit. Hy sê: “Ten spyte van al julle voortreflike geloof & godsdienstigheid is julle sondaars, presies nes alle ander mense. Julle beroem julle op die Wet, maar oortree dit self (v23). Wat is die verskil: a) Baie godsdienstig & oortree wet of b) Heiden & oortree die Wet? Buitendien: Wat help dit dat jy uiterlik besny is? Wat saakmaak is die besnydenis van die hart (v29). Sonder ‘n wedergebore hart beteken die uiterlike teken ‘n ronde nul. Die besnydenis met die ysterlem moet opgevolg word deur die besnydenis wat die HGees in die hart verrig.

U sien, Paulus raak hier ‘n belangrike saak aan. Op die mens se natuurlike gemoed, maak uiterlike, eksterne dinge ‘n groot geestelike impak. So gou soos nóú, bou die mens sy saligheid daarop. Enigiets wat ekstern/uiterlik is, uiterlike godsdienstigheid, maak groot impak. Kyk hoe word ons meegevoer & betower deur die uiterlike gewoel & gewerskaf wat ons in baie kerke sien. Kyk hoe maklik neem ons sommer aan dat iemand werklik ‘n kind vd Here is – net omdat hy altyd in die erediens is & goeterig leef. Paulus boul die middelpen uit. Hy sê: Uiterlike impak beteken niks. Dis die geestelike werklikheid wat die punte tel. Innerlike besnydenis vd hart.

Dis net logies dat die Jode vir Paulus sou vra: “Wat is dan die nut daarvan om in die verbond te wees? Besny te wees? Van kleins af so groot te word? Wat is die voordeel?” (3:1).

Antwoord: Die voordele is groot, in alle opsigte (3:2). Absoluut bevoorreg bo ander mense. Om te dink dat God Sy Woorde aan jou toevertrou het, van kleins af. Voorregte van kleins af. Onder Sy trou groot te word. Belangrikste: Krag vd evangelie van kleins af in die skoot! Bevoorreg om klein-klein tot geloof te kom en lewenslank met die Here te leef. Die punt is egter: Die feit dát jy hierdie voorregte geniet, maak jou nie salig nie! Jy kan met voorregte en al, verlore gaan. Jy moet iets met jou voorregte dóén. En ás jy met voorregte-en-al verlore gaan, werp dit absoluut geen refleksie op Gód nie! (3:3). Hý het nie ontrou geraak nie. Hy het nie die voorregte teruggetrek nie. Tewens, die bevoorregte verbondsmens se afvalligheid toon net duideliker en duideliker dat God góéd & heilig is (3:7). Natuurlik kan daar mense wees wat sê: maar dan is die Here mos onbillik om sonde te oordeel terwyl die sonde uitwys hoe goed Hý is/ die mens se duisternis Sý lig omlyn (3:5). Of mense kan sê: laat ons meer sondig, aangesien dit die Here se skitterende goedheid beklemtoon (3:8). Dalk hou Hy heimlik daarvan. Al sulke praatjies is lasterlike dwaalleer, sê Paulus in 3:8. Jy kry vandag nog mense wat dink: aangesien die Here se genade so groot is en Hy my alreeds als vergewe het, kan ek mos maar vrolik sondig. Hy vergewe mos graag. Nee, luister wat sê die Apostel: dis valse dwaalleer. Dis laster om so te praat. Iemand wat met die Here ontmoet het, begeer om heilig te leef en Hom te behaag.

Maar dink aan die groot enorme fatale fout wat oud Israel begaan het. Hulle het gedink dat die feit dat hulle bevoorreg is, hulle minder doemwaardig maak. Húlle het nie regtig dieselfde soort ommekeer nodig soos die heidene nie. Húlle hoef nie so diep uitgehaal te word nie.

Nou verwar Paulus hulle geheel en al. Wanneer hy sê: “julle voorregte & voordele gaan vir julle geen voordeel bring in die oordeelsdag nie, indien julle nie nét soos die heidene julle diepe verlorenheid besef & erken en Christus ontmoet nie.”

Geen wonder hulle het Paulus so gehaat nie. Hy het hulle godsdienstige gerustheid heeltemal op sy kop omgekeer! Hulle teologie het letterlik op sy kop gestaan. Waarom? Het die Apostel probeer om snaaks te wees? Nee. Niemand is gereed om 3:21e.v. te ontvang alvorens daar nie ‘n besef van absolute geestelike bankrotskap is nie. Óf bankrotskap & gebrokenheid óf opstandigheid & selfregverdiging.

As ‘n mens 3:9e.v. lees, wil jy opstandig raak. Absolute doemwaardigheid van álle mense: goeies, middelmatiges, slegtes, kerklikes, heidene – álmal. Almal in die mag van sonde (v 9). Nie EEN mens wat nie verlore is nie (v10). NIEMAND wat God soek nie. ALMAL soek net die eie-ek en eie belange (v11). ALMAL soek eie wil bó Christus. GEEN hoop om gered te word nie. GEEN eie dade/werke/keuses/inspanning kan red nie. NIKS!!

n Mens voel hoe die protes in jou opstoot wanneer jy dit lees. Waarom? Omdat Paulus jou trotse eie-ek-troontjie met grofgeskut bestook. En omdat dit vir die menslike hart baie, baie, baie, baie moeilik is om by die punt van verslaentheid & gebrokenheid uit te kom. Maar, die Heilige Gees hou áán met grofgeskut – totdat jy totaal verslae raak oor jouself. Skaam, gebroke, verslae, betraande hart. Dán is jy gereed vir wat in 3:21 staan!! Want die evangeliemedisyne is bedoel vir mense met verslae harte. Wanneer die Here Sy volmaakte soos ‘n spieël voor ‘n mens hou, besef jy: ek is onderdeur! Wat nog te sê die wet onderhou om in God se goeie boekies te kom. Totaal onmoontlik (3:20). ‘n Spieël kan vir jou wys hoe erg jou velprobleem is, maar die spieël kan dit nie genees nie. Jy moet na die dermatoloog gaan vir genesing. Net so met die Wet. Dit wys ons ons toestand, maar dit kan dit nie genees nie. Ons moet ons toevlug neem tot die bloed van die kruis vir genesing.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)