Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE-REEKS NO 23

Skrif: Romeine 16: 1-16

Tema: Die geheim van die vroeg Christelike kerk

D.m.v die tweede helfte van hfst 15, het ons verlede Sondag in die hart van die Apostel Paulus ingekyk. D.m.v die eerste helfte van hfst 16 kyk ons vanoggend in die hart van die vroeg Christelike kerk – in besonder die gemeente van Rome in 50n.C. Paulus sluit sy brief af deur groete aan ‘n klompie vd gemeente-lede oor te dra. Al was hy nog nooit persoonlik by hulle nie, ken hy wel ‘n paar van hulle. Al is dit groete-woorde, mag ons dit nie geringskat nie, want daar skuil ‘n hele paar groot waarhede: tussen die lyne sien ons hoe kragtig die Heilige Gees in daardie vroeë kerk gewerk het.

Ek wil vanoggend se boodskap in twee dele verdeel. Eerstens gaan ons sien hoe kragtig die Gees in die daardie vroeë kerk gewerk het. Tweedens gaan ons sien wat die geheim van daardie kerk was.

EERSTENS: HOE KRAGTIG DIE GEES GEWERK HET. Net deur na hierdie groetewoorde te kyk, sien ‘n mens dit. Kom ek sê vir u wat ek sien wanneer ek na hierdie groetewoorde kyk: 1. Mense se lewens het daadwerklik verander. 2. Dit het bewys dat die evangelieboodskap vir die daardie kerk nie net ‘n versameling van droë dogma’s/leerstellinge was wat hulle by katkisasie uit hulle kop geleer het nie, maar dat dit bloedwarm evangélie was en dat mense werklik daardeur tot redding gekom het. 3. Die gelowiges was hart en siel betrokke by die gemeente en dus by mekaar. 4. Daar was ‘n gevoel van “behoort”. Die gemeentes was deel van een en dieselfde liggaam – al was hulle geografies ver van mekaar. 5. Die gelowiges het werklik hard gewerk om die evangelieboodskap te versprei. Hulle het selfs hul lewens gewaag. 6. Hulle was vol moed, durf, waagmoed. 7. Daar was opregte onderlinge warmte en liefde. 8. Die dinge wat in die sekulêre wêreld mense in kampe verdeel het en apart van mekaar gehou het, het nie in die gemeente verdeeldheid gebring nie. 9. Daar was ‘n gevoel van dat hulle tot ‘n wêreldwye, universele familie behoort (katolisiteit). Hulle het niks geweet van isolasie nie.

In al hierdie dinge sien ons die duidelike voetstappe van Gods Gees.

Febe, die dame wie Paulus by die gemeente aanbeveel, het uit ‘n heidense konteks gekom. Haar naam is dié van ‘n godin. Maar nou noem Paulus haar ‘n “suster”. Sy is nou deel van die Here Jesus se familie – om dit so te stel. Daarby is sy ‘n “dienaar” in die gemeente. Letterlik: diaken. Sy was tot groot steun van baie mense, sê die Apostel. Wat ‘n klinkklare bewys van ‘n veranderde lewe en van die krag van God wat werksaam was. Mense het daadwerklik die Here ontmoet en hulle lewens het verander.

Opvallend hoe Paulus die gemeente versoek om vir Febe – wat van Kenchreë in Korinthe was – ten volle in hulle midde te aanvaar en te voorsien in alles wat sy nodig het. Paulus het die brief in Kenchreë geskryf en Febe het die brief na Rome geneem. Soos dit mense betaam wat in die Here Jesus glo, moes hulle haar bystaan in alles wat sy sou benodig. Die wonderlike gevoel/ervaring van “behoort aan mekaar”. Die gemeentes het ook gemaklike verhoudings met mekaar gehad, al was hulle geografies ver van mekaar. Geen twyfel dat die feit dat Christus se kerk één liggaam is, vir hierdie mense ‘n werklikheid was nie.

Die verwysing na Priscilla & Akwilla asook na Andronikus en Junias, sê ook vir ons hoe selfloos en selfopofferend die gelowiges in die vroeë kerk geleef het. Hulle was werklik bereidwillig om alles op te offer vir die voortgang van die evangelieboodskap. Priscilla & Akwilla het ‘n huisgemeente gehad, wat vir ons wys hoe klein baie van hierdie gemeentetjies was. Maar hulle was volwaardig kerk van Christus. Op watter stadium Priscilla & Akwilla hulle lewe vir die Apostel gewaag het (en dus vir die voortgang van die evangelieboodskap) en wanneer Andronikus en Junias saam met hom in die tronk was ter wille van Christus, dit weet ons nie. Maar die feit dát dit so was, wys vir ons hoe hierdie mense hulle lewens gegee het vir die Naam bó alle name. ‘n Baie duidelike bewys dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het en dat Sy opstanding níé ‘n storie is wat die eerste Christene uitgedink het nie. Geen mens sal tog bereid wees om onskuldig in die tronk te sit of jou lewe te waag vir ‘n storie wat almal weet uit die duim gesuig is nie!

Wat my verder baie tref in hierdie gedeelte is die liefdes-atmosfeer wat in die gemeente geheers het. Mens kan nie help om dit aan te voel nie. Warmte en toegeneentheid deursuur letterlik die gedeelte. Akwilla & Priscilla het vir Paulus meer liefgehad as hulle eie lewens! Paulus noem vir Epenétus sy “liewe vriend”. Dieselfde geld vir Ampliatus: “my liewe vriend in die Here.” Ook “liewe Persis”. Ten slotte: “groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap”. Die hele atmosfeer wat in die kerk geheers het, het tot uiting gekom in die manier hoe hulle mekaar gegroet het. Natuurlik het hierdie tipe groetery uit die destydse kultuur opgekom en is nie op ander kulture van toepassing nie, maar die beginsel wel, naamlik dat daar tussen gelowiges ‘n spesiale band is wat van opregte hartlikheid en toegeneentheid getuig – selfs in die manier hoe gegroet word.

‘n Laaste en baie belangrike kenmerk van die vroegste Christelike kerk was dat hulle hulle deel gevoel het van die universele kerk (katoliek). Hulle het nie vergeet dat hulle tot ‘n wêreldwye familie behoort nie. Is daar ‘n Christen wat van ‘n ander ver plek is? Dan word sy verwelkom en word sy versorg – soos in die geval van Febe. Het ‘n paar Christene iets gedoen wat van groot betekenis is vir die voortgang van God se koninkryk? Dan neem al die gemeentes daarvan kennis en word die Here oral geprys. Is daar ‘n brief van ‘n Apostel gerig aan ‘n spesifieke gemeente? Dan kom daar groete van ál die ander gemeentes (v 16). Daar was nie sprake van isolasie nie.

Daarby het hulle nie toegelaat dat díé dinge wat in die sekulêre wêreld skeiding gemaak het, ook binne die gemeente skeiding bring nie. Binne die gemeente in Rome was gelowiges uit die Jode én die nasies saam in één gemeente. Verskillende kulture en agtergronde – in die Here Jesus Christus wonderlik verenig. Verskillende sosiale agtergronde óók in Christus verenig: Hermes (v 14) is ‘n tipiese slawe-naam van daardie tyd. Aristobolus (v 10) se huisgesin was waarskynlik ook slawe. Sáám met hulle was iemand soos Herodion (v11) wat familie was van die magtige Herodes-familie. Geleerdes reken dat Julias (v 15) konneksies gehad het met die Keiser se familie. Buite die gemeente, sou hierdie dinge skeiding en verdeeldheid veroorsaak het – maar binne die gemeente van Christus is dit nie toegelaat nie.

U sien: Waar Christus regeer en die Heilige Gees kragtig werk, gaan dit ánders as hoe dit sou gaan waar die menslike natuur in beheer is. Iets van die atmosfeer van die nuwe aarde, breek nou reeds deur – en dit kan ‘n mens net een plek op aarde beleef: binne die Here Jesus se gemeente.

TWEEDENS: WAT WAS DIE DIEPSTE GEHEIM VAN DIE KRAG IN HIERDIE GEMEENTE? ‘n Mens moet 16: 1-16 aandagtig lees om dit raak te sien. Was daar ‘n innerlike geheim wat hierdie heel vroegste gemeentes geken het en wat vandag dikwels misgekyk word? Die antwoord lê in verse 2,3,7,8,9,10,11,12,13. Tien keer word die uitdrukking “in Christus” of “in die Here” gebruik. Dit is ‘n frase wat dikwels deur die gelowiges gebruik word en baie keer deur die Apostel Paulus in byna al sy briewe. En dit verklap die innerlike geheim van oorwinning & krag in die gemeentes.

In Rom 16 word die uitdrukking nie altyd in presies dieselfde betekenis gebruik nie. In verse 7,8,11,13 word dit gebruik in die sin van wat die identiteit van ‘n Christen as sulks is. In verse 2,3,9,10,12 word dit gebruik met verwysing na dit wat gelowiges vir die Here se saak gedoen het.

Die punt is: In die NT is ‘n Christen iemand wat “in Christus” is. Dit beteken dat ‘n Christen iemand is wat gelowig aanvaar & vertrou dat God die Vader hom/haar ingesluit het by die verlossingswerk wat Jesus op aarde kom verrig het. Dit is die manier waarop God die mens gered het.

“In Christus” beteken ook dat die Here Jesus Christus die sfeer/atmosfeer is waarin die Christen sy/haar lewe leef. ‘n Christen is in alle opsigte SYNE. Die eerste Christene was baie bewus hiervan. Dit was vir hulle ‘n realiteit dat hulle in elke detail van hulle lewe, voor die Here se aangesig leef. Hierdie besef het hulle persoonlike lewens én gemeente-lewe geweldig beïnvloed. Alles het rondom die Here Jesus sentreer. Hulle kon nie eens mekaar groet sonder om na Hóm te verwys nie. Hy was hulle eerste liefde.
“In Christus” gaan dus oor my leef-met-die-Here, wat 100% gebou is op wat Hy self op die kruis gedoen het en waarby God my ingesluit het. Dis op geen manier ‘n lewe van punte & guns verdien by die Here nie. Inteendeel. Namate ek daarop fokus en dit aanvaar en daarop vertrou dat God my – slegs uit genade (onverdiende guns) – ingesluit het by alles wat Jesus gedoen het en wat Hy is – na dáárdie mate kom daar ‘n energie in my lewe en weet ek dat ek in Sy teenwoordigheid leef. Ek weet ek is heilig, geregverdig, vrygespreek, ontsondig – al voel ek net die teenoorgestelde of al is daar wát ookal wat daartéén getuig. Nie één boesemsonde kan meer in my voortwoeker nie, want ek is van dit vrygemaak omdat God my ingesluit het by Jesus. As ek struikel & val gaan ek nie in skuldgevoelens en veroordeling lê nie, maar aanvaar ek net weer opnuut dat ek heilig & onberispelik en ontsondig en oorwinnend in Christus is. Ek oorwin nie deur probeerslae en inspanning en stryd nie. Ek oorwin deur te stáán op my Goddelik-gegewe ingesluit-wees in Christus – en dat Sy heiligheid/aanvaarding/reinheid/liefde/oorwinning/sondeloosheid mýne is en dat al my mislukkings/sonde/swakheid/trane/ellende Sýne is. Wanneer ek gestruikel het, weier ek die beskuldiging dat ek sleg/vrot/veroordeel/vuil is. Wanneer my boesemsondes voor my opdoem, weier ek om te aanvaar dat ek daarvoor vatbaar is. Nee, ek aanvaar & vertrou dat ek losgemaak is, dat ek nuut is, dat ek ánders is – deur my ingesluit-wees by Christus. Jesus se kruisoffer het God aan my kant geplaas. Dit het Sy onverdiende guns aan my kant geplaas. Wie/wat kan dan teen my wees?

Ek het nie REG geword deur dit wat ek reg gedoen het nie. Ek het reg geword deur wat Jesus op die kruis gedoen het – en waarby ek ingereken is. Dit is wat ek gelowig aanvaar. Ek is IN CHRISTUS. Wel, dan het ek die geheim van die vroeë Christene ontdek. En sal ek dieselfde krag beleef as wat hulle beleef het. En ‘n gemeente wat dit ontdek, sal dieselfde nabyheid van die Gees beleef as wat die gemeente in Rome beleef het.

Maar as ons leef met die idee van dat wat-ons-doen-en-nie-doen-nie ons laat kwalifiseer/nie kwalifiseer vir God se aanvaarding en liefde – mis ons die waarheid van IN CHRISTUS WEES. Dan gebeur dit dat – wanneer ons voel dat ons drooggemaak het – ons afgesny voel van Sy teenwoordigheid, voel dat Hy kwaad is en dat ons nie kwalifiseer nie. Aanklagte en veroordeling. Maar wanneer ons harte gevul is met IN-CHRISTUS-WEES kan die aanklagte/veroordeling/sondes/versoekings nie staande bly nie.

Wanneer jy versoek word of jou boesemsonde kom staan voor jou en jy bely hardop dat God self jou in Christus geplaas het en dat jy daarom heilig/regverdig/ontsondig is EN dat God dit gedoen het buite-om wat jy doen/nie doen nie – dan het die versoeking of sonde absoluut geen vat op jou nie. En ‘n energie wat die Heilige Gees gee, kom in jou los. Dit was die geheim van die eerste Christene. En hulle gemeentes het God se krag beleef.

 

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)