Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 22

Romeine 15: 14-33: Die vrug van genade


Die Apostel Paulus was ‘n man wat geglo en verkondig het dat God mense reggestel/versoen het met Homself toe Sy Seun Jesus Christus op Golgota gesterf het en uit die dood opgestaan het. Met daardie bloedoffer het God die mense – sonder hulle toestemming en agter hulle rug – gered – eens en vir altyd. Hierdie voltooide afgehandelde redding het Paulus aan al wat leef en beef verkondig om persoonlik gegló te word. Hy het rondgegaan en vir Jode en heidene gesê: “Mense, ek kom op gesag van God om vir julle te sê/verkondig dat Hy julle kant-en-klaar Sy kinders gemaak het toe Jesus vir julle gesterf het. Sy bloed het julle op die kruis silwerskoon gewas. Ek smeek julle om Hom (hierdie verruklike goeie nuus) tog te glo en op te staan in ‘n nuwe lewe.” Wie dit geglo het, se lewens het dramaties verander en nuwe gemeentes het oral ontstaan.

‘n Mens se logika sou egter sê dat hierdie genade wat Paulus verkondig het, ‘n onverskilligheid sou kweek – dat mense se (eerstens Paulus se eie) toewyding sal verflou en sonde bevorder word. Sulke vrye genade sal mos veroorsaak dat mense nie op hulle tone bly nie. Vrye genade sal mos ‘n slapheid in die hand werk, dan nie? Toegeeflikheid t.o.v. sonde, verslapping in persoonlike Bybelstudie en gebed, verslapping in sendingywer ens.

Kyk ‘n mens egter na Paulus se eie lewe, sien jy net die teenoorgestelde. Hierdie man, wat God se vrye genade so roekeloos verkondig het, se eie lewe was intens toegewyd en ernstig. En so-ook die mense – regoor die destydse wêreld – wat hy met die evangelieboodskap bereik het.

‘n Mens sien dit skitterend in die tweede helfte van Rom 15, waar die Apostel sy eie hart vir die gemeente oopmaak sodat ‘n mens iets kan sien van sy persoonlike lewe en sy passie vir Jesus. Wat vir my tref wanneer ek dit lees, is om te sien wat die uitwerking van God se vrye genade in Paulus se eie lewe was. Wat is dit wat die evangelieboodskap produseer in die lewe van die mens wat dit hartstogtelik gló. Nie dat ons almal presiese duplikate van die Apostel moet wees nie. Maar dát dieselfde vrug – in beginsel – by alle gelowiges ontluik, is ongetwyfeld waar.

Kom ons kyk ‘n bietjie wat God se genade in Paulus se lewe ontketen het.

Ons weet dat Paulus die Apostel was wat hom toegespits het op die nie-Joodse nasies en dat wat hy bereik het, die Here Jesus se werk deur hom was. Op die tyd wat hy hierdie brief aan die Romeine skryf, was sy mikpunt om na Spanje te gaan om gemeentes te plant. Tydens daardie reis sou hy uiteindelik by die gelowiges in Rome uitkom, want hy was nog noiit voorheen daar nie. Maar eers moes hy Jerusalem toe om die geld te neem wat gelowiges uit die nie-Jode gegee het vir die werk in Jerusalem. Ons weet dat Paulus se plan om Spanje toe te gaan uiteindelik nooit gerealiseer het nie, want in Jerusalem is hy vervolg en gearresteer vir sy geloof in Jesus. Uiteindelik het hy onder heel ánder omstandighede in Rome aangekom – as ‘n gevangene op pad om sy saak voor die keiser te stel.

Nou kom ons kyk watter vrug God se genade in Paulus se lewe geproduseer het – volgens sy eie getuienis. En wanneer ons daarna kyk, hou in gedagte wat die hooffokus van elke gevalle sondige mens van nature is: Na binne gefokus. Op die eie self gefokus. Kyk nou wat het gebeur toe Paulus ontdek dat God hom op die kruis gered het. Meteens verskuif sy fokus, wég van homself, na Christus en na ander mense se belange.

Vrug no 1 (vv 16): Sy lewenspassie was om die kruisredding aan die nasies te gaan bedien. D.m.v. die gesproke/gepredikte woord. Dis al metode wat hy gebruik het. Kan jy dink dat ‘n man – wat voorheen so selfingenome met sy godsdienstigheid was en so selfgerig was, só kan omswaai? Dat sy lewensfokus nou word om Jesus se kruisredding by die ore vd nasies te kry? Wel, dis die uitwerking wat die ontdekking van vrye genade op Paulus gehad het.

Vrug no 2 (v 20): Sy ambisie was om die Evangelieboodskap te verkondig waar die Naam van Christus nog nie gehoor is nie. In ons taal: die onbereiktes. Hy wou mense bereik wat nog nie gehoor het nie. In ons dag is dit die Moslem nasies (ook plaaslik – sommer so tussen ons in die Weskaap is daar baie duisende wat geen idee het waaroor die evangelieboodskap werklik gaan nie). In ons dag is dit ook plekke soos Noord-Korea, Japan, die Midde-Ooste. As Paulus nog vandag met ons was, sou sy hart ongetwyfeld dáár gewees het.

Vrug no 3 (v 15) : Die Here God was met hom. Die krag van sy bediening was nie te danke aan sy gawes, intellek, vermoëns nie. Die krag van Gods Gees was met hom. Wat deur sy arbeid gebeur het, was Christus se werk. Daarom sien ons die nederigheid wat uit die man straal.

Vrug no 4 (v 18) : Die resultaat van sy werk was dat mense tot geloof gekom & omgedraai het na die Here toe – sodat nuwe gemeentes geplant is. ‘n Duidelike bewys dat dit werklik die Here was wat deur hom gewerk het. Tot vandag toe is dít die manier hoe die Here se werk voortgaan – deur getroue evangelieprediking – niks meer en niks minder. Geen spesiale tegnieke. Net toegewyde manne en vroue wat getrou die Woord bring.

Vrug no 5 (v 22) : Sy hart was gerig op verlore mense. Hy het hulle verlossing verlang. Dit was juis die rede waarom hy die heeltyd verhinder was om by die Romeine uit te kom, want hy was te besig om die evangelie by die nasies te bring. Wat ‘n bruisende hart. Wat ‘n passie om aan mense te gaan vertel dat God hulle verlos het deur Jesus. Gedurig het hy nuwe ondernemings beplan om die Woord verder en verder te verkondig.

Vrug no 6 (vv 14-15): Sy hart was ook gerig op die gelowiges in die gemeentes – byvoorbeeld in Rome. Nie net was hy besorgd oor die buitestaanders nie, maar ook oor die gelowiges binne die gemeentes. Juis daarom skryf hy die brief aan die Romeine. Al het dit met hulle goed gegaan, wou hy seker maak dat hulle die kernwaarhede vd Evangelieboodskap goed onder die knie het. Daarom wou hy hulle ook so graag persoonlik besoek.

Vrug no 7 (vv 25-27): Sy hart was ook gerig op die gelowiges in Jerusalem wat min stoflike middele gehad het. Die minder welgesteldes. Die armes het nooit sy hart ontglip nie. Hy was juis op pad na hulle met ‘n dankoffer wat hy ingesamel het uit ander gemeentes.

Vrug no 8 (vv 30-33): Sy besef van sy eie absolute swakheid en sy afhanklikheid van ander se voorbidding. Geen super-mens. Wie aan die Apostels dink as superwesens, dink verkeerd. In hierdie verse sien ons die Apostel Paulus wat net so swak is as almal. Daarom steun hy erg op die mense se voorbidding. Eintlik sê hy dit sterker: “STRY vir my in gebed.” Waarom? “Om die Here Jesus se saak onthalwe en uit die liefde wat die Heilige Gees by julle laat ontvlam het.” (v 30). En wát moet hulle bid? Vv 31-32: dat Paulus verlos mag word van die bose planne van die onbekeerde Jode in Judea. U sien? Aan die een kant is hierdie man nederig en onder die besef van sy eie swakheid. Aan die ander kant glo hy onwrikbaar dat die Here gebed hoor en verhoor. Hy glo aan voorbidding!

As u nou na hierdie 8-voudige vrug kyk, wat sien u? Ek sal u sê wat ék sien. Ek sien ‘n selflose opofferende man wat na buite toe fokus en wat brandende is vir die belange van Christus en ander mense. Sy groot begeerte was die bereiking van verlore mense en die welsyn van God se kinders. En is dít nie die groot behoefte van die kerk van vandag nie? Waar die Here súlke tipe mense in die hande kry, bóú Hy Sy kerk, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Om terug te kom by die inleiding van die boodskap: Produseer die ontdekking van God se vrye genade ‘n slapheid & onverskilligheid? Nee, dit bring iets nuuts tot stand binne-in die mens. Dit bring ’n totale ontwrigting in my lewe tot stand. Hy maak my deel van ’n liefde wat ek nie kies nie/ nie wil hê nie/ nie in belangstel nie, máár dan begin daardie liefde my stadig maar seker innerlik wring/buig/vorm – soveel so dat daar iets in my loskom waaroor ek geen beheer het nie. Daar kom binne in my gevoelens/ingesteldheid teenoor die Here los waaroor ek geen beheer het nie. Die liefde waarby Hy my op Golgota ingesluit het — toe ek dit nie wou hê nie — skep in my nuwe gedagtes/gevoelens/gedrag/optrede. Dit breek deur my selfgesentreerdheid. Dit wring my binneste – op só ’n wyse dat ek omdraai na God toe uit dankbaarheid dat Hy ’n ellendige mens soos ek, voor die skepping reeds uitverkies het. Ek word innerlik verander. Ek ontdek die innerlike wil om God te dien.

Dis soos ‘n boer wat op ‘n dag besluit om een van sy plaasarbeiders wettiglik as kind aan te neem. Wanneer dit tot daardie arbeider deurdring wat gebeur het en hy begin glo in sy aanneming, verander sy totale gesindheid teenoor die boer. Vroeër het die boer die man probeer verander deur hom meer te betaal, minder streng te wees, meer vakansie te gee, lief te hê, minder toesig uit te oefen MAAR dit het niks binne-in die man verander nie, want hy was steeds ‘n arbeider. Hy het swakker gewerk en meer eise gestel.

Maar die aanneming tot seun en erfgenaam, het sy binneste verander. Sy optrede het verander. Hy was verlos vd lewenswyse van ‘n slaaf.

So het God met ons gedoen. Deur Jesus se kruisoffer, het Hy ons as Sy kinders aangeneem – net soos ons is in en met ons sonde. Waar ons oë hiervoor oopgaan en ons hierdie aanneming glo, word alles nuut.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)