Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 21

Romeine 15: 1-13: Gekruisigde eie-ekke bevorder eenheid


Ek het eenmaal gelees van ‘n man wat vertel van hoe hy ‘n droom gehad het van die hemel en die hel. Hy sê die Here het hom op ‘n kort toer deur beide dié plekke geneem. Hy sê groot was sy verrassing om te sien dat beide hemel en hel
feessale is wat presies dieselfde lyk. Pragtig. Die mees fantastiese musiek, versieringe, tafels, eetgerei, kosse ens. Die tafels kreun behoorlik. In beide hemel & hel is presies dieselfde groot fees aan die gang. Maar die atmosfeer verskil soos dag en nag, want in die hel kerm & kla almal & almal is uitgeteer, terwyl almal in die hemel straal van tevredenheid en geluk.

Toe sien hy iets eienaardig. Die goue & silwer messe, vurke en lepels waarmee die mense – in beide hemel & hel – moet eet, het massiewe lang stele. Byna ‘n meter lank. Die mense in die hel, is maer & uitgeteer en hulle huil en ween en kners op hul tande. Frustrasie en ongelukkigheid vul die hele atmosfeer. Terwyl die mense in die hemel goed lyk en almal van geluk straal. Hulle het ewige fees.

Toe sien hy die verskil tussen hemel en hel: In die hel probeer almal met die lang-steel messegoed eet, maar niemand slaag daarin om die kos in hul mond te kry nie. Vir alle ewigheid gaan dit só aan. Frustrasie, misnoë, uitmergelende honger. Die heerlikste kos, maar niemand kry geëet nie. Vandaar hul ongelukkigheid. Daarom is hulle so uitgeteer.

In die hemel voer almal mekaar met die lang-steel messegoed. Elkeen voer die buurman oorkant die tafel. Vandaar hulle vreugde en die fees-atmosfeer. Die mense in die hel se eie-ek sit op die troontjie en elkeen wil homself voer terwyl die mense in die hemel se eie-ek gekruisig is en hulle na mekaar omsien.

Ek kon nie help om aan hierdie verhaaltjie te dink toe ek Rom 15: 1-13 lees nie. Dit sê presies wat die Here se wil binne ‘n gemeente-opset is en hoe daar eenheid binne ‘n gemeente kan wees. Soveel so dat dit ‘n getuienis na buite is. Hoe kan mense met verskillende persoonlikhede & opinies & sienswyses & gewoontes (selfs ras & kultuur) binne één gemeente in éénheid saamleef? Binne daardie gemeente in Rome was dit gelowiges uit die Jodedom gemeng met gelowiges uit die heidene (nie-Jode). Totaal verskillende rasse & kulturele- en godsdienstige agtergronde. Daarby wou sommige steeds die bepalings van die Wet v Moses onderhou. Hulle was in hulle gewete gebind (swak in geloof) terwyl ander verstaan het dat hulle in Christus vry is van daardie bepalings en hulle gewete was vry (sterkes). (Sien verlede keer se boodskap). Sterk & swak geloof het hoegenaamd niks te doen met die % van “geloofsvermoë” wat ‘n mens regkry (of misluk) om in jou binneste opgewerk te kry en sodoende meer (of minder) in God se goeie boekies te wees nie! Dit is ‘n totaal onbybelse sienswyse. As die Apostel van sterk & swak geloof praat, praat hy van die mate waartoe gelowiges se gewete vry of gebonde was t.o.v. die doen/ nie doen van sekere bepalings van die Wet v Moses. Ons het dit in die vorige boodskap bespreek.

Nou die vraag: Op watter manier kan daar ‘n lieflike eenheid binne die gemeente gehandhaaf word t.s.v. al die verskille? In Christus ís almal een. Maar hoe gemaak in die praktyk? Onthou: die saam-wees van Jode en nie-Jode was ten diepste ‘n rasseprobleem. En dus ‘n kultuurverskil. Die vraag is watter atmosfeer nou in hierdie gemeente prakties sal heers? Sal die atmosfeer wat die Here Jesus tydens Sy aardse lewe omgewe het, hier heers? Sal die atmosfeer wat die Drie-enige God omhul, hier heers? Sal hierdie gelowiges – wat so hemelsbreed van mekaar verskil – mekáár met hulle meterlange lepels voer of sal elkeen probeer om die lang lepel in sy/haar eie mond te kry? Sal die atmosfeer van die hemel of die atmosfeer van die hel in die gemeente heers? En in hul huisgesinne? En in hul huwelike?

As ‘n mens dít verstaan, kan jy beter verstaan wat die Apostel in Rom 15: 1-13 sê. Eintlik maklik om dit te onthou: Hy sê vir hulle reguit watter 3 dinge hulle moet doen. Dan gee hy 3 redes waarom hulle dit moet doen. En dan 3 resultate wat hulle in die praktyk sal sien.

DRIE DINGE OM TE DOEN (vv 1-2): No 1: Die sterkes is verplig om die swakhede vd swakkes te verdra. Die kerk is soos ‘n ketting wat net so sterk is as wat sy swakste skakel is. Hoe sterker ‘n gelowige is, hoe meer teerheid en konsiderasie moet hy hê teenoor ander. No 2: Nie een gelowige mag aan hom/haarself eerste dink nie. Selfgerigte denke is úít. Dit verbreek verhoudings. ‘n Gelowige dink nie meer aan “wat ék wil” nie. No 3: Elkeen moet dink wat sy naaste ten goede kan wees en hom/haar kan opbou. Dit moet die hooffokus wees. Mens kan jou nie voorstel wat ‘n goddelike rewolusie hierdie dinge in ‘n gemeentes/huisgesin/huwelik sal veroorsaak nie.

DRIE REDES WAAROM HULLE HIERDIE 3 DINGE MOET DOEN (vv 3-5): Rede no 1: Omdat dit die voorbeeld van Christus is. Rede no 2: Omdat die Skrifte ons daartoe aanmoedig en bemoedig. Rede no 3: Omdat dit is hoe die Drie-enige God self is.

DRIE GOEIE RESULTATE WAT OP HULLE AKSIE SAL VOLG: Resultaat no 1: Vers 2: Daar sal geestelike opbou wees. Jy word self gestig en gebou en so ook jou mede-gelowige. Die hele gemeente sal vry wees van suspisie en verdeeldheid. Resultaat no 2: Vers 6: Eenheid. Waar mense oor mekaar besorgd is, is daar onderlinge vertroue, gevoel, harmonie. Resultaat no 3: Vers 6: die Here sal geprys en verheerlik word. Nie meer dat mense die Here met die mond loof maar met harte wat ver van Hom is nie. Maar wanneer harmonie en eensgesindheid heers, word die Here uit die hart geloof.

Drie doen-dinge, drie goeie redes, drie gevolge.

En vir die Joodse- en nie-Joodse groepe het die Apostel ‘n spesifieke woord omdat hy weet hoe die een groep geneig is om hulleself die meerdere van die ander te ag. Hy weet ook hoe verdeeldheid altyd die groot gevaar is wat die Here se kerk bedreig. Daarom het Paulus ‘n spesifieke woord vir die gelowiges uit die Jode en gelowiges uit die nie-Jode wat sáám in die gemeente van Rome was.

Ook vir hulle: EEN ding om te doen om EEN goeie rede wat EEN goeie gevolg sal hê:

Een ding om te doen: Vers 7: Beide groepe moet mekaar aanvaar. Nie as een die mindere of die meerdere van die ander nie. Maar as één en op gelyke vlak voor die Here God.

Een goeie rede: VV 8-9: Die Here Jesus ag beide groepe op gelyke vlak. Toe Hy na die aarde gekom het, was Sy eerste fokus op die Jode. Maar, die insluiting van die nie-Jode was nog altyd die Here se hoof-oogmerk. Óók dwarsdeur die OT periode. Deur alle eeue was dit God se oogmerk om Jode sowel nie-Jode te verenig in Sy koninkryk.

Een resultaat/gevolg: V 13: Vreugde en vrede en toekomshoop. Die drie dinge wat NIE kan floreer binne ‘n gemeente waar daar nie eenheid is nie. Die drie dinge waarsonder ‘n mens nie kan leef nie. Dis die vrug wat die Heilige Gees produseer.

Ten slotte: Om alles saam te vat – hoe op aarde moet ‘n mens dit alles regkry, want ons almal wéét instinktief dat dit menslik onmoontlik is om ánder eerste te stel. Dis menslik onmoontlik om jou eie-ek te kruisig. Net so menslik onmoontlik as wat dit is om die 10 gebooie te onderhou.

Wat wil Rom 15: 1-13 met ons doen? Wil dit ‘n mooi ideaal voor ons hou – wat ons éíntlik weet ‘n onmoontlike saak is? Wil dit ons aanspoor om ons te gaan inspan om die onmoontlike te doen? Net om baie moedeloos te word?

Nee. Onthou: Romeine 1-11 gaan hierdie gedeelte vooráf. Paulus baseer sy oproep hier in hfst 15 op dit wat reeds in hfste 1-11 gegee is. Wát is in 1-11 gegee? Dáár het die Apostel verduidelik hoe God die Vader ons met die Here Jesus gered en vir ewig verlos het op die kruis. Dat Hy ons – sonder ons toestemming – ingesluit het by alles wat Jesus gedoen het en dat Hy sódoende ons saak reggemaak het. Dit is wonderlikste en blyste nuus wat ‘n mens kan hoor. Ons eie-ek ís gekruisig toe Jesus gekruisig is. Ons selfgesentreerdheid is gekruisig saam met Christus. Want ons is ingesluit daarby. Dis nie iets wat óns moet doen nie. Dis iets wat Gód gedoen het. En Hy kan nie terugtrek wat Hy gedoen het nie.

Wanneer ons hierdie blye boodskap van harte begin gló, word dit vir ons moontlik om ons selfgerigtheid neer te lê en ander mense met ons langsteellepels te begin voer. Wanneer ons besef dat ons op die kruis verlos is, begin ons verlos ráák. Ons is nie verlos deur ons geloof/bekerings/keuses/inspannings/beloftes/liefde nie. Ons is verlos deur Jesus se kruisdood – waarby God ons ingesluit het. Dit is die magtige boodskap van Romeine 1-11!

Op grond dáárvan word die onmoontlike nou meteens moontlik. Wanneer ons harte vir Rom 1-11 oopgaan en ons glo dit, word dit moontlik om jouself neer te lê. Wanneer jy besef dat jy ingesluit is by Jesus se dood en dat jou eie-ek dus gesterf het. Wanneer jy besef dat jy ingesluit is by die straf wat Jesus ondergaan het en jy dus nooit weer gestraf sal word vir jou selfgerigtheid nie. Juis dan raak jy vry om Rom 15: 1-13 te kan gehoorsaam. Ons gehoorsaam omdat ons op die kruis vrygemaak is en omdat ons weet dat ons nooit weer gestraf sal word vir ons ongehoorsaamheid nie.

Wanneer hierdie waarhede ‘n gemeente begin beetpak, kom daar eenheid en vreugde en vrede. Iets van die hemel breek sodoende nou reeds op aarde deur.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)