Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 20

Romeine 14 – Die swakheid van sommige


Christene is nie veronderstel om te verskil oor dié dinge waaroor die Skrif duidelik is nie. Bv. die morele wet van God, die kern-inhoud vd Blye Boodskap ens ens. Daar is baie honderde dinge waaroor die Skrif glashelder duidelik is. Daaroor behoort alle Christene absolute eenstemmigheid te hê.

Maar, daar is ook baie dinge waaroor die Skrif níé so duidelik is nie. En dit is juis hier waar die verskille, verdeeldheid & onderlinge veroordeling tussen gelowiges so maklik na vore kom. Want, waar die Skrif nie duidelik is oor ‘n saak nie, word die volgeling van Christus se eie gewete – in die lig van hoe hy/sy die Bybel verstaan – die norm.

Deur die eeue was daar baie sulke dinge. Byvoorbeeld die gebruik van alkoholiese drank. Dans. Dra van grimering en juwele. Die dra van sekere tipes klere. Die onderhouding van die Sondag en selfs die Saterdagsabbat. Meer direk evangeliese sake soos die doop – iets waaroor die Skrif níé so klinkklaar duidelik is soos sommige mense dink nie. Vir sommige Christene is dít-en-dít ‘n gewetensaak. Vir ander Christene is net die teenoorgestelde ‘n gewetensaak. Almal probeer op die Bybel staan!

Daar was ‘n tyd wat Christendames gevoel het dat hulle vryheid in Christus het om sekere tipes grimmering aan te wend. Ander voel dat dit geen vryheid in Christus is nie, maar ‘n simptoom van wêreldsheid & kompromie. Die wat grimmeer beloer die wat nie grimmeer nie en die wat nie grimmeer nie beloer die wat grimmeer – so onderlangs. En die een groep veroordeel die ander.

Ander gelowiges reken dat hulle die vryheid in Christus het om alkoholiese drank matig te gebruik. En hulle dink diégene wat nie dié vrymoedigheid het nie, is simpel en verkramp. Die ander dink diegene wat wel drink, is wêrelds en sondig en dalk glad nog nie gered nie.

Dink maar aan die vreeslike skeiding wat iets soos die doop in die Here Jesus se kerk veroorsaak – deur alle eeue. Vir sommige is die kinderdoop ‘n gewetensaak. Vir ander is die belydenisdoop ‘n gewetensaak. Die kinderdopers sê die belydenisdopers is ‘n sekte en wil soos krokodille almal water toe sleep. Die belydenisdopers sê die kinderdopers is Rooms en is nog glad nie reg gedoop nie en hulle verdraai die Bybel.

Is daar ‘n oplossing vir hierdie verwarring? Wat sê die Skrif? In ons eie dag: hoe moet gelowiges mekaar onderling hanteer wanneer daar verskille is oor goed waaroor die Skrif nie glashelderduidelik rigting gee nie?

Dis vertroostend om te weet dat dieselfde verdeeldheid voorgekom het in die vroeë kerk. Dis glad nie iets nuuts nie. Natuurlik het die verskille oor ander dinge gegaan as vandag. Daar was gelowiges wat hul vryheid in Christus verstaan het en besef het dat die seremoniële vereistes van die wet van Moses nie langer bindend was vir ‘n Christen nie. Hulle het besef dat afgode niks is nie en dat hulle daarom vleis – wat aan afgode gewy was en daarna in slaghuise verkoop is – kon eet. Hulle het ook besef dat hulle nie meer die Saterdagsabbat hoef te onderhou nie, maar die Sondag as ‘n feesdag mog vier. Hierdie gelowiges noem Paulus “sterk” in die sin van dat – in Christus – hulle gewete bevry is …. wat betref díé dinge waaroor die Skrif nie duidelike leiding gee nie.

Die ander volgelinge van Christus, noem Paulus “swak” omdat hulle gewete gebonde was en hulle nie hulself die vryhede veroorloof het wat die “sterkes” hulself veroorloof het nie. En hulle was almal saam in een gemeente. Die “swakkes” het ver weggebly van vleis wat aan afgode gewy is, weggebly van varkvleis, steeds die Saterdag as sabbat onderhou, steeds die tempel besoek ensovoorts. Hulle was in hulle gewete gebind en het die “sterkes” veroordeel oor hulle vryhede en hulle daarvan beskuldig dat hulle onverantwoordelik is – dalk selfs nog glad nie Christene nie. Die “sterkes” het weer die “swakkes” uitgekryt as wetties en “agter die klip”.

Hoe op aarde sou die Apostel nou hierdie problematiek aanspreek? Wat is die antwoord/oplossing?

In die laaste helfte van Rom 13 (verlede week se studie), het die Apostel Paulus ernstig geskryf oor die liefde wat in elke gelowige se lewe die vrug/resultaat is van geloof in Christus. Hfst 14 sluit direk daarby aan, want hierdie verskille tussen gelowiges oor goed waaroor die Bybel nie uitsluitsel gee nie, is een praktiese voorbeeld om te wys hoe die liefde prakties werksaam moet wees tussen gelowiges. Die liefde, waarvan hy in hfst 13 praat, is die antwoord. Dit gee die deurslag wanneer volgelinge van die Here Jesus Christus met mekaar verskil oor dinge waaroor die Skrif nie duidelike leiding gee nie.

As ons mooi kyk sien ons 4 reëls wat Paulus voor die deur van die “sterkes” neersit:

1 Aanvaar die mede-gelowige wat met jou verskil. Want onthou: hy of sy is immers jou broer/suster in Christus (v 1). Julle is absoluut één in die geloof en julle verskil nie wat betref die kernwaarhede van die Skrif nie. Waak teen die versoeking om so iemand te verstoot.

2 Moenie op so ‘n persoon neersien of verag nie (vv 2-3). Moenie hom/haar as ‘n “mindere” Christen sien nie.

3 Moenie veroordeel nie (vv 3-4). Gewoonlik is dit diegene wat “swak” is wat die “sterkes” veroordeel en verdoem. Maar reël no 3 is: moenie mekaar verdink en veroordeel nie.

4 Elkeen moet in sy/haar gemoed ten volle oortuig wees van sy standpunt (v 5). In stede van om oor jou skouer te kyk na wat ander doen of wat ander dink, wees jyself ten volle oortuig dat jóú siening ‘n skoon gewete regverdig en in lyn is met die gees vd Skrif. Ons moet dus nie standpunte oor goed hê net om ons eie sondige begeertes te bevredig nie, maar ons moet eerlik en oop voor die Hére leef.

Vir hierdie 4 goue reëls is daar 3 goeie redes:

1 Die Hére het dié een wat van jou verskil, aanvaar (v 3). Is jy verhewe bo die Here? Mag jy teenoor jou broer/suster anders wees/doen as wat die Here doen?

2 Jou mede-broer/suster in die Here dink soos hy dink vanuit respek vir die Here en om Hom te behaag (vv 6-9). Dis nie net jy wat uit eerbied vir die Here God leef nie. Die een wat van jou verskil doen dieselfde! Álle mense wat werklik volgelinge vd Here Jesus is, probeer tot Sy eer leef – in lewe & sterwe. Wanneer jy ‘n gelowige word, erken jy immers in beginsel dat Jésus die Here/Kurios is en nie jyself nie. En jy buig die knie voor Hom. Dit is die posisie van beide “sterk” en “swak” gelowiges.


3 Jou mede-broer/suster wat van jou verskil, is ook Christus se slaaf & aan Hom verantwoordbaar (vv10-12). Gelowiges is nie in die eerste plek teenoor mekaar verantwoordbaar nie, maar teenoor die Here self. Christus alleen is Here oor almal se gewete, keuses & doen en late.

Daar is dus 4 goue reëls, gestaaf deur 3 goeie redes!

Nou gaan ons sien waarop alles uiteindelik neerkom. En dit is van deurslaggewende belang. Alles kom daarop neer dat elke kind vd Here tot die besef moet kom dat daar iets is wat groter/belangriker is as jou eie oortuigings. En dit is: jou mede broer/suster se geestelike welstand. Dis die uitklophou wat die Apostel in Rom 14 plant. Al is jy oortuig dat jy vry is om vleis wat aan afgode gewy is, te mag eet – gee daardie oortuiging/vryheid gewilliglik prys wanneer dit daartoe kan lei dat jou broer/suster – wat nog nie daardie insig het wat jy het nie – daardeur kan struikel. Stel jou mede gelowige se welstand voorop & gee jou vryhede gewilliglik prys.

Al is jy oortuig dat jy – as volgeling van Christus – alkoholiese drank mag drink, maar daar is kom ‘n situasie waar jy jou mede broer/suster kan aanstoot gee of kan laat struikel of selfs laat val, gee dan daardie vryheid gewilliglik prys. “Moenie wyn drink of enigiets doen wat jou broer kan laat struikel nie” (v 21). Die koninkryk van God is tog by verre meer as bloot net ‘n saak van eet & drink. Gehoorsaamheid aan die Here en hemelse vrede en blydskap oortref tog in totaliteit ons vryhede om dit/dat te mag doen & en ons oortuigings oor goed waaroor die Bybel nie duidelike uitsluitsel gee nie (v 17).

Vrede en blydskap ontvang jy wanneer jy jouself verloën, jouself prysgee, jou vryhede inperk t.w.v. jou mede-gelowige se welsyn. Die vrug van selfverloëning is altyd vrede & blydskap. Die resultaat van hardheid en selfgesentreerdheid is altyd onvrede & rusteloosheid & en kortsluitings in verhoudings. Dis wat gebeur wanneer Christene – wanneer dit kom by sake waaroor die Bybel nie duidelike leiding gee nie – hulle eie gewete die norm maak waaraan alle ander Christene moet voldoen. Jy sal nooit vrede hê wanneer jy op ‘n rigiede manier jou oortuigings handhaaf ten koste van mede-gelowiges se welsyn nie. Nooit nie.

Jy sal ook nie vrede hê wanneer jy iets doen/sê of aan iets meedoen – terwyl jy innerlik twyfel óf dit die regte ding is om te doen nie. Vers 23. Hierdie is ‘n geweldig belangrike beginsel. Vers 23 klink só: “Hy wat twyfel as hy eet (vleis wat aan afgode gewy is), is veroordeel (in sy gewete verontrus) omdat dit nie uit geloof is nie. En alles wat nie uit geloof is nie, is sonde.” In gewone boeretaal: As jy oor énigiets twyfel, los dit onmiddelik. Dan sal vrede en blydskap jou oorspoel en jy sal in jou gewete rus hê. Die manier waarop die Heilige Gees Sy kind in alledaagse dinge lei, is deur LEWE en VREDE te gee (Rom 8:9).

As Christene maar net hierdie apostoliese onderrig ter harte wil neem en dit toepas, sal dit soveel beter gaan in hulle lewens. Indien ons die beginsel van vers 23 toepas, sal ons redelik gou weet hoe die Here ons elke dag op tientalle maniere lei in allerlei situasies. Bly weg van alles wat twyfelagtig is. As jy enigsins onseker is of jy by iemand moet gaan kuier, bly dan by die huis. As jy onseker is of jy ‘n bepaalde TV program moet kyk, sit die TV af. Indien jy ‘n belangrike stap moet neem, maar daar is ‘n vlagie twyfel in jou gemoed, los dit uit. As jy nie seker is óf jy vir die bedelaar moet geld gee of nie, gee dan die geld. Indien jy twyfel of jy – binne ‘n bepaalde situasie – alkoholiese drank moet drink – los dit uit. Dit is beter om jouself te verloën, jou regte en vryhede prys te gee, jou mede-gelowige se heil eerste te stel – en vrede, blydskap en ‘n geruste gewete te hê – as om jousélf te handhaaf, maar die krag van die koninkryk kwyt te wees.

Is dit nie wonderlike apostoliese onderrig wat ons uit Rom 14 ontvang nie?

As dit oor Christelike vryheid gaan, dan sê die Christen: “Ek is vry in Christus om alles te doen wat in lyn is met die gees vd Skrif. Ek is aan niemand onderwerp nie.”

Wanneer dit oor Christelike liefde gaan, sê die Christen: “Ek is almal se dienaar. Ek is aan almal onderwerp.” (Luther).

In die balans tussen hierdie twee beginsels vind ons God se wil vir ons in daardie areas waar Christene met mekaar verskil.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)