Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 2

Romeine 1: 18-32: Sonde en verlorenheid


In die eerste boodskap (1:1-17) het ons gesien dat Romeine o.a. ‘n uiteensetting is van wát bedoel word met die woord “evangelieboodskap”. Blye Boodskap. Kern vd Bybel dus. Soos ‘n legkaart. Vv 1-17 was egter slegs die inleiding. Die éíntlike uiteensetting begin by v 18.

In die inleiding het ons gesien dat die evangelieboodskap die wonderlikste iets is wat op aarde bestaan – met die mees fantastiese boodskap: Dat – deur Jesus se offer – ‘n sondaar kan regkom met God omdat hy/sy reggestel is deur Christus. Elke mens wat in ‘n ontmoeting met Jesus was, loop oor van hierdie evangelie. Niks is vir so iemand belangriker nie. Deur geloofsvertroue op God se belofte, is die Here Jesus se verlossing in ontvangs geneem. En só lewe die mens wat in die regte verhouding met God gestel is, elke dag: met geloofsvertroue op Sy beloftes. Niks minder nie, niks meer nie (v17).

Maar nou kom die skok: Wat help dit om met gloed vir iemand te vertel dat hy/sy met God reggestel is deur Jesus se offer en dat hy/sy dus met God kán regkom indien daardie persoon nog nooit werklik grondiglik besef het hóé totaal verlore hy is nie! Watter mens wat dínk hy is gesond sal óóit dokter toe gaan? Alvorens ‘n mens regtig, in waarheid, by die Here Jesus uitkom, moet daar éérs sondebesef/verlorenheidsbesef wees. Jy moet eers ontdek hoe verlore jy is – selfs al is jy ‘n baie godsdienstige mens. Dis onmoontlik vir enige mens om te erken dat hy/sy onder God se toorn is (v18) indien die HGees dit nie bewerk nie.

Dis presies die roete wat die Apostel nou volg. ‘n Baie baie onaangename roete. Vanaf 1:18 – 3:20 toon hy met apostoliese gesag aan dat élke mens wat ooit gebore is, totaal hooploos verlore is- met geen hoop om ooit deur eie pogings/probeerslae/goeie werke gered te word nie. Paulus krap genadeloos alle vernis af. En hy toon aan wát agter al ons mooi vertoon lê. Agter ons vertoon/mooi persoonlikhede/goeie maniere/keurige taalgebruik – diep in die hart – skuil die allerverskriklikste opstand teen die Allerhoogste.

Waarom toon Paulus dit aan? Want diepgrondige sondebesef is noodsaaklik om gered te word. Hoeveel mense kom tot “bekering” sónder verlorenheidsbesef? Hulle kom na die Here toe asof hulle Hom ‘n guns bewys. Waar is die berou, die diepe besef van skuld en verlorenheid?

Kan ek u ‘n baie reguit vraag vra: Kan u terugverwys na ‘n tydstip in u lewe toe die Heilige Gees u oortuig het van u verlorenheid voor ‘n lewende Heilige God? Só diep oortuig het, dat u goeie godsdienstigheid u totaal begewe het voor Sy heilige aangesig? Het die Gees u al totaal ingebreek sodat daar van u eie ego niks oorgebly het nie. Het u al by Dr. Jesus uitgekom omdat ‘n diepe siels-ellende u na Hom gedryf het vir ‘n dringende afspraak?


Dit is presies waarvan die apostel praat. Hy skets u en my diepe sielenood. Weliswaar praat hy in 18-32 van die rou heidene, maar die geestelike beginsels is waar van alle mense. Van die rou heidene is dit waar dat hulle God se voetspore orals in die skepping kan sien – en nogtans soek hulle Hom nie, maar omhels die afgode. Paulus sê: hulle is sonder enige verskoning. Die Heilige Gees wys in hierdie verse aan ons dat élke mens in sy/haar gewete ‘n inskrywing vd lewende God het. Die skepping bevestig dit. Maar, wat maak die heidene (en elke mens van nature)? Hulle verruil die waarheid vir die leuen. Hulle beroof God van Sy eer & wend hulle tot afgode.

Die verskil tussen ons en die heidene is dat ons baie bevoorreg is bó hulle. Ons besit die evangelieboodskap. Ons sit met God se volle Waarheid in ons skote. Maar, wat doen ons almal van nature? Wat is die kern-kanker-sonde van élke mens uit Adam gebore? Wat is daardie boosaardige monster wat in ons elkeen se hart skuil en wat die toorn van God opwek? Paulus sê: Ons het ‘n ingebore neiging om die Waarheid vd Here weg te stoot en ons eie wil/kop te volg (v25). Die verlore mens is voortdurend besig met ‘n uitruilskema: Verruil die Waarheid vir goddeloosheid (v18). Verruil die heerlikheid van God vir alles wat sigbaar en tasbaar is (v23). Verruil die waarheid vir die leuen (v25).


Dit is die magtige stuk verblinding wat oor ons almal van nature lê. Ons reken ons is oulik. Ons reken op ons godsdienstigheid. Ons reken ons is slim. Maar in werklikheid is ons harte verduister en ons denkvermoë pure dwaasheid (vv21-22). Ten spyte van die ongelooflike voorreg om te kan grootword onder die geklank van die evangelieboodskap, wil ons
nie vir God toelaat om waarlik God te wees in ons lewe nie. Dit vra te veel. Die prys is te hoog. Maar, ons wil ook nie sonder godsdiens wees nie! “Niemand moet dink ek is nie ‘n Christen nie!” Daarom gee ek wel die Here ‘n plek, maar die eintlike god is/bly ekself.


Ek vra myself af: Was daar al ooit ‘n tyd in my lewe toe die Heilige Gees my oortuig het van mysélf? Was daar al tye van trane en geween? Het ek al ooit my plek in die beskuldigdebank ingeneem? Paulus sê in v 20: “NIEMAND het ‘n verskoning nie. Niemand sal redes kan aanvoer nie.”

Hierdie gedeelte sê vir ons so absoluut duidelik dat, indien die Gees se werk van sonde-oortuiging nie in jou hart plaasvind nie, dan begin jou lewe die vrugte van verlorenheid vertoon. Vanaf v 24 beskryf hy voorbeelde van hierdie vrugte wat opstand teen God in ons lewens produseer. Wanneer hy dit uitlig, wil hy nie daarmee sê dat ons álmal presies hierdie dinge doen nie, maar die potensiaal skuil in almal se binneste. Baie keer is dit ook iets wat net diep in die hart vertroetel word. Soos Jesus byvoorbeeld sê in Mat 5:28 > Net maar kýk na ‘n vrou om te begeer is alreeds volledige owerspel.

Baie interessant dat Paulus nou juis die sondes van seksuele aard eerste noem (soos ook in 1 Kor 6:10; Gal 5:19; Efes 5:5). Vir die Here is dit dus baie ernstige sake. Daarom kan ‘n mens die satan se aanslag in hierdie verband goed begryp. Ons weet hoe die media die heilige bedoeling van die Here met seksualiteit met aggressie dwarsboom en minag. Met soveel leuens en misleiding word ons arme jongmense vasgebind en verwoes. Indien ons net op 98% van jong mense (selfs laerskoolkinders) se Facebook kon loer, sou ons dit onmiddelik sien.

Die gesalfde Apostel praat in hierdie gedeelte oor twee sake: 1) Seksuele onreinheid oor die algemeen (v 24-25) en 2) homoseksualiteit in besonder (vv 26-27). Seksuele sonde van watter aard ookal word altyd in die Skrif in ‘n ernstige lig gesien. Vlgs v 32 gaan dit nie net oor die daadwerklike dóén nie, maar ook oor passiewe goedkeuring verleen – soos bv om dit vermaaklik te vind op TV, flieks, boeke, internet. En dis baie interessant: seksuele sondes is afgodery omdat die SKEPSEL ipv die SKEPPER gedien word (v25). Die Waarheid word vir leuens verruil. Die liggaam word onteer. Die drange vd hart gee die pas aan (v24). Die MENS word geeër en gedien. Die vlees, hartstog, begeerlikheid. Só het die Here dit nooit oorspronklik bedoel nie. Maar dis ‘n vrug van aggressiewe opstand teen God!

Die kwessie van homoseksualiteit (vv 26-27) is natuurlik deesdae ‘n groot aktuele saak. Oral in die media word dit opgehemel. Ons vergeet wat die rede was waarom die Here vuur op die stede Sodom en Gomorra laat reën het (Gen 19). Homoseksuele praktyke. Paulus se woorde in vv 26-27 is so duidelik dat dit moeilik misverstaan kan word. Hy praat spesifiek van mense wat nie belangstel om die Here te dien nie – en homoseksuele praktyke bedryf (v28). Hy sê: dis iets waaroor die toorn van God hang. Hy sê dit is wellus (v26), perversiteit (v27), skandelik (v26). Dis die vrug van verdraaide denke. Dis téén God se skeppingsorde. Dit gaan oor wat NATUURLIK is teenoor wat ONNATUURLIK is (vv26-27). Geen sprake in hierdie gedeelte dat homoseksualiteit iets normaal is nie. Natuurlik is daar bevryding in Jesus, maar dan moet ‘n mens dit eers noem soos God dit noem. Eers moet daar erkentlikheid/gebrokenheid wees en die begeerte om verlos te word.

Só kan ‘n mens bevry word van ál die ander dinge wat in vv 29-31 genoem word. Dinge wat so algemeen in ons lewens voorkom dat ons maar daarmee saamleef en daarmee vrede maak. Ons besef nie hoe dit ons lewens verduister nie:

Ongeregtigheid (nie rég wees), slegtheid, hebsug, gierigheid, gemeenheid, jaloesie, moord, aanmatigend, onverstandig, onbetroubaar, liefdeloosheid, hardvogtigheid, verwaandheid (hoe maklik skiet trots in ‘n mens se hart. Trots oor eiendom/geld/besittings/vooruitgang/afkoms/voorkoms, ongehoorsaamheid aan ouers (groot teken van satan se invloed in ‘n lewe: rebellie).


Kan u sien hoe lyk die vrug vanuit ‘n hart waar Jesus nie Koning is nie. Dis wat die Apostel in hierdie hele gedeelte doen. Hy toon aan watter plofbare potensiaal daar skuil in die hart van die onbekeerde mens buite om die redding in Jesus. Vers 32 so duidelik: Verdien die dood. Vers 18: God se toorn hang hieroor. Verterende vuur (Hebr 12:29). Dis vreeslik om te val in die hande van die lewende God (Hebr 10:31).

Let op: Hier staan nie dat die toorn van God “eendag” oor genoemde praktyke sal kom nie, maar NOU reeds. Nóú reeds word Sy toorn geopenbaar. Op watter manier? Nee, Hy reën nie vuur soos op Sodom nie. Verse 24, 26, 28: Hy gee jou oor aan jouself. Drie maal word dit gesê: Hy gee die mens oor, Hy gee die mens oor, Hy gee die mens oor… Wat ‘n ontsettende gedagte. Dat Gód jou oorgee aan dit wat jy verkies. Indien Hy jou oorgegee het aan die donker dier in jou hart, vreet daardie dier jou een of ander tyd op. Dan is jy geestelik so blind soos ‘n mol. Jy kan glad nie die Waarheid insien nie. Jou dwaling is vir jou die waarheid.

Sal die Here dit nie beskik dat ons vanoggend ‘n diepe indruk kan kry van die realiteit van die toorn van God, die geweldige erns van verlorenheid, die erns van sonde.

Natuurlik is dit noodsaaklik om hierdie gedeelte te verstaan teen die agtergrond van wat in vv 1-17 staan: God het verlossing bewerkstellig. Maar, die verlossing baat my nie, alvorens ek nie my toestand erken en besef nie. Was ú al ooit onder die soeklig van die diepe oortuiging wat die Heilige Gees bring?

Ten slotte wil ek net weer teruggaan na vv 26-27 en ‘n paar addisionele opmerkings maak oor die kwessie van homoseksualiteit aangesien dit so ‘n brandpunt was/is – veral binne die NG Kerk.

Dit is iets wat diep in die gemoedere van mense sit. Die koerante is lief om die NG Kerk te teken as ’n liefdelose monster wat geen deernis vir homoseksuele mense het nie. Die indruk word geskep dat die NG Kerk nie erns maak met die Bybel nie en dat sonde goedgepraat word. Dit is valse indrukke. Die waarheid is dat die NG Kerk probeer rekening hou met die uiters komplekse realiteite vd lewens van homoseksuele mense wat belydende lidmate vd kerk is.


Die hele debat gaan
nie oor homoseksualiteit as sodanig nie. Nêrens wil die kerk enige perverse, tipies wêreldse promisküe vorm van homoseksualiteit regverdig nie. Dit word (tot dusver) amptelik deur die NG Kerk afgewys o.g.v die Woord. Geen Sinode wil homoseksualiteit as sodanig uit die Bybel regverdig nie. Dit kán ook nie, want die Bybel wys dit baie duidelik áf. Byvoorbeeld gedeeltes soos: Romeine 1 , 1 Kor 6: 9-11, 1 Tim 1:10, Lev 18.

Waaroor die debat wél ten diepste gaan is die praktiese realiteit dát daar ernstige belydende Christene binne die kerk is – wat met ’n homoseksuele oriëntasie te kampe het. Hierdie mense bely dat hulle werklik die Here ken en die evangelie omhels. Hulle wil op geen manier permissief leef nie. Hulle wil met die Here leef binne die gemeente. Maar, hulle sit met hierdie worstelstryd van ’n homoseksuele oriëntasie waarvan hulle – ná baie gebed en terapie en stryd – net nie ontslae kan raak nie. Hulle herken nie hulself in (bv) Romeine 1 – waar Paulus praat van mense wat ongered is nie. Hulle herken nie hulleself in Rom 1 nie, want hulle ken die Here Jesus en hulle kies nie doelbewus om t.o.v. dieselfde geslag georiënteerd te wees nie. Hulle worstel met ’n oriëntasie waarteen hulle magteloos staan. Hoe gemaak met súlke mense? Hoe gemaak met jongmense wat in die midde van die kerk grootword en wat in die grootwordproses met groot angs & magteloosheid ontdek dat hulle “anders” is en dat hulle met niemand daaroor kan praat nie. Moet hulle toegelaat word om “huwelike” aan te gaan en hulle homoseksualiteit prakties te bedryf OF moet daar ’n ander weg gevolg word? Dít is die moeilike situasie waarmee die kerk te kampe het. Gee die Bybel híéroor riglyne of nie? Moet die kerk vir só ’n persoon sê: “Nee, jy is ’n valse Christen. Jou geloofsgetuienis is vals. Jy mag nie ’n lidmaat wees nie?” Indien die kerk dit doen, waarom doen hy dit nie met al die ander toegewyde lidmate wat maar net met ánder sondes en geneigdhede worstel nie? Verstaan u waarom die NG Kerk so traag is om hieroor definitiewe uitsprake te maak? Antwoord: Want dit is régtig nie so maklik nie.


Die groot vraag: is daar ’n uitweg uit hierdie verwarring? Ons groot fout: ons dink dat homoseksueel-georiënteerde
gelowiges in ’n ander kategorie tuishoort as enige ander gelowige wat met ander sondes en stryde worstel. Ons moet eerder raaksien dat die homoseksueel-georiënteerde gelowige met sý/háár innerlike stryd op presies dieselfde pad van heiligmaking is as enige ander ware gelowige.

Prakties beteken dit dat die effek & suigkrag vd sondeval voortdurend 2 goed met ons probeer doen: a) Wegtrek vd doel wat God met ons het sedert die skepping b) ons óns reg laat handhaaf téénoor God en nie buig onder Sý reg op ons nie. Dit is die voortgaande suigkrag vd sondeval. En wat is die Here daarenteen besig om met ons te doen? a) Hy herstel in ons lewens die doel wat Hy met ons gehad het by die skepping – Hy doen dit deur Jesus se kruis en opstanding b) Hy verander ons lewenstyl dat dit al meer pas by die nuwe aarde.

Die suigkrag vd sondeval wil altyd God se oorspronklike skeppingsdoel met die 2 geslagte onderstebo draai. God se doel was twee verskillende geslagte wat in die huwelik inmekaar pas soos ’n legkaart. In Christus maak God dit weer heel EN VERDIEP DIT. Hy verdiep dit sódanig dat die huwelik nou ’n afbeelding word van Christus se verhouding met Sy gemeente.

Plaas ons nou iets soos homoseksualiteit in die lig hiervan, dan is dit duidelik dat dit totaal in stryd is met God se skeppingsdoel EN met God se herstel in Christus. Daar kan geen twyfel wees dat dit die nagevolge is van die atoombom-effek wat die sondeval op ons uitoefen nie. Dit geld nie net vir die DAAD nie, maar óók vir die innerlike homoseksuele oriëntasie. Dit mis die doel van skepping én herskepping. Daarom is dit onmoontlik om te sê: “Die Here het my só gemaak”. Al voel dit ook so, is dit onmoontlik, want die Here maak geen mens in stryd met Sy eie bedoeling & in konflik met Sy eie Woord nie. Selfs die persoon wat van jongs af ontdek dat hy/sy “anders” is (dalk a.g.v genetiese prosesse), gaan gebuk onder die nagevolge vd sondeval.


Is dit nie ’n liefdelose standpunt nie? Nee, werklike liefde hóú juis ten alle koste by die Waarheid vd Woord. Werklike liefde beteken júís om aan iemand slegs DIT te bied wat die Woord hom/haar bied. En die Woord sluit nie ’n gelowige kind vd Here – wat met ’n homoseksuele oriëntasie worstel – uit die koninkryk/kerk uit nie, maar juis IN! Want God se genade in Jesus is ook vir daardie verkeerde oriëntasie genoeg. Op Golgota het die Here se bloed óók daardie oriëntasie weggewas. Presies net soos Christus se kruis & opstanding genoeg is vir ENIGE sondigheid waarmee ENIGE gelowige worstel. Daar is geen verskil tussen ’n sondige homoseksuele oriëntasie en ’n worstelstryd teen woede/humeur/vuil gedagtes/gierigheid waarteen die meeste gelowiges ’n worstelstryd het nie.
Voorbeeld: Denkbeeldige scenario: ’n Sekere getroude man – wat ’n kind vd Here is – het ’n lewenslange innerlike stryd teen innerlike begeertes na ’n ander vrou. Hy haat dit. Dit vereensaam hom, want hy kan met niemand daaroor praat nie. Hy leef dit ook geensins in die praktyk uit nie. Dit gaan nooit oor tot dade nie. As kind vd Here, sál dit ook nooit tot dade oorgaan nie. Maar, die innerlike stryd is daar. Hy het al 100e maal gevra of die Here hom nie totaal sal bevry nie, maar steeds is dit daar. Hy hanteer dit voor die aangesig vd Here en in die lig van die verlossing op die kruis. VRAAG: Hoe verskil dit van ’n ander persoon se worsteling met ’n homoseksuele oriëntasie? Omdat hy ’n gelowige is, leef hy dit nie uit nie. Maar, die innerlike worsteling is daar. Hy leef daarmee saam in die lig van die verlossing op die kruis.

U sien: Ons moenie gelowiges wat homoseksueel georiënteerd is in ’n ander kategorie plaas as enige ander gelowige nie. Hulle het nie ’n unieke, eiesoortige worsteling nie. Al voel hulle hul moet (met reg) ’n definitiewe keuse maak téén ’n homoseksuele lewenswyse. Dit is baie pynlik en laat jou voel of jy iets van jouself moet prysgee. Maar, hierdie pyn is nie vreemd nie. Dit is 100% in lyn met die proses van heiligmaking wat vir elke gelowige geld. Vir álle gelowiges gaan heiliging met PYN gepaard. Dit is presies wat Jesus in Mat 16 verwoord: Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor. Wie sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Selfverloëning, kruisdra, Jesus volg. Dit geld presies net so vir elke gelowige wat met ’n stryd sit teen wátse soort sondigheid ookal. Dit is ook in lyn met die innerlike tweestryd van ’n kind vd Here wat Paulus in Romeine 7 beskryf: “Ek weet dat die goeie nie in my woon nie. Ek wil wel die goeie doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar in my doen en late vind ek ’n ander wet wat stryd voer teen die wet van my gees. Ek ellendige mens, wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hý doen dit deur Jesus Christus ons Here.”


Dink net watter geweldige getuienis en roeping kan ’n kind vd Here – wat met ’n homoseksuele oriëntasie sit en dit doelbewus nie uitleef nie, maar dit gelowig hanteer in die lig vd verlossing vd kruis – binne ’n gemeente vervul! So ’n persoon kan ’n toonbeeld wees van iemand wat die HERE as vriend het. Paulus sê in 1 Kor 7 dat ’n ONgetroude díé voordeel het dat hy/sy lewe
onverdeeld aan die Here gewy is. So ’n persoon kan ’n beter vriendskapsband met God ontwikkel as iemand anders.

Daarby het só ’n gelowige ’n sendingroeping om IN die goddelose westerse kultuur, met sy openlike verset teen die Here en sy verafgoding van skeefgetrekte seksualiteit, ’n getuie te wees van die feit dat die Here leef en dat ’n mens met ’n homoseksuele oriëntasie in HOM vervulling kan vind, sónder om in die praktyk in sonde te leef.
Alhoewel die kerk – in die lig van die Bybel – nie homoseksuele dade en verhoudings wat die kenmerke van ’n huwelik het, kan goedkeur nie, maak die kerk sy hart met deernis & begrip oop vir die homoseksuele mens wat as kind vd Here in die weg van heiliging wil leef. Die kerk sien nie só ’n persoon in ’n ander lig as enige ander mens nie, maar help hom/haar om sy/haar roeping binne die gemeente ten volle uit te leef.

Die Here help ons almal.


Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)