Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 19

Romeine 13: 8-14 – Liefde vervul die Wet


‘n Koeël het twee dinge nodig om sy teiken te kan tref: 1) iets wat hom kan aandryf (d.i. plofstof) en 2) iets wat wat hom in ‘n rigting kan stuur (geweerloop). Die plofstof/buskryt wat ontbrand dryf die koeël en die geweerloop stuur hom in die regte rigting. Plofstof opsigself is gevaarlik en ‘n geweerloop opsigself beteken niks. Maar voeg die twee saam en die koeël tref die teiken. Hy moet
aangedryf word en gerig word.

‘n Volgeling van Christus is iemand wat verlos & gered is uit genade alleen op grond van die verlossing op Golgota sónder die onderhouding vd Wet. Maar, hierdie volgeling van Christus kan vergelyk word met ‘n koeël wat daagliks poog om ‘n spesifieke teiken te tref. Omdat daar ‘n innerlike verandering/transformasie plaasgevind het & die Persoon vd Heilige Gees kom inwoon het, is daar ‘n innerlike begeerte om ‘n teiken te tref. Die ongelowige wil ook ‘n teiken tref – sy eie belange en sy eie koninkrykie. Maar die teiken wat die Christen-koeël wil tref is om teenoor die Here dankbaarheid uit te straal vir Sy onverdiende guns deur alle ander mense ten goede te wil wees. Die daaglikse teiken is om geen mens op aarde te benadeel nie, maar te bevoordeel. Die plofstof wat hierdie koeël aandryf is liefde en die geweerloop wat die koeël rig, is die Wet vd Here.

Sien u die prentjie? Die koeël is die volgeling van Christus wat hartstogtelik daarop vertrou dat hy/sy op die kruis 100% verlos is sónder goeie werke. Die teiken wat die koeël wil tref is dankbaarheid teenoor God wat dáárin manifesteer dat die koeël MENSE wil dien/opbou/ten goede wil wees. Die plofstof wat die koeël dryf is liefde en die geweerloop wat hom rig is die Wet. Sonder die Wet is die liefde koersloos en sonder die liefde is die Wet nutteloos. Die twee loop sáám. Die Wet moet deur liefde gevul word en die liefde moet deur die Wet in die regte rigting gestuur word.

Dit is wat in Romeine 13: 8-14 staan. Totaal anders as wat vandag in baie kerke geleer word. Dis duidelik dat die Apostel Paulus die volgeling van Christus sien as iemand wat gebonde is aan die Here God se morele wet. Nie gered deur die wet nie (Romeine 1-11) maar nogtans is reg steeds reg en verkeerd is steeds verkeerd en die feit dat ons uit genade – sonder die wet – gered is, verander niks aan wat reg en verkeerd is nie! Die liefde wat in jou hart gebore word wanneer jy begin om die blye boodskap van jou redding op Golgota te glo, IS die vervulling vd Wet! Paulus sê dat die enigste manier waarop ‘n gelowige sy naaste kan liefhê – en dit openlik wýs – is deur die Here God se wet te gehoorsaam!

Liefde soek tog immers die hoogste goed by iemand anders. Liefde is nie selfgesentreerd en na binne gefokus nie. Liefde sê: “ek stel nie belang in egbreuk of owerspel nie, want ek het my vrou/man lief en ek het my naaste lief en wil nie sy vrou/dogter steel nie. Waar só ‘n liefde bestaan, word daar nie gemoor nie, nie gesteel nie en sit ek nie my hart op iemand anders se besittings nie. Maar, ek moenie probeer liefde opwek in my binneste om God tevrede te stel nie. Namate ek die kruisevangelie van my redding op Golgota glo en vertrou, word die liefde outomaties in my gebore en die Heilige Gees hou dit brandende.

In ‘n neutedop, wat sê Rom 13: 8-14 vir ons? Ons moet eerstens raaksien dat dit ‘n samevatting is van wat in Rom 12:1 – 13:7 (vorige 2 preke) staan. Ons het verlede Sondag gesien dat 12:1 – 13:7 ‘n eenheid is, waar die Apostel vir ons wys hoe die mens wat die verlossing as geskenk van die Here ontvang het, hom/haarself as dankoffer aan die Here gee. Vir so ‘n mens word dit duidelik wát die Here se wil is. Hierdie wil-van-God raak drie terreine te wete gemeentebetrokkenheid & persoonlike lewe & verhouding tot owerheid & gesag. En dit gaan alles oor dankbaarheid. Om uitdrukking te gee aan jou dankbaarheid teenoor die Here vir Sy gratis redding. Om jouself as dankoffer te gee. Hoe? Hfst 12:1 – 13:7 wys vir ons die drie bane waarlangs dankbaarheid moet loop: gemeentebetrokkenheid & persoonlike lewe & verhouding tot owerheid.

Wat 13: 8-14 nou sê is: die hartklop van al hierdie dinge, wat alles aandryf, is praktiese liefde – wat die beste vir ander mense (selfs vir vyande) soek. Dis die teiken waarop die koeël afstuur. Liefde. Die teenoorgestelde van selfsug. Kyk na die Here Jesus en jy sien dit. En onthou: Die Heilige Gees se bediening is om daagliks Jesus se lewe op die kind v God oor te plant.

Dit is wat ‘n heilige lewe is. Heiligheid is nie volmaaktheid nie. Heiligheid is vir die gees wat gesondheid vir die liggaam is. Jy sien praktiese heiligheid by ‘n volgeling vd Here Jesus waar daar liefde is. Heiligheid is nie ‘n rilling of trilling of woeste hartklop of atmosfeer of bewerasie of ‘n halfmeter-bó-die-grond-sweef of smeulende oë – dat gewone mense dink jy is “weird” en ompaaie om jou loop nie. Dis níé ‘n teken van heiligheid as mense jou vermy nie. Jesus het nooit ‘n “atmosfeer” rondom Hom gehad en mense weggestoot nie. Nee, Hy was betroubaar en vol omgee en het mense magneties aangetrek.

‘n Mens sien heiligheid waar daar liefde is. Waar jy vroue se waardigheid hoog ag, die huwelik as instelling eer, jou humeur beteuel, ander se eiendom respekteer, jou weerhou van leuens en skinder en die verspreiding van gerugte, dankbaar is in alle omstandighede, nie jaloers is op ander nie, jou skuld so gou moontlik terugbetaal. Die liefde weerhou nie van iemand anders dít wat syne/hare is nie. Daarom is dit verkeerd om met skuld te sit en dit nie so gou moontlik terug te betaal nie (v8). Met ander woorde: ‘n mens van integriteit en waarheid – vry van hoogmoed en selfgesentreerdheid, angstig om die Here te behaag. Dit is tog mos hoe liefde in die praktyk lyk en dit is die volle vervulling van die Wet. Liefde loop langs die pad wat die Wet aandui.

Maar daar is nog iets wat die liefde rig en dit is die besef dat alles nie vir altyd so sal bly soos dit tans is nie, maar dat daar ‘n dag van finale verlossing kom – dit is wanneer die Here Jesus kom en Nuwe Aarde tot stand kom. Elke dag wat die son sak, is dáárdie dag nóg ‘n treetjie nader. Die volgeling van Christus het altyd hierdie verwagting in sy/haar binneste. Die Dag vd Here kom. Daarom kan/wil die kind vd Here nie wees soos die onwedergebore mense wat nie besef dat alles net tydelik is nie. Die onwedergebore mens dink dit sal altyd nag bly. Hy weet nie van die dag wat gaan aanbreek nie. Daarom leef hy soos iemand wat in die nag leef, in duisternis. Dit drink en dit is uitspattig en dis ontug en onsedelik en rusies en jaloesie. Iemand wat in die nag leef en nie hoop het op die aanbreek van die Groot Dag nie, is die heeltyd daarop uit om sondige begeertes te bevredig. Die teenoorgestelde van liefde, want dit gaan heeltyd om die self, die ek, die eie begeertes, eie behoeftes. Koning Mens is al wat tel.

Maar die volgeling van Christus besit liefde. En sekerheid vd toekoms, want hy weet die dag gaan breek en die Koning gaan kom. Dus gaan hy nie saam met die mense wat dink dit gaan altyd nag bly nie. Hy berei hom voor vir die koms van die Koning. Dit kos opoffering en selfverloëning, maar hy druk deur. Want hy word aangevuur deur innerlike liefde. Hy wil lewe soos iemand wat in helder daglig is. In helder sonlig is die goed wat in die donker gedoen word net eenvoudig taboe. Nie meer ruimte daarvoor nie.

Wat daar letterlik in vers 14 staan, is dat die kind v God voortdurend moet aan- en uittrek. “Beklee julle met die Here Jesus Christus en moenie voortdurend dink hoe jy die begeerlikhede van die sondige natuur kan bevredig nie.” Trek uit die een en beklee jou met die ander. Trek die vuil hemp uit en trek die skone aan. Aanhoudend. Daagliks. Dit is ‘n doelbewuste keuse én ‘n proses. Wanneer jy allerlei sondighede in jou binneste vertroetel of selfs net toelaat om nes te skop, kan jy nie oorwinnend lewe nie. Een of ander tyd dra dit wrange vrug. Trek dit uit sodra jy van iets bewus is en beklee jou doelbewus met die Here Jesus Christus. Buig met ‘n wilsbesluit onder Sy heerskappy. Sê dit vir Hom in gebed, al moet jy dit 20 maal per dag doen. Dit is hoe ‘n mens – wat die aanbreek van die Groot Dag verwag – maak & doen.

Ons mag nooit die indruk kry dat ‘n Christen passief is nie. Omdat jy absoluut NIKS kan doen om in God se guns te kom (en daar te bly nie) beteken nie dat jy niks doen nie!!

Die feit dat ek uit genade leef en slegs uit genade by God aanvaarbaar is op grond van wat Jesus op die kruis gedoen het, beteken nie dat ek passief sit en wag vir die wederkoms nie. Nee, ‘n energie kom in my binneste los. Hierdie vrye genade van God bring ’n totale ontwrigting in my lewe tot stand. Hy maak my deel van ’n liefde wat ek nie kies nie/ nie wil hê nie, máár dan begin daardie liefde my stadig maar seker innerlik wring/buig/vorm – soveel so dat daar iets in my loskom waaroor ek geen beheer het nie. Daar kom binne in my gevoelens/ingesteldheid teenoor die Here los waaroor ek geen beheer het nie. Die liefde waarby Hy my ingesluit het — toe ek dit nie wou hê nie — skep in my nuwe gedagtes/gevoelens/gedrag/optrede.

En dan doen ek nie NIKS nie, maar BAIE. Ek is soos ‘n koeël wat ‘n teiken wil tref. Ek wil my naaste liefhê. Sy innerlike liefde dryf my na die teiken toe. Sy wet wys my watter roete my liefde moet loop. Sy liefde maak dat ek uitsien na die aanbreek van die Groot Dag. Daarom wil ek niks met die dinge vd duisternis te doen hê nie. Ek trek klere uit sodra ek agterkom dat dit vuil is. Ek trek die Here Jesus aan in die plek daarvan. Ek verwissel die heeltyd klere.

Om die Here Jesus aan te trek beteken om telkens van voor af tot rus te kom in die geloofsvertroue dat God my by alles wat Jesus in my plek gedoen het, ingesluit/ingebind het en dat ek daarom nooit veroordeel en gestraf sal word vir my sonde nie – dat ek heilig en regverdig en bevry is op die kruis van Golgota. In die plek van die vuil klere, vertrou ek weer op nuut op die nuwe klere wat God my aangetrek het toe Jesus in my plek gesterf het. ‘n Energie vul my lewe wanneer ek dit doen.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)