Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 18

Romeine 13: 1-7 – Landsburgers wat ánders is


Ons het verlede Sondag gesien wat die Here se basiese wil vir Sy kinders is – duidelik en helder uitgespel in hfst 12. Die mens wat die verlossing as geskenk van die Here ontvang het, géé hom/haarself as dankoffer aan die Here. Vir so ‘n mens word dit duidelik wát die Here se wil is. Hierdie wil-van-God raak twee terreine te wete gemeentebetrokkenheid & persoonlike lewe. En dit gaan alles oor dankbaarheid. Om uitdrukking te gee aan jou dankbaarheid teenoor die Here vir Sy gratis redding. Om jouself as dankoffer te gee. Hoe? Hfst 12 wys vir ons die twee bane waarlangs dankbaarheid moet loop: gemeentebetrokkenheid & persoonlike lewe.

Hfst 13 sluit naatloos by hfst 12 aan en wys vir ons ‘n derde area van dankbaarheid en dit gaan daaroor dat volgelinge vd Here Jesus binne ‘n bepaalde land onder ‘n bepaalde owerheid leef. Die 3 areas van dankbaarheid is dus: gemeente, persoonlik en as landsburger onder ‘n owerheid.

Is dit nie aangrypend dat die Heilige Gees – wat die éíntlik Skrywer van Romeine-brief is – Sy vinger juis op dít plaas nie? Wie van ons sou ooit so redeneer? Vir baie Christene kom hulle verhouding met die owerhede/regering/gesag-oor-die-algemeen nooit eens binne die visier wanneer dit gaan oor volgelingskap van Jesus nie. Kan dit nie in verband bring met “geestelikheid” nie.

Watter Christen bring – by wyse van voorbeeld – gehoorsaamheid aan die spoedgrens of die aansit van ‘n veiligheidsgordel of eerbied vir/gehoorsaamheid aan ouers/gesag-in-die-algemeen in verband met heiligmaking en ‘n lewe van dankbaarheid en dissipelskap van Christus? Tog is dit presies hoe die Gees dit in Rom 13 beskryf. Dít is die areas wat vir Hóm van primêre belang is en daarom moet ons ons dáárvolgens skik.

Ook wat betref ons verhouding tot die owerheid moet ‘n volgeling van Christus totaal anders wees as die onwedergebore mens. Wat in die eerste 7 verse van Rom 13 staan is werklik van kardinale belang. Dit mag wees dat ‘n paar van ons vanoggend dinge hoor wat ons nog nooit voorheen werklik besef/verstaan het nie. Laat ons dus luister na die Gees soos Hy deur die Skrif praat!

Met reg eis die regering/owerheid gehoorsaamheid & onderwerping van élke landsburger. Hoe kan dit? Omdat die gesag & mag wat die owerheid uitoefen, direk van God self kom (v 1). Daar bestaan geen absolute mag/gesag in die heelal buiten God s’n nie en niemand kan mag uitoefen buite-om Hom nie. Alle owerheid is deur God daar gestel. Wel, dis maklik om dit te glo van díé owerhede wat ons graag daar wil sien, maar die Apostel praat van owerhede wat werklik daar is! En onthou wie was die owerheid onder wie Paulus self gestaan het – die Romeinse owerheid waarvan sommige keisers later die Christene vir die leeus gevoer het!

Dus: die regering/staat/owerheid besit nie ‘n absolute gesag nie, maar ‘n gedelegeerde gesag, want die Een wat aan die owerheid sy gesag gee, is die lewende God. Daarom is dit ondenkbaar dat ‘n volgeling van Jesus nie gehoorsaam sal wees nie. Behalwe wanneer die owerheid iets eis wat in stryd is met die Woord van God. Wanneer die owerheid sy perk oorskry en dinge eis waarop hy nie geregtig is nie en in stryd is met God se Woord. Dan is dit die Christen se plig om dit op wettige wyse teen te staan en aan die Here méér gehoorsaam te wees. Ons moet aan die keiser gee wat hom toekom en aan God wat Hom toekom (Mark 12:17) maar wanneer die keiser sy perke oorskry moet die Christen God gehoorsaam eerder as die keiser (Hand 5:29). Soos Daniël gewoon aangehou bid het toe die koning dit verbied het (Dan 3) en die vroedvroue die Egiptiese koning se bevel om die seuntjies dood te maak verontagsaam het en Moses uiteindelik behoue gebly het (Eks 1:17). En die apostels net aanhou preek het toe hulle verbied is (Hand 4:19).

Wanneer die owerheid sélf in die plek van die lewende God inskuif, skep dit ‘n probleem vir ‘n volgeling van Christus. Of wanneer ‘n volkslied ‘n landsburger laat sing: “ons sal lewe, ons sal sterwe vir jou Suid-Afrika” dan wonder ‘n mens of die grens nie oorskry is nie en of dit nie aan verafgoding raak nie. Kan jou land werklik die hoogste lojaliteit eis? ‘n Lojaliteit wat slegs die Here toekom?

Paulus bespreek nie al hierdie sake nie, maar dit kom tog na vore direk uit dit wat hy sê. Nie baie lank nadat Paulus die brief geskryf het nie, het die Romeinse owerheid begin om die Christene swaar te vervolg. Die Keiser het aanbidding begin eis. Baie volgelinge van Jesus het eerder die marteldood gekies as om aan die regering se goddelose eise te voldoen. U sien, omdat die owerheid ‘n instelling van God is, het die Christene die owerheid in alles gehoorsaam, want om die owerheid se vereistes te dwarsboom sou beteken dat jy die Here self dwarsboom. Die Christene het hulle dus onderwerp. Daarom – wanneer die owerheid eise begin stel het wat in stryd was met die Woord van God – en die Christene dít teengestaan het, was hulle protes baie kragtig. Hulle marteldode het die samelewing geskud. Want almal het geweet hoe wetsgehoorsaam & onderdanig hulle eintlik is.

‘n Christen het dus geen reg om ongehoorsaam te wees aan legitieme vereistes wat die owerhede stel, maar waarvan jy nie hou of waarmee jy nie saamstem nie. Het ook nie die reg om ongehoorsaam te wees omdat jy nie van die regering as sulks hou of met hom verskil nie. Paulus het hom onderwerp aan die goddelose Romeinse regering! Want hy het hom aan die Hére onderwerp. Onderworpenheid aan die Here beteken onderworpenheid aan owerheid en gesag in alles wat nie in stryd is met die Here se wil en Woord nie. Nie omdat jy bang is vir moontlike slegte gevolge nie, maar as ‘n “gewetensaak” (v5) m.a.w. omdat jy aan die Here verantwoordelik is.

Wanneer jy willens en wetens die spoedgrens oorskry of jou belastingvorms te laat indien/knoei of papiere by die kar se venster uitgooi of jou kind sonder goeie rede uit die skool hou of ‘n pad oorsteek op ‘n verbode plek – weerstaan jy die Here self. Of kom ons stel dit positief: Die ándersheid van ‘n volgeling van Christus word juis in hierdie dinge gesien. En dit maak impak op die ongeredde mense wat dit waarneem – al word jy dan ook uitgelag of verkleineer. Wat belangrik is: die vroeë Christene was ánders omdat hulle geleef het om die Here te behaag – uit dankbaarheid vir die ewige lewe wat hulle gratis en verniet ontvang het deur dit wat op Golgota gebeur het.

Owerheid en regering volvoer sy goddelike opdrag as hy a) regeer vir die voordeel van die ménse en nie eie voordeel nie b) wanneer hy vrees wek by kwaaddoeners en c) gemoedsrus by diegene wat gehoorsaam is. Só is hy getrou aan die mandaat van God ontvang.

Wanneer ‘n regering ontrou raak aan sy goddelike mandaat is dit die Christene se plig om daaraan mee te werk dat so ‘n regering op wettige wyse verwyder word. Nooit op ‘n geweldadige manier nie. Nooit geweldadige protesoptogte en klippe gooi nie. Jesus sê: “as My koninkryk van hierdie wêreld was, sou my mense geveg het, maar nou is my koninkryk nie van die wêreld nie.” (Joh 18:36). Hoe weet ‘n mens wanneer ‘n owerheid ontrou is?

Wanneer die owerheid ontrou is aan sy goddelike mandaat, gebeur die volgende: a) gaan oor eie voordeel i.p.v. die mense se voordeel, b) pleks van ‘n dienskneg van God te wees, skuif die staat self in die plek van God in, c) diegene wat kwaad doen het al minder te vrees, d) eerlike & gehoorsame mense het al meer te vrees, e) gebruik die swaardmag verkeerd.

Die Here God het aan die owerheid ‘n swaardmag gegee (v 4 – letterlik in Grieks). Nie ‘n veertjie om wange te streel nie. Vers 4 in Grieks: “dra nie verniet die swaard nie” bedoelende: dra nie die swaard net vir die grap nie, maar het die gesag van die Here ontvang om dit te gebruik en die Hére se wraak op kwaaddoeners uit te oefen.

Die staat dra ‘n werklike Godgegewe swaard – en is veronderstel om dit te gebruik. Die simpatie mag nie by die kriminele wees nie. Dit geld ook van die doodstraf in uiterste gevalle. Die swaardmag impliseer dit. Onthou: Die Here God se verbond met die ménsdom, gesluit ná die vloed, is ná 3400 jaar steeds van krag en daarom is Genesis 9:6 nog van krag: “God het die mens gemaak as Sy verteenwoordiger – daarom wie ‘n mens se bloed vergiet, se bloed sal vergiet word.”

Menslike lewe is heilig. ‘n Groot probleem wat deur die nimmereindigende geweld, moord en doodslag op TV geskep word, is dat ons afgestomp word en nie meer besef hoe heilig menslike lewe is nie. Daarom ráák dit ons nie wanneer die bloed in ons samelewing vloei & die staat nie sy swaardmag gebruik soos die Here dit bedoel het nie. As dienaar van God, is die owerheid veronderstel om menslike lewe te eer en te beskerm.

Dit is interessant dat die Apostel nêrens suggereer dat ‘n Christen self kan besluit óf die owerheid in die ware sin van die woord ‘n dienaar van God is of nie – en daarvolgens besluit om belasting te betaal of nie te betaal nie! Die owerheid waaronder Paulus self geleef het – Romeinse keiser – was beslis nie ‘n goeie voorbeeld van dienaar-van-God-wees nie. Tog het Paulus belasting betaal en die Christene in Rome – aan wie hy die brief skryf – moes dieselfde doen (vv 6-7). Al was die owerheid van destyds in sekere opsigte meer ‘n antichris as iets anders, sê die Apostel in v 6: “hulle is besig om hulle opdrag uit te voer.” Dus is die belastinggeld, God se geld. Moenie sélf bepaal of dit die owerheid toekom of nie. Laat die oordeel aan die Here oor. Ons weet hoe Jesus self belastings betaal het – ook aan die heidense Romeinse regering (Mat 22:17-21) en ook tempelbelasting (Mat 17:24-27).

Die mense wat nie die Here Jesus se volgelinge is nie, húlle knoei hulle belastingvorms en húlle besluit wat die owerheid toekom en wat nie. Maar – en dis die hele punt in Romeine 12 – ‘n volgeling van Christus moet sigbaar ánders wees as die res van die mensdom. Daar is absoluut níks wat ‘n Christen op dieselfde manier doen as ‘n nie-Christen nie. Hoe kan dit anders? ‘n Christen streef immers daarna om tot Gods eer te leef. Terwyl die nie-Christen se wêreldtjie om homself draai. ‘n Volgeling van Jesus is dankbaar vir die groot verlossing wat hy as ‘n geskenk van God ontvang het – daarom is hy ‘n gehoorsame, wetsgehoorsame landsburger. En só oral waar hy onder gesag staan: in die huisgesin, op skool ens. Dis híér waar ‘n heilige lewe die beste gesien word en nie in ‘n spesiale “geestelike atmosfeer” nie.

Christene se grootste stryd is nie teen aardse owerhede nie. Ons grootste stryd is om heilig te leef en anders te wees/dink/redeneer/praat as die mensdom wat nie die Here ken nie. Gelukkig stry ons vanuit ‘n volbragte oorwinning – die kruisoorwinning. Omdat daar klaar oorwin is, oorwin ons nou. Al wat ons moet doen is om aan te hou glo dat daar klaar oorwin is.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)