Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 17

Romeine 12 – Om dankie te sê


Kyk of u die verskil tussen die volgende kan hoor: ‘n Sekere kind met die naam Pietie verdien R100-00 per maand sakgeld, maar sy pa eis van hom om self sy skoolgeld van R10000pj te betaal. Is dit enigsins billik? Sal dit ooit slaag? Sal hy óóit daarby uitkom? Hoe moedeloos sal Pietie nie word nie? Sy pa beveel hom om vanuit sy bankrotskap sy eie skoolgeld te betaal.

OF: Pietie se pa gaan maak vir Pietie ‘n bankrekening oop en deponeer R50000 daarop, wys die bankdepositostrokie vir Pietie en sê: “Betaal jou skoolgeld!” Wat sy pa eis, gee hy eers! Daarom kán Pietie dit met gemak doen.

Verwag God van die bankrotsondaar om volgens Sy wil te leef en hom/haar dan hopelik met die ewige lewe te beloon? Nee, die unieke boodskap van die Bybel is dat God éérs alles gee/deponeer en dán dít vra wat Hyself alreeds gegee het. Waar God letterlik sê: “Ék red jou gratis en verniet o.g.v wat Jesus op die kruis gedoen het en Ek sluit jou by daardie redding in en Ek skep in jou die geloof om op Jesus vir jou redding te vertrou. Ek deponeer die volle verlossing op jou rekening. Op grond daarvan verwag Ek: Leef volgens My wil. Lééf uit die verlossing wat Ek jou volmaak gegee het. Span jou daartoe in!” Alhoewel ‘n Christen uit genade gered is sónder werke, beteken dit nie dat ‘n Christen nie wérk nie! Nie passief nie. Die redding sónder werke, spoor die Christen juis aan tót werke!


‘n Mens moet dít verstaan om Romeinebrief te verstaan. In Romeine 12-16 sien ons vir Pietie – waar hy reëlings tref om sy skoolgeld VANUIT sy oorvol bankrekening te betaal. In Romeine 1-11 sien ons hoe sy pa eers alles in Pietie se rekening deponeer. Pietie kan dit byna nie glo nie, maar in sy hand het hy die bankdepositostrokie wat sy pa hom gegee het. Vanuit die sekerheid dat sy pa hom reeds ryk gemaak hét (Rom 1-11), span hy hom in om by die plek te kom waar hy die skoolgeld kan betaal (Rom 12-16). Dis iets totáál anders as hoe ons as mense van nature oor godsdiens sal dink nie waar nie? Dis uniek. Dis wonderlik. Dis goddelike evangelie.


Wat in Rom 12-16 staan, is dat ons dít wat ons alreeds besit, kragtig in besit moet neem!! Omdat ons tot
rus gekom het in wat God klaar gegee het, span ons ons in om daaruit te leef. Ons span ons kragtig in vanuit ‘n posisie van rus in dít wat God reeds op ons bankrekening inbetaal het. Die Christelike Geloof is NIE ‘n inspanning om van God iets te kry of Sy guns te wen of punte te verdien nie! Dit is ‘n inspanning wat met sekerheid RUS in dit wat God uit pure genade (om Xp ontwil) reeds gratis en verniet gegee het!

Romeine 1-11 beskryf watter deposito God gemaak het. Romeine 12-16 beskryf hoe ‘n mens hiervoor dankbaar mag wees. As jy dit nie só verstaan nie, sal jy Romeine 12-16 lees asof dit reëls is wat nagekom moet word (moets en moenies) om in God se goeie boekies te bly. Dan kon Rom 12-16 net sowel in die Koran gestaan het!

Wat ons in Romeine 12 sien, is dus ‘n tekening van hoe ‘n dankbare mens lyk. God se ontferming oor my is so geweldig (1-11). Deur Jesus se offer het Hy my as kind aangeneem. Nou géé ek mysélf aan Hom as dankoffer. Ek gee nie in die eerste plek dankoffers nie. Ek gee mysélf as dankoffer. Ek stel letterlik myself, asook my fisiese liggaam, tot Sy beskikking. Want ek is duur gekoop en behoort dus nie aan myself nie. Op geen manier wil ek wees/leef soos die deursnee mens nie. Ek wil heiliglik ánders wees. Ek wil dat Hy my gedagtewêreld meer & meer verander en transformeer. Want wat ek DINK, dit ís ek. Daar begin alles. Dus, as ek self ‘n dankoffer is, moet my gedagtes heel eerste vernuwe word. Soveel as wat ek kan, wil ek my blootstel aan die Woord en aan die dinge vd Gees – sodat Hy my innerlike al hoe meer kan verander en beheer.

Die vraag is egter hoe ek myself aan die Here as dankoffer kan gee om Hom te behaag as ek nie weet wat Hy verwag/wat Sy wil is nie. Die Apostel is baie duidelik daaroor dat – indien ons oorgegee is aan die Here en Hy ons denke verander – ons Sy wil sal kan onderskei (v 2). Ons sal kan weet wat Sy wil is. Wat ek persoonlik nooit voorheen besef het nie, is dat wát hierdie wil van God is, in die res vd hoofstuk asook die res van die brief uitgespel word. Die “wil van God” wat ‘n mens moet onderskei, is nie iets misties & vaag nie. Dis nie ‘n verborge geheimenis wat ek moet probeer ontdek deur 2 weke vas & gebed nie. Paulus het dit nie hier oor God se wil vir “met wie ek moet trou”, “watter beroep moet ek beoefen” en “watter huis ek moet koop” nie. Dit sekerlik ook. Dis glad nie onbelangrik nie. Want elke mens wat werklik ‘n volgeling van Jesus is, WIL erns maak om God se wil in álles te ken. ‘n Christen wat as dankoffer oorgegee is aan die Here en wie se denke die Here verander, sal ongetwyfel beter onderskei hoe die Here lei in spesifieke omstandighede.

Maar wat in Rom 12 belangrik is, is dat die basiese wil van God vir elke Christen – wat ‘n dankbaarheidslewe wil lewe – vanaf vers 3 uitgespel word. Dít is die basiese wil van God – wat twee areas van ons lewe raak: heel eerste ons betrokkenheid by ons gemeente (vv 3-8) en tweedens ons persoonlike lewe (vv 9- tot hfst 15). Ás jy jouself (ook jou liggaam) as ‘n dankoffer aan die Here gee en Hom toelaat om jou gedagtes te verander, sal jy duidelik insien dat Sy basiese wil vir jou lewe DIT is wat die Apostel vanaf vers 3 uitspel – rakende jou betrokkenheid by Sy kerk en die inkleding van jou persoonlike lewe.

NOMMER EEN: ‘n Dankbare Christen dien die liggaam van Christus. Verse 3-8. Die Here se basiese wil vir Sy verloste kinders is dat hulle die gawes wat Hy hulle gegee het, moet gebruik om die gemeente selfloos te dien. Wat in verse 3-8 staan is dat elke kind vd Here erns moet maak om uit te vind/ontdek waarmee hy/sy goed is, waarvoor hy/sy ‘n hart/passie het, en dit begin aanwend binne die Here se gemeente. Nie om punte in die hemel te verdien nie, maar uit dankbaarheid vir God se gratis redding (hfste 1-11).

Die kerk van Christus is/werk soos ‘n menslike liggaam. Die liggaam is ‘n eenheid, maar bestaan uit ‘n diversiteit van liggaamsdele wat almal van mekaar verskil en verskillende funksies het. ALMAL is nodig, anders is die liggaam gebreklik & disfunksioneel. Die linkervoet se kleintoontjie mag dalk dink dat hy oorbodig is of minder belangrik is, maar verloor hom, dan sien jy wat gebeur!

Presies só werk die Here se kerk. Dis Christus se liggaam. En elke gelowige is ‘n deeltjie vd liggaam. En élkeen het minstens één gawe vd Here ontvang. Daardie gawe moet aangewend word vir die welsyn van ánder. Dit is hoe die liggaam opgebou word. Alle gawes is belangrik en almal word benodig. Daarom: vind uit waarmee jy goed is en wat op jou hart lê en géé jouself vir diens aan ánder. Hoe wonderlik wat die Gees in ‘n mens kan vermag, want dit druis in teen die gryn vd mens, nie waar nie. Dis gewoon verkeerd om oorbeskeie te wees oor die gawes wat die Here ons gegee het. Skyn-nederigheid. Mens mag nie só beskeie wees oor jou gawes dat jy op die ou end passief is nie! Dan is daar iewers ‘n fout. As jy God se genade leer ken het, móét jy vasstel wat jou gawes is en dit aanwend tot opbou vd gemeente.

Dalk voel jy om God se Woord bekend te maak, Sy Woord met mense te deel. Doen dit dan! Hoe maklik is dit deesdae om dit te doen d.m.v. SMS, epos, Facebook. Of dalk is dit om te dien & diensbaar te wees. Of om onderrig te gee. Of ander te bemoedig. Dalk is jou gawe om te géé – wat ookal te gee (sonder bybedoelings). Of leiding gee (met toewyding). Dalk hulp verleen (blymoediglik).

Luiheid, eie-belang, selfsug mag nie binne die gemeente bestaan nie. Nie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie (v3). Dit is altyd die versoeking, nie waar nie? Dan wil ons ons gawes vir onsself en ons eie belang en gerief aanwend. Terwyl die Heilige Gees ons altyd wégbuig van onsself af en ons fokus op ánder se belange. Ek dink dat, indien ons die Here se verlossing ontdek en ons dankbaar word – sal daar nie ‘n tekort aan bedieninge & hulpverlening in die gemeente wees nie. As almal werklik deur Gods genade kan wákker word, sal dit ‘n miernes van bedrywigheid wees. Daar sal byvoorbeeld nie ‘n tekort wees aan mense om te bedien nie, terwyl ons tans net klein handjiesvol mense beskikbaar het.

NOMMER TWEE: ‘n Dankbare Christen se praktiese toewyding (vv 9-21). Klomp ingerygde kort sinnetjies. Profiel van ‘n dankbare Christen. Eintlik ‘n profiel van die Here Jesus self. Want onthou: hierdie dinge is vrug vd Heilige Gees. En die Heilige Gees plant Jésus se lewe oor op ons lewens. Ás die Heilige Gees Jésus se lewe op ‘n mens oorplant, hoe begin jou lewe prakties verander? Hier is ‘n tekening daarvan:

‘n Dankbare Christen se liefde vir ander sal opreg wees, nie aangeplak nie. En daar sál liefde wees! ‘n Dankbare Christen sal alles wat twyfelagtig en sleg is verwerp en vermy (ook TV programme). Sal vasklou aan wat goed is. ‘n Dankbare Christen sal hom glad nie skaam vir sy liefde vir wat goed & reg & suiwer is nie. ‘n Dankbare Christen sal hartlike liefde vir -spesifiek- medegelowiges. ‘n Besondere toegeneentheid teenoor mense wat die Here ken. Dit is net moontlik as jy meer van ander dink as van jouself. ‘n Dankbare Christen sal eerbied aan ander bewys, daarom is daar nooit stryd nie. ‘n Dankbare Christen sal nie verslap in toewyding nie. Sal geesdriftig bly. Sal die Here sien. ‘n Dankbare Christen sal hom verbly in die toekoms wat God beloof het en nie altyd pessimisties en negatief wees nie. ‘n Dankbare Christen sal vasstaan in verdrukking. Sal volhard in gebed – al bars die bom. ‘n Dankbare Christen sal medegelowiges help in nood. ‘n Dankbare Christen sal hom/haar toelê op gasvryheid. ‘n Dankbare Christen sal in staat wees om sy vervolgers te seën. Sal bly wees saam met die wat bly is en treur saam met die wat treur. Sal eensgesind wees. ‘n Dankbare Christen sal nie hooghartig wees nie. ‘n Dankbare Christen sal hom/haar skaar by nederiges. Sal gewone mense as vriende hê. Nie eiewys wees nie. Nie kwaad met kwaad vergeld nie. ‘n Dankbare Christen sal seën dié wat téén hom/haar is. Sover dit van jouself afhang, leef ‘n dankbare Christen in vrede met alle mense. En neem nie self wraak nie, maar laat dit oor aan die oordeel van God. ‘n Dankbare Christen sal gee vir sy vyand iets om te eet/drink. ‘n Dankbare Christen sal oorwin kwaad met goed en probeer om nie deur kwaad oorwin te word nie.

Is dit nie ‘n aangrypende tekening van presies wie/wat/hoe ons Here Jesus is nie? En ons is bevoorreg bó duisende dat die Almagtige Heilige Gees juis DIT in ons lewens oorplant. Laat ons ons ten volle aan Hom gee!

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)