Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 15

Romeine 11: 1-15 – Die groot misterie


Die woorde wat in die eerste 15 verse van Romeine 11 staan, is só diepsinnig dat dit byna onmoontlik is om in die prediking daaraan reg te laat geskied. Bolangs gelees klínk dit of dit hier oor die Jode gaan. Maar eintlik gaan dit 100% oor die lewende Gód! Dit gaan oor Sy misterieuse metode van handelinge met die mens. As ‘n mens hierdie 15 verse reg verstaan, behoort jou mond oop te hang van verwondering. En om te dink – as jy werklik ‘n volgeling van Jesus is – is jý totaal ingesluit by hierdie wonderbare God se werksaamhede! Dit gee soveel sin/betekenis/diepte aan jou lewe op aarde. Selfs ‘n sinnelose handeling soos om in stadsverkeer van punt A na punt B te bestuur, kry sin/betekenis – want – terwyl jy dit doen, is jy ingesluit in die lewende God se werksaamhede.

Kyk, in hfste 9-10 het die Apostel Paulus gesê dat die etniese volk Israel (Jode) – as volk – God se verlossing in Jesus Christus verwerp het en daarom het God húlle verwerp en vir Hom ‘n nuwe volk in die lewe geroep, die kerk, wat bestaan uit mense van alle nasies wat die Here Jesus as Verlosser leer ken het.

Die logiese vraag is of God nou die Joodse volk totaal verstoot het? Is dit klaarpraat met hulle? Sal elke individuele Jood vir ewig verlore gaan? Antwoord is 1000X NEE! Paulus self is die eerste & beste bewys daarvan dat individuele Jode inderdaad gered word. Wie was immers meer Jood as juis Paulus self? Gebore uit die stam van Benjamin, ‘n werklike afstammeling van Abraham (v 1). Die Here red inderdaad Jode en voeg hulle by Sy kerk, die liggaam van Christus, wat uit gelowiges van alle nasies bestaan.

En, wíé is die Jode wat die Here red? Beslis nie almal nie. Die praktyk bewys dit vandag nog. Verreweg die grootste % van die etniese Joodse volk verwerp nog steeds die verlossing in Christus. Die groot meerderheid is verhard – soos vv 8-10 sê – en God laat hulle regverdiglik in hulle selfgekose verharding bly.

Dus, wátter Jode word gered? Is dit diegene wat dit op een of ander manier waardig is? Is dit die godsdienstiges? Is dit dié wat nie heeltemal só verhard soos die ander nie? Nee, alle mense is ewe verhard & dood in sonde. Die Here kyk na absoluut géén meriete waaraan enigeen voldoen nie. Hy neem absoluut níks vd méns in ag nie. Net soos Hy ook nie enige meriete van enige Afrikaner of NG-lidmaat in ag neem nie.

Jode word gered nes enige ander mens wat gered word: slegs omdat so iemand uit vrye genade deur God verkies is tot saligheid – soos ons dit in ‘n vorige boodskap verduidelik het! Verse 5-6 maak dit duidelik. God se genadige verkiesing is die fontein/bron waaruit ‘n mens se geloof & bekering opkom. “Julle het My nie gekies nie, maar ek het julle gekies” (Joh 16:15).

In God se genadige verkiesing is daar ook ‘n groot groep Jode ingesluit. Daar is ‘n “volle getal/volheid” (v 12) van Jode wat moet inkom. Dit is nie die volle getal van alle Jode nie. Dit is die volle getal van wie uit genade verkies is tot saligheid. In die OT tyd was dit alreeds so. Toe Elia gedink het dat net hý alleen oorgebly het wat nog die Here dien, toe wys die Here hom op 7000 ander wat ook nie die knie voor Baäl gebuig het nie (v 4)! Binne die etniese volk, is daar ‘n oorblyfsel (v 5), ‘n groep wat werklik die Here ken & dien ómdat hulle deur Hom verkies is tot saligheid. Dit gaan dus op geen manier hoegenaamd glad nie oor die méns se goeie werke/ verdienste nie. Dit gaan oor God se vrye guns. Dit gaan oor Hom wat Sy oog op jou kry terwyl jy geen oog vir Hom het nie. Dit gaan oor Hom wat jou saak met Hom regmaak terwýl jy nog Sy vyand is (vgl 5:10). Dit gaan oor Hom wat onweerstaanbaar in jou hart werk en jou hardnekkige wil ombuig tot geloofsgehoorsaamheid en Sy Gees in jou laat kom en woon vir ewig. Só werk dit ook met elke Jood wat gered word. Dit gaan oor genade, nie menslike meriete nie (v 6). Die oomblik wanneer ‘n krieseltjie menslike meriete inkom, hou genade op om genade te wees!

Die feit dat die Joodse volk as vólk gestruikel het en God se verlossing in Christus verwerp het, beteken dus nié dat alle individuele Jode kop-vir-kop verwerp is nie. Net soos daar uitverkorenes binne alle volke is wat die Evangelieboodskap moet hoor en op God se tyd tot geloof & bekering sal kom, presies net so ook met die Jode.

Die werksmetode van die lewende God gaan net eenvoudig ons verstand te bowe. Dis so fasinerend om te sien hoe Hy werk. Kyk byvoorbeeld hierna: Die Jode se verharding/ongeloof & verwerping van Christus, was/is sonde teen God se wil, maar tóg het Hy juis dit gebruik om verlossing vir alle nasies te bring (v 11). Die einste sonde vd Jode, lei tot die verlossing van miljoene uit alle nasies. Juis die Jode se verwerping van Christus en gevolglik Sy kruisiging, het die deur oopgemaak vir redding vir die nasies EN vir die Jode self – want die Jode se verwerping van hulle Messias, het gely tot Sy kruisdood en dít het die versoening geword vir mense uit alle nasies! Die val vd Jode het dus die redding van die wêreld meegebring. En die redding van die nie-Jode (nasies) behoort die Jode jaloers te maak (v 11) en hulle te laat besef wat hulle misloop sodat baie van hulle ook tot redding sal kom. En as Jode gered word, hoe geseënd sal dít nie weer vir die wêreld wees nie (v 12)?! Soos ‘n opstanding uit die dood.

Jode wat die Here Jesus leer ken, sal ‘n geseënde invloed op die wêreld hê. Ons moet daarvoor bid en werk. Ons eerste sendingprioriteit behoort op die Jode gerig te wees. Weer eens is dit in Kaapstad so maklik omdat hier so ‘n groot konsentrasie van Jode is én die NG Kerk ‘n sendeling het wat vir jare reeds hier werksaam is in die persoon van Cecilia Burger. ‘n Gemeente behoort haar met alle mag te ondersteun en te bid vir nóg sendelinge wat op die Jode fokus. Ja, ons fokus vir gebed & werk moet altyd op die Moslems wees (na mý gevoel), maar eerste op die Jode. Elke nie-Joodse Christengelowige behoort ‘n uiters sagte plek vir Jode te hê – in die sin van ‘n passie dat hulle die Here Jesus mag leer ken.

U sien, nie-Joodse Christene het ‘n dure roeping om vir Jode om te gee, vir hulle te bid en mee te werk dat hulle die Evangelieboodskap hoor. In die land Israel is daar tans groot getalle Jode wat tot geloof in die Here Jesus kom. En, soos in die geval van Moslems wat tot bekering kom – word bekeerde Jode ook deur hul families en vriende verwerp en gehaat en verstoot en soms selfs doodgemaak. Ons is bewus van gebedspanne in Israel wat op daaglikse basis bid vir die redding van Jode. En die Here is besig om met groot krag daardie gebed te antwoord.

Maar, kan u die misterie sien van hoe God werk? Die Jode verwerp die Here Jesus en daarom verwerp God hulle as etniese volk. Tóg gebruik God dit in Sy soewereiniteit om genade aan miljoene uit baie nasies te betoon. Is dit nie asemrowend nie?

Maar dit beteken nie dat die Jode se verwerping van Christus vir God onverhoeds betrap het en dat Hy toe maar besluit het om dit ten goede te gebruik nie! Dan sou Sy alwetenheid en voorkennis in gedrang kom. Nee, hoe onbegryplik ookal, het Hý die Jode se verharding vooraf bestem en voorsien – en dit uiteindelik gebruik.

Soos in die geval van Josef. God gebruik die einste misdaad wat Josef se broers teen hom pleeg, om hulle van hongersnood te red pleks van om hulle tye verdelg. God red die misdadigers mét die misdaad wat hulle pleeg! Húlle het sleg bedoel met Josef, maar God het dit gevat en omgedraai en – deur Josef – koring vir nasies voorsien ten tye van droogte en hongersnood. Net so het God die einste moord waarmee die Jode van destyds EN ALMAL VAN ONS vir Jesus vermoor het, gebruik om ons te red pleks van te verdoem! Die gruwel wat ons Jesus aangedoen het, word ons tot ons redding aangewend!

En tog – alhoewel God die Jode se verharding soewerein bestem en bestuur het, het Hy dit nie só gedoen dat Hy die Jode se eie verantwoordelikheid uitgeskakel het nie. Hulle was nie marionette in Sy hand wat Hy met toutjies gemanipuleer het nie. Hulle verharding teen Christus was hulle eie skuld en verkeerde keuse.

Soos in die geval van Judas. Dink wat het Jesus gesê: “Die Seun vd Mens móét verraai word, maar weë die man deur wie Hy verraai word.” Hoor u die misterie? In God se Raad móés daar ‘n Judas wees. In God se Raad móés Jesus verraai word. Tog was Judas ‘n vrye agent. Sy verraad was te wyte aan sy eie korrupte keuse, gierigheid & sonde. Maar op ‘n misterieuse manier pas sy sonde & korruptheid in by God se soewereine plan en bedoeling. God het Judas se sonde geïnkorporeer by Sý plan sónder dat Judas net ‘n marionet aan ‘n toutjie was – hy was ten volle skuldig en verantwoordelik vir sy keuse. Hoe dit inmekaarsteek, weet ons nie. Dis ‘n misterie en ‘n wonder. Ons kan net aanbid wanneer ons dit hoor.

Om hierdie dinge te weet, help ons in ons eie lewens.

Eerstens kan ons weet dat die Here God weet wat Hy doen wanneer Hy die geskiedenis vd wêreld bestier. Baie angstigheid & pessimisme val van ons af wanneer ons besef hoe soewerein Hy op misterieuse wyse die gang vd wêreld en ons lewens in Sy hand hou. Tog het ons die verantwoordelikheid om te doen wat ons hand vind om te doen. Ons sit nie agteroor en laat Gods water oor Gods akker loop nie. God se soewereiniteit en ons verantwoordelikheid sluit op die een of ander manier bymekaar aan – al verstaan ons nie hoe dit werk nie. Tog help dit ons om nie passief te raak nie en ook nie angsvallig & pessimisties nie. As ons aan die Here behoort, weet ons dat ons ingesluit is by Sy wonderbaarlike handelinge. Dit gee sin & waarde aan ons lewens.

Tweedens kan ons weet dat ons ewige heil en saligheid stewig geanker is in die Here se keuse vir ons en nie ons keuse vir Hom nie. Dit is ‘n waarheid wat baie sterk in Romeine 9-11 na vore kom. Ágter ons keuse vir Jesus, is Sy keuse vir ons en daardie keuse het Hy voor die skepping reeds gemaak. Ons keuse/geloofsvertroue skarnier aan die uitverkiesing. Hy kon letterlik nie wag tot by jou geboorte om jou lief te hê nie. Toe kies Hy jou voor die skepping reeds (Efes 1). En by jou doop het Hy letterlik Sy hand op papier gesit om jou swart op wit dáárvan te verseker. Op grond dáárvan kom jy tot bekering en oorgawe aan Hom. Maar nooit staan jou saligheid geanker op jou oorgawe nie. Dit staan geanker op Gód se genade. En die sekerheid hiervan maak jou nie sorgeloos en laks nie, maar meer en meer aktief en toegewyd. God se genade sluit ons oorgawe ín, nie uit nie. Maar Sy genade is altyd eerste, nie ons oorgawe nie! Wat ‘n onbeskryflike sin/waarde/betekenis/vastigheid gee die besef van hierdie waarhede nie aan ons lewens nie.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)