Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 13

Romeine 9: 1-29 – Gered uit God se keuse


Dieselfde man wat met oortuiging kon sê dat ‘n Christen méér as ‘n oorwinnaar is en dat niks in die skepping ‘n Christen kan skei van Gods liefde nie (einde hfst 8) – dieselfde man sê in dieselfde asem dat hy verswelg word deur ‘n innerlike hartseer oor mense rondom hom wat verlore is en nie die Here Jesus ken nie. Hy sê sy gewete getuig van só ‘n hartseer. En sy gewete word deur die Heilige Gees gelei. Tussen hakies: ‘n Christen se gewete en die Heilige Gees is dus nie sinoniem nie. In die geval van ‘n oorgegewe Christen, gebruik die Gees egter die gewete. Nogtans is die gewete nie perfek/foutloos nie – dit moet altyd aan die Skrif getoets word. Dit net tussen hakies…

Paulus sê dat – te midde van al die seëninge & oorwinning wat hy in hfst 8 bespreek het, daar in sy hart ‘n groot verdriet is oor verlore mense wat sonder Jesus leef & sterf. Met spesifieke verwysing na die Jode – sy volksgenote – wat al die eeue bevoordeel was bó ander volke. Húlle was die mense aan wie God Sy beloftes toegesê het, met wie Hy ‘n verbond gehad het, by wie Hy teenwoordig was in die Shekinah (Sy heerlike verskyning in die allerheiligste vd tempel), hulle uit wie die Verlosser as mens gebore is – Jesus, wat self God is en bo alles verhewe is (v 5). Terloops: Rom 9:5 is ‘n duidelike bewys dat Jesus mens, sowel as God is – in een Persoon verenig. En om die dink dat die Jode – as nasie – Hom gaan verwerp het. Talle individuele Jode het nie, maar die NASIE het wel. Dit breek die Apostel se hart.

Hierdie hartseer in Paulus se hart was só erg dat hy soms gewens het om sélf eerder verlore & afgesny van Christus te kon wees, ás dit maar tot die Jode se redding kon lei. Tussen hakies: hierdie smart in Paulus se hart is ‘n goeie aanduiding dat hy NIE die verwagting gehad het dat die hele volk Israel by die voleinding tot bekering sal kom – soos dit in hfst 11 klínk hy sê nie. Indien dít sy verwagting was, sou sy smart oor Israel se verharding hier in hfst 9 ‘n klug wees. Waarom sou hy wens om sélf eerder verlore te gaan in die Jode se plek, indien hy geweet het dat die hele Israel wél eendag gered sal word?!

Baie Christene maak vandag nog ‘n groot ophef van die fisiese etniese Joodse nasie asof hulle steeds Gods volk is & by die wederkoms almal gered sal word en dan vergeet hulle dat die geestelike nageslag van Abraham – almal wat in die Here Jesus verlossing gevind het, Jode sowel as nie-Jode – die éíntlike volk van God is waarna die hele OT vooruitgewys het (Galas 6:16).

Tog is daar iets meer dieperliggend wat vir Paulus pla en wat sy hartseer groter maak. En dit is: werp die volk Israel se verwerping van Christus & hulle verharding teen God se verlossing nie dalk ‘n skadu op God self nie? ‘n Skadu oor Sy trou aan Sy beloftes? Het Hy beloftes gemaak en dit toe weer verbreek? Het Hý nie dalk misluk nie? En as die toestand vd Jode ‘n refleksie op God self werp, sal dit nie dalk ‘n dik streep trek deur alles wat hy in die vorige 8 hoofstukke geskryf het nie?? Hoe kan die magtige Evangelieboodskap – wat in hfste 1-8 beskryf word – van harte vertrou word indien God nie aan Sy beloftewoord aan die volk Israel getrou bly nie? Hoe moet ‘n mens dit alles verstaan? Hoe moet ‘n mens dit verstaan dat die volk Israel vir eeue lank omgewe kon wees met God se beloftes en seën, maar dan – wanneer die beloftes vervul word in die Here Jesus – verwerp hulle dit? Het God Sy beloftes verbreek?

Die antwoord is eenvoudig: nee, God se beloftes staan rotsvas, want die “Israel” vir wie die beloftes al die tyd bedoel was, was nie die etniese volk Israel nie, maar die NUWE Israel (Gal 6:16) wat bestaan uit Jode EN nie-Jode van alle nasies wat verlossing in Christus vind = die Here se NT-kerk! Die beloftes was al die tyd nie bedoel vir die fisiese nasie/volk Israel nie! Die fisiese volk Israel is nie gelyk aan die nuwe Israel nie. Nie almal wat fisies afstam van Israel is werklik ISRAEL nie (v6). Ons mag nie die etniese volk Israel verwar met die nuwe Israel aan wie God Sy beloftes toegesê het nie! Dit is die sleutel wat die betekenis van Rom 9-11 ontsluit. Die werklike nasate van Abraham is níé sy fisiese nageslag nie (sien hfst 4), maar ALMAL uit ALLE NASIES wat hulle vertroue geplaas het op God se belofte van verlossing in Jesus Christus! Die nuwe Israel is die geestelike Israel wat verlossing in Jesus gevind het – dit is die wêreldwye liggaam van Christus (Gal 6:16). Natuurlik is baie individuele Jode daarby ingesluit, maar AS NASIE, verwerp die Joodse volk die Verlosser Jesus Christus en staan daarom buite God se verlossing. God se beloftes in die OT was egter al die tyd vir die geestelike Israel bedoel en nie vir die fisiese nasie Israel nie. Binne in die OT het profete soos Hosea & Jesaja reeds voorspel dat God se éíntlik volk sal bestaan uit gelowiges van alle nasies. Sien vv 25-29. Hosea het geprofeteer dat God die erfenis sal wegneem van die etniese volk Israel en dit aan mense buite daardie kring sal gee. Jesaja het weer voorsê dat die Here uit genade ‘n oorblyfsel sal laat oorbly. Daarom werp die fisiese Joodse nasie se verharding teen Christus absoluut geen skadu op God of Sy beloftes nie!

Wanneer ‘n mens die OT lees, sien jy hoe God vrymagtig en soewerein onderskeide tref binne Abraham se fisiese nageslag. Nie ál Abraham se kinders was deel van die “belofte-lyn” nie. Slegs Isak. Net omdat God so besluit het. En uit Isak se kinders, slegs Jakob – nie Esau nie. Dit was nie natuurlike geboorte wat die mense outomaties deelgemaak het van Gods huisgesin nie. Dit was God se vrymagtige verkiesing. Dis die mense wat deur God se belofte gebore is – soos Isak.

Wie was die ware gelowiges in die OT-tyd? Dit was almal wat God uitverkies het en wie Hý tot geloofsvertroue-op-Sy-belofte-van-verlossing-in-die-beloofde-Messias laat kom het. Niemand kon ‘n greintjie eie eer toe-eien nie. Absoluut álles was uit God. Alles. Dit was Sy vrye welbehae om uit die ganse fisiese nageslag van Abraham – wat almal ewe verlore in sonde was – díégene tot geloofsvertroue te laat kom, wie Hy wou! Hy het selfs die bose Farao se verharding gebruik om daardeur Sy krag te toon.

Dit beteken nie dat God enigsins onregverdig is teenoor enigiemand nie. Want onthou: Hy is niks aan niemand verskuldig nie en die ganse nageslag van Abraham was – as nageslag van Adam – willens en wetens in rebellie teen Hom. Wat Hy aan hulle verskuldig was, was om almal te laat begaan op die hellevaart wat hulle self gekies het. Maar tog doen Hy dit nie. Hy trek ‘n groot klomp nasate van Abraham na Homself toe – deur die werking van Sy Gees en die krag van Sy belofte-van-redding – deur hulle te laat vertrou op Sy belofte van verlossing in Jesus Christus. Híérdie klompie Jode, was die wáre Jode, die ware nageslag van Abraham! Binne die groot sirkel van die etniese volk, was hierdie klein geredde “oorblyfsel” teenwoordig. En hulle dáárwees, was slegs te danke aan God se genade, Sy verkiesing. Nie hulle keuse nie, maar Sý keuse wat hulle keuse tot gevolg gehad het. Duideliker as wat Paulus dit in Romeine 9 sê, kan niemand dit sê nie!

Die hele argument wat die Apostel in 9:1-29 aanvoer, is dat God 100% op die troon is en dat Hy alléén daar sit en dat Hy ten volle getrou bly aan Sy beloftewoord – ten spyte van die etniese Joodse nasie se ongeloof. Hy is nie net op die troon nie, maar Hy is soewerein – dit beteken: Hy maak wat Hy wil en hoef aan niemand rekenskap te gee van wat Hy doen nie. Soos ‘n pottebakker uit klei kan maak wat hy wil.

Maar, dit wat vir God dryf om soewerein op te tree, is Sy onbeskryflike goedheid en guns en liefde. Hy is nie soos ‘n koue hartelose robot wat willekeurig optree nie. O nee, Sy hart klop warm en is gevul met goedheid en guns.

Dink net hoe onbeskryflik goed is die Here God om nie die totale mensdom te laat voortgaan/bly op die pad na die verderf wat die mensdom self gekies het nie! Maar dat Hy bereid is om ‘n groot gedeelte te red – redding wat Hy aan niemand verskuldig is nie!

Onthou: die mensdom (élke mens – nie net Abraham se nasate nie!) het willens en wetens gekies om teen God te rebelleer, die eie-ek te dien, en die ewige dood as eindbestemming te wil hê. Die mens is nie ‘n arme slagoffer van sonde – soos ‘n drenkeling – wat gered móét word – nie. Die mens is ‘n selfgekose rebel en opstandeling. ELKE MENS. Volgens Efes 2:1-2 volg ELKE mens die vors vd onsigbare geestelike magte van ongehoorsaamheid en ELKE mens is 100% morsdood in sonde. Slegs as gevolg van die sondige NATUUR wat elke mens het, verdien elke mens om deur God gestraf te word (Efes 2:3). Daar is nie eens ‘n manier hoe so ‘n geestelik-dooie mens ‘n vrye wil kan hê om die Here te kies nie. Wat elke mens van nature wél kies, is téén die Here & Sy koninkryk. Kies, kan die mens beslis kies – maar dis altyd téén die Koning!

Wat is die Here aan só ‘n mensdom verskuldig ten einde absoluut regverdig te wees? Net een ding: om hom te laat begaan op sy selfgekose pad – dis al. Gód kies nie om enigiemand verlore te laat gaan nie. Hy bestem (predestineer) niemand vir die verderf nie. Hy het niemand vir die hel geskep en bestem nie. Hy het nie die mensdom se name in ‘n hoed gegooi en willekeuriglik sommige name vir die hel en sommige name vir die hemel getrek nie! Dit is (in Adam) die mensdom se eie keuse en skuld om verlore te gaan. Die mensdom het homself vir die verderf bestem (gepredestineer) en is só totaal verdorwe dat absoluut niemand uit eie wilskrag gered kán word & wíl word nie. Die ergste ding wat die Here God ‘n verlore mens kan aandoen is om hom/haar in die hemel te laat ontwaak ná die dood!! Hoe ontuis sal ‘n verlore mens dáár wees. Indien ‘n mens ontuis voel in ‘n geestelike byeenkoms soos ‘n gebedsgeleentheid, hoe ontuis sal jy nie in die hemel wees nie! God skuld regtig aan niemand die saligheid nie.

Maar toe kom God se verbysterende goedheid in aksie. Hy besluit om nie álmal te laat begaan op die pad wat almal gekies het nie (soos wat Hy regverdiglik moes doen), maar om ‘n hemelvol mense te red. Voor die grondlegging vd wêreld (Efes 1), kies Hy om ‘n geweldige groot hoeveelheid mense – uit alle nasies – te stuit op hulle selfgekose hellevaart en Hy kies hulle op hulle naam en – tydens hul aardse lewe – roep Hy hulle en verander hulle binneste en Hy maak hulle verknegte wil vry. Hy laat hulle hulle verlorenheid & sonde sien & verstaan. Hy werk ‘n verlange na verlossing in hulle harte. Hy laat hulle omdraai na die Here Jesus toe. In hfst 8: 29-30 het ons reeds gesien: die wat Hy gekies het, het Hy geroep en die wat Hy geroep het, het Hy vrygespreek.

Mense wat verlore gaan, gaan verlore uit eie keuse (en nie omdat God hulle vir die verderf bestem het nie). Mense wat gered word, word gered op grond van God se vrye guns alleen (en nie omdat hulle so oulik is om met hulle gewaande vrye wil vir Jesus te kon kies nie). Klink soos ‘n paradoks. En laasgenoemde mense – uit alle nasies – vorm die EINTLIKE Israel, die nuwe Israel, die geestelike Israel, vir wie Gods beloftes nog steeds absoluut geldig is.

Sien u die geweldige hoë sig wat die Apostel op die lewende God het! Net Hy is op die troon. En Hy is 5000% soewerein en vrymagtig. Hy hoef aan niemand rekenskap te gee vir wat Hy doen nie. Hy is teenoor niemand onregverdig nie. Indien Hy iemand wat willens en wetens teen Hom in opstand is en die verderf kies (soos álle mense van nature doen) sou verbygaan/laat begaan/bly – doen Hy verseker nie so iemand enige onreg nie!

Indien Hy egter sou besluit om so iemand te stuit in sy hellevaart, is dit die grootste genade denkbaar. U sien, Hy is so oneindig goed dat Hy voor die skepping (Efes 1), uit ‘n ganse mensdom van piepklein mensies – wat doelbewus teen Hom gedraai het – ‘n hemelvol verlore mense uitverkies het en roep en geloofsbekering gee en red en beslis op die nuwe aarde sal bring – sónder dat Hy enigsins vooraf enige meriete van enigiemand in ag geneem het nie. Sy genade berus slegs op Sy eie vrye welbehae.

‘n Mens wat ‘n kind van God is, en hierdie woorde hoor, kan nie anders as om in verwondering voor die Here neer te val nie. Sprakelose verwondering en aanbidding. Dat Hy MY raakgesien het. Indien Hý my nie gekies het nie, sou ek Hom tot in ewigheid nie gekies het nie. My saligheid is ten volle aan Hom te danke. En my saligheid is in veilige hande. Ek mag tot rus kom. Indien my saligheid dáárin geanker is dat Hy my eerste liefgehad het en besluit het om my weg te ruk van die breë pad waarop die hele mensdom is – dan kan ek mos regtig volkome sekerheid hê en Hom ten volle vertrou! Ek kan tot rus kom. ‘n Váder het my gevind en sal my nie weer laat los nie. Halleluja!

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)