Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

ROMEINE – REEKS NO 10

Romeine 7: 7-25: Elke Christen se worstelstryd


Eenmaal was daar ‘n ongetroude man wat besluit het om ‘n huishoudster in diens te neem. Ná ‘n tyd was dit vir hom duidelik dat sy nie presies verstaan wat hy van haar verwag nie. Hy skryf toe ‘n lysie reëls en plak dit met ‘n magneet teen die yskas vas: “Etes word bedien om 8vm, 1nm, 6nm; ná elke maaltyd word die skottelgoed onmiddelik opgewas; geen teeblare mag in die wasbak afgespoel word nie; beddegoed moet een maal per week gewas word….”

Toe sy die reëls sien, was sy redelik opstandig. “Wie dink hy is hy om my soos ‘n kind te behandel en vir my te sê wat ek mag en nie mag nie…” Sy besluit egter om dit te gehoorsaam – want sy kon nie eintlik ánders nie, sy wou graag haar weeklikse loon hê. Tog vind sy dat, hoe meer sy kies om te gehoorsaam, hoe meer groei die opstandigheid in haar hart.

Toe gebeur iets dramaties. ‘n Liefdesverhouding begin tussen die man en die huishoudster ontwikkel en op die ou end is hulle getroud. Nou verander sake totaal. Die vrou is totaal verlief en sy voel sy kan nie genoeg vir haar man doen nie. Natuurlik haal hy ook die lysie reëls van die yskas af. Sy gee nie om nie, want al daardie dinge doen sy in elk geval met vreugde en plesier. Sy het só lief geword vir die man, dat sy nou alles wíl doen.

Daar is ‘n groot verskil tussen hoe dit wás en hoe dit nou is. Vroeër was sy sy huishoudster. Nou is sy sy eggenote. Sy is nou totaal ánders verbind aan die man wat die reëls gee as wat sy voorheen was! Sy is inniglik & persoonlik verbind. Sy verwag nie meer ‘n weeklikse/maandelikse vergoeding nie.

Romeine 7: 7-13 gee ‘n beskrywing van die vrou se ondervinding as huishoudster. Die oomblik toe die man die reëls teen die yskas vassit, gebeur daar 2 dinge met hierdie vrou: 1) Sy besef nou hoe ver sy te kort skiet aan die man se verwagtinge. Sy’t nooit besef dat sy sóveel misluk nie. 2) Sy’t nooit voorheen eers daaraan gedink om teeblare in die opwasbak af te spoel nie. Nou: as niemand kyk nie, dan spoel sy dit gou-gou af. Sy doen nou ‘n verkeerde ding wat sy voorheen nooit geweet het bestaan nie – net omdat daar nou ‘n reël teen die yskas staan.

Die 2 gevolge van die lysie teen die yskas is dus: 1) Dit wys hoe ‘n mislukking sy is en 2) dit wek by haar ‘n begeerte om juis die verkeerde goed te doen.

Wie se skuld is dit alles? Die voorskrifte teen die yskas se skuld? Nee. Die man se skuld? Nee. Net haar eie skuld. Haar eie hart – dís die probleem.

Hierdie huishoudster se ondervinding was alle navolgers van Christus se ondervinding vóór hul bekering (7: 7-13). Jy voel die Bybel is geneig om jou te wil beskuldig en veroordeel. Jy kyk na die Bybel (of die Wet) soos ‘n lysie reëls teen die yskas en jy besef net hoe ver jy tekort skiet, hoe ver jy van die Here is en hoe verwese jy is.

En, eienaardig genoeg, maak die Here se Wet/wil dat jy al hoe meer wil sondig. Dis asof die Wet sonde opwek. Alhoewel daar absoluut niks verkeerd is met die Wet nie. God se hartklop is heilig/reg/goed en bedoel om léwe te gee. Die fout lê in onsself. Binne in ons is ‘n afvallige monster wat die heilige wil van God vat en die dood in ons werk.

Maar let mooi hierop: Verse 7-13 is alles in die verlede tyd geskryf. Vir die weergebore mens is dit vir ewig verby. Want die huishoudster het intussen in ‘n eggenote verander. Sy het die man se vrou geword.

Verse 14-25 beskryf die vrou as eggenote. Alles is nou in die teenwoordige tyd geskryf. Hier praat die Apostel dus van die kind vd Here se hier-en-nou belewenis. Die huishoudster het die man se vrou geword. Liefde heers nou. Daar is nou ‘n persoonlike verhouding. Sy het geen groter begeerte as om haar man se hart gelukkig te maak nie. Sy hoef nie eens na ‘n lysie reëls te kyk nie, want sy weet presies wat hom behaag. Haar hartstog is nou om juis dít te doen. Nou is dit louter vreugde om níé die teeblare in die opwasbak af te spoel nie.

En tog…

Tog ervaar sy ‘n vreemde eienaardigheid in haar binneste. Sy faal aanhoudend om te doen wat sy graag wil doen. Sy kan dit nie verstaan nie, want sy is tog regtig met hom getroud. Sy is tog regtig lief vir hom. Sy is sy erfgenaam. Sy het regtig die begeerte om hom te behaag. En tog…. haar hart wil een ding, maar dikwels doen haar dade ‘n ander ding. Somtyds maak sy middagete eers om 3nm i.p.v. 1nm. Soms vergeet sy om die beddegoed te was. En dit ontketen ‘n worstelstryd in haar binneste. ‘n Innerlike verskeurdheid. Hoewel dit glad nie is soos dit was soos toe sy huishoudster was nie. Tóé was sy geïrriteerd met die man se wil en wense. Sy het ‘n geleentheid gesoek om die teeblare af te spoel. Sy het die reëls nagekom net ter wille van haar vergoeding. Nou haat sy dit. En tog doen sy dit soms nog steeds.

Hier is ‘n beskrywing van die egte wedergebore mens – “getroud” met die Here Jesus Christus, intiem aan Hom verbonde. Maar, wat steeds die Adamgewaad dra. Innerlike konflik wat voorheen onbekend was. Vroeër: het vrede gehad met Adamnatuur. “Almal doen dit.” Nie so ernstig bekommerd oor sonde. Regverdig altyd self. Gee ander die skuld. NOU: worstelstryd in binneste. Lê wakker oor dinge waaroor ek vroeër glad nie eens gedink het nie. Voel asof ek ‘n weerspreking in my binneste het: my begeerte is een ding, maar ek doen ‘n ander ding. Ek doen dikwels nie wat ek hierbinne is nie. Ek beleef ‘n innerlike verskeurdheid.

Hier vind ons ‘n presiese beskrywing van wat ‘n navolger van Jesus is. Mag dit vanoggend ‘n groot bemoediging wees vir ú wat ernstig & toegewyd kind-van-God is. ‘n Ware Christen se lewe verkeer onder ‘n spanning, ‘n tweeslagtigheid. Aan die een kant het jy so ‘n egte belewenis van die Here Jesus, jy het ‘n innerlike versekerdheid. Jy beleef iets van die magtige werking van die Heilige Gees. Jou hele lewe het grondig verander. Jy groei geestelik. Jy weet jy is getroud met die Man van Nasaret. Jy het Hom sonder twyfel lief. Enigiemand wat jou ken kan dit beaam. Jy straal dit uit. Alles getuig daarvan.

Aan die ander kant: Pynlik bewus van ‘n geveg in jou binneste. Daar woed ‘n oorlog/stryd teen sonde. Soms skrik jy vir jouself. Jy voel soms of jy vir jouself ‘n raaisel is. Onverklaarbare onvermoë. Onverklaarbare mág in binneste. Die hele geskiedenis van koning Dawid laat ‘n mens maar net besef hoe naby ‘n kind van God nog aan die kwaad is.

‘n Weergebore mens is iemand wat alreeds leef in die nuwe eeu wat kom. Maar tog oorblyfsels ervaar van die vorige eeu waaruit hy gered is. Die een been staan alreeds op die nuwe aarde, die ander been staan nog op híérdie aarde. Kan op geen manier daarmee vrede maak nie. Veroorsaak ‘n stryd. Veroorsaak ‘n kreet soos ‘n vrou in barensnood. Die nuwe lewe is alreeds sigbaar, maar tog is daar die pyn. Dit veroorsaak ‘n noodkreet.

En tog is dit juis híér waar die kind van God vórentoe gaan met heiligmaking. Dis nie ‘n sterwenskreet nie. Dis ‘n groeikreet. Dis juis ‘n bewys dat daar lewe is. Dis juis die mens wat hierdie kreet nie ken nie, wat bekommerd moet wees.

Wanneer ‘n Christen hierdie stryd beleef, kom die satan en mislei jou en sê: “Sien jy? Jy was toe nog nooit gered nie. Anders sou jy nie so en so gedoen het nie.” Romeine 7 sê net die teenoorgestelde. ‘n Stuk troos – om te weet – dis normaal.

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n kind van God wat sondig en ‘n ongeredde mens wat sondig. Die verskil is soos díé van die huishoudster en die eggenote:

1 Huishoudster/Ongeredde: Nie baie gepla. “Dis net menslik”. “Wie het nou nie foute nie?” Lê nie in nagte wakker. Vind verskonings. Beskuldig ander. Gaan uiteindelik voort daarmee.

2 Eggenote/ Kind v God: Pes en plaag. Innerlike stryd. Onmoontlik om vrede te maak. Noodkreet. Ootmoed. Neem die skuld op self. Inwondende Gees twis met jou.

Satan sê: “Nou is jy darem éérs verlore.” Waarheid is: “Nou is jy juis op die pad van heiligmaking.” Die waarheid is: “Hoe nader jy aan die Seun van God leef, hoe meer ken jy Hom in Sy heiligheid en hoe inniger soek jy die Here Jesus.”

Sien u hoe belangrik is hierdie gedeelte van Romeine 7? Dit gee ‘n helder tekening van wat ‘n ware Christen se daaglikse ervaring is. Hy/sy word nie meer deur sonde regeer nie (hfst 6) maar hy is ook nie volkome vry van sonde nie (hfst 7). ‘n Ware Christen weet nie meer van om deur sonde beheers te word nie. Maar, hy het innerlike stryd omdat daar oorblywende sonde is.

‘n Ware volgeling van Jesus staan in totaal ánder verhouding met sonde as die ongeredde mens. Die ongeredde leef grootliks in vrede met sonde. Die volgeling v Jesus leef in oorlog teen sonde. Hoe meer heilig hy leef, hoe meer roep hy uit: “Ek ellendige mens!” Dis ‘n proses wat nooit stop nie. Dis die normale Christelike lewe. Trouens, dis een van die sekerste tekens dat daar ware lewe van Bo in iemand se lewe gekom het.

Wat my in verwondering laat wanneer ek hierdie gedeelte lees, is die geweldige ewige onophoudelike werklikheid van die teenwoordigheid van die Almagtige Heilige Gees in ‘n volgeling van Christus se lewe. Want WIE alleen kan só ‘n verandering in ‘n mens se hart bewerkstellig? En dit in stand hou? Net so min as wat ‘n luiperd sy kolle kan verander, net so min kan ‘n mens jou eie binneste só verander, soos wat in Romeine 7 beskryf word. Daarom sê ons: “LOOF die Here vir die realiteit van die Heilige Gees en Sy dinamiese werking in ‘n gelowige se lewe!” En daaroor wil ons gedurende die komende Pinksterreeks 8 boodskappe wy.

Category Romeine Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)