Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE
PREDIKER-REEKS NO 2
Skrif: Prediker 2
Tema: Die gawes van God of die God van die gawes?

Ons hoor in Prediker 2 iets wat byna onmoontlik klink. Hier is ‘n man, wat binne die Here se wêreld leef & met al die Here se gawes besig is, en tog is dit asof die Here nie die hoofrolspeler in sy lewe is nie. Hy is met al die Here se gawes besig, maar hy sukkel om die Here vd gawes raak te sien! Hy dink die gawes moet gebruik word vir eie gewin om blydskap en vrede te verkry. Dis ‘n bitter ondervinding.

Die man is natuurlik koning Salomo.

Ons moet onthou dat ín Salomo, die OT gemeente/kerk vd Here verteenwoordig was. Alhoewel ons hier lees van één man se worsteling, beskryf Prediker ten diepste die gemeente/kerk se worsteling. Dit bring die boek Prediker sommer tot hier by ons, die Here se kerk in Kaapstad. Ons almal weet dat ons ook dikwels moet worstel om nie in ‘n doodloopstraat-sensasie te beland nie.

Wanneer beland jy daar? Wanneer jy infokus op die Here se gawes, pleks van op die Here self. Doodloopstraat-sensasie (verlede week). Gejaag na wind. ‘n Lugspieël.

Salomo probeer vasstel wat die diepste sin en betekenis vd lewe is. En, om dit te doen, beproef hy al die gawes vd Here, maar hy verstaan die HERE SELF totaal mis. Daarom: Een konklusie: Alles is ‘n gejaag na wind. Is dit nie die tragiese van wat met die Here se mense kan gebeur nie?? Totaal koers verloor. Ontdek nie meer werklik wie die Here self is nie.
TEMA: Terwyl ons met die dinge vd Here besig is, kan ons die Here vd dinge miskyk
1. Salomo geniet die Here se gawes, maar vind daarin geen bevrediging
2. Salomo verstaan nie die Here se werke nie

1. Salomo gee homself oor aan die Here se gawes, maar vind daarin geen bevrediging
In verse 1-11 sien ons ‘n treffende prentjie van die deursnee mens wanneer ons sien hoedat Salomo homself letterlik oorgee aan al die plesier vd lewe. Hy het natuurlik die geld & vermoë gehad om dit maksimaal te kon doen. Hy was vasberade om die sin vd lewe te ontdek. Daar moet iets wees wat nie ‘n gejaag na wind is nie! Hy sal nou gaan uitvind wat dit is. Dit lê tien teen een in die plesier vd lewe. Die genot vd lewe.

Eers gee hy homself oor aan wyn. Hy drink hom egter nie dronk nie. Vers 3 sê dat, terwyl hy wyn gedrink het, hy nog kon kophou om wysheid te soek. Hy wou uitvind wat die beste ding is waarmee ‘n mens jou in hierdie lewe kan besig hou (vers 4).

Daarna het hy begin om alles in eiendomme in te ploeg. Huise gebou. Wingerde aangeplant. Vrugteboorde, tuine en parke. Damme waarvandaan uit hy die bome kon natlei. Baie beeste en kleinvee het hy aangeskaf. Geweldige klomp werksmense. Hy het silwer en goud opgegaar soos niemand voor hom in Jerusalem gehad het nie. Hy was magtiger en ryker as almal voor hom.

Daarby was hy nie tevrede met net een vrou nie. Nee, hy het talle vroue gehad. “Lieflinge in menigte” sê die 1953 vertaling. Daarby het hy musiek in sy lewe ingebring. Sangers en sangeresse. Hy sê hy het homself alles veroorloof. Alles wat hy begeer het, het hy homself gegee.

Is dit nie ‘n goeie tekening van die deursnee 21ste eeuse mens nie?

Dink maar hoe die plesiergod elke dag spook om ons lewens te vul. En die god van vermaak. Dink hoe die sportgod spook om die ware God uit ons lewens uit te druk. Ons sal alles gee/ opoffer ter wille van genot/plesier/vermaak. Met die verskoning dat die lewe so stressvol is en dat ons die afleiding nodig het. Hoeveel van u het nie al sport op TV gekyk of selfs aktief beoefen op die Dag van Here in eredienstyd nie? Met die verskoning: “Ag, ek kan die Woord nog weer hoor, maar hierdie wedstryd mag ek nie misloop nie”. En op hierdie manier spook ons om ‘n bietjie skop in die lewe te kry.

Dink hoeveel tyd word spandeer op internet, sosiale media en TV storietjies, wat basies niks anders as inhoudloos is nie. Gejaag na niks. Leë lewe. Maar, daarenteen, hoe swak ken ons die Woord v God? Spandeer ‘n paar minute om gou-gou Bybel te lees. Die Woord & gebed, die dinge wat regtig saakmaak, laat ons eenkant lê of spandeer maar net ‘n afskeeptydjie daaraan. Maar wat báie tyd kry, is die genot van die lewe!

Dit is vir ons gevalle menslike natuur baie makliker om voor die TV te sit as om rond te loop en die Evangelie met mense te probeer deel en met inspanning die liefde van die Here met wildvreemdes te probeer deel!

Maar, ná alles, wat gee jou ‘n gevoel van sin & betekenis? Wat is leeg en wat is gevul met betekenis? Wat help dit ons spandeer ons lewens aan die gawes vd Here se skepping, maar ons kyk die Here self mis?? Dan sal dit inderdaad voel soos ‘n sinnelose gejaag na wind. Sinneloos….

U kan in verse 1-11 gaan tel. Die woordjie EK kom 26 keer voor. Geen “ons” in Salomo se prentjie nie. Nie die Here en naaste nie. Waarom? Omdat plesier die fokuspunt van Salomo se lewe geword het. Meer liefde vir genot as liefde vir God (2 Tim 3:4). En omdat hy gedink het HY (die mens) moet inspannend strewe om alles en nogwat te bekom, pleks van om dit as gawes van die Here te mag ontvang.

En wat is die gevolg?

Dit is soos wanneer jy soutwater drink. Jy word net al hoe meer dors. So gaan dit wanneer plesier/dinge/ Here se gawes die doel van jou lewe word. Jy word nooit versadig nie. Wanneer jy daarop ingestel is om jou eie verlangens te bevredig, voel jy altyd: Dit is ‘n gejaag na niks. 1 Joh 2: 16-17. Wêreld gaan verby. Begeertes. Gesteldheid op besit.

Dink net vir ‘n oomblik hoe intens hierdie Skrifgedeelte ook ons gemeente-wees raak. Wanneer die dinge vd Here meer klem ontvang as die Here self. Wanneer dit nie meer gaan oor liefde vir die enigste Waarheid vd evangelie nie, maar oor bykomstighede. Dan sê mense: “Ja, ás daar bykomstighede is, sal ons getrou wees in die kerkdienste… DAN sal die kinders/jongmense weer belangstel..” Die afgelope klompie jare is die gier om kerkdienste só in te rig dat die sogenaamde “post-moderne mens” daarby aanklank kan vind. En so verskuif die fokus wég van die kern af en word KERKWEES ‘n gejaag na wind…

2. Salomo verstaan nie die Here se werke nie
In die tweede gedeelte van hfst 2 lyk dit asof Salomo skielik die ontbrekende skakel ontdek het. Hy bring meteens die Here ter sprake. Hy sê ook ‘n mooi ding. Hy sê ‘n mens kan niks doen as die Here dit nie gee nie. Jy kan selfs nie eens eet & drink uit jou eie goedheid nie (2:25).

Dit is die suiwere waarheid, nie waar nie? Ons moet inderdaad só uit die Here se genade lewe dat ons nie eens uit onsself kan eet en drink nie. So diep moet die besef van ons afhanklikheid van die Here se genade in ons lewens ingemessel wees. Tien-uit-tien Salomo! Mooi so!

Maar wag ‘n bietjie, indien ons ‘n bietjie dieper kyk, sien ons dat Salomo nie werklik die Here so goed raaksien nie. Nie die ware Here nie. Hy sien die Here, maar soos deur ‘n miswolk. Hy sien die Here, maar hy sien bietjie van ‘n skewe beeld.

Ja, hy begin om in te sien dat die Here in sy lewe betrokke is, maar hy kan nie raaksien dat die lewende God die HERE is nie. Dat Hy die direkteur/hoogste rang/opperbevel is nie. Hy dink nog altyd dat hy, Salomo, die direkteur is en dat die Here moet maak/doen soos hy/Salomo dit wil hê. Wat ‘n skewe beeld vd Here is dit nie!!

Ons sien dat Salomo die Here die skuld gee dat hy so hard moet werk. Hy vra homself af: “Waarvoor sloof ek my so af? Ander mense gaan alles kry waarvoor ek so hard gewerk het”. Die ironie is dat sy seun Rehabeam, wat later sy troonopvolger was, inderdaad al sy pa se besittings verkwis het. Trouens, hy het sy pa se koninkryk in 2 gaan skeur. Hierdie gedagte maak Salomo depressief. Hy gee die Here die skuld vir alles. Hy sê dit is omdat die Here nie met hom tevrede is nie (2:26). Daarom laat Hy hom so hard werk.

U sien: Salomo hou rekening met die Here, maar hy sien die Here se werke effens verkeerd. Hy verstaan die Here se manier van doen verkeerdom. Hy verstaan nie hoe die Here se hartklop werk nie. Hy kyk na die Here deur die bril sy eie gevoel/ervaring vd lewe. Dit is lewensgevaarlik.

Salomo dink die Here seën iemand met wie Hy tevrede is en iemand met wie Hy nie tevrede is nie, seën Hy nie (2:26). Amper soos Job se vriende geredeneer het: “Jy het alles verloor, want jy het iewers erg gesondig”.

So werk Salomo se gedagtes ook. Tipies mens: ‘n mens kry wat jy verdien. Terwyl die Evangelieboodskap dit net mooi omdraai: Jy kry wat jy juis nie verdien nie. Jy verdien die ewige oordeel vd hel, maar jy kry die hemel persent, net omdat Christus dit betaal het. Salomo redeneer verkeerdom. Hy dink die Here straf hom omdat die Here nie met hom tevrede is nie. Daarom moet hy hom afsloof vir niks. Daarom is alles ‘n gejaag na wind.

Hoe diep sit Salomo se denke nie in ons eie denke nie? Ons ken die Here, maar ons dink verkeerd oor Hom. Ons dink oor Hom vanuit ons gevoel/ervaring. Omdat ons voel ons verdien nie die Here se seën nie, verwag ons ook nie Sy seën nie en twyfel ons oor gebedsverhoring.

So redeneer ons. “Ek is te sondig, Hy sal my nie aanvaar nie. Ek het iets verkeerd gedoen, daarom straf Hy my. Kyk hoe lyk my lewe, ek kan nie na Hom gaan nie”.

Of andersom: “Hy gee my wat ek vra, want ek dien Hom. Hy sorg vir my, want ek lei ‘n goeie lewe. Hy seën my, want ek bid” ens. ens. Staan Hy teenoor my of langs my? Is Hy my vriend of vyand? Wanneer tug Hy my en wanneer troos Hy my?

Waarom dink Salomo so? Waarom dink ons so? Dit is omdat ons altyd weer onsself in die sentrum wil stel en omdat ons so swaar kry om genade te verstaan. Ons wil altyd weer die Here se werke afhanklik maak van ons verdienstes. En dit terwyl die Here werk/doen vanuit Sy GENADE alleen.

Vanuit Sy ryke genade in die Here Jesus se kruisdood en opstanding, is God BY ons betrokke, net omdat Hy wil/vrye guns en nie omdat óns dit doen of dat doen nie. Wánneer ons dit doen of dat doen, dan is dit nét uit pure dankbaarheid! Of ons seën ervaar of nie. Of ons gebede verhoor word of nie. Of dit reën en of dit droog is. Of ons hard genoeg probeer en of ons faal – dit beïnvloed nie die Here se genadebetrokkenheid nie!

Dit is eers wanneer ons iets hiervan begin verstaan, wat ons sin in die lewe sien. Hoe die lewe ons ookal behandel.

En tog, by alles, moet ons sê dat Salomo hier iets begin ontdek het. Lig begin deurskyn: JA, Hy sien dat die HERE se betrokkenheid deurslaggewend is om binne ‘n sinnelose gemaal, betekenis te kan vind. Buite ‘n goeie sig op Christus, bly ‘n mens se oë glasig en jou begrip afgestomp. Onthou: Salomo het al hierdie dinge AS GELOWIGE deurgegaan. Ons het nie hier met iemand te doen wat in die proses was om by ‘n eerste bekering te kom nie. Hy was nie net – as seun van ‘n gelowige Dawid – binne God se verbond sedert geboorte ingesluit nie, maar het die God van die verbond vertrouend geken. Die worstelinge – soos beskryf in Prediker – was ‘n stryd om sin van die LEWE te maak.

Die tweede belangrike ontdekking wat Salomo maak, mag dalk vreemd klink, maar dit is deurslaggewend belangrik dat ons dit goed moet hoor:

Hy ontdek dat die onontwykbaarheid van die DOOD die sleutel is om regtig te begin LEWE. U het heeltemal reg gehoor.

Besef van jou en my onontwykbare toekomstige dood is ‘n lig wat die Here op die teenwoordige laat skyn om dit te verander en ons in staat te stel om die lewe op die regte manier te geniet.

Vanaf vers 12 is Salomo diep onder die indruk van die werklikheid van die dood. Gaan lees dit gerus weer. Die dood relativeer letterlik alles wat ons doen – alles wat hy in verse 1-11 beproef het. En deur dit te relativeer, besef ons dat ons nie die lewe hoef te beheer en te benut vir eie gewin nie, maar dat ons net kan begin om daarin vreugde te hê om die lewe as ‘n geskenk te ontvang. Salomo besef: Die lewe in God se wêreld is ‘n geskenk. Dis nie vir eie gewin nie. Eintlik is dit die boek Prediker se hoofboodskap. Ja, alles is verbygaande. Soos ‘n lugspieël – soos hfst 1 sê. Geluk is soos ‘n damp wat verdwyn. Wanneer jy grade op grade studeer het en gedink het jy bereik iets, voel jy innerlik net nog meer onvervuld. Daar word gesê dat komediante van die eensaamste mense is. Hulle wat so gelukkig lyk. Nadat jy jouself gegee het aan vermaak en plesier en jy boer aanlyn en jy is net altyd gekonnekteer met die wêreld – kom jy later agter: die vakuum in my siel is nog steeds daar.

Want daar is EEN probleem wat nie opgelos is nie: Die dood. Jy gaan binnekort sterf. En dan is jy vergete.

Die realiteit van die dood verander ‘n verstandige mens se perspektief op die lewe. Ja, die lewe is kort en ander gaan alles kry waarvoor jy so geswoeg het. Dit sal nie help om hierdie realiteite te ontvlug nie, sê Salomo. Dit help ook nie om alles in die lewe te probeer inspan vir jou eie gewin nie. Of die lewe onder beheer te probeer kry nie. Die besef van die dood help jou om dit te sien en dit agter te laat. Eet, drink en vreugde is nie AL wat daar is, so kom ons laat waai nie. Nee, eet, drink en vreugde is WAT daar is! Jou beroep en jou inkomste is nie bedoel om jou suksesvol en van jou ‘n gemaakte man/vrou te maak nie. Dis bedoel vir jou om te geniet in God se teenwoordigheid en as gawe van God en om jou vrygewig en getrou te maak. Om net ‘n voorbeeld te gebruik.

Vanaf 1:14 – 2:23 lees ons nie een keer van die Here nie. In die sentrum is net die EK. Die SELF wat streef na dit en dat.

Vanaf vers 2:24 word die lewende God drie keer genoem. Want daar het ‘n verandering in Salomo se perspektief gekom. Die dood is seker. Wat saakmaak is wat die Here gee. En waarin ek vreugdevol mag lewe – in relasie tot Hom. IN Sy gawes en IN Hom!

GEBED —->>>> Duisende dankies vir die lig van die onfeilbare Skrif, Vader. Was dit nie vir U Woord nie, was ons afhanklik van menslike bespiegeling. Dit sou rampsalig gewees het. Ons sou nooit die waarheid geken het nie. Ons sou in duisternis rondgetas het. En ook die boek Prediker is deur die Heilige Gees vir ons gegee, deur Salomo se worstelinge en ondervinding, as God se Woord. Ons moet eerlik erken en bely dat ons uit onsself presies dieselfde ingesteldheid en geneigdheid het om die dinge vd Here in plaas van die Here vd dinge raak te sien en selfs te gebruik vir eie gewin. En al wat dit by ons skep is ‘n gevoel van leegheid en betekenisloosheid. U Here, U alles vul die vakuum. In Christus Jesus ons Here. Sterf sal ons sterf. Ons almal. Dis net ‘n kwessie van tyd. Nou is die tyd om van insig te verander. Om deur die Heilige Gees van perspektief te verander.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Prediker

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)