Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE (DOLEREND)
PREDIKER-REEKS NO 1
Skrif: Prediker 1
Tema: Die doodloopstraat

Ons is bevoorreg om vanoggend met ‘n reeks preke oor die boek PREDIKER te mag begin. Vir sommige mag dit voel asof dit glad nie so ‘n groot voorreg is nie. Baie mense dink immers nie positief oor Prediker nie. Hulle voel: Ag, watter evangelie kan daar tog in Prediker wees? Watter troos – as die skrywer so pessimisties oor die lewe is? “Alles is tevergeefs, ‘n gejaag na wind, alles kom tot niks. Wie kennis versamel, versamel smart.”

Sjoe, dit klink so donker, so somber.

Die interessante is egter dat die OT volk vd Here (Israel) hierdie boek nie as ‘n donkere/sombere boek verstaan het nie. Trouens, dit was juis die boek PREDIKER wat die volk Israel elke jaar tydens die uitbundige Loofhuttefees gelees het. Húlle moes iets in Prediker gesien het wat ons miskyk, maar wat ons weer moet ontdek hier in 2020 – en veral in hierdie vreemde ongekende tyd van inperking en bittere onsekerheid binne die konteks van ‘n internasionale gesondheidskrisis.

Ek dink nie Prediker is pessimisties nie. Hy is net absoluut realisties. Wat hy skryf is so intens wáár. Dit is die tipe vrae waarmee ons almal een of ander tyd worstel. Hy kyk die WARE realiteite van die lewe stip in die oë sonder om te probeer voorgee dat die lewe beter is as wat dit is.

Onthou: Ons almal het mos maar so vaagweg in ons agterkop die aanvoeling dat ‘n stukkie van die legkaart van ons lewens iewers weggeraak het. Ons weet dat ons veronderstel is om vir ewig sinvol te leef. Maar, ons ervaar nie altyd ons lewens sinvol/ewig nie. Iewers is ‘n minder aangename kortsluiting.

Hierdie kortsluiting – wat alle mense op ‘n manier aanvoel, maar nie verwoord nie – hét inderdaad by die sondeval plaasgevind.

Die mens was immers oorspronklik geskape met die ewigheid in sy hart (Pred 3:11). ‘n Sinvolle lewe met die Here op die Here se aarde.

En ná die sondeval? Die mens het steeds die ewigheid in sy hart, maar niks realiseer meer nie. Dorings en distels. Die aaklige ewige geestelike dood het ingesluip – en so ook fisiese dood. Die eerste mensepaar het baie gou besef hoe moeilik die lewe is, sonder God. Hulle noem hul kind ABEL= Ydelheid.

Daarom die kortsluiting wat ons nog steeds voel in die 21 ste eeu. En Prediker beskryf dit alles so geweldig realisties. Hy steek niks weg nie. Blatant eerlik. Veral hfst 1 is so absoluut eerlik geskryf. Dit voel asof die lewe ‘n sieldodende mallemeule is…
TEMA: Wie teen die gevalle skepping vaskyk beland in ‘n doodloopstraat
1. Hoe realisties hierdie doodloopstraat is
2. Hoe die doodloopstraat roep na Christus

1. Hoe realisties hierdie doodloopstraat is
Waarvoor leef ek nou eintlik? Waarom doen ek wat ek doen? Wat baat dit nou eintlik? Wie van ons ken nie hierdie tipe innerlike worsteling nie? Dit dryf sommige mense tot raserny. Ander verval in neerslagtigheid. Selfs wanhoop. Veral wanneer jy besef dat – die dag wanneer jy hierdie planeet verlaat, die planeet nog net so rustig voortgaan soos toe jy op hom gebore was. Niks het verander nie. Dis asof jy nooit bestaan het nie.

Hou in gedagte: Ons is almal geskep met die ingeboude behoefte om te weet dát die lewe die moeite werd is. Ons WIL dit weet. Dis ‘n ingeskape drang en begeerte. Maar daar is iewers ‘n aaklige kortsluiting….

Salomo (deur die eeue het die kerk aanvaar dat hy die skrywer was) het iets van hierdie kortsluiting persoonlik beleef.

Interessant dat dit juis Salomo was. Hy wat letterlik álles besit het wat ‘n mens se hart kan begeer. ‘n Mens sou dink dat so ‘n man die volheid van die lewe net eenvoudig sou móés ervaar. Alles wat die mensdom dink wat sin en betekenis en vervulling aan die lewe gee, het Salomo gehad. Rykdom, besittings, mag, vroue, belangrikheid/vernaamheid, superintelligensie. Die toonbeeld van ‘n gemaakte man. Iemand wat respek afdwing.

Tóg bly hy soekend. Alles wat hy besit het, kon nie die hol kol in sy hart/menslike gees volmaak nie. Ten spyte van alles, ervaar hy sy lewe as ‘n gejaag na wind/niks. Uiters, uiters onbevredigend.

Waarom dan so?
Die Prediker sê hy het op ‘n stadium gaan sit en noukeurig na die lewe gekyk. Toe sien hy dat die lewe ‘n kringloop is wat nêrens heen lei nie. Alle mense word gebore, leef, sterf en word vergeet. Dit lyk so sinneloos. Terwyl een familie by die sterfbed van ‘n geliefde waak, juig ‘n ander familie oor die geboorte van ‘n baba. Die lewe is ‘n kringloop waar dieselfde dinge telkens weer terugkom. Die son kom op en gaan onder. Die wind waai nou vanuit hierdie rigting, dan vanuit daardie rigting, môre weer andersom. Dieselfde dinge kom telkens weer terug. Geslagte kom en gaan, maar die wêreld bly dieselfde.

Die mens se oog kyk & kyk en kry nooit genoeg nie. Niks gebeur, wat nie iewers vantevore reeds gebeur het nie. Wat was, gebeur weer. Wat nou gebeur, sal weer gebeur. Dit maak die mens verveeld/rusteloos. Wat verby is word gou vergeet. Om te dink ék gaan ook baie binnekort in die niet verdwyn!! Wanneer ek weg is, sal ek redelik gou vergeet word.

Daarom vra Salomo: “Wat kry ‘n mens vir al die geswoeg?” Waarop loop dit nou eintlik uit? Al antwoord wat Salomo uit sy navorsing kan vind is: “Alles kom tot niks”. Die woord “niks” in Hebreeus is moeilik om te vertaal. Dit beteken iets soos ‘n “lugspieël”. ‘n “Wasem”. Soos die rokie wanneer jy ‘n kers doodblaas. Daardie rokie kom en gaan en het geen uitwerking op niemand en niks. Dis kortstondig en ontwykend. Jy kan nie jou hand daaraan slaan om dit in ‘n greep te kry nie. Jy kan nie kontrole oor die rokie kry nie.

Is dit nie presies hoe ‘n mens voel wanneer jy vaskyk net teen hierdie lewe nie? Die onverloste mens is veronderstel om die lewe só te sien – indien hy eerlik is. Maar selfs al ken jy die Here, is die lewe nog steeds so. Dit bly so. Vraag is: HOE lewe ‘n mens jou lewe binne SO ‘n konteks? Wat beteken dit om die Here te ken in só ‘n lewe en wêreld? ‘n Wêreld wat die Here God GOED gemaak het, maar wat katastrofies skeef geloop het. Dis die vraag wat die boek Prediker antwoord.

Maar eers sit hy die naakte werklikheid voor ons neer:

Jy loop jou letterlik vas in ‘n doodloopstraat. Jy raak moedeloos. Jy dink: Wel, al alternatief is dat ek voluit net vir myself moet begin leef. Wat kan ek anders doen as dit? “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons..” ( 1 Kor 15: 32). Waaroor sal ek my bekommer? Vandag is ek gesond, maar môre kan ek hoor dat ek ‘n terminale siekte het of terwyl ek en my man/vrou vandag nog stralend gelukkig getroud is, kan een van ons binne enkele dae sterf en begrawe word. ‘n Goeie sendeling sterf jonk of ly lewenslank aan ‘n siektekwaal terwyl ‘n bose diktator in weelde leef en oud word. Dis soos ‘n pragtige sandkasteel wat binne sekondes wegspoel.

Sien u hoe geweldig realisties Salomo hierdie doodloopstraat beskryf?

Nou wonder ‘n mens hoe die volk Israel hierdie boek elke jaar tydens die Loofhuttefees met uitbundige vreugde kon gelees het? Wat het hulle in Prediker gesien wat ons nie kan sien nie?

Daar is net een antwoord: Hulle het in die sleurgang van hulle geskiedenis as die Here se volk BELEEF hoe teenwoordig die HERE is. Die hele OT is daarvan ‘n getuienis. Hulle het ook mos deur die eeue ‘n BELOFTE van God gehad. Die belofte aan Abraham. Die belofte dat die Messias/Groot Verlosser gebore sou word. Dit het die groot verskil gemaak. Dit het gemaak dat Israel/Salomo SIN binne-in die sinloosheid en sleur kon vind.

As ‘n mens ‘n roosknop in jou hand hou kan jy OF sê: “Vanaand is jy verlep” OF “Kyk hoe pragtig is jy nou”. Ek kan OF die prag raaksien OF die verganklikheid. Ek kan die roos by my laat verbygaan OF ek kan die Here eer vir die wonder van Sy skepping.

2. Hoe die doodloopstraat roep na Christus
‘n Mens moet altyd onthou: ‘n Spesifieke Bybelgedeelte staan altyd binne ‘n groter geheel. ‘n Mens kan nie Prediker lees asof dit die enigste boek in die Bybel is nie. Jy moet hom lees met die lig wat die res van die Bybel op hom werp.

Wanneer ‘n mens dit raaksien, dan hoor jy iets belangriks in Prediker 1. Jy hoor hoe Prediker 1 na die koms van Jesus Christus roep. Jy blaai dan na die NT en jy sien hoe ons Here Jesus Christus in werklikheid ‘n klomp uitroeptekens agter Prediker 1 se vraagtekens kom sit het.

Eintlik verwoord Prediker 1 die roepkreet van elke onverloste mens, wat nie kop of stert kan uitmaak van waarom die lewe nou eintlik gaan nie. Onthou: Ons menslike wysheid en insig is deur die sondeval vermink. Salomo sê dit in die laaste verse van hfst 1. Met ons insig en wysheid kan ons nie die lewe reg verstaan nie. Ons maak gedurig en altyd verkeerde afleidings. Ons insigte is beperk. ONS HET MEER AS MENSLIKE WYSHEID NODIG!!

Baie mense besef dit, maar dan gaan soek hulle dit op verkeerde plekke, byvoorbeeld in die Okkulte. Bonatuurlike kennis & ondervindinge wat die satan gee. Ongelukkig lei die Bose ‘n mens konsekwent weg van die waarheid af.

Kan u raaksien dat al hierdie dinge roep na Jesus Christus. Hy sê self in Matteus 12:42: “Die koningin vd Suide het van die eindes vd aarde gekom om die wysheid van Salomo te hoor – en – MEER as Salomo is hier!” Verwysende na Homself! Hy/Jesus IS die wysheid wat die menslike wysheid by verre oortref. Kolossense 2:3: “In Jesus is al die skatte van wysheid verborge..”

En hoe kom Jesus Christus met Sy wysheid na ons toe? Wanneer die Woord en die prediking van die Woord na ons toe kom. 1 Kor.1: 23. “Ons VERKONDIG Christus, wat die wysheid van God is..” Let op die woord: VERKONDIG. Dit wys op die prediking.

Hoe moeiliker dit met ‘n mens gaan, hoe meer moet jy onder die prediking kom. Hoe meer vrae jy het. Hoe meer houe die lewe jou toedien. Hoe meer sinneloos alles voel. Hoe meer moet jy onder die goeie gesonde Skrifprediking kom. Want, dáár word CHRISTUS verkondig. En, Hy is die wysheid wat menslike wysheid baie ver te bowe gaan. Hy gee hoop en uitkoms. Hy kom staan binne-in die verloop vd lewe van elke dag wat so sieldodend en eentonig voel. En Hy waarborg ‘n beter lewe. Hy gee ewigheidswaarde aan die dinge waarvan ons voel dat alles tevergeefs is, ‘n gejaag na wind.

Hoor u die woorde vd Gees vanoggend? ‘n Mens kom in die versoeking om al hoe meer vir jouself te leef wanneer jy die lewe as ‘n kortstondige, verdwynende rokie of damp aanvoel. Jy buig al hoe meer in jouself in. “Se incurvatus est” (om op jouself ingebuig te wees) (Luther se definisie van sonde).

Maar, dit is nie die oplossing nie. Dan raak jy net nog meer gefrustreerd. Dan loop jy jou net nog meer vas. Nee. Ons moet ontdek wat die ou volk Israel ontdek het. Dat jy die boek Prediker tydens die LOOFHUTTEFEES moet kan lees. Omdat jy die REDDENDE LEWENDE HERE binne-in die sleurgang van elke dag ontdek/ontmoet het. Die sleurgang/doodloopstraatsensasie verdwyn nie wanneer jy ‘n Christen word nie, maar jy ontdek die groot wonder dat Hy binne-in die sleurgang teenwoordig is. Dis die grootste wonder ooit!

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Prediker

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)