Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Goddelike genesing

Skrif : Deuteronomium 32: 39

Dwarsdeur die Bybel waarsku die Gees ons teen misleiding (deception). Wat is misleiding? Dit is wanneer die vyand hom voordoen as ’n engel vd lig en jy hom glo (2 Kor 11: 15).

Die Heiland sê uitdruklik in Mat 24:4 & 11 “Pasop dat niemand julle mislei nie, want daar sal baie valse profete kom en hulle sal baie mense mislei.”

Daar is vandag min gebiede in die kerklike lewe waar die misleiding só groot is as op die gebied van siekte & genesing. Wat die misleiding so subtiel maak, is dat wondergenesings dikwels skouspelagtig plaasvind en mense dan onmiddelik daarvan oortuig word dat dit die ware Heilige Gees is wat werk en dat die suiwer Waarheid vd Skrif daar teenwoordig is.

Die menslike hart word baie maklik meegevoer deur sigbare wonderwerke. Die menslike hart is egter nie so goed geoefen om die Waarheid vanuit die SKRIF te onderskei nie – dikwels vanweë onkunde en luiheid om die Skrif te ondersoek.

In Mat 7: 22-23 waarsku die Meester: “Op daardie dag sal baie mense vir my sê: ‘ Here, Here, het ons dan nie deur U Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie’.”

Hoe kan ons onderskei wat die ware Bybelse leer oor siekte & genesing is? Hier volg enkele riglyne.


1 Wat leer die Bybel oor genesing?

Onder die begrippe “geloofsgenesing/ gebedsgenesing/ Goddelike genesing” – soos wat dit in die moderne Charismatiese beweging gebruik word – word verstaan genesing wat die Here onmiddelik gee deur die gesproke woord van ‘iemand wat daartoe gesalf is’, sónder die bemiddeling van die mediese wetenskap. Dit is nie gebed vir genesing nie. Dit word direk van God se troon beveel sónder menslike tussenkoms en gebruik van middels.

Dit is hoe die Apostels in die boek Handelinge opgetree het en ook die Here Jesus self tydens Sy aardse bediening. Petrus sê byvoorbeeld: “Goud en silwer het ek nie, maar wat ek het, GEE EK jou, staan op en loop”. Geen gebed nie. Slegs ‘n gesagswoord en die man is onmiddelik perfek genees.

Later in die boek Handelinge en in die Apostoliese briewe, sien ons ‘n duidelike verandering. Paulus laat vir Trofimus siek in Milete – hy genees hom nie. En vir Timoteus met sy kroniese maagongesteldhede, raai Paulus aan om ‘n bietjie wyn te gebruik. En Jakobus sê die ouderlinge moet vir siekes gaan bid.

Dus, tydens Jesus se aardse bediening en die eerste fase van die Apostels se bediening het genesings oombliklik plaasgevind deur die blote woord van Christus of ‘n Apostel of Apostoliese medewerker. Dis duidelik iets wat tydens die grondleggingsfase van die kerk, die Woordbediening vergesel het om outoriteit aan die prediking te gee – veral omdat die Nuwe Testamentiese geskrifte nog nie bestaan het nie. Die Apostels se prediking was die mense se Bybel. Daarom het die Apostels ook mense genees. Die prediking en die genesings en die spreek in tale het SAAM geloop.

Dit is hierdie onmiddelike bemiddeling, wat die Charismatiese beweging vandag probeer naboots.

Ons glo dat die onmiddelike bemiddeling ‘n verskynsel was wat slegs by die Apostoliese era voorgekom het. En ook nie eens tydens die hele fase nie. Die manier hoe God sederdien genees, is deur gelowige gebed – deur enige gelowige en nie deur sekere individue wat ‘n spesiale salwing het nie.

Volgens die Skrif genees God met of sonder gelowige gebed, maar ook met of sonder die gebruik van geneesmiddels. In alle gevalle is alles onderworpe aan die soewereine wil van God. Nêrens in die Bybel is daar enige aanduiding dat die Here Hom laat inperk tot sekere patrone of prosedures of voorwaardes nie. Die Bybel weet ook niks van ’n teenstelling tussen “natuurlike” en “bonatuurlike” genesings nie. Hier volg enkele Skrifverwysings:

Die genesings wat Jesus tydens Sy aardse bediening verrig het, was TEKENS waardeur Hy die mense laat sien het hóé die komende ewige hemelse koninkryk daar sal uitsien: geen sondes, siektes, demone, pyn, lyding ens.

Sy genesings het die volgende kenmerke gehad: Dit was ongeorganiseerd & spontaan (Mat 9:27), dit was onmiddelik & volledig, dit was só oortuigend eg dat selfs teenstanders nie die egtheid betwyfel nie (Joh 11: 47-49), dit het soms vanoor ’n afstand geskied (Luk 7:10), dit het in alle rus plaasgevind sonder reklame of “show” of ophef (Jesus verbied geneesdes om dit bekend te maak (Mat 9:30). Jesus het ook nooit álmal genees nie. In Nasaret slegs enkeles (Luk 4: 23-37). By Betesda-bad was daar menige siekes, maar Jesus rig Hom slegs tot één (Joh 5).

Die Bybel is voorts duidelik dat sowel gesondheid as siekte uit die hand vd Here kom. Sien Eks 15:26, Deut 32:39 en let op Job se woorde in Job 2:10. Volgens die Bybel kom siekte nie deur toeval of die sameloop van omstandighede nie. Ook nie deur die duiwel nie. Die duiwel is nie ’n tipe god nie. Hy moes by God toestemming kry om aan Job iets te kon doen. Nie een haar val van ons hoof sonder die Vader nie (Mat 10).


Soms vind genesing plaas in antwoord op geloofsvertroue en verwagting. Bv. Mat 9: 2-6, Mat 15:28


Soms genees die Here wanneer daar van geen geloof sprake is nie. Hy genees bv duiwelbesetenes wat niks met Hom te doen wou hê nie (Mat 8:28 ev) asook die skares (Mat 4:24) asook die verlamde by Betesda (Joh 5).


Soms gebruik Hy die gebed van die ouderlinge van die gemeente om siekes aan te raak (Jak 5: 14-15).

Opsommend: Die Bybel is daaroor duidelik dát die Here genees en ook wil genees. Die vraag is of dit deur onmiddelike bemiddeling van sekere uitgesoekte gesalfdes gebeur en of dit deur gelowige gebed van enige gelowige gebeur?


2. Is genesing altyd God se wil?

Ons weet dat sondevergifnis & verlossing áltyd God se wil is. Geld dit ook vir genesing? Vlgs Jes 53:4 het Christus ook ons siektes gedra. Dit beteken egter nie dat Hy dit plaasvervangend gedra het soos Hy ons sondes gedra het nie. Vlgs 1 Pet 2: 24-25 het Hy ons sondes in Sy liggaam gedra. Niks word van siektes gesê nie. Ons siektes het Hy gedra om dit – op watter wyse ookal – weg te neem, maar ons sondes het Hy plaasvervangend gedra en dit sodoende verseker weggeneem.

Hierdie uitleg rym met die res vd Bybel waar geleer word dat gelowiges nie noodwendig gesond is nie. ’n Gelowige se gesondheid-na-die-siel is ’n moet, maar gesondheid-na-die-liggaam is ’n voorreg (3 Joh 1:2).

Paulus self verkondig die Woord as ’n siek mens (Gal 4:13) en worstel met ’n doring in die vlees (2 Kor 12). Paulus se gebed vir Trofimus se genesing is nie verhoor nie (2 Tim 4:20). Oor sake soos siekte is God se wil nie altyd aan ons bekend nie (Mat 8:2) en moet ons bid: “As U wil, kan U my genees.” Dit verraai geen twyfel nie, maar respek vir Sy soewereiniteit.

Dit is verkeerd om te dink God spring wanneer ons praat. Dink aan Paulus se berusting in 2 Kor 12: 8-9. ’n Ydele herhaling van woorde en om siekte “in Jesus Naam” te beveel om te vertrek is onskriftuurlik. Dit is heidens om te dink dat die herhaling van woorde God kan manipuleer (Mat 6:7). Sien ook 1 Kon 18:26-29. Gebed en geloof is geen towerformules waarmee die Here oorgehaal word nie. God gee uit genade, nie verdienste nie. Mense het al ontvang tsv kleingelowigheid (Mark 9:24), ongelowigheid (Luk 1: 13-20), gebrek aan verwagting (Hand 12: 5-16). God laat vind Hom soms deur mense wat nie na Hom vra nie (Jes 65:1).

Dit is dus verkeerd om aan ’n sieke te sê dat hy/sy nie genees word nie omdat hy nie goed genoeg glo nie of sondes akkommodeer en sodoende allerlei skuldgevoelens en eindelose selfondersoek op die persoon pak.

3 Genees die Here vandag nog siekes?


Die klinkklare antwoord is JA. Aan die Here alleen het ons ons gesondheid én genesing te danke. Een woord is vir Hom genoeg. Dit het Hiskia ervaar (Jes 38: 1-21). En Hy is vandag steeds dieselfde God (Hebr 13:8). Dat Hy genees, bestaan daar geen twyfel oor nie. Hy doen dit met of sonder die geneeskundiges.


4 Wat is die verband tussen sonde & siekte

Die Bybel lê ’n verband tussen die sondeval en siekte. Kragtens die sondeval lê daar ’n vloek op die skepping (Gen 3) en sug die skepping (Rom 8). Soms lê die Bybel ook ’n verband tussen persoonlike sonde en siekte ( 2 Kron 21: 18-19, 26: 16-21, Hand 12:22-23, 13: 8-11). In díé gevalle moet die oorsaak opgespoor word en die probleem opgelos word. Verkeerde eetgewoontes kan bv lei tot hartkwale, dronkbestuur tot ongelukke. Weggesteekte sondes en bitterheid kan die liggaam aantas (Ps 32: 3-5).

In ander gevalle verklaar die Bybel dat daar géén verband tussen sonde en siekte is nie (Joh 9: 1-3). Epafroditos word siek agv sy ywer vir die evangelie (Filip 2 : 25-30) en Timoteus worstel met herhaalde ongesteldhede (1 Tim 5:23). Om dus sonde as oorsaak vir siekte te sien, soos Job se vriende (Job 1:8, 2:10), is om verkeerd oor God te praat (Job 42:7).

5 Die grense van gebed-om-genesing

Die Skrif is daaroor duidelik dat ons moet/mag bid om genesing (bv Mat 7:7, Jak 5). Gebedsverhoring word afhanklik gestel van 1 Joh 5:14: Om iets volgens Sy wil te vra. Die wil van God is soms vir ons verborge. God bly soewerein in Sy beskikkingsreg (Jes 45:15). Wanneer ons bid, mag dit met groot vrymoedigheid wees, in volle geloofsversekerdheid (Hebr 10:22), met ’n verwagting en met die aangryp van God se beloftes (Jes 62:6).

Daar is egter ’n grens wat nie oorskry mag word nie, naamlik die ondeurgrondelikheid van God se soewereine Raad – waarvoor slegs in aanbidding gebuig kan word. Só het Jesus self Hom onderwerp aan Sy Vader se hoër wil in Getsémane (Mark 14:36).

6 Die waarde van siekte

Ons mag nie siekte slegs as ’n vloek/nadeel sien asof gesondheid die hoogste goed op aarde is nie. Siekte het ook seën en waarde – binne die Raad van God. Dit dien die doel waartoe God dit toelaat.

Daar kan bv ’n getuienis uitgaan van geloof, geduld, volharding, blymoedigheid, berusting en aanvaarding. Paulus se beproewinge het gelei tot die verdere verkondiging van die evangelie (Filip 1:12). In die skool van beproewing word lesse geleer wat in gesonde dae nooit geleer sou word nie. “Gelowig-siekwees” strek tot verheerliking van God (Jes 38:17) en is inbegrepe by die “alles” wat God ten goede laat meewerk vir díé wat Hom liefhet (Rom 8:28).


7 Hoe moet daar gedink word oor moderne

genesers” uit veral die charismatiese beweging?


Voorbeelde: Benny Hinn, TB Josua, Andre Roebert en 90% van die mense wat op Kanaal 341 te sien is.

In die tipiese genesingsdienste wat gehou word, word die volgende elemente aangetref: Reklame & sensasie: (Jesus verbied geneesdes om die wonder bekend te maak), Lang, uitgerekte en emosiebelaaide sang, ‘n atmosfeer wat doelbewus geskep word, nadruk op geld (Elisa weier om geld van Naäman te neem), siektes en demone word bestraf met ’n harde, eisende houding, die woorde “in die Naam van Jesus” word herhaaldelik soos ’n mantra geskreeu, mense val in ‘n trance agteroor ens.

Die kern van die genesers se teologie is gewoonlik dat God geen siekte wil nie en dat alle siekte deur sonde en demone veroorsaak word en dat God aan almal genesing WIL gee, maar onderworpe aan twee voorwaardes: a) die persoon moet sy sondes bely en b) die persoon moet genoeg geloofskrag hê.

Vind daar nie genesing plaas nie, word die skuld op die siek persoon óf sy familie geplaas. Die siek persoon word dus op hom/haarself teruggewerp vir resultate en nie op Christus nie. So ontstaan baie selfverwyt, skuldgevoel en sieklike selfondersoek.

Geloof word gewoonlik gesien as ’n soort energie wat die mens besit. Dit is soos ’n toutjie waaraan die méns moet trek sodat God kan werk. Sodoende word God die mens se marionet.

Verder skuif die persoon van die geneser tussen die Here en die siek persoon in as ’n soort middelaar/wondermens (oral pryk hul name en fotos). Daarom sal mense duisende kilometers reis om net by so ‘n charismatiese gesalfde uit te kom, met die hoop op genesing.

In die lig van die vorige 6 punte, moet hierdie praktyke ten sterkste afgewys word. Die toets is nie óf daar werklike genesings plaasvind onder hierdie mense se bedienings nie, maar uit watter bron dit kom! Die bron moet die toets van die Skrif deurstaan.

8 Wat staan ’n gelowige te doen ten tye van siekte?
Die belangrikste is: Bid tot die Here in die vaste geloof dat vir Hom slegs één woord nodig is om volkome te genees. Want, dát die Here kan genees, staan soos ’n paal bo water. Ook deur wat ons noem ’n “mediese wonder”.

Ja, die vraag bly altyd OF Hy op hierdie moment wil genees.

Die grootste rus vind ’n mens egter deur hierdie vraag vol vertroue in Gods hand te lê.

Laat daar dus gebid word – tuis en in die gemeente en deur die ouderlinge (Jak 5: 14-15). Maak ook gebruik van dokters (Mat 9:12) en geneesmiddels. In die geval van Hiskia het God hom met ’n woord genees, maar óók ’n geneesmiddel gebruik (Jes 38:21). Die fout van Asa was nie dat hy dokters geraadpleeg het nie, maar dat hy nie die Here geraadpleeg het nie (2 Kron 16:12).

Bo al: glo dat Jesus ons volmaakte en enigste Middelaar is wat diepe mededoë het met ons swakhede (Hebr 2: 17-18). Hy is nie ver weg nie (Mat 28:20). Daarom hoef die siek gelowige nie lang reise te onderneem, wanhopig op soek na ’n geneser nie. Vou net gelowig jou hande en buig eerbiedig jou knieë voor die Heiland (Heelmaker).

 

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew