Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Die gawe van spreek in tale

Skrif : Handelinge 2: 1-13 , 1 Korintiërs 14: 13-25

Alles wat ons gisteraand oor die Charismatiese beweging gesê het, geld ook as belangrike agtergrond vir vanaand se boodskap oor die sogenaamde “spreek in tale”.

Oor die algemeen word “spreek in tale” gedefinieër volgens dít wat in die praktyk ervaar word binne Charismatiese- en Pinksterkerke sedert die jaar 1901. Ons kyk na wat ons Pinkstervriende ervaar en dan lees ons dit terug in die Bybel in – in plaas daarvan om dit wat die Bybel sê toe te pas op die praktyke wat ons soms waarneem.


Die jaar 1901 was die jaar toe die “pinksterbeweging” in die VSA gebore is o.l.v. Charles Parham. Vóór 1901 was die “talewonder” ’n uiters seldsame verskynsel, maar dit het met die ontstaan van die “pinksterbeweging” sterk na vore gekom. Soveel so dat Parham se “kerk” as die “tongebeweging” bekend gestaan het.

Wat behels hierdie “spreek in tale” soos dit in die pinksterbeweging (en ook in die “second wave” en “third wave” bewegings soos ons gister gesien het) manifesteer? Dit word verstaan as: vreemde onverstaanbare klanke, wat glad nie verband hou met bestaande menslike tale nie – dus ’n aaneenryging van vreemde geluide wat weinig te make het met gewone taal. ’n Mens sou dit ’n “brabbeltaal” of “tongespraak” kon noem.

In Charismatiese kringe is hierdie vreemde klanke ’n bewys van Geesvervuldheid, ’n top geestelike ervaring, ’n bewys van God se nabyheid. Dit stig die mens self.

Hou egter in gedagte dat hierdie brabbeltaal-manifestasies eers vanaf 1901 die kerklike arena betree het. Sedert die oer-tyd van die Apostels tot en met 1901, was dit haas onbekend.

Wat het in die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling gebeur? Die vertalers het in 1 Kor 14 die Griekse woord “gloossa” () vertaal met “ongewone tale of klanke”. Terwyl “gloossa” net gewoon “taal” beteken.

Die Bybelvertalers het dus 1 Kor 14 met ’n vooropgestelde aanname vertaal. Watse aanname? Die aanname dat “gloossa” in 1 Kor 14 sinoniem is met dit wat huidiglik in die praktyk vd pinksterkerke & charismatiese beweging gebeur – nl. die manifestasie van tongespraak of brabbeltaal.

Terwyl die Grieks dit NIE sê nie.

Daarom werk die 1983 vertaling – op hierdie punt – die verwarring rondom die “spreek in tale” in die hand.

Indien die Grieks letterlik vertaal sou wees (soos die 1953 Vertaling doen), sou niemand ooit kon dink dat daar in 1 Kor 14 van iets ánders sprake is as gewone menslike tale nie, want dit is wat “gloossa” beteken. Om in “tale” te praat beteken dus, volgens die Grieks, om ’n ander taal te praat as jou eie, bv Chinees of Arabies of Japanees.

Dieselfde Griekse woord word in Hand. 2 gebruik waar daar in “tale” gepraat is ná die uitstorting van die Heilige Gees. Hier vind ons die oorsprong van die wonder van “praat in ’n vreemde taal” o.l.v. die Heilige Gees. Hierdie tale was egter gewone menslike tale en nie brabbeltaal nie. Sien vers 8.

Die buitelanders wat in Jerusalem woonagtig was, was verbaas toe hulle die Galileërs (op wie die tonge van vuur gekom het) in húlle eie tale hoor praat oor die groot dade van God. Hulle het dus eintlik gebid of aan die Here lof en aanbidding gebring = in die tale van die mense van ander nasies wat teenwoordig was.

Wat het dus gebeur?

Die Heilige Gees het gegee dat die gelowiges op wie die Gees gekom het, plotseling in ander landstale kon spreek. Skielik word die evangelie nie meer net in die Jode se taal (Hebreeus en Aramees) gehoor nie. Waarom? Want die Evangelieboodskap is nie langer net bestem vir die Jode nie, maar vir alle nasies (vgl 1:8). Alle volke = dus alle tale.

Die “talewonder” was bedoel as ’n TEKEN. Dit was ’n teken dat die dik muur wat tussen die Jode en die nasies gestaan het, omgeval het. Op Pinksterdag bars die evangelie deur hierdie muur. Die “talewonder” was ’n oorgangsteken by die feit dat die evangelie deur die grens van die Joodse volk gebreek het. Dit was dus in besonder vir die JODE SELF ’n teken dat die heidene (nie-jode) ook nou toegang het tot díé God wie die Jode gedink het slegs húlle God is. Die “spreek in tale” moes dus ’n hulpmiddel wees om die Jode se twyfel en verbystering te oorwin.

Later in Handelinge sien ’n mens dieselfde gebeur. Elke keer wanneer die evangelie ’n verdere grens oorsteek (en 1:8 sodoende stelselmatig vervul word), manifesteer die talewonder weer van voor af. Byvoorbeeld in Hand 10:46 – die nie-Jood Cornelius kom tot geloof – en toe die Jode die “talewonder” hoor was hulle verbaas dat die Gees ook op nie-Jode uitgestort is. Die “spreek in tale” was vir die Jode die teken van die uitwissing van die grens tussen Jood en nie-Jood.

Volgens Hand 18 was daar baie Jode in Korinthe woonagtig. Dit is een vd redes waarom die “talewonder” so erg in díé spesifieke gemeente voorgekom het. Maar in geen ander NT brief word daarvan melding gemaak nie. Korinthe was dus ‘n brandpunt.

Daar is absoluut géén taalkundig-eksegetiese redes waarom die “spreek in tale” van 1 Kor 14 verskil van díé in Handelinge nie. Alle voorstaanders van “tale-praat” soos dit die afgelope 117 jaar in die Pinksterbeweging voorkom, maak ‘n onderskeid tussen die TIPE tale van Handelinge en die van 1 Korint 14. Maar dit kan nie, want die woorde “gloossa” word deurgaans gebruik en dit verwys NIE na ’n ekstatiese geheimtaal nie.

Óók in die gemeente van Korinte was dit (net soos in Handelinge) ’n oorgangsteken spesifiek vir die JODE. Dit sê Paulus self in 1 Kor 14: 22 – “’n teken vir die ongelowiges”. Met “ongelowiges” bedoel hy die Jode, n.a.v. die aanhaling uit Jes. 28 in 1 Kor 14:21. En in Korinte wás baie Jode.

Dat Paulus inderdaad in 1 Kor 14 aan ’n gewone taal dink, blyk uit vers 23, 27. Paulus reël, dat wanneer daar tale gespreek word, slegs een persoon op ’n slag mag praat en dit vertaal moet word. Anders, indien ’n klomp mense tegelyk in allerlei tale spreek, en ’n vreemdeling kom die vergadering binne, sal hy dink die mense is kranksinnig. Die vreemdeling sou dit egter nie sê indien slegs een persoon in ’n ander taal spreek nie.

Paulus se lering in 1 Kor 14 in sake “spreek in tale” in ’n neutedop
1) Dit was ’n teken vir ongelowige Jode dat die evangelie ook vir nie-Jode bedoel is. Dit moes help om die Jode te oortuig.
2) Dit moes dien tot die opbou van die gemeente (v 26). Dit is ’n teken ten behoewe van ánder en nie vir persoonlike seën nie
3) Daar moes altyd tolke teenwoordig wees om te vertaal (v 5, 27). Die Griekse woord “di-er-me-neu-oo” () beteken “om te tolk/vertaal”. Indien daar geen tolk is nie, kan die gemeente nie gestig word nie (v 16). Die praat in ’n ander taal was dus werklik van die Gees, want die spreker het self nie verstaan wat hy praat nie en kon dit dus nie aan ander uitlê nie (v 14). Indien ek ‘n lidmaat in die destydse gemeente in Korinthe sou wees en die Gees aan my die vermoë gee om in Chinees te bid, verstaan ek dit self nie. Dit is wel ’n teken vir die Jode dat die evangelie óók vir Chinese bedoel is en sodat Chinese (wat teenwoordig is) dit kan verstaan, maar dit dien tot geen stigting vir die volle gemeente indien dit nie vertaal word nie. In Hand 2 was geen tolke nodig nie omdat die verteenwoordigers van vele nasies self teenwoordig was toe daar in hulle eie tale gepraat is.
4) Die tale was nie bedoel om ’n openbaring van God aan Sy gemeente te wees nie. Dit was gebedstaal ( vv 2, 14). Dit stem ooreen met Hand 2 – daar is gepraat oor die groot dade van God. Daar is met God en oor God gepraat. Dit was geen stigtelike toespraak wat tot mense gerig word nie. Dit is geen boodskap van God wat aan die gemeente gerig word nie. Dit is suiwer lofprysing & aanbidding.

Hedendaagse misverstande en dwalings binne Charismatiese geledere
1) Die “spreek-in-tale” word verander van volkstale na ’n geheime ekstatiese brabbeltaal en dit word in 1 Kor 14 ingelees, sonder dat dit werklik daar staan. 1 Kor 14 word gelees in die lig van die praktyk van die afgelope 117 jaar in stede daarvan dat die praktyk van die afgelope 117 jaar in die lig van 1 Kor 14 beoordeel word!
2) Die brabbeltaal word ’n manier waarop die gelowige homself stig, pleks van die gemeente. Dit word ’n “bewys” van Geesvervuldheid. Dit is volkome in stryd met die Skrif. Die “talewonder” word verander van ’n-teken-vir-die-ongelowige tot ’n-teken-vir-die-gelowige. Dit word ’n stuk selfbevestiging: “Sien jy, ék het wel die Gees. Die Here is regtig naby my. Ek is kosbaar vir die Here, want kyk net wat ‘n wonderlike bonatuurlike gawe het Hy my gegee”. Dit wat ’n TEKEN moes wees, word tot ERVARING gemaak. Daarom word die brabbeltaal in sommige kringe selfs aangeleer. Volgens die Bybel is die “talewonder” nie ’n middel waardeur ’n mens jou eie geloofslewe op ’n hoër vlak bring nie.

3) Die “uitleg van tale” word boodskappe wat God aan Sy gemeente gee. Die “spreke TOT/OOR God” word verander na “spreke VAN God tot die gemeente”. Meesal is dit sake wat net so goed vanuit die Bybel aan die gemeente voorgelees kon word. Geen geheime talespraak is daarvoor nodig nie. Dat dit verander word na boodskappe VAN God is volkome in stryd met die Skrif.

4) Navorsing het aan die lig gebring dat presies dieselfde tipe brabbeltale wat in hedendaagse Charismatiese kerke gehoor word, ook in die heidendom manifesteer.

Arnold Bittlinger het dit by Boeddistiese monikke aangetref en ook in ’n sekere Indiaanse godsdiens. Prof JW Maris meld dat die brabbeltale binne die charismatiese seksie vd Rooms-Katolieke Kerk die mense help met hulle Maria-verering. By geleentheid het ’n Rooms-Katoliek tot Jesus gebid om ook die “gawe van talepraat” te mag ontvang. Hy bid toe soos volg: “As U my dit nie gee nie, dan vra ek dit van U moeder (Maria)”. Toe ontvang hy “dit” onmiddelik. Aldus JW Maris.

Ons moet dus die soort brabbeltaal wat sedert 1901 in Pinkster- en Charismatiese kerke manifesteer, onderskei van wat die Skrif leer. Dit is gewoon nie dieselfde ding nie! Vir iemand wat wel in hierdie tipe tale praat, is dit natuurlik baie baie moeilik om so iets te erken! Indien ek eerstehands iets beleef, is dit baie moeilik om te besef en te erken dat dit nie Bybels-korrek is nie! Want hier beleef ek dit dan – en dit beteken so baie vir my – ek voel so geestelik – ek voel die Here se teenwoordigheid – hoe kan dit onbybels wees!? En miljoene ander beleef dit. Is almal dan verkeerd?

Die betekenis van die talewonder vir ons vandag
Volgens die apostel Paulus se woorde in 1 Kor 13:8 sou daar ’n tyd kom (“die volmaakte”) wanneer tale “vanself sal ophou” (Grieks: “pous-ontai” medium werkswoordsvorm () (“vanself stop” in die medium). Volgens Paulus sal profesie en wysheid gestop WORD (passiewe werkswoordsvorm) deur die “volmaakte” wat na die “perfekte Ryk van God” verwys. Die voleinding sal profesie en wysheid stop, maar tale sal VANSELF stop. Dit verwys waarskynlik na die tyd wanneer die oorgang van die OT-periode na die NT-periode afgehandel is
..

Die rede waarom die Gees die “talewonder” sedert Pinkster gegee het – naamlik as teken dat die evangelie deur die grense van die Joodse volk na alle nasies gebreek het – het dan (wanneer die volmaakte gekom het) verval – wanneer die oorgang na die NT-periode afgehandel is en wanneer die NT-geskrifte voltallig en voltooi is, is dit gewoon nie meer nodig nie.

Dit is juis binne hierdie konteks wat ons die voortgaande betekenis van die “talewonder” vir 2018 moet soek: die sendingkonteks. Die talewonder was immers ’n Godgegewe hulpmiddel om die grens tussen Jood en heiden af te breek. Dit gaan dus oor die feit dat die evangelie in alle tale en onder alle nasies uitgedra moet word. In die kerk van Christus speel land van herkoms, taal, kultuur of velkleur geen rol meer nie.

Die inhoud van die talewonder het baie verdiep nádat die wonder opgehou het. Nóú spreek ons nie meer in allerlei tale nie, maar moet ons PRAKTIES TOT UITVOER BRING dít waarvan die talewonder ten diepste spreek: naamlik 1) die eenheid binne die kerk wat uit alle volke bestaan en 2) die daadwerklike uitdra vd Woord oor alle landsgrense en na alle tale. Want die Woord ken geen grense nie.

Opsommend: Indien ons streng na die Skrif self luister en nie die Skrif deur die lens van die praktyke van die moderne Charismatiese ervarings lees nie – is die vraag: Moet en sal kinders van die Here in 2018 in vreemde tale praat?

Die antwoord is: Indien ons met “tale” die brabbeltaal bedoel wat sedert 1901 voorkom, sal die Gees dit nie gee nie. Om die eenvoudige rede dat dit nie Skriftuurlik is nie. En wat nie Skriftuurlik is nie, kom nie van die Heilige Gees nie.

Indien ons met “tale” werklike TALE bedoel – soos ons dit in Handelinge 2 sien – dan staan dit steeds die Gees vry om dit te skenk waar en wanneer Hy wil. Ons kan nie die Here inperk nie. Hy is almagtig, Hy is soewerein. Hy kan dit gee.

Hy sal dit egter nie gee indien dit nie presies gebeur volgens die beginsels van die Skrif nie. In die Skrif het Hebreeus-sprekendes skielik die onbekende tale van die nasies van daardie tyd gepraat. Skielik kon almal mekaar verstaan. En dit was ‘n wonderteken wat die Here spesifiek vir die Jode (en dalk ander heidense ongelowiges) gegee het.

Ons kan dus verwag dat die Gees moontlik talespraak kan gee in situasies waar die Evangelie vir die eerste keer aan onbereikte groepe verkondig word OF waar die Bybel nie so geredelik beskikbaar is nie. Mens hoor dikwels hoe die Here byvoorbeeld in Moslemlande deur drome met Moslems kommunikeer. Op dieselfde manier kan Hy ook in soortgelyke kontekste talespraak gee – maar dan werklike tale – nie onbybelse brabbeltaal nie. Want dit is buitengewone omstandighede. Maar, in gewone gemeente-konteks, waar die volledige Skrif tot almal se beskikking is en dit behoorlik gepreek en geleer word, is die kans byna nul dat dit sal gebeur!

 

 

 

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew