Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Die gawe van profesie

Skrif : Efesiërs 2:20, 1 Korintiërs 14: 1-12, 19

Wat is dit wat mense na die charismatiese beweging trek?

Die groot aantrekkingskrag, is dit wat daar beleef word. Daar gebeur iets. Hulle aanbieding van die gawes van die Gees (charismata) word ervaar as iets “ekstra” – wat nie in die gevestigde kerke ervaar word nie. Die MENS is sigbaar aktief betrokke en word aangegryp. Daarby adem hul byeenkomste ’n gees van vryheid waar die Gees (volgens hulle) régstreeks praat. Lewende kontak met God.

Dis nogal belangrik dat ons moet verstaan waar die Charismatiese beweging histories vandaan kom.

Dit mag dalk ‘n skok vir baie wees, maar daar was absoluut geen Pinksterkerke of charismatiese groepe VOOR die jaar 1901 nie! Vir 1900 jaar – sedert die einde van die Apostoliese era – was daar nie sprake van MENSE wat die buitengewone gawes gehad het om siekes te genees of direkte stemme van die Here te hoor of in snaakse brabbeltale te praat nie. Natuurlik het die Here deurentyd wonders gedoen, maar dit was nie deur die direkte bemiddeling van sekere gesalfde MENSE soos in die apostoliese tyd nie.

Daar was slegs DRIE kort periodes in die heilsgeskiedenis wat die Here aan sekere MENSE die direkte vermoë gegee het om buitengewone wonders te kon verrig. Drie vensterperiodes: 1) Moses & Josua (dit was vir ongeveer 65 jaar). 2) Elia & Elisa (weer eens 65jr) 3) Christus en die Apostels (70jr periode). Gedurende hierdie drie vensterperiodes het die Here MENSE direk bemagtig om wonders te doen, want dit was drie belangrike nuwe oorgangstye, waar die Here se Boodskappers se boodskap met tekens en wonders onderstreep en bevestig moes word.

Ná die Apostel Johannes se dood sien ons dus niks van wat vandag as die Charismatiese Beweging bekendstaan nie – waar MENSE (deur direkte bemiddeling) siekes genees, mense laat omval, direkte openbarings van God ontvang ens nie.

Wat het dan in 1901 gebeur?

‘n Prediker met die naam van Charles Fox Parham het ‘n Bybelskool in Topeka, Kansas begin en geleer dat die bonatuurlike gawe van spreek in vreemde tale weer in die kerk herstel moes word as ‘n bewys dat iemand die Heilige Gees ontvang het.

Een van sy leerlinge, William Seymour, het in 1906 in ‘n kerkie in Azusastraat, Los Angeles, begin preek en ‘n groot uitbraak van tongespraak en allerlei manifestasies het plaasgevind en letterlik vir jare lank aangehou.

Hierdie oplewing in Azusastraat was die geboorte van wat ons vandag ken as die Pinksterbeweging. In ons eie land het dit die opkoms van groepe soos die Apostoliese Geloofsending (AGS) tot gevolg gehad.

In kort staan die Pinksterbeweging daarop dat daar ‘n herstel moet wees van dinge wat in die era van die Apostels gemanifesteer het soos wondertekens, genesings, profesie en tongespraak.

Tot in die 1960’s was die Pinksterbeweging hoofsaaklik beperk tot BUITE die gevestigde kerke, maar sedert die 60’er jare het dit meer en meer inslag gevind binne-in die gevestigde kerke, selfs die Rooms Katolieke Kerk. Die invloed van die Pinksterbeweging se teologie in die praktyk van gevestigde kerke, sou bekend staan as die charismatiese beweging. Dit was bekend as die sogenaamde “second wave”, die tweede golf.

Maar in die 80’er jare het daar ‘n derde golf (third wave) begin toe prof Peter Wagner van Fuller Theological Seminary asook John Wimber begin leer het dat die Apostelamp herstel moet word alvorens die wederkoms van Christus kon plaasvind. So het die sg New Apostolic Reformation begin. Dit was die begin van ‘n baie radikale charismatiese golfbeweging wat oor die hele wêreld sou spoel. Allerlei bizarre manifestasies en verskynsels het na vore begin tree en alles is aan die Heilige Gees toegeskryf. Mense het omgeval wanneer gesalfde predikers vir hulle hande oplê – die sogenaade “slain in the spirit”. Die “lag in die gees” verskynsel. Die prosperity gospel word geleer te same met sogenaamde gawes van profesie. Die Bybel self was nie meer genoegsaam nie. Vars, lewende openbarings moes direk van God af ontvang word.

Vandag word die Charismatiese kerke hoofsaaklik deur die Third Wave beheers. Byna al die predikers wat ‘n mens op DSTV kanaal 341 sien, kom uit die Third Wave.

Na alles bly die tergende vraag steeds: Waarom sou die Here die herstel van hierdie bonatuurlike gawes vir 1900 jaar lank van die kerk weerhou? Indien hierdie dinge onmisbaar sou wees vir die kerk om WARE kerk te wees, waarom sou die Here dit vir byna 2000 jaar van die kerk weerhou het? Waarom het dit glad nie na vore gekom tydens die Groot Reformasie van die 16de eeu nie? Sou dit nie beter wees om in ons dag liewer terug te gryp na die oer-wortels van die historiese Christelike Geloof eerder as om ‘n oplewing van die afgelope 118 jaar jou basis en fondament te maak nie? Sê nou net die onlangse ontwaking is ‘n stuk misleiding en nie werklik van die Here nie?

Ek gee hierdie uiteensetting slegs as ‘n kort agtergrond vir die volgende drie boodskappe wat handel oor profesie, spreek in tale en genesing.

Kom ons kyk nou na die kwessie van PROFESIE.

Deesdae word ons oorspoel met sogenaamde “profetiese woorde” wat sogenaamd van die Here afkomstig sou wees. Met die droogte in die Wes-Kaap is daar talle sulke profetiese woorde van Amerika afkomstig – met boodskappe vir die Kapenaars wat sogenaamd van die Here afkomstig sou wees. Opvallend dat al die boodskappe gaan oor die wonderlike reëns wat sal kom en die geweldige herlewing wat op pad is Kaap toe – bedoelende natuurlik ‘n herlewing van die Third Wave praktyke. ‘n Mens sal baie selde “profetiese woorde” hoor wat oor die heiligheid en komende oordeel van God en die werklikheid van die hel handel. Die skerp kante van die Woord word meesal afgevyl.

Dát die Bybel duidelik praat van die gawe van profesie, is ’n feit. Die vraag is of die manier waarop hierdie gawe tans in die Charismatiese beweging funksioneer, sinoniem is met dít waarvan die Skrif praat.

Wat moet ons sê van die “profesie-koors” wat tans die kerklike arena oorspoel. “Die Here sê” – is woorde wat dikwels gehoor word. Mense maak daarop aanspraak dat God aan hulle direkte openbaringe in hul gemoed en selfs met ’n hoorbare stem gee. Ons weet byvoorbeeld almal van Angus Buchan se “die Here sê” “profetiese woord” dat die damme teen einde Maart 2018 sou oorloop! Wat moet ons hiervan maak?

Indien dit so is dat God Homself steeds d.m.v. profesie openbaar, moet alle Christene daarop ag slaan, want dan dra dit gesag van Bo. Indien nie, moet dit sonder meer verwerp word.

Om vas te stel wat die waarheid is, moet ’n mens antwoorde op die volgende 4 vrae kry:

Vraag 1: Wat het profesie in die OT behels? Die OT is propvol profete en profesieë. Dit is verkeerd om aan profesie te dink as toekomsvoorspelling – alhoewel dit dit kan insluit, maar dan BELOFTES/toesegginge i.v.m. toekoms.

Volgens Deut 18:18 vind profesie plaas wanneer God Sy eie woorde in die profeet se mond plaas. Dit is 100% akkuraat wat betref die ware leer (Deut 13:1-5) en die toekoms (Deut 18:18, 21-22).

Waar daar nie voldoen is aan hierdie twee eienskappe nie, moes die “profeet” sonder meer gedood word (Deut 13:5, 18:20).

God het hierdie profetiese woorde gebruik om A) Homself en Sy Woord aan Sy volk te openbaar omdat daar nog geen/min Woorde op Skrif was en B) om Sy Skriftelike Woord (OT) gaandeweg saamgestel te kry. Baie profetiese woorde is op skrif gestel en het die Skrifgeworde Woord van God geword (die OT).

Die werklike gevaar agter die valse profesie, word in Jeremia 23:35-36 blootgelê: Wanneer elkeen sy eie woorde tot woorde van God maak, word die volk se aandag weggelei van die wáre woorde van God. Daarom is vals profesie so dodelik, gevaarlik en totaal onaanvaarbaar en onder die Here se oordeel.

Vraag 2: Wat het profesie in die grondleggingsfase vd NT-kerk behels? Efes 2:20 staan daar – die NT-kerk is gebou op die fondament vd Apostels & profete – bedoelende hulle leer. (Sien Hand 2:42). Die apostels & NT profete het ’n eenmalige & onherhaalbare taak gehad om die fondament te lê waarop alles gebou word. ’n Fondament word slegs een maal gelê. Dit kan nie oor en oor gelê word nie.

Efes 2:20 maak ook melding van die fondament-lê-gawe van PROFETE. Dit verwys na die OT-profete, wie se leer die basis was waarop die apostels gebou het. Dit verwys egter OOK na profetiese arbeid in die vroeëre kerk, ná Pinkster, wat komplimentêr tot die apostels se leer was. ’n Mens kan dink aan mense soos Markus & Lukas, wat nie apostels was nie, maar tog God se woorde neergeskryf het (dus profeties).

Die “fondament-lê-tydperk” is voltooi toe die Bybelboeke voltallig was ( 1 Kor 13: 8-13, Open 22: 18-19). Die Bybelse kanon is die finale en genoegsame en afgeslote samevatting van profetiese & apostoliese woorde. Waar die volledige Bybel is, is geen verdere openbaringskennis moontlik of nodig nie. Iemand het eenmaal gesê: “Waar nuwe openbarings dieselfde sê as die Bybel, is dit oorbodig en waar dit iets anders as die Bybel sê, is dit vals”


Vraag 3: Wat het profesie in die NT-kerklike lewe behels? Dieselfde eis vir ware profesie wat in die OT gegeld het, geld ook in die NT naamlik: 100% akkuraatheid in leer & vervulling.

Die vereiste dat profetiese woorde deur die gemeente getoets moet word, kom volop voor, byvoorbeeld 1 Joh 4:1, 1 Kor 14:29, 1 Tess 5: 19-22.

Die toetsing moet plaasvind – nie omdat daar ’n moontlikheid bestaan dat die profetiese woorde foute & onakkuraatheid kan bevat nie (want dit kon nie!), maar omdat daar soveel valse profete in omloop was. Die konteks van elkeen van genoemde teksgedeeltes verwys na valse profete.


In die tyd toe die volledige Bybel nog nie daar was nie (slegs OT en gedeeltes van NT geskrifte) het die Gees profetiese woorde gebruik om die gemeente te stig. Die vereiste van 100% akkuraatheid het vasgestaan.


Tóg het die SKRIF (OT) steeds die hoogste gesag gehad en bó enige menslike ervaring gestaan. ’n Mens sien dit bv. in
2 Pet 1: 16-18 waar Petrus te kenne gee dat die OT Skriftelike Woord, méér gesag dra as drie apostels se gesamentlike eerstehandse ervarings van Christus. Petrus verwys na die ervaring wat hy en twee ander dissipels gehad het op die berg toe Jesus voor hulle oë van gedaante verander het in verheerlikte gestalte en hulle die Vader se stem uit die hemel gehoor het. Dit was ’n werklike ervaring wat drie dissipels sáám beleef het. Dit was geen subjektiewe gemoedsaandoening nie!

En tóg verwys Petrus sy lesers na die OT Profetiese Skrifte! DIT staan soos lamp in die donker. Hul ervaring op die berg het slegs die boodskap vd OT profetiese Skrifte bevestig! Die gesag lê nie in hulle eerstehandse ervaring nie, maar in die OT Woord! Die toets vir enige subjektiewe ervaring – selfs vir werklike fisiese gebeurtenisse waarby apostels betrokke was – is of dit ooreenstem met die SKRIF as Woord van God.

Nêrens in die NT is daar enige suggestie dat ’n gelowige na ’n innerlike stem of gemoedsaandoening moet luister om God se Woord te verneem ten einde die Here se leiding te verkry nie. Die gelowige 1) bestudeer die Woord, 2) bid en 3) vertrou op God se praktiese voorsienigheid in alle omstandighede. Indien daar wél subjektiewe indrukke voorkom, moet dit ooreenstem met die Skrif en dit moet kontrolleerbaar wees deur ander gelowiges.


Daar bestaan nie so iets soos ’n besonderse individu wat normatiewe openbarings ontvang wat nie onderworpe is aan die gemeente se toetsing nie. Selfs Paulus se prediking is deur die gemeente van Berea aan die hand van die Skrif getoets (Hand 17:11).


Dit is te betwyfel of die profetiese gawe, waarvan 1 Kor 14 praat, enigsins
nuwe openbaringe aan die gemeente moes gee. Dit is ook nie beoefen deur slegs sekere mense nie. Daarom moedig Paulus in vers 1 ALMAL aan om te profeteer.

Met “profeteer” bedoel hy “woorde wat geestelik opbou, bemoedig en vertroos” (v 3) en wat “onderrig” (v 19). In hierdie sin het alle gelowiges ’n profetiese taak, maar Paulus verwys spesifiek na diegene wat tydens eredienste praat – “gemeenteprofete” dus.

Hulle bediening het nie die bedoeling gehad om die gedeeltes-van-die-Bybel-wat-reeds-bestaan-het aan te vul of om dieselfde vlak van gesag te hê nie, maar om ooreenkomstig met dit wat God alreeds geopenbaar het (o.a. in lyn met Paulus en die ander apostels se prediking en lering), te onderrig en die gemeente op te bou.

Vraag 4: Wat verstaan die huidige Charismatiese groepe onder profesie? Die gedagte is dat God steeds op ’n gereelde basis direk met Sy mense praat – buite-om die Bybel – deur direkte ingewing.

In sommige kringe word hierdie woorde gesien as aanvullende openbaringskennis bo en behalwe die Bybel. Oor die algemeen plaas hulle egter nie hierdie “goddelike spreke” op dieselfde gesaghebbende vlak as die Skrif nie, maar beskou dit nogtans as vars woorde van God wat die Gees in iemand se gedagtes plaas d.m.v. indrukke of beelde.

Dit kan woorde van kennis en wysheid wees wat Hy aan iemand gee om aan ander mee te deel. Die mens wat dit ontvang kan dit egter misverstaan of onakkuraat interpreteer en weergee sodat daar “foute” kan insluip. Die fout lê nie by God nie, maar by die mens – so word gesê.

Dit kan dus gebeur dat die “profetiese woord” afwyk van die ware Bybelse leer óf dat dit nie waar word nie – maar dit is te wyte aan die menslike ontvanger se swakheid.

Opvallend hoe hierdie definisie verskil van die OT definisie van profesie waar 100% akkuraatheid ’n vereiste is en doodstraf wanneer afgewyk word en menslike insigte as profesie voorgehou word.

Konklusie: Die Bybelse antwoord: Dit is duidelik dat die begrip “profesie” in die Bybel in ’n breë betekenis gebruik word.

In die OT-tyd en grondleggingsfase vd NT-kerk, is die begrip gebruik vir die manier waarop God Sy Woord aan mense bekend gemaak het, wat uiteindelik in die Bybel neerslag sou vind. Die Bybel was immers toe nog nie voltooi nie. In die tyd toe die Skrif nog nie voltooi was nie (bv. gemeente v Korinte), het die Gees dit nodig gevind om deur “gemeenteprofete” woorde van kennis & wysheid aan die gemeente mee te deel – 100% akkuraat volgens die OT en prediking vd apostels – en deur die gebruik van gesonde verstand (1 Kor 14: 19).

In ’n sekere sin het die gawe van profesie dus opgehou en in ’n sekere sin gaan dit steeds voort.

OPGEHOU: Die Bybel is voltooi en dít is God se genoegsame en volledige profetiese woord. Geen verdere profetiese openbaringskennis is moontlik of nodig nie.

VOORTGAANDE: Die profetiese gawe funksioneer steeds in Christus se gemeente en is lewensnoodsaaklik vir die opbou van die kerk. Hierdie gawe behoort nie net aan sommige gelowiges nie. Alle gelowiges het die voorreg om God se woorde te mag spreek en bekendmaak tot stigting, vermaning, onderrig, troos en opbou van almal.

Natuurlik beoefen leraars, ouderlinge, sendelinge dit in ’n besondere sin.

Daar is een ononderhandelbare vereiste: dit moet 100% in lyn wees met die profetiese woord wat in die Bybel vasgelê is.

Wat beteken die “gawe van profesie” vir Christus se kerk in 2018?

Die Gees verlig Sy kinders se verstand op só ’n wyse dat hulle mekaar kan onderrig en bou deur díé Woord wat Hy finaal in die Skrif deur die apostels en profete laat opteken het, te spreek. So eenvoudig, maar ook so wonderlik, soos dit!

Profesie beteken: Die Woord van God soos in die Skrif gegee, PRAAT binne-in alle omstandighede en situasies in 2018. Dit “vat grond” in 2018. Maar, dis ONS wat dit moet ken, liefhê en PRAAT!

 

 

 

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew