Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Skrif: Handelinge 8: 1-25
Tema: Evangelie op vlerke

Net om u te herinner: 1:8 is die as waarom die hele Handelinge-wiel draai. “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en Samaria tot by die uithoeke van die wêreld.” ‘n Proses wat eers by die wederkoms van Jesus tot ‘n einde sal kom. Die boek Handelinge is die getuienis van hoe die Here daardie woorde (van 1:8) stap-vir-stap vervul het. Daarom is hfst 8 so belangrik. Want hier word die eerste grens oorgesteek: die evangelie versprei na Samaria. Streng gesproke is hfst 7 eintlik die belangrikste sleutel: Stefanus se toespraak (OT Kategese-les) waarna ons verlede week gekyk het, waar Stefanus leer dat Jésus die nuwe tempel is. Mense hoef nie na Jerusalem/tempel te kom om God te leer ken nie, maar na Christus. Dít/Hý moet aan alle nasies verkondig word. En nou, hier in hfst 8, begin dit daadwerklik gebeur.

Dit is interessant hóé dit gebeur. Kyk, indien dit van die gelowiges in Jerusalem moes afhang, sou dit dalk glad nie gebeur het nie, want hulle het hulle absoluut tuis gemaak in Jerusalem, in die eerste gemeente. Dáár, in Jerusalem, was herlewing en só baie werk om te doen. Daar was soveel mense wat bereik moes word. Die apostels was daar. Die goeie prediking was daar. Dit was lekker in Jerusalem. Dis net logies dat almal daar sou wou nesskop. Maar, onthou, Jesus het in 1:8 ‘n belofte gegee. En Hy sou dit waarmaak. Al moes Hy ook onaangename middele gebruik. Dit gebeur in hfst 8.

Nádat Stefanus gestenig is, breek daar hewige vervolging onder die gelowiges los. Dis asof Stefanus se steniging die groen lig is vir verdere vervolging van Christus se volgelinge. ‘n Man met die naam Saulus is ‘n voorbok. Hy keur dit goed dat Stefanus vermoor word. “Die luis van ‘n Christen. Goed so. Weg met hom..” Saulus gaan na die gelowiges se huise en sleep hulle tronk toe. Sake gaan rof en die gelowiges ly swaar. En die gevolg hiervan was dat hulle moes vlug en sodoende versprei het tot ver buite Jerusalem. Op die ou end het byna net die apostels in Jerusalem agtergebly.

Maar, kyk wat gebeur: soos wat die mense versprei, verkondig (letterlik: getuig van/ deel met ander) hulle die Woord. ‘n Mens kan dit vergelyk met ‘n klomp gloeiende kole in ‘n bak wat mekaar se nabyheid geniet. Dan kom iemand met ‘n graaf en skep die kole en gooi dit in alle rigtings. Soos wat die kole oral grondvat, steek dit die gras aan die brand en veroorsaak ‘n klomp vure. Soos wat die gelowiges buite Jerusalem versprei word (agv die “graaf”: vervolging) stig hulle vuurtjies, getuig hulle van die redding in Christus. Ongelukkig was dit nodig dat daar eers vervolging moes kom alvorens dit kon gebeur, maar hoe anders sou hulle hul gemaksone in Jerusalem verlaat om die evangelie na die onbereiktes in Judea en Samaria te neem?

Tog moes hulle baie wanhopig gewees het toe die vervolging uitbreek, want… waar is die Here dan nou? “Ons het gedog Hy is in beheer..” Nou sterf Stefanus onder ‘n klippe reën en almal word geweldadig vervolg. Hoe moet ‘n mens dit verstaan? Alles het dan so wonderlik in die gemeente gegaan! Daar was soveel groei. Daar was soveel onderlinge omgee & liefde. En nou kom beduiwel hierdie vervolging alles. Alles spat uitmekaar! Nou word mense gedwing om hul huise en woonplek te verlaat. Wie gaan oorbly in die gemeente? Hoe gaan hulle oorleef? Waar is God? Hoe moet ‘n mens tog die Here se weë verstaan? En tóg was die Here in volle kontrole. Hy was besig om te oorwin! Hy was besig om 1:8 te vervul! En kyk hoe bonatuurlik is dit dat die verstrooide mense oral van Christus gaan getuig. Dat hulle nie in selfbejammering & ellendige depressie verval nie, maar die evangelieboodskap versprei. Dit is voorwaar die bonatuurlike greep van die Gees op mense se lewens! Presies dieselfde greep wat Hy vandag nog uitoefen. Die Here het kontrole/oorwinning oor onverstaanbare onlogiese omstandighede en wanhopige twyfelvrae. En oor onregverdige lyding wat Christene ly. En oor die natuurlike neiging om te murmureer en te kla. Hy omskep dit alles tot geleenthede om van Sy Naam te getuig. Dit is nie maar net mooi praatjies nie, dit is die onomwonde getuienis van Handelinge 8 se aanvangsverse!

Maar weet u, Hand 8 praat van nog ‘n groter wonderwerk – en dit is dat spesifiek SAMARIA met die Woord bereik word en dat juis SAMARITANE tot geloof in die Here Jesus kom. Vir óns wat dit vandag lees, sê dit niks, maar in daardie tyd was dit iets geweldig, want die Jode & Samaritane het mekaar absoluut verpes. En dit terwyl hulle familie van mekaar was. Praat van diskriminasie – híér was dit erg! Die Samaritane was die nakomelinge van die 10 stamme van Israel wat 700 jaar tevore na Assirië in ballingskap weggevoer is. Hulle was verbaster en het in bygeloof en valse godsdiens verval – besig met toordery en okkulte. (Ons sien dit by Simon die Towenaar, vir wie hulle soveel agting gehad het.) Daarby kon hulle en die Jode mekaar nie verdra nie. Die rassehaat wat deel van die SA-samelewing was (en steeds is?) is kinderspeletjies teenoor wat dáár gebeur het. Geen wonder dat Jesus se dissipels hul oë nie kon glo toe Hy met ‘n Samaritaanse vrou praat nie (Joh 4). Daarom het Jesus se gelykenis van die Barmhartige Samaritaan soveel trefkrag gehad: Omdat dit juis ‘n Samaritaan was wat barmhartig was teenoor die Joodse man wat deur rowers oorval was.

Nou kan ‘n mens die krag van die Gees/Woord sien as geredde Jode die evangelie juis na Samaria neem & talle Samaritane kom sommer so “maklik” tot geloof. Hulle was agterdogtig en vyandig teenoor hierdie Jode se getuienis. En tog oortuig die Boodskap hulle! Hulle gee stip aandag wanneer Filippus preek en die Gees tekens verrig. ‘n Mens kry die indruk dat die vyandigheid, haat, verblinding van hul valse godsdiens, die verblinding van bose magte wat deur towery/okkulte oor hul oë gehang het, net eenvoudig padgee voor die Blye Boodskap wat Filippus verkondig. ‘n Mens kry die indruk dat dit maklik gebeur. Hierdie Samaritane keer om na die Here toe! ‘n Merkwaardige herlewing vind plaas. Die Here oorwin die heidendom. Ook dáár is Hy in beheer. Dit is ‘n groot bemoediging, veral waar ons dikwels nie hoop het vir sommige mense nie. Ons kan nie dink dat dit moontlik kan wees dat ‘n bepaalde persoon tot bekering kan kom nie. Hóé sal mense wat vasgevang is in valse idees/godsdiens/filosofie OOIT reageer op die eenvoudige boodskap van Christus!? Hoe sal mense in die Moslemlande OOIT positief reageer?! En tog sien ons dit in Hand 8: dit KAN gebeur! Die Gees-deur-die-Woord openbaar ‘n verstommende krag.

Ook die apostels in Jerusalem was stomgeslaan toe hulle hoor wat in Samaria (van alle plekke!) gebeur. Onmiddelik stuur hulle vir Johannes & Petrus soontoe, want dit is belangrik dat die Samaritane se Christelike Geloof dieselfde moes wees as die ware outentieke Christelike Geloof wat die Apostels geleer het. Enige weergawe van die Christelike Geloof wat nie apostolies is nie, is vals. Onthou: hier word nou ‘n belangrike grens oorgesteek: ‘n nuwe, voorheen onbereikte mensegroep word met die evangelie bereik. Nou is dit belangrik dat hulle die APOSTELS se leer moes aanvaar en erken dat hulself voorheen verkeerd was. Hulle was nie vry om te glo/leer/preek wat hulle wil nie. Daar is net één outentieke Christelike Geloof: dit wat die Apostels geleer het.

En, omdat ‘n nuwe area bereik word, is dit byna asof Pinkster (gawe van die Gees) herhaal word. Dit kan nie herhaal word nie, maar híér bewerk die Here dit so, dat almal met sekerheid kan weet: hierdie nuwe gelowiges uit die heidendom is nou waarlik deel van die Christelike Geloof. Daarom gebeur dit dat, nádat die Samaritane reeds tot geloof gekom het, die apostels hulle die hande oplê en die Gees op hulle kom. ‘n Bevestiging dat hulle nou ook deel het aan die kerk. Die kloof tussen Jood & heiden is oorbrug. Hierdie Samaritane mag aanvaar word as werklike broers en susters in die geloof. Hulle het hulle “eie pinkster” gehad.

‘n Mens sal nêrens anders in die NT lees dat ‘n mens tot geloof in Christus kom en dan – ‘n tyd daarná – eers die Heilige Gees ontvang nie. Die leer van die NT is duidelik: die oomblik wanneer ‘n mens tot vertroue in Jesus se dood & opstanding kom, ontvang jy die Gees in alle volheid. Dit geld vir álle gelowiges. Die idee van ‘n “second blessing” (om lank nadat jy ‘n Christen geword het, die Gees te ontvang) is vreemd aan die NT. Sien Joh 7:39, 1 Kor 12:13. Maar is dit nie ‘n “second blessing”- teologie wat in Hand 8 geleer word nie? Bots Hand 8 nie met ander dele van die NT nie? “Hand 8 laat my onrustig voel… sê nou maar net…” Nee! Dit gaan hier oor die belangrike simboliek – die stempel van goedkeuring van die Here – hierdie grens na die heidense half-Jode is wéttig oorgesteek.

En tog verloop alles nie so seepglad nie. Al die nuwe Samaritaanse gelowiges se bekering was nie eg nie. Byvoorbeeld díé van Simon die Towenaar. Ook hý het Filippus se prediking “geglo” (v 13). Maar die latere praktiese vrug in sy lewe het bewys dat hy valslik bekeerd was. Sy gierigheid & beheptheid-met-mag het nog steeds sy lewe regeer – nes dit voorheen was. As towenaar het hy mense aan sy voete gehad met sy bonatuurlike kragte. Hulle het hom vereer asof hy ‘n god was. En nou, toe hy sien hoe die Heilige Gees op mense kom met die handoplegging van die apostels, wou hy ook daardie mag besit. Hy sou dit selfs met geld koop indien hy kon.

Hy loop hom egter vas in Petrus se skerp woorde. Dis asof Petrus besef: “kyk, met hierdie man sal ek reguit moet praat.” Daarom sê Petrus: “Jy is verslaaf aan bitterheid en sonde. Jou hart is nie reg voor God nie. Mag jou geld saam met jou verderf. Bekeer jou en bid tot God.” Petrus gee nie om of Simon tevore tot geloof gekom het o.g.v. Fillipus se prediking nie, want die óú towenaar pronk nog steeds daar waar Christus moes wees. Al wat Petrus weet, is om vir Simon te sê: “as jy nie saam met jou geld in die verderf wil beland nie, beter jy jou bitter haastig bekeer.” Dit beteken: omdraai na God toe.

Simon was geen buitengewoon erge sondaar nie. Die stuk heidendom wat in sy hart vasgesit het, sit by ons almal, naamlik om sélf ‘n soort godjie te wees en die Here Jesus net as ‘n spaarwiel in ons kattebak te bêre – vir wanneer Hy nodig is! Veral om Sy seëninge in die hande te kry sodat dit met óns beter kan gaan.

Só, hoe weet ‘n mens of jy nie dalk self ‘n valse gelowige is nie? Sê nou maar net ek dink rustig dat ek waarlik gered is, maar ek mislei myself!? Hoe sal ek weet? Moet ek eers sondeloos wees voordat ek ‘n ware gelowige kan wees? Nee, beslis nie. ‘n Valse (misleide) gelowige glo wel alles in die Bybel, glo dat daar ‘n God is, glo dat Jesus gesterf het – maar – het nog nooit by die punt gekom om lewensvertroue oor te plaas op Jesus se kruisverdienste alléén nie. En dit vir Hom te sê nie. Vir Simon het dit nie werklik oor Christus gegaan nie alhoewel hy die Bybel geglo en in God geglo het. Al het Simon in God geglo, het dit ten diepste steeds net oor homself gegaan. Hy het nooit sy vertroue geplaas op Jesus se kruisdood & opstanding – dat DIT hom red nie. Daarom het die Gees nie sy praktiese lewe verander nie. Dít het Petrus raakgesien en hom reguit aangespreek.

Die vraag is nie óf u & ek “glo” nie. Die vraag is nie of u & ek in God glo en Sy Woord glo nie. Die duiwel self glo dit alles (Jak 2:19). Simon die Towenaar het ongelukkig op daardie punt vasgehaak. Die vraag is of ons lewensvertroue oorgeplaas is op Jesus se kruisverdienste. Soms ís mense se harte daar, maar hulle sê dit nooit vir die Here nie. Daarom wil ek u aanmoedig om dit vir Hom te sê. En u sal weldra agterkom dat die Gees u lewe begin verander en u begin deel in Sy oorwinninge – waarvan ons iets in Hand 8 gelees het.

Category PINKSTER 2020

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)