Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PINKSTER 2020 : NO 4
Skrif: Handelinge 6:8 – 7:60
Tema: ‘n Geloof werd om voor te sterf

Iemand het eenmaal gesê: “Eers wanneer ‘n mens iets ontdek het wat die moeite werd is om voor te sterf, het jy dít ontdek wat die moeite werd is om voor te lewe!” Het ú al iets ontdek wat die moeite werd is om voor te sterf? Dis ‘n ongemaklike vraag binne ons huidige tydsgees, wat baie wantrouig is teenoor enige sekerhede & oortuiginge. Iemand wat ferme sekere oortuiginge het, word maklik as ‘n “fundamentalis” gebrandmerk – iemand wat tot ‘n 11 September-aanval in staat is. “Ja, jy mág maar godsdienstig wees. Jy moet dit net nie oordryf nie. Moenie oorboord gaan nie.” Iemand soos Stefanus sou soos ‘n seer vinger uitstaan in ons huidige tyd. Dieselfde geld vir ons Here Jesus wat gesê het: “Ek roep julle soos skape tussen wolwe in”. Iemand soos Dietrich Bonhoeffer sou ook nie inpas in ons huidige kultuur nie. Hy het vir sy onwrikbare & smeulende verkleefdheid aan Jesus Christus as martelaar gesterf onder die Nazi-bewind van Adolf Hitler. Bonhoeffer het gesê: “When Christ calls a man, He bids him: Come and die.”

Ons het vanoggend die verhaal gelees van die eerste martelaar vir Christus: Stefanus. Hy was een van die sewe manne vir wie die gemeente gekies het om die Apostels se werkslas te help verlig sodat hulle kon bid & preek (vorige preek). In ons gelese gedeelte is Stefanus letterlik in ‘n hofsaak-drama betrokke. Daar is ‘n klag, ‘n verdediging en ‘n skuldigbevinding asook ‘n vonnis – en dit terwyl hy absoluut onskuldig is. Hy is wel ‘n oortuigde volgeling van Jesus Christus. Dít is die “misdaad” waarvoor hy hoogste tol betaal. Wanneer ons nou hierdie hofsaak onder oë neem, vra gerus uself af: “het ék ook deel aan Stefanus se oortuigings? Het ék ook by die punt gekom waar ek die Waarheid aangaande Christus in soveel diepte begryp, dat ek nie net ‘n geloofsoortuiging het om voor te lewe nie, maar ‘n geloofsoortuiging wat werd is om voor te sterf. “ Vra uself dit af.

DIE KLAG >> 6: 8-15 > Stefanus het nie net weduwees versorg nie, hy was ook ‘n prediker en Gods genade & krag was op hom. Hy het gepreek dat in Jésus die hele OT vervul is. Die Joodse leiers het dit nie verstaan nie. Hulle het gedink hy bring ‘n nuwe godsdiens en dat hy die OT verwerp. Daarom die aggressie. Daarom stook hulle valse getuies op om te sê dat Stefanus teen die Wet en Tempel praat. M.a.w téén God se plek en Sy Woord. Dan kon hulle Stefanus van laster aankla en doodmaak. U sien die tempel was sentraal in die Joodse geloofslewe. Indien jy met die Here wou ontmoet, moes jy tempel toe gaan. Hy het daar, in die allerheiligste, gewoon.

Wat Stefanus egter gepreek het, was dat die tempel/offers/priesters nie meer nodig was ná Jesus se koms nie, want in Hóm vind ‘n mens nou God se direkte teenwoordigheid! Hý is die nuwe tempel. Hý is die offerlam. Dis presies wat Jesus van Homself gesê het bv in Mat 12:6 (ook Joh 2:20). Die tempel/offers/priesters was soos ‘n skadubeeld wat heengewys het na die komende Christus. Byna soos ‘n klein modelmotortjie wat heenwys na die ware motor. Die modelletjie wys net heen ná die ware Jakob. Dit mag ‘n fantastiese motortjie wees, maar wanneer jy die ware een besit, dink jy nie meer aan die namaaksel nie. Dis wat Stefanus gesê het: “Jesus is die ware tempel. Om God te ontmoet/ken moet jy by Hóm uitkom, nie by ‘n sekere plek/gebou nie.” Vir die Joodse leiers was dit so goed soos laster. Want hulle het dit nie verstaan nie en hulle het Jesus nie geken nie.

DIE VERDEDIGING >> Hele hfst 7 > Interessant op watter manier Stefanus homself teen die klag verdedig. Hy gee vir hulle ‘n katkisasieles – ‘n oorsig oor die hele OT. Maar nie sommer net ‘n oorsig nie. Hy lê klem op sekere aspekte om ‘n punt te maak naamlik: “dis júlle wat die betekenis van die tempel verkeerd verstaan, nie ek nie. Dis júlle wat Gods Woord verwerp, nie ek nie! Kyk na Abraham, Josef, Moses, Dawid, Salomo – dan sal julle sien dat God se teenwoordigheid nooit beperk was tot ‘n tempel nie! Abraham was aanvanklik in ‘n heidense land en tog was die Here by hom. Josef was in Egipte en tog was die Here met hom. Moses was aanvanklik óók in Egipte. En moenie vergeet wat op Berg Sinaï gebeur het nie. En by die brandende bos. God was daar! Sien julle! Jy kan nie God se teenwoordigheid inperk nie! Ja, natuurlik was die tempel daar, maar die bedoeling was nooit dat dit God se huis moes wees nie. Hy woon nie in huise wat deur mense gemaak is nie! Die tempel het vorentoe gewys na Jesus wat sou kom!”

Hoor u wat sê Stefanus vir sy aanklaers? Die implikasies van Jesus se dood & opstanding is dat die tempel nou oorbodig is. Die fokus nie om almal na die tempel te nooi nie. Die fokus is om uit te gaan na die wêreld en die mense aan Christus voor te stel. En dit is presies wat in die hele boek Handelinge gebeur. Grense word oorgesteek. Soos kringe op die water wat uitkring, gáán die gelowiges ver buite Jerusalem & die Joodse nasie om CHRISTUS aan almal te verkondig met die eis van geloof & bekering. Nie: “Kom na die tempel, kom na die tempel” nie, maar “kom na Christus nóú, moenie uitstel nie, want jy hoef nie na ‘n spesiale PLEK te gaan om Hom te vind nie.” Ons gaan nie na mense en vertel vir hulle wat hulle alles moet doen om met God in die regte verhouding te kom nie. Nee, ons gaan na mense en wys hulle op die Een wat alles klaar gedoen het, sodat hulle – waar hulle ookal hulself bevind – na HOM mag kom! Wat ‘n wonderlike boodskap. God se teenwoordigheid is in CHRISTUS, nie ingeperk tot ‘n sekere plek/rituele/gebou nie. Wanneer ons wél na ‘n plek kom – soos byvoorbeeld hierdie kerkgebou – is dit slegs omdat ons Here Jesus hier verkondig word.

DIE VONNIS EN OORDEEL >> Einde van hfst 7 > Kyk, hoe langer Stefanus praat, hoe meer opgewerk en ongeduldig raak die Joodse leiers. Veral wanneer Stefanus – onder die inspirasie van die Gees – vir hulle direk aanspreek: “Julle weerstaan altyd die Heilige Gees, nes julle voorvaders gedoen het. Julle harte & ore is onbesnede. Julle is hardkoppig. Was daar al ooit ‘n ware profeet van God wat julle vaders nie vervolg en doodgemaak het nie? En nou doen julle dieselfde met mý. God se profete was nog nooit gewild nie.” Sien u hoe Stefanus krag & moed van die Gees ontvang het? Uit homself was dit onmoontlik.

Die lede van die Sanhedrin sien egter rooi. Hulle kners op hulle tande. Nóú sal hulle Stefanus met klippe doodgooi – alhoewel hulle geen gesag het om enigiemand te verhoor óf te dood nie. Maar hulle doen dit. Dit is die menslike oordeel. God se oordeel oor Stefanus lyk egter totaal anders. Hy keur Stefanus se bediening goed. Dit is onbeskryflik watter genade die Here oor Stefanus uitstort terwyl die klippe op hom reën. Sy gesig het soos díé van ‘n engel gelyk, sê die Woord. Seker soos Moses se gesig geblink het toe hy van Berg Sinaï afgekom het – en hy die heerlikheid van God letterlik op sy gelaat gehad het. Stefanus is in ‘n verhouding met die Here – te midde van die ergste onverdiende lyding. Die Here staan hom intens naby. Hy sien ‘n visioen. Hy sê: “Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die Mens wat aan die regterhand van God staan.” Let op: STAAN. Elders in die NT lees ons dat Jesus daar SIT omdat Sy heilswerk afgehandel is. Nou STAAN hy. Wanneer Sy kind ‘n marteldood sterf ter wille van geloof in Hom – dan staan Hy. Hy staan om Stefanus in die ewigheid te verwelkom. Hy staan ook omdat Hy Sy kind intens naby is. En die Heilige Gees oorweldig vir Stefanus sodat hy – in sy laaste oomblikke – ook sy vyande kan liefhê en vergewe – net soos Sy Meester gedoen het. Hoor hoe eggo Stefanus Sy Here se woorde: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie.” En verder sê hy: “Here Jesus, ontvang my gees.” Met daardie woorde sterf hy. Is dit nie ‘n wonderlike beskrywing van hoe ‘n Christengelowige sterf nie? Die manier hoe Stefanus sterf is nie wonderlik nie. Dit is barbaars en oneties – soos enige marteldood is. Maar, die beskrywing van Stefanus se sterwe is wonderlik. Stefanus se liggaamlike dood spreek nie die laaste woord nie. Hy raak net aan die slaap – om by die Here wakker te word. Behalwe vir sy liggaam, het Stefanus ook ‘n gees. En daardie gees word in die Here se teenwoordigheid opgeneem. Terwyl die Here staan. Die vyand kan net die liggaam doodmaak. Maar Gód wek Sy kinders op vir die ewigheid – om in Sy teenwoordigheid te lewe tot in ewigheid.

DIE BETEKENISSE WAT HIERDIE GEBEURE VIR ONS HET

1. Uit Stefanus se oorsig oor die OT, is daar 3 belangrike betekenisse vir óns vandag: Eerstens: Ons mag nie die Here inperk nie. God se teenwoordigheid vergesel CHRISTUS, nie spesiale plekke/mense/rituele nie. Hý is die nuwe tempel waarheen ons mense van alle nasies moet nooi. Tweedens: Ons moet teenkanting verwag. Al ís dit ‘n wonderlike boodskap wat ons verkondig, hou mense nie daarvan nie. Daarom kan dit ‘n prys kos om ‘n volgeling van Jesus te wees. Derdens: Die Here is by ons. Hy STAAN selfs op wanneer ons vir Hom ly. Op vreemde plekke was Hy mét Abraham, Josef, Moses en Stefanus. So ook met ons – indien ons Sy dissipels is.

2. Uit Stefanus se marteldood is daar ook ‘n boodskap. Dit klink só: Daar ís iets wat dit vir ‘n mens die moeite werd maak om voor te lewe én selfs te sterwe – naamlik – dít wat die Gees bonatuurlik in jou hart laat ontvlam én aan die brand hou: vasklemmende vertroue op Christus Jesus alleen. Let op: Bonatuurlik. Dit kom nooit uit onsself nie. Die Gees hou die vuur brandende in jou hart. En daardie vuur deurstaan teenkanting, selfs ‘n marteldood as dit moet. Dis ‘n liefde vir die Heiland en Sy Woord wat niks te make het met menslike emosies nie. Dit kom van Bo. Dit is wat ‘n mens so treffend by Stefanus sien: ‘n man vasgevang in ‘n hemelse greep. Daarom leef hy salig en sterf hy salig. Omdat dit nie uit homself kom nie. Hierdie hemelse greep stel ‘n mens in staat om totaal ánders op te tree in alledaagse situasies & krisisse as die gewone deursnee mens wat onwedergebore is. Dieselfde genade as wat Stefanus oorweldig het, is ook op óns uitgestort vanoggend.

Ná Stefanus was daar tot op hede baie duisende martelare vir Christus. Mense wat sinvol geleef en gesterf het. Een van hulle se naam was Guido de Brés, ‘n gereformeerde predikant van die 16de eeu. Hy was die opsteller van een van ons belydenisskrifte, die Nederlandse Geloofsbelydenis. Eintlik was dit aanvanklik ‘n brief wat hy opgestel het om aan die Rooms-Katolieke koning te verduidelik wát presies die gereformeerdes glo. Die uiteinde daarvan was dat hy gehang is – vir sy verkleefdheid aan Christus en die Waarheid van die evangelie. Hy is op 31 Mei 1567 tereggestel.

Net voor sy teregstelling skryf hy aan sy vrou vanuit die dodesel: “Al hierdie dinge maak my hart vrolik en ek bid dat jy jou saam met my sal verheug en die goeie God sal dank, want Hy doen niks wat nie regverdig en billik is nie. Dink, bo alles, aan die eer wat die Here jou gegee het deur jou ‘n man te gee wat – nie alleenlik ‘n bedienaar van Sy evangeliewoord is nie – maar wat óók deur die Here waardig geag word dat dit Hom behaag om aan hom die martelaarskroon te skenk. Dit is ‘n groot eer wat God nie eens aan Sy engele bewys nie. Ek is vervul met die oorvloed van die rykdomme van my God.”

Sien u die bonatuurlike hemelse greep van die genade in ‘n gelowige se hart? Dít maak die lewe sinvol en die sterwe ‘n wins.

Category PINKSTER 2020

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)