Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

PINKSTER 2020 NO 1
Skrif: Handelinge 4: 32 – 5:11
Tema: God is heilig

Dalk ken u die ou verhaal van die Trojaanse Perd wat uit 1500vC dateer. Die Grieke het teen die stad Troje oorlog gemaak, maar kon nie oorwin nie. Hulle het ‘n hewige aanval van buite geloods, maar sonder sukses. Toe kom koning Odyseus met die plan om ‘n reuse hout perd te maak – hol van binne en op wiele gemonteer. Dan word ‘n klomp soldate binne die perd versteek en die Grieke maak asof hulle die aftog blaas, maar hulle laat die perd agter. So gemaak. Toe die Grieke vlug, het die Trojane uit pure nuuskierigheid die houtperd in die stad Troje ingesleep. Die nag, toe almal slaap, klim die Griekse soldate stilletjies uit en gaan maak die poorte van die stad vir die Griekse weermag oop. So is Troje oorwin – nie deur ‘n aanslag van buite nie, maar van binne.

In Handelinge 4 & 5 lees ons van ‘n dubbele aanslag van satan téén die voortgang van die evangelieboodskap. In net die vorige hoofstuk lees ons hoe ‘n kwaai aanslag van buite plaasgevind het:

Petrus & Johannes word summier – deur mense van buite die gemeente – in die tronk gegooi o.g.v. Petrus se prediking van die opstanding van Jesus en die wonderbaarlike genesing van die kreupelgebore man. Die aanslag lewer egter net wins vir die Koninkryk: nóg 5000 kom tot geloof. Hoe meer die vervolging, hoe sterker word die Here se kerk.

Nou, in hfst 5, kom die aanslag van binne: die trojaanse perd. Van binne uit die gemeente, kom die subtiele, oënskynlik onskuldige aanslag. Satan kry dit reg om twee gemeentelede te gebruik – werklike gelowiges. Geen uiterlike aggressie nie, maar ‘n onsigbare wortel van skynheiligheid & misleiding, bedek deur ‘n sluier van godsdiens.

Wat ‘n geweldig belangrike saak wat die Gees vandag voor ons kom lê.
Wat die Gees eintlik in die gelese Skrifgedeelte doen, is om twee goed met mekaar te kontrasteer: aan die een kant ‘n prentjie van die dramatiese effek in die gemeente waar die Woord seëvier. In skerp kontras daarmee: ‘n sataniese poging om die gemeente verongeluk. In beide sien ons iets van die heiligheid van God wat in die gemeente teenwoordig is. Kom ons kyk nou van naderby na hierdie kontras:

1. Wat gebeur in ‘n gemeente waar die Woord seëvier? (4: 32-37): Verse 32-37 noem twee kenmerke: ‘n Geesvervulde gemeente is toegewy aan die Woord & Waarheid én toegewy aan mede-gelowiges. Onthou hoe vers 31 eindig: “hulle het die Woord met vrymoedigheid gespreek (boldly) toe die Gees hul vervul”. En vers 33: “Met groot krag is daar getuienis gegee van die waarheid van die opstanding van Jesus uit die dood. En groot genade was oor almal.” Dít is die kern & hartklop van ‘n Geesvervulde gemeente waar God se heiligheid skitter: daar is ‘n absolute toewyding aan die Waarheid van die Woord (ook in elkeen se persoonlike lewe). Dán rus Gods genade op almal.

Tweedens: daar ontwikkel ‘n onderlinge toewyding & liefde jeens mekaar (die mede-gelowiges). “Een van hart & siel” (v 32).

Die liefde van ‘n gelowige-in-Christus teenoor ‘n ander gelowige ís nou maar eenmaal duisend keer sterker as enige ander soort liefde (vgl 1 Joh 5:1). Die onverklaarbare aangetrokkenheid & omgee wat jy teenoor mede-gelowiges ervaar, is een van die duidelikste tekens dat jyself wedergebore is en die Gees in jou lewe werk. Mense wat Christus bely, stoot jou nie af nie, inteendeel: in die eerste gemeente het mense van tyd tot tyd spontaan hul eiendomme verkoop om die geld beskikbaar te stel dat mede-gelowiges genoeg kan hê. Niemand het gebrek gely nie (v 34). Die onderlinge liefde het prakties geraak. Dit was nie net woorde nie.

Natuurlik beteken dit nie dat almal alle eiendom & besittings prysgegee het nie. Dit was nie ‘n oer- vorm van kommunisme nie. Dit staan nêrens in hierdie gedeelte nie. Wat daar wél staan is dat die gelowiges skielik ‘n ander gesindheid teenoor hul besittings ervaar het as voorheen toe hulle nie die Here geken het nie. Iets vreemds het gebeur: daar was nou ‘n stuk omgee-vir-ander in hulle harte. Heeltemal vrywillig het hulle hul goed verkoop en die geld na die apostels gebring sodat hulle aan behoeftiges kon gee. Dit was geen wet of reël nie. Dit het spontaan gebeur.

Lukas noem in v. 36 ‘n praktiese voorbeeld van ‘n man genaamd Josef wat die bynaam van “Barnabas” gekry het – dit beteken: “bemoediger”. Wonderlik indien ‘n mens só ‘n bynaam kan kry i.p.v. iets soos “sprinkaan” of “haakneus”. Eerder “Barnie” – bemoediger. Iemand wat waaragtig omgee – ook met fisiese & finansiële middele omdat die Gees gelowiges lief maak vir mekaar. In die gemeente van Christus is verhoudings net so belangrik as samekomste. In die gemeente voeg die Heilige Gees mense saam wat andersins nie met mekaar sou assosieer nie. Jy wíl soveel as moontlik bymekaar wees & omgee vir ander – ook vir hul stoflike behoeftes.

Sien u wat gebeur in ‘n gemeente waar die Heilige woon? Daar gebeur spontaan twee dinge: a. ‘n Liefde en toewyding aan die Bybel, die Woord, die Waarheid. b. ‘n Onderlinge praktiese liefde & omgee. ‘n Band gesmee deur Gods genade. Indien dit uitstraal uit Tafelberg Gemeente sal mense van oral hierheen aangetrek word.

Maar daar sal nog iets gebeur: satan sal toeslaan om alles tot niet te maak. Hoe sal hy dit doen? Hy sal van binne af ‘n “trojaanse perd” instuur. Hy sal van binne af – vanuit die geledere van die gemeente – gif probeer saai. Dit sien ons in 5: 1-11…

2. Sataniese poging om die gemeente te verongeluk (5:1-11): Behalwe vir Barnabas was daar nóg mense wat eiendom verkoop het en die geld na die apostels gebring het. O.a. ‘n egpaar met die name Ananias & Saffira. Hulle was ongetwyfeld ware gelowiges en hulle wou werklik help.

Toe hulle egter die geld na die apostels bring, hou hulle ‘n gedeelte van die verkoopsom terug, maar gee voor dat dit alles is. Die probleem was nie dat hulle nie álles gegee het nie. Die probleem was ook nie dat hulle suinig of gierig was nie. Hulle hoef immers níks te gegee het nie. Hulle het uit vrye wil eiendom verkoop. Hulle kon met hulle geld maak wat hulle wou (v 4). Die sonde was leuens & bedrog: hulle het voorgegee dat hulle meer vrygewig was as wat hulle in werklikheid was. Sodoende het hulle hul mede-gelowiges mislei.

Daarom sê Petrus: “Julle het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (v4). “Julle het vir die Heilige Gees gelieg” (v 3). Die gevolg was dat beide Ananias & Saffira dood neerval – op Petrus se woord. Almal wat daarvan gehoor het, is met vrees vervul. Almal het besef: God is heilig. Hy sal nie sataniese aanslae op Sy gemeente duld nie. Hy sal nie sonde in die midde van Sy kerk duld nie.

Tog ‘n vreemde gebeurtenis, nie waar nie?
Byna instinktief voel ‘n mens om te sê: “sjoe, doodstraf – sommer net so, terwyl die sonde tog nie só erg was nie. Oorreageer die Here nie ‘n bietjie te erg nie? Was hulle sonde só erg? Ja, hulle het ander mislei, maar hulle was tog ook vrygewig. Die grootste deel van die geld het tog wel na die regte plek gegaan. ‘n Mens kan tog aan baie érger sondes dink wat sumiere doodstraf verdien.”

Eerstens moet ‘n mens onthou dat dit nie Ananias & Saffira was wat dit die slegste getref het nie. Indien hulle gelowiges-in-Christus was, is hulle immers nie verlore nie. Die dood is vir die ware gelowige ‘n deurgang tot die lewe. Die tug wat die Here hier toepas, was nie eerstens op Ananias & Saffira gemik nie, maar op die gemeente! Dit moes ‘n ondubbelsinnige boodskap na die gemeente deurgee.

‘n Tweeledige boodskap: 1) sataniese aanslae van binne-uit die gemeente mag nie geduld word nie, anders sal dit die hele gemeente vergiftig. Sondes waarmee nie gehandel word nie, sal die kerk verwoes. 2) Sonde, van watter aard ookal, is ‘n ernstige saak. Die drie-enige God wat in die midde van die gemeente woon, is ‘n heilige God en Hy wil dat Sy mense heilig moet wees soos Hyself is.

Dit is opvallend dat die Here dieselfde tipe boodskap na Sy OT-gemeente uitgestuur het net nadat hulle in die beloofde land aangekom het – dus ook ‘n nuwe fase bereik net soos die NT-kerk hier in Handelinge ‘n nuwe fase ingaan.

Net toe die OT-gemeente die beloofde land in is, word Agan & sy gesin – wat gelowiges was – met die dood getref omdat hulle gelieg het oor gesteelde goed wat in hul tent begrawe was. Dit staan in Josua 7. Net tevore het die Here se volk die stad Jerigo ingeneem. Agan het ‘n bietjie van die buit – ‘n bietjie klere, silwer & goud – in sy tent begrawe en voorgegee dat hy piekfyn is.

Die gevolg was dat die Here se gemeente nie die klein dorpie Ai kon verower nie, maar dat Ai 36 gemeentelede doodgemaak het.

Waarom? Omdat daar ‘n aanslag van binne die gemeente was. Agan het gehuigel en gesteel en voorgegee wat hy nie is nie.

Sien u die parallel met Handelinge 5? Dit is of die Here – hier aan die beginfase van die NT-kerk – ‘n duidelike boodskap uitstuur: “Ek is die Heilige in julle midde. Ek haat sonde. Ek is ernstig daaroor. Ek is besorg oor julle. Sataniese aanslae vanuit jul eie midde moet onmiddelik uitgewis word, anders sal júlle uitgewis word.”

Op hierdie punt moet ons egter baie versigtig wees. Dit is baie moontlik dat ons hierdie Skrifgedeelte kan aanhoor en by onsself dink: “dis mos ék wat soos ‘n Trojaanse perd in hierdie gemeente ingekom het. My hart is so besoedel met sondes. Ek is ‘n sondaar. Ook ék is ‘n huigelaar en gee voor wat ek nie is nie. Nes Ananias & Saffira. Dalk is ék die blokkasie in die pyp. Dalk is ék ‘n handlanger van die duiwel.”

So voel ons dalk. Eintlik: indien ons baie eerlik is, kan NIEMAND hier teenwoordig NIE so voel nie!! Op die een of ander manier is ons almal blokkasies in die pyp! Ek beslis ook! Dit sou beteken ons moet almal bedank en gaan. Onmiddelik kan u egter aanvoel dat dít onmoontlik nie die boodskap van Hand 5 (hele Bybel) kan wees nie.

Hoe dan? Wel, ons moet aan twee dinge gelyktydig probeer vashou:

Aan die een kant is die gemeente (vlgs die Skrif) glashelder duidelik die plek vir sondaars. Indien jy ‘n sondaar is, dan moet jy by/in Christus se gemeente wees. Slegs in die gemeente het jy hoop, want dit is juis hier waar die genesing vir ons wonde te vinde is in Christus se kruisverdienste. Die gemeente verwelkom alle sondige mense.

Aan die ander kant mag die gemeente nie gemaklik raak met sonde nie. Individue mag nie gemaklik raak met persoonlike sonde nie en die gemeente-as-geheel mag nie openlike, onbelyde sondes duld nie. Dit moet ten alle koste aangespreek word en beveg word – júís vanuit die volle verlossing wat ons Here Jesus volmaak bewerk het.

Kom ons maak dit prakties: Piet Pompies is ‘n lidmaat van Tafelberg Gemeente en ‘n ware gelowige. Hy worstel egter in die geheim met sondes waaroor hy skuldig & ellendig voel. Hy ontdek dat huigelary & voorgee & misleiding in sy binneste vassit.

Wat moet Piet doen? Moet hy uit die gemeente padgee? Blokkeer hy die Here se seën? Nee, hy moet wakkerskrik vir die feit dat dit ‘n ernstige & dringende saak is, dat God heilig is, maar veral dat Jesus hom alreeds daarvan verlos het op die kruis. En dan moet hy die sondes beveg vanuit die feit dat hy alreeds verlos is. Dit is wat bedoel word met: daaglikse bekering of selftug. Die gesonde, normale proses van heiligmaking!

Tweede voorbeeld: Die gemeente Tafelberg (Dolerend) beleef ‘n bose aanslag van binne. ‘n Paar lidmate (Rooikappie & Klaas Vakie) – wat ware gelowiges is – versprei stories wat onwaar is. En almal weet daarvan. Hulle weier egter om hul sonde te erken en te bely.

Hoe nou gemaak? Die hele gemeente moet nou besef dat God heilig is en dat hy nie aanslae van binne duld nie. Daarom moet hulle die opsieners, die kerkraad, versoek om tug toe te pas: Om gesprekke te gaan voer. Om te vermaan. Om te kyk of daar nie inkeer & bekering sal kom nie – sodat beide behou kan word en die gemeente kan floreer. Indien daar ‘n pad gestap is en daar geen inkeer plaasvind nie en die gif versprei móét die gemeente hulle as lidmate ontslaan – met die hoop & bede dat hulle dalk dán tot inkeer kom en weer in die gemeente opgeneem kan word.

Mag die Here ons help om die stem van die Gees in Handelinge 5 helder te hoor en daaraan gehoor te gee.
Amen.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category PINKSTER 2020

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)