Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

PINKSTER 2019 NO 2
Skrif: Handelinge 2
Tema: Vyftig dae ná die Opstanding

Wat in Handelinge 2 beskryf word, is só bekend aan die meeste van ons – en tog wonder ‘n mens: “wat presies is nou eintlik hier aan die gang?”

Dis vuurtonge op mense se koppe, ‘n sterk rukwind, mense wat uit die bloute allerlei landstale praat, sonder dat hulle enige kennis daarvan het…

Die eerste aanskouers het ook behoorlik kop gekrap. Vers 12: “Almal was verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” Party het gespot en gesê: “Hulle is dronk, wat anders?”

Dit was nie pinksterfees as sulks wat vreemd was nie. Daaraan was die Israeliete vir baie eeue gewoond. Dit was immers ‘n jaarlikse fees soos in Levitikus 23 deur die Here voorgeskryf. Dis waarom daar daardie dag Jode vanuit die hele destydse wêreld in Jerusalem bymekaar was – om die gebruiklike pinksterfees te vier.

Pinkster was eintlik ‘n oesfees. Indien ‘n mens Lev. 23 lees, sien jy die eerste 3 feeste wat gevier word in die eerste maand van die Joodse kalender (ongeveer Aprilmaand): Pasga/paasfees, gevolg deur die fees van die eerstelinggerf op die Sondag ná die Pasga en dan, ná 50 dae, die oesfees (pinksterfees).

Die woord “pinkster” beteken 50.

Al drie hierdie feeste is in die Here Jesus vervul.

Die pasga is vervul in Jesus se kruisdood waar Hý die Lam was wat geslag is. Die fees van die eerstelinggerf is op die Sondag ná Jesus se kruisdood vervul, toe Hy uit die dood opgestaan het en die “eersteling” word wat uit die dood opstaan. En 50 dae daarná, op die oesfees, is die Gees uitgestort.

Met die gawe van die Gees sou die éíntlike oes begin. Nie ‘n graanoes nie, maar ‘n siele-oes. ‘n Oes van miljoene mense van alle nasies & tale wat gered sou word in Christus omdat die Géés hulle aan Christus vasbind deur die Woord.

Dit is die rede waarom die gelowiges skielik in ander landstale begin praat het oor God se groot dade en uitlanders wat in Jerusalem was die evangelie in hul eie taal kon hoor. Dit was die teken van die nuwe bedeling wat aangebreek het: die evangelie sal nou uitbreek na alle nasies en die (lands)tale was veral vir die Jóde ‘n teken dat God se genade nie net vir húlle nasie bedoel is nie.

Is dit nie wonderlik dat die Gees ‘n wonder doen en mense plotseling in staat stel om tale te praat wat hulleself nie ken nie en sodoende kon mense van alle nasionaliteite die Blye Boodskap hoor – in hul eie taal?!

Wel, die omstanders was verdwaas en het gedink die mense is dronk – alhoewel dit net 9vm was. Toe neem Petrus, die ongeletterde visserman, die Bybel in die hand en begin vir hulle uit die Skrif verduidelik wat gebeur het. Die Gees maak vir Petrus die Woord oop sodat hy dit kon uitlê. Hy begin by die profeet Joël en dan Ps 16 gevolg deur Ps 110 en wys vir die mense hoe die Skrifte vooruit gepraat het oor wat daar in Jerusalem gebeur het toe die Gees as gawe gegee is.

Wat gebeur het – sê Petrus – is dat ‘n nuwe era aangebreek het (nommer 1) waarin die groot Koning (die langverwagte Christus) die sentrale rol speel (nommer 2) en ‘n dringende boodskap verkondig moet word (nommer 3).

Jy sal nêrens in énige sekulêre geskiedenisboek ‘n verwysing kry na hierdie gebeure in Jerusalem nie en tog sê Petrus: dit is die aanbreek van ‘n nuwe era. Dis die draaipunt van die geskiedenis.

Álle mense – uit alle nasies – wat nou deur Jesus Christus kinders van God word – sal die Heilige Gees as permanente gawe ontvang en sal – soos profete – Sy Naam gaan verkondig. Dis waarom die verskillende wêreldtale nou hier gepraat word. Dis die teken dat hierdie nuwe era begin het.

Dis waarvan Joël eeue tevore al geskryf het: nie net sommige gelowiges nie, maar álle gelowiges sal nou profete wees en die Here se Woord verstaan en verkondig. Al die geen-toegang tekens van die verlede is opgehef. Voorheen was daar mos allerlei beperkinge op die Here se verhouding met Sy mense. Hy was in hulle midde teenwoordig, maar net in die fisiese tempel.

En die tempel was vol geen-toegang tekens: geen toegang vir nie-Jode, geen toegang vir vroue, geen toegang vir almal behalwe priesters, geen toegang tot die direkte teenwoordigheid van God-agter-die-voorhangsel behalwe vir die hoëpriester en dan net 1 maal per jaar.

Maar nou breek die nuwe langverwagte era aan: God se teenwoordigheid/verhouding is direk & permanent vir álle ware gelowiges-in Christus van álle nasies & tale – en dit is deur die Heilige Gees.

Maar waarom gebeur dit dan eers tóé in die geskiedenis? Petrus sê: omdat Jésus tóé eers verheerlik is. Vóórdat Hy die sonde van alle uitverkorenes met die offer van Sy eie liggaam weggeneem het en uit die dood opgestaan het en verheerlik is aan Gods regterhand, kon die Gees nie op hierdie manier gegee word nie. Maar toe Jesus verhoog is, het Hy en die Vader die beloofde Gees as gawe uitgestort (v 33).

Die Gees het van die Vader én die Seun uitgegaan. Daarom is dit onmoontlik om Jesus as Seun van God te ken, maar nie die volheid van die Gees te besit nie. Daarom gee die Heilige Gees nie allerlei opwindende ervaringkies en wonderwerkies lós van Jesus nie. Nee, om Jésus lewensveranderend te mag ontmoet en met Hóm te mag wandel en Sy Woord te verkondig, dít is die groot wonderwerk en opwindende ervaring wat die Gees aan mense toebedeel.

Opvallend hoe vlymskerp die visserman-Petrus hierdie diepe waarhede verkondig uit Joël 2, Psalm 69 & 110.

Joël het gesê die nuwe era sal aanbreek met die gawe van die Gees, maar die kenmerk dat die Gees kragtig werk, is dat die Groot Koning – Jesus Christus – sentraal staan.

Is dit nie eienaardig nie?

Hier word die koms van die gawe van die Gees ervaar, maar Petrus se preek handel oor Christus!

U sien, wanneer die Heilige Gees kragtig werk, val die kollig op die Seun van God. Niks van die onsinnigheid waarmee mense vandag praat van “sommige gemeentes het nie die Gees se volheid nie”. Mens hoor soms mense sê: “in daardie gemeente word Christus wonderlik verkondig, maar ai, die Géés se werkinge kom nog kort.” Absoluut onbybelse onsin!

Kyk hoe praat Petrus met die Israeliete uit die Skrifte.

Hy sê: “Dis júlle wat julle eie Koning doodgemaak het deur Hom aan die kruis te spyker. Maar, God het Hom uit die dood opgewek. Dit was onmoontlik vir die dood om Hom vas te hou.

Dis soos Dawid dit vooruitgesien het in Ps 16, toe hy gesê het dat hy nie die dood sal sien nie. En tog hét Dawid gesterf. Sy graf is nou nog by ons. Dus: van wie het Dawid gepraat? Hy het vooruit van Christus se opstanding gepraat. En God die Vader het hierdie Jesus HERE en CHRISTUS gemaak. Hy het Hóm gesalf as die Groot Koning – die vol generaal. Daars geen rang hoër as Sýne nie.

Dawid het nooit aan Gods regterhand gaan sit nie en tog sê Dawid in Ps 110: “Die Here het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek ál jou vyande onder jou voete geplaas het.’”. Van wie praat Dawid? Van JESUS wat tot groot Koning gesalf is!

En die feit dat die Gees vandag hier as gawe gegee is, is die bewys dat HY verhoog is! Hoe kon die Gees gegee word as Jesus nie die troon bestyg het nie?! Kyk net rondom julle: hierdie mense ken glad nie die ander landstale wat hulle praat nie! Dis van die Gees. Dit kom van Hom. Dis ‘n wonderwerk. En hoor waaroor praat hulle in alle tale: Hulle praat oor díé Jesus wat julle doodgemaak het, maar vir wie God verhoog het tot Sy regterhand! Dit gaan oor die verhoogde Christus. Die Gees laat jou oor Hóm praat.”

Dit was op daardie moment (terwyl Petrus nog so praat) wat die Heilige Gees die mense se harte begin smelt. Terwyl Petrus so uit die Skrifte preek, smelt omtrent 3000 van daardie harde Israeliete se harte. Al luisterende, smelt hulle harte. Hulle word diepgaande deur die Gees & Woord van hul sonde & verlorenheid oortuig. Hulle harte is oopgesny (v 37) en hulle roep uit: “Broeders, wat moet ons doen?”

Petrus sê: “Daar is net een enkele ding wat julle kan doen: Draai om! Draai om! Draai om na die Koning toe. En julle sal totale vergifnis ontvang. En die Heilige Gees sal julle lewens vervul. En laat julle doop, want die doop is die teken/waarborg dat julle sondes op die kruis uitgewis is en dat julle met Jesus se dood gered is. Die doop is nie teken van julle geloof nie, maar van die bloed wat op die kruis gevloei het. Julle hoef nie vir een oomblik te twyfel nie, want God se verbondsbelofte kom julle werklik toe. En dit kom ook julle kinders toe – al kan baie van hulle nog nie glo nie. Hulle is saam met julle in God se verbond opgeneem. Want, volgens Galas 3:14 is die belofte van die Gees juis die seën van Abraham wat nog steeds in werking is. Jesus se kruisredding en die geloofsvertroue daarop en die Gees se toerusting is vir julle almal bedoel EN OOK vir die mense daar ver is en wat nog die boodskap moet hoor. Daarom mág julle oombliklik omdraai na die Koning toe.”

Luister: Sien u hoe red die Here mense d.m.v. prediking? (Vgl 1 Kor 1:21). Ware, suiwere uitleg van die Skrif. Waar dít op ore val, smelt die Gees sommige mense se harte – volgens God se keuse en nie mense se keuse nie. En ware, diepe sonde-oortuiging begin posvat. Jou hart smelt onder Geesgewerkte sonde-oortuiging – wat jou laat smag & dors & roep na verlossing – wat jy nét in die Here Jesus met ‘n geloofshand ontvang. Uit pure suiwere vrye guns alleen.

En dan sluit hoofstuk 2 af met ‘n kosbare ryke waarheid: waar hierdie nuwe gelowiges in gemeentes begin saamkom het, het sekere kenmerke uit hulle gemeente-wees begin uitstraal. Lukas teken dit vir ons aan in verse 42-47.

In ‘n neutedop saamgevat: a) hulle was toegewy aan die Here, b) ingestel op mekaar en c) oop na die wêreld. Hulle het boontoe gekyk, na mekaar gekyk en vérder gekyk.

Hoe was hulle toegewy aan die Here? Hulle het hul toegespits op die leer/woord van die Apostels. Hulle het die fokus op Jesus se kruisverdienste behou deur gereeld brood te breek/nagmaal te vier. Hulle het baie van gebed gemaak (v 42). Hulle het, t.s.v. hul omstandighede, die Here geloof (v 47) en daagliks byeengekom as gelowiges (v 46). Hulle was dus absoluut getrou in hul samekomste.

Hoe was hulle ingestel op mekaar? Hulle was sensitief vir mekaar se materiële behoeftes en dit het veroorsaak dat hulle lós gekom het van vaskleef aan eie besittings. Hulle was bereid om besittings te verkoop en die geld te gebruik om in mede-gelowiges se nood te voorsien (v 45).

Hoe was hulle oop na die wêreld? Vers 47: hulle het die guns geniet van die mense buite die gemeente – die ongelowiges dus. Die gesindheid wat hulle na buite weerkaats het, het nie die buitestaanders weggedryf nie. Hulle boodskap & gesindheid was oortuigend. Net soos dit die geval was met ons Here Jesus se aardse bediening: prostitute en uitgestote mense het Hom graag opgesoek alhoewel Hy nooit hul dade en sondes gekondoneer het en aanvaarbaar voorgestel het nie. Hy was oop na die wêreldse mense al het Hy hul sondes afgewys. Tog is soveel buitestaanders vandag allergies vir sommige gemeentes omdat hulle voel hulle is onwelkom.

‘n Geesvervulde gemeente sal vandag steeds hierdie drie kenmerke hê. Dit geld ook vir individuele gelowiges. 1) Toegewy aan God en gefokus op Sy Woord. 2) Ingestel op mekaar se behoeftes. 3) Oop na buitestaanders.

Dieselfde Heilige Gees wat op Pinksterdag aan die kerk gegee is, is ook in 2019 in Tafelberg NG Gemeente teenwoordig & werksaam. Daarom besit ons reeds hierdie gawes, toewyding en gesindheid. Mag ons oë daarvoor oopgaan sodat dit meer en meer ‘n praktiese werklikheid kan word.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew