Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

OPENBARING-REEKS NO 6

Die kerk wat sonde verdra – Openbaring 2: 18-29

As daar een ding is wat vir die Here uiters belangrik is aangaande Sy kerk/gemeente, dan is dit dat die kerk heilig moet leef. “Dit is die WIL van God: julle heiligmaking” (1 Thes 4:3). Die gemeente moet die plek wees waar die Here geëer word. Dis al manier hoe die kerk enigiets vir/in die wêreld kan beteken. Geregtigheid moet nagejaag word en ongeregtigheid veroordeel word. Die kerk moet sonde haat en heiligheid najaag. Die kerk moet intollerant wees wanneer dit kom by enige vorm van sonde. Die bruid moet heilig en rein wees (2 Kor 11:2). Verdraagsaamheid teenoor sonde is altyd ‘n ernstige saak in die Here se oë.

Die verskil tussen die gemeentes in Pergamum en Tiatira was dat die troon van satan probeer het om Pergamum binne te dring terwyl die gemeente in Tiatira die dieptes van satan in hulle boesem vertroetel het.

En hou in gedagte dat die 7 gemeentes aan wie die Here in Open 2-3 skryf, die kerk van alle eeue verteenwoordig. Dit beteken dat Tiatira se situasie ‘n wesenlike gevaar vir elke gemeente van alle tye is.

Die eerste ding wat my tussen die oë slaan by die lees van hierdie brief is die onbegryplike onverklaarbare tere liefde van die Here vir Sy mense – in teenstelling met hoe bekrompe ons eie hart is!

As ‘n mens dink hoe ernstig kritiek hierdie gemeente se geestelike toestand was, boul dit jou uit wanneer jy sien hoe die Here Sy brief met ‘n aanprysing begin! Voordat Hy vermaan, soek Hy eers die dinge uit wat hulle tot eer strek! EERS lof, nie kritiek nie.

Hoor hoe begin die Here: “Ek ken jou werke, jou liefde, jou diens, jou geloof en lydsaamheid”. En dan voeg Hy by: “julle laaste werke is meer oorvloedig as julle eerste”. Met ander woorde: Hulle was baie meer bedrywig en aan die gang in die Here se werk as wat hulle aan die begin was. Daar was progressie en groei. En Hy weet dit. Hy merk dit op. Hy ken dit. Dit ontglip nie Sy oog nie. En let op: Hy lê die MOTIEWE bloot wat AGTER die werke was, naamlik geloof in Hom, liefde vir Hom.

Wat vir die Here die belangrikste is, is nie die werke nie, maar die motiewe van die hart. Die wortels wat AGTER die vrug lê. Die verborge, geheime, innerlike wêreld van die hart. Ook DIT ontglip nie Sy oog nie. As daardie innerlike wêreld gevoed word deur ‘n lewende verhouding met die Here, sal daar onvermydelike sigbare vrug wees.

Wat ‘n mens yskoud in jou siel maak en eintlik jou geestelike bloed laat vries, is om te sien hoedat hierdie gemeente – aan die een kant – in getalle kon groei, groter kon word, meer bedrywig kon word, al die regte motiewe kon hê EN TOG – aan die ander kant – so verskriklik vervalle en buite die Here se wil kon wees. Selfs die dieptes van satan kon omhels!

Die uiterstes is skrikwekkend.

Daar was ‘n sekere vrou in hierdie gemeente vir wie die gemeente op hulle kansel toegelaat het, maar dit was ‘n vrou wat dwaalleer verkondig het. Sy was ‘n vals profetes. Sy word Isébel genoem alhoewel dit heel waarskynlik nie haar werklike naam was nie. Isébel was egter ‘n baie berugte figuur uit Israel se geskiedenis wat onthou was vir die verderflike uitwerking wat sy op die Here se volk gehad het. Die vals profetes in Tiatira was net so skadelik en daarom noem die Here haar Isébel.

Die Isébel in die OT het probeer om ‘n samesmelting tussen twee godsdienste te bewerk, met rampspoedige gevolge. Sy wou die Baälafgodsdiens met die diens van die Here vermeng.

Tiatira se Isébel wou ook ‘n tipe vermenging tussen kerk en wêreld bewerkstellig. En die gevolge op die gemeente was soortgelyk as wat toentertyd in oud-Israel gebeur het.

In die Here se oë was hierdie saak so ernstig dat Hy dit die “dieptes van satan” noem. Hy prys die klompie gemeentelede wat hierdie dieptes NIE leer ken het nie. Want die getroue oorblyfsel is altyd daar.

Ons is nie seker wat hierdie “dieptes van satan” waarin die valse profetes die mense verlei het, was nie. Wat duidelik is, is dat dit ‘n tipe verkondiging van God se genade was, wat mense laat voel het dat God se genade so geweldig groot is, dat sonde nie meer saakmaak nie. Mens moes slegs van vergifnis en vryspraak praat en die woord sonde nie eens noem nie, want dit is afgehandel op die kruis. Wat jy uiterlik met jou liggaam doen is nie so belangrik nie, want dit kan nie jou innerlike verhouding met die Here skade doen nie. Die innerlike is belangrik, nie die uiterlike nie.

Die vals profeet se boodskap is altyd: “vrede vir jou” – terwyl daar in werklikheid nie vrede is nie!

Die vals profeet se boodskap is: “Die gemeente kan nie ‘n invloed op die wêreld uitoefen as die gemeente so afgesonderd van die wêreld leef nie. Die muur moet afgebreek word. Julle moet nader beweeg aan die wêreld. Niks kan julle insluiting by Christus tot niet maak nie. Julle kan gerus meer op die terrein van wêreld beweeg”.

Byna soos Lot wat aanvanklik net eers sy tente digby Sodom opgeslaan het en later binne in Sodom gewoon het!

Wel, Isébel se prediking het vrug afgewerp, want die gemeente se getalle het gegroei! Sulke “lekker” prediking lok mense kerk toe!

Maar hierdie valse prediking het die mense mak gemaak vir sonde en veral seksuele sondes en afgodery het floreer binne die gemeente. Al was hulle so aktief en het hulle kerk uit sy nate gebars! Pleks daarvan dat die gemeente op die wêreld invloed moes uitoefen, het die wêreld op die gemeente invloed uitgeoefen. Behalwe op die groepie wat getrou gebly het, natuurlik.

Uit hemelse, goddelike perspektief gesien, is hierdie hele toedrag van sake niks anders nie as die dieptes van satan self. Dit kom van satan. Hierdie tipe predikers en hierdie tipe verkondiging, is van die satan en in die satan se diens. Ook in 2017.

Die Here Jesus wonder nie óf daar ‘n satan is nie. Hy sê reguit: Dis die dieptes van satan. Enige kompromieroete wat ‘n kerk loop, is van satan en dien die satan se belange. Enige kerklike teologiese roete wat mense se seksuele sondes en afgodery van watter aard ookal op watter manier ookal kondoneer, is van satan en dien die satan se belange. So ‘n kerk en so ‘n gemeente moet tot diepe inkeer en bekering kom! Dis die duidelike boodskap van die lewende God uit hierdie brief aan Tiatira.

Die Here se boodskap is glashelder duidelik: ‘n Kerk wat aan die Here getrou wil bly MAG NIE vals leer en vals predikers VERDRA nie. Hulle mag nie geduld word nie. ‘n Vals kerk is altyd geneig om die ware profete te vervolg en aan te kla en te bestraf. Maar die ware kerk kan onderskei wat vals prediking is en wie vals profete is en sal hulle nooit verdra nie.

Kyk net hoe ontsaglik groot en ryk is die Here se geduld en genade vir hierdie afskuwelike vals profetes. Hy gee vir haar (en almal wat haar volg) die geleentheid/tyd om tot bekering te kom. Daarna werp Hy haar op ‘n siekbed om haar wakker te skud. En as dit nie help nie, sal Hy haar en almal saam met haar aan verdrukking oorgee. En as dit nie help nie, sal Hy begin om mense aan die dood oor te gee (vers 23). Letterlik staan daar in die Grieks: “Ek sal hulle met die dood doodmaak”. Ons weet dat dit nie net woorde is nie, want in die vroegste kerk het Hy vir Ananias en Saffira doodgeslaan.

Dit wys vir ons hoe ernstig die Here daaroor is dat Sy gemeente nie ‘n kompromieroete met sonde mag loop nie.

Die een metode na die ander. Uitgerekte genadetyd. Vyf metodes: Eers praat, dan tyd gee, dan ‘n siekbed, dan verdrukking, dan dood.

Is dit nie asemrowend nie? Is die oordele van God nie lofwaardig nie? Dit soek altyd die mens se heil. Dit buig agteroor om mense te red. Want Hy is die een wat die gedagtes en die hart ondersoek en aan elkeen loon gee volgens sy/haar werke.

Daar was ‘n oorblyfsel in Tiatira wat nie geswig het onder Isébel se wonderlike bevrydende “feel good” prediking nie. En die Here sal hulle beloon daarvoor. Hy plaas geen laste op hulle nie. Hy sê net een ding: “Hou vas wat julle het. Hou vas aan My. Hou vas aan die Waarheid – totdat Ek kom! Moenie kompromie maak nie.”

Die oorwinnende Christene in Tiatira ontvang van die Here Jesus wonderlike beloftes.

Die Here sê vir hulle: “Ek het self alle outoriteit en gesag van My Vader ontvang. En weet julle wat: Ek gaan daardie gesag aan JULLE gee. Daar gaan ‘n tyd kom, wat JULLE outoriteit oor nasies gaan uitoefen (Grieks: herderskap). En Ek gaan vir julle die môrester gee”.

Uit Open 22:16 weet ons dat die Here Jesus self die môrester is.

Wat Hy dus aan Sy getroue kinders beloof is dat hulle vir ewig en ewig en ewig aan HOM deel sal hê. Hulle sal saam met Hom regeer. Die Koning en die koninkryk behoort aan hulle.

Dit is genoeg motivering om ‘n mens te laat aanhou, is dit nie? Dit is genoeg motivering om ‘n mens te bekragtig om heilig te leef.

Die vraag is of ons ore het wat kan hoor (vers 29)? LUISTER ons na wat die Gees in hierdie brief aan Tiatira aan ons sê?

Wel, dan sal ons weet hoe ernstig die Here daaroor is dat die gemeente en kerk geen verdraagsaamheid mag betoon aan vals genadeprediking of sonde mag verdra en wêreldsgesindheid toelaat nie.

Vanjaar gedenk die hele Protestantse kerkerewêreld 500 jaar sedert die begin van die Groot Reformasie van die 16de eeu. Dis 500 jaar gelede wat Martin Luther sy 95 stellings aan die kerkdeur by Wittenberg vasgekap het.

U behoort vanjaar baie oor die Reformasie te hoor. Onder andere ook dwaalgedagtes soos dié van ‘n teologie professor onlangs in die koerant: “Die kerk wéét nooit regtig nie, die kerk moet steeds bly leer, steeds núút luister, núút hoor, béter verstaan, fýner gewaar word, sensitiewer aanvoel, liefdevoller optree, steeds méér genadig, méér verwelkomend, méér gasvry, méér insluitend, méér versoenend wees – want ‘n hervormde kerk bly steeds aan die hervorm”

Hoe meer die kerk dus sy vroeëre verstaan van die Skrif verander, vroeëre denke verwerp en dit aanpas by die tye en dit wat die Skrif afwys, verwelkom, hoe meer reformeer die kerk. Vir my klink dit soos die leringe van Isébel!

Ware en egte kerkreformasie is iets totaal anders. Ware reformasie behels juis ‘n 180 grade ommekeer terug na die Bybel as onfeilbare Woord van God en ‘n bekering wég van kompromie met sonde en wêreld.

Dit kan op individuele persoonlike vlak gebeur, maar dit kan ook met ‘n gemeente of selfs ‘n kerkdenominasie soos die NG kerk gebeur.

‘n Kerk kán tot bekering kom. Dit is wat die almagtige Heilige Gees van God kan doen en dit is waarvan die sewe briewe in Openbaring 2-3 getuig.

Wie ore het, laat hom HOOR wat die Gees aan die gemeente sê.

Category Openbaring Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)