Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

OPENBARING-REEKS NO 5

By die troon van satan – Openbaring 2: 12-17

Toestande in Pergamum was effens anders as dié van Efese en Smirna (wat ons die vorige twee Sondae bestudeer het).

In hierdie bepaalde stad in Klein-Asië (vandag Turkye), het die satan sy troon opgerig. En dis hier – by die troon van satan – wat die gemeente van Christus gewoon het.

Maar, die Here weet presies wat hulle omstandighede is. Dis die enorme groot troos! En Sy Woord het twee skerp snykante. Dis die swaard van die Gees (Efes 6:17). As die Here se Woord praat, is dit lewend en kragtig en penetreer dit siel en gees en ontbloot dit die diepste bedoelings van die mens se hart (Hebr 4:12).

Wanneer die Here Jesus vir Sy gemeente in Pergamum sê: “Ek ken die plek waar jy woon”, verwys Hy nie na hulle woonadres nie, maar na die gevaarlike geestelike milieu wat in Pergamum geheers het. Die troon van satan was daar. Die gemeente van Christus het naas die troon van satan bestaan!

Om te verstaan waarom spesifiek Pergamum die “troon van satan” genoem word, moet ‘n mens iets van die historiese agtergrond verstaan.

In die destydse Romeinse Ryk was almal welkom om die godsdiens van hul keuse te beoefen. Die Christene ook. Want die Christelike kerk was beskou as ‘n aanhangsel van die Joodse Judaïsme – en daar was verdraagsaamheid teenoor die Jode.

Daar was egter een voorwaarde: Naas die godsdiens van jou keuse, moes jy ook aan die staatsgodsdiens deelneem. Jy moes naamlik die keiser vereer as god. Op sekere feesdae was elkeen verplig om ‘n bietjie wierrook voor ‘n borsbeeld van die keiser te brand. Dis al. Net dit. Nadat jy daardie verpligtingkie nagekom het, was jy vry om Christus te aanbid. Net ‘n paar korreltjies wierrook. Die meeste mense het dit gedoen. Behalwe die Christene. Vir hulle was dit ‘n gewetensaak. Want hulle was oortuig dat slegs Christus die HERE is. Dit was die vernaamste oorsaak van die verskriklike vervolging van die Christene. Hulle was nie soseer vervolg & gemartel omdat hulle die Here Jesus bely het nie, maar omdat hulle geweier het om kompromie te maak en die keiser NAAS Christus te vereer.

Watter spesifieke rol het die stad Pergamum gespeel? Pergamum was die setel van die Romeinse regering in Asië. Die middelpunt van die afgodiese staatsgodsdiens was in Pergamum. Die eerste tempel wat vir die verering van Keiser Augustus opgerig was, was in Pergamum. Dit was die sentrum van die satan se stryd teen die Here God en Sy Waarheid.

Pergamum was die plek waar die altaar vir Zeus was – die Romeinse god van oorlog. Dit was dus eintlik ‘n altaar vir satan self.

In Pergamum was ook ‘n monument vir Asklepius – die god van genesing. Asklepius was uitgebeeld as ‘n slang – wat vandag nog op die embleem vir die mediese wetenskap gesien word. Binne in hierdie monument-tempel was daar honderde nie-giftige slange en siek mense het daar gaan lê met die hoop dat ‘n slang oor hulle seil en Asklepius hulle genees.

Satan se troon was in Pergamum. En die Here se kinders was midde-in dit. Maar hulle hoor die Here se bemoedigende versekering: “Ek ken die plek waar jy woon”.

Dis darem wonderlik om te weet dat die Here God jou omgewing ken. Selfs in die kleinste besonderheid. Die versoekings wat oor jou pad kom. Die gevare wat sekere mense vir jou inhou. Die moeites wat jy teëkom. Hy weet presies watter goed ‘n skaduwee oor jou lewe werp. En Sy teenwoordigheid is agter alles en bo alles.

Dit is ook betekenisvol hoe die gemeente in Pergamum aan die Here getrou gebly het – ten spyte van al die sataniese invloede. Hoe bitter moeilik dit ookal moes wees. Dis wys weer met watter geweldige atoomkrag die Heilige Gees in die lewens van God se kinders werk. Hierdie mense het nie hulle geloofsvertroue in die Here Jesus afgesweer of afgeswak nie.

Die Grieks sê eintlik: “Julle het nie MY GELOOF verloën nie”. Dit verwys dus nie na die mens se subjektiewe hartsgeloof nie, maar na die objektiewe vasstaande evangelieboodskap soos wat dit buite die mens vas en waar is in Christus.

Pergamus se Christene het nie die waarheid van die Skrif verloën nie.

En dit terwyl iemand uit hulle midde – Antipas die getroue getuie – doodgemartel is.

Ons weet niks van hierdie Antipas nie, behalwe dat hy die enigste martelaar was wat deur die Here self by die naam genoem word. Die tradisie sê dat Antipas lewendig binne-in ‘n verhitte hol koperdrom dood gekook is. Maar hy het tot die dood toe aan die Here Jesus getrou gebly. En te midde van sy marteldood, het die gemeente aan die Here getrou gebly.

Ons sien dus hoe verkeerd dit is om te dink dat tye en omstandighede vandag dit moeiliker maak om as Christen te leef en staande te bly. Ons dink mos soms dat die omstandighede destyds makliker was. Dink ons nie soms dat ONS dit swaarder het as die Christene van destyds nie?

Wel, wat moet ons dan sê van die Here se gemeente in Pergamum – waar die satan se troon was?

En selfs al was satan se troon daar, verlaag die Here nie Sy standaarde vir daardie Christene nie. Wat Hy wel sê is: “EK WEET. Ek ken die plek waar jy woon. En moenie vergeet dat dit EK was wat jou daar geplaas het nie. Dit tel in jou guns dat jy – deur dik en dun – aan My Naam vasgehou het.”

En tog het die Here ook ‘n probleem met die Pergamumgemeente. In hulle midde was daar naamlik ‘n groepie mense wat dwaalleer verkondig het, en hulle het hierdie mense laat begaan. Hulle het hulle verdra. Daar was ‘n onbybelse gees van verdraagsaamheid en “liefde” onder hulle.

Hierdie dwaalleraars was die Nikolaïete – vir wie ons ook twee Sondae gelede by die Efesiërs teëgekom het.

Sonder om te herhaal wat reeds gesê is, kan ons net weer noem dat ons nie presies weet wie/wat die Nikolaïete was nie, maar vers 15 sê dat die Nikolaïete dieselfde sondes aanmoedig as wat Bileam gedoen het toe hy vir Balak geleer het om die volk tot afgodery en seksuele immoraliteit te verlei.

Ons moet terugblaai na Numeri 22 om te sien wat Bileam gedoen het, deur voor te gee dat hy ‘n ware profeet van die Here was, maar die vrug van sy arbeid het tot gevolg gehad dat die volk in seksuele sondes en afgodery verval het.

Dus, wie of wat die Nikolaïete ookal was – hulle het voorgegee om ware profete te wees, maar het deur hulle lering die mense ingelei in vernietigende sondes deur ‘n verkeerde begrip van wat GENADE is, te verkondig. Hulle het gesê ‘n mens kan as Christen ‘n hele end met die heidendom saamloop, want God se genade hou jou skoon. As jy eenmaal ingesluit is by Christus, kan sonde geen uitwerking op jou hê nie. Soos ‘n towerkleed sal die genade jou bewaar. Valse leer en verkondiging van dwalings lei ALTYD tot ‘n lewe van kompromie en sonde.

Die Nikolaïete sou dus vir die Christene sê: “Dis nie regtig kompromie om vir die keiser ‘n paar korreltjies wierrook te offer nie. Is Christus dan nie in julle hart nie? Is jy nie uit genade gered nie? As jy by Christus ingesluit is, wat maak dit saak of jy slegs met ‘n uiterlike handeling vir die keiser offer? Solank jy net nie in jou hart glo dat die keiser ‘n god is nie, kan jy regtig maar die wierrook offer. Maak daarvan ‘n lekker sosiale geleentheid en moenie so bekrompe wees nie! As almal hulle hoofde buig vir die keiser, kan julle dit ook maar doen. Jy hoef nie in jou hart voor hom te buig nie. Buig net jou kop. Jou verhouding met die Here kan onmoontlik nie hierdeur aangetas word nie”.

U sien, as die duiwel nie die kerk kan breek deur te frons (vervolging en lyding) nie, dan doen hy dit deur te glimlag! Mooi woorde, pragtige prediking, verleidelike valse lering wat vrede verkondig terwyl daar nie vrede is nie.

Vir die Here is dit nie onskuldige dwaalleer nie. Vir Hom, is dit ‘n ernstige saak. Dwaalleer moet ten alle koste wortel en tak bestry en uitgeroei word. Dit geld steeds in ons dag. Dit geld ook vir die NG Kerk waarvan ons deel is. Indien die NG Kerk dwaalleer in sy midde verdra, is die NG Kerk onder presies dieselfde oordeel van God as wat in hierdie brief aan Pergamum beskryf word.

Daarom moet ‘n gemeente/kerk/denominasie wat verdraagsaam is teenoor vals leer, tot bekering kom. Vers 16 > “Bekeer julle NOU, anders sal Ek gou na julle kom en daardie mense met die swaard van My mond (dit is die Woord) bestry”.

Die Here eis ONMIDDELIKE bekering. Bekering beteken: Om jou gedagtes te verander en gevolglik om te draai en weg te draai van die sonde af. Andersins, het jy die Here se Woord teen jou. En Sy Woord is soos ‘n swaard. En daardie swaard sal in die laaste dag die finale woord spreek (Joh 12:48).

Ons praat baie van ‘n individu wat tot bekering kom. Maar het u al ooit gehoor van ‘n hele gemeente/kerk wat tot bekering kom? Wel, hier roep die Here ‘n hele gemeente tot bekering. Omdat hulle uit valse liefde verdraagsaam was teenoor dwaalleraars.

Wie enigsins die vermoë het om te kan hoor, moet LUISTER wat die Heilige Gees vir die gemeente sê. Ware en egte LUISTER lei tot bekering. En bekering lei tot lewe.

Dit is die moeite werd om tot bekering te kom, want kyk net watter beloftes gee die Here in vers 17.

Hy gebruik die woordjie SAL. Dit dui op sekerheid.

Ek SAL vir julle twee dinge gee: 1 Die verborge manna en 2 ‘n Spierwit klippie waarop ‘n nuwe naam gegraveer is – ‘n naam wat niemand ken nie, net jy wat dit ontvang.

1 Die verborge manna: Ons weet wat die manna in die OT was. Dit was die wonderwerk-kos waarmee die Here Sy volk in die woestyn gevoed en versorg het.

Die Here het ook vir Moses beveel om ‘n kruik vol manna in die verbondsark te sit – sodat die Israeliete altyd herinner kon word aan die wonderlike manier waarop die Here God voorsien en sorg.

Die manna was dus ‘n simbool van die bevrediging en vervulling wat die Here aan mense gee wat geestelik honger is.

As die Here vir die gelowiges in Pergamum (en vir ons) beloof dat Hy vir hulle manna sal gee, verwys dit nie na fisiese korrels heuningbrood nie. Dit beteken Hy sal self ons ewige versadiging en vervulling van ons diepste menswees wees. Hy is self die brood/manna. Daarsonder sal ‘n mens ewiglik honger wees en vergaan.

Hierdie manna is dus nie te versmaai nie. Eerder in ‘n koperdrom gekook word as om die manna te versmaai!

2 ‘n Spierwit klippie waarop ‘n nuwe naam gegraveer is – ‘n naam wat niemand ken nie, net jy wat dit ontvang: Vir ons klink dit vreemd, maar in die destydse Griekse kultuur en in die wêreld van antieke sport en atletiek was dit algemeen bekend dat die wenners ‘n wit steen ontvang het waarop hulle name gegraveer was. Dit was soos ‘n medalje. Die wit steen was dan die atleet se toegangskaartjie tot die feesmaal wat ná die byeenkoms gehou is. Die wit steen het die atleet se toegang tot die fees verseker.

Weer eens: Die Here sê nie dat Hy aan die einde van die aardse wedloop vir Sy kinders fisiese wit klippies sal gee nie. Die wit klippie is simbolies van wie HYSELF vir Sy mense is en sal wees! Die wit steen beteken dat die mense wat waaragtig aan Hom behoort, die oorwinnaars is en MET SEKERHEID toegang tot die Bruilofsfees van die Lam en al die genot van die hemel sal hê. Hulle name is immers in die Boek van die Lewe.

En elke oorwinnaar sal van die Here self ‘n nuwe naam ontvang. ‘n Eie hemelse identiteit! Soos wat ons vandag hier is, weet NIEMAND wat ons nuwe naam sal wees nie. Net soos wat Jesus van Sy Vader ‘n Naam bo alle name ontvang het, sal dit met Sy kinders gebeur. ‘n Totaal nuwe, ewige, hemelse, perfekte identiteit.

Dis opvallend watter “geheimsinnigheid” aan die Here se twee beloftes kleef. Het u dit opgemerk? “Verborge” manna. “Nuwe naam wat niemand ken nie”.

Wat is dan so geheimsinnig daaraan?

Eintlik wil die Here daarmee net een ding sê: “Die geestelike realiteite wat hierdie manna en wit steen voorstel, is so diep, dat julle begrip en verstand dit op geen manier kan peil nie. Hoe veel julle dit probeer verstaan, dit is buite julle begrip. Die nuwe wêreld waarheen Ek met julle op pad is, gaan ‘n uitermatiglike verrassing wees. Vergeet dit om dit nou reeds te probeer verstaan. Sorg net dat julle aan My belofte vashou, byt vas en druk deur tot die einde toe.”

Daar is net een manier hoe ek en jy te wete kan kom wat die manna en die wit steen werklik is en dit is om seker te maak dat ons op die Groot Dag tussen die oorwinnende gelowiges sal wees!

Category Openbaring Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)