Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

OPENBARING-REEKS NO 4

Oorwinnaar oor die dood – Openbaring 2: 8-11

Die bloed van die martelare is die saad van die kerk” het kerkvader Tertullianus in ongeveer die jaar 200 nC gesê.

Daarmee het hy bedoel: Hoe meer die ware kerk van die Here vervolg word en lyding verduur, hoe sterker word die kerk. Terwyl ‘n mens sou verwag dat mense hulle eie lewens BO die Here sou kies in tye van vervolging, is net die teendeel waar. Hulle groei net sterker en sterker in Christus. Die ware kerk van Christus, is uiters taai.

Die Here se brief aan die gemeente in Smirna bevestig Tertullianus se woorde.

Hou in gedagte dat die 7 gemeentes in die destydse Klein-Asië – aan wie die briewe in Openbaring 2-3 geskryf is – in ‘n heidense en vyandige omgewing ontstaan en gefunksioneer het. Die omgewing en heidense kultuur en antichristelike Romeinse owerheid was Christus-vyandig. En daarom het die gelowiges vervolging en dikwels marteldood beleef.

Twee van die 7 gemeentes aan wie die Here hierdie briewe laat skryf het, het nie geswig onder die druk nie. Smirna en Filadelfia. Dis ook die enigste twee gemeentes wat geen kritiek en vermaning van die Here ontvang nie. Hulle was soos onverbiddelike lighuise in ‘n donker, sataniese wêreld van afgodery en heidendom.

Hierdie twee gemeentes het ook die meeste vervolging beleef. Waarskynlik omdat hulle geen kompromie gemaak het nie. Hulle het vasgebyt en nie gekapituleer voor die vyand nie. Daarom het die sielevyand hulle meer intens gehaat en wou hulle met alle mag vernietig.

Smirna was egter die gemeente wat die heel swaarste onder vervolging van Keiser Domitianus deurgeloop het. Hy was ‘n moordadige diktator. Om die een of ander rede het die woede van die duiwel self op hierdie stad – Smirna – gefokus. Domitianus het hom op Smirna toegespits. Smirna was slegs 60km noord van Efese, aan die westekant van die huidige Turkye. Vandag is dit die stad Izmir. Efese (wat hul eerste liefde verlaat het) het eeue later totaal verdwyn, maar Smirna (waar die kerk onwrikbaar getrou was) bestaan vandag nog steeds. Ongeveer een derde van moderne Izmir is Christene en daar is ongeveer 200 gemeentes van verskillende kerkgroeperings. Die Here het dus vandag nog Sy mense daar.

In Smirna was ‘n reuse altaar waar elke inwoner aan die Keiser wierrook moes offer – so asof hy ‘n god was. Die Romeinse Ryk was verafgod as ‘n godin en die Keiser was verafgod as ‘n god. En almal moes hierdie eerbewys bring. Wie wierrookoffers aan die Keiser bring, het sertifikate as bewys ontvang. Almal moes ook hardop bely: “Die keiser is Here”. Weier jy om dit te sê en weier jy om vir die keiser wierrook te offer, en kan jy nie jou sertifikaat toon nie, was jy vervolg en tereggestel.

Uiteraard was dit die Christus-gelowiges wat hierdie pad gestap het, want hulle het bely dat slegs JESUS die Here is, nie die keiser nie. Dit was soos ‘n selfopgelegde doodsvonnis. Dit is waarom die apostel in 1 Kor 12 sê dat ‘n mens SLEGS deur die Heilige Gees kan bely dat Jesus die Here is. Slegs die Heilige Gees kan jou op só ‘n magtige manier vervul en beheers en bekragtig dat jy Jesus HERE kan noem in die aangesig van gewisse dood.

Die verskriklike vervolging en marteldode kon egter nie die gemeente in Smirna verswak en van stryk bring nie. Hulle het geestelik net al hoe sterker geword. In lyn met wat die Here beloof het. Byvoorbeeld in Matteus 16: “Ek sal my kerk op die rots bou en die poorte van die hel sal dit nie kan vernietig nie”. Die “poorte van die hel” beteken die dood. Satan sal die ware kerk, wat getrou wil wees aan die Here en die Woord, met magte aanval wat die dood meebring. Gelowiges sal doodgemartel word. Die wêreld haat Christus, haat die waarheid, haat die Bybel wat woord-vir-woord onfeilbaar waar is. Daarom haat hy die Christene. Maar die poorte van die hel kon die gemeente in Smirna nie vernietig nie. Soos Jesus beloof het in Joh 16:33 > “In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou moed, Ek het die wêreld oorwin”. Of 1 Petr 5:10 > “Nadat julle gely het, sal die God van alle genade julle versterk en bevestig”. Vervolging versterk die ware kerk. Dit vernietig dit nie.

In kort sou ons dus kon sê dat die gelowiges in Smirna totaal uit pas was met die heersende kultuur van daardie tyd. Hulle het geweier om die keiser te aanbid, geweier om mee te doen aan die heidense kulturele praktyke. Daarom is hulle swaar vervolg.

Maar daar was ‘n verdere verswarende faktor: Die Jode. Die Here sê dit in soveel woorde in vers 9: “Ek ken die laster van die Jode wat sê dat hulle Jode is, maar in werklikheid is hulle ‘n sinagoge van satan”. Die Here weet presies wat daar aangaan.

Vreeslik om te dink dat die Jode eens ‘n sinagoge (vergadering/samekoms) van God was, maar toe verwerp hulle hul eie Messias. En so het Judaïsme net so satanies geword as wat die Romeinse keiser-aanbidding satanies was. Tog glo die Jode dat hulle steeds JODE is – bedoelende in ‘n geestelike sin: volk van God. Maar in werklikheid is hulle Christus-hatende, en Evangelie-hatende mense. Daarom het hulle die wêreld warm gemaak vir die Christene in Smirna. Hulle het hande gevat met die owerheid om die Christene dood te maak en uit te stoot uit die samelewing. ‘n Mens sien dit regdeur die boek Handelinge hoe die Jode die owerhede se gedagtes vergiftig het teen die Christene.

Dit bly altyd vir my ‘n vreesaanjaende gedagte dat ‘n mens kan dink en glo en hoop dat jy die Here in waarheid dien, maar in werklikheid onbewustelik steeds in satan se greep sit. Dis slegs die Gees van God wat ‘n mens se oë hiervoor kan oopmaak en jou in waarheid na Christus lei.

Die veiligste plek waar die gelowiges in Smirna egter kon wees, was in die Here Jesus se vertroostende belofte van wie Hyself is, want dit is aan HOM wat hulle behoort. Hy is naamlik “die eerste en die laaste, wat dood was, maar weer lewend geword het”.

Die titel “eerste en laaste” is ‘n titel wat slegs van God self gesê word, byvoorbeeld in Jesaja 41 en 44 en 48. Dit beteken Hy is die ewige Een, wat altyd was en altyd sal wees. Toe alles geskep was, was Hy alreeds daar. En wanneer alles weer “ongeskep” word by die voleinding, sal Hy steeds daar wees.

En nou word hierdie titel (eerste en laaste) – wat van God die Vader waar is – aan JESUS toegedig. ‘n Klinkklare bewys dat die Here Jesus ewig God is. Wat van die Vader gesê word, word ook van Christus gesê.

Jesus is die enigste Persoon ooit wat kon sê: “Ek WAS dood, maar kyk, Ek LEWE!” Alle ander kan slegs sê: “Ek het gelewe en nou is ek dood”. Maar Hy draai dit om!

Maar, hoe kon die ewige God dan DOOD gaan en weer lewe?

Slegs op een manier: Die ewige God het mens/vlees geword in Jesus Christus! Die ewige lewende God het tyd en ruimte binnegekom in Jesus se menswording en in Hom gesterf en opgestaan! Jesus het uit die dood opgestaan deur die krag van eindelose lewe (Hebr 7:16). Dit was onmoontlik dat die dood Hom kon vashou. Ja, die fisiese liggaam van Christus het gesterf, maar die Seun van God (eindelose lewe) self kon nie sterf nie.

Die gemeente van Smirna moes met sekerheid weet: Al was hulle uitgewerp en gehaat en verag as die skuim van die aarde, was die ergste wat met hulle kon gebeur die dood. Maar Jesus het juis die mag oor die dood en hel in Sy hand. Die dood kan hulle dus nie vashou méér as wat dit vir Jesus kan vashou nie.

Dis moes darem wonderlik wees om só ‘n brief van die Here self te ontvang – sonder enige kritiek of vermanings.

Die woord Smirna beteken mirre. Mirre is ‘n soort lekkerruiksalf wat gebruik was om lyke te balsem. Dit moes egter eers stukkend gemaak word voordat dit die geur afgee. Jesus se eie liggaam was met mirre gebalsem (Joh 19). Daarom kon Hy nou Sy Smirna-kerk salf terwyl hulle die dood in die gesig staar. Hulle moes stukkend gemaak word om die lieflike geur van Christus te kon versprei. En satan was God se handlanger in die stukkendmaakproses.

Dis moes wonderlik wees vir hierdie gemeente – wat boonop arm was (vers 9) – om te weet dat hulle oomblik na oomblik in die teenwoordigheid van die Here is. Menslike hulpbronne het hulle nie gehad nie. Die Griekse woord beteken dat hulle NIKS gehad het nie. Hulle was nie middel-klas nie. Ook nie laer-klas nie. Hulle was op die bodem van die samelewing.

En tog was hulle skatryk (vers 9). “Ek ken julle armoede. En tog is julle ryk”. Hulle was geestelik ryk. Hulle was ryk in Christus. Wie is dus werklik ryk? Die gemeente van Laodicea het gedink hulle is ryk – omdat hulle materieël ryk was – en tog was hulle arm voor God.

Die Here herinner vir Smirna hoe ryk hulle in werklikheid is. En dis belangrik dat hulle dit weet, want NOG vervolging en lyding wag op hulle. Die Here sê dit vir hulle vooruit. Ons dink soms dat ons sinnelose lyding by God verbygaan of dat Hy onverskillig staan daarteenoor. Maar in werklikheid hou Hy dit in Sy hand. VOORDAT dit oor Smirna se pad kom, sê Hy vir hulle dát dit kom. Oral in Openbaring word gesê dat die satan slegs kan doen dít wat hom toegelaat word. Die sogenaamde “mag” wat die duiwel het, word in werklikheid aan hom gegee. Daar is ‘n speelruimte wat die Here hom toelaat, maar oor die lyn wat die Here trek, kan hy nie tree nie.

Lyding is altyd sinneloos en betekenisloos. Om sin te probeer soek in lyding, is onmoontlik. Maar, wanneer ‘n mens die lewende Here IN jou onverklaarbare sinnelose lyding ontdek, kan jy IN HOM sin en betekenis vind ten spyte van die lyding.

So was dit met die marteldood van Polikarpus. Polikarpus was die leraar van die gemeente in Smirna. Hy het die apostel Johannes persoonlik geken. Hulle het saam in die destydse Klein-Asië in die gemeentes gewerk. Maar, in die jaar 155 het hy die marteldood gesterf op ouderdom 86. Hy was lewendig uitgebrand.

Voordat dit gebeur het, het die Here vir Polikarpus in ‘n droom gewys hoe sy kopkussing onder sy kop brand. Toe het hy geweet dat hy op die brandstapel sou sterf.

Hy was egter ‘n man van God en selfs nie eens die kaptein van die soldate wat vir Polikarpus gevange geneem het, wou hê dat hy sterf nie. Hy het by Polikarpus gepleit: “Wat is dit nou om net te sê: ‘Die keiser is Here’ en wierrook te brand? Dis tog niks. Jy hoef dit nie in jou hart te glo nie. En dit kan jou lewe red”.

Polikarpus se antwoord was: “Tagtig en ses jare het ek die Here gedien en Hy het aan my niks verkeerd gedoen nie. Hoe kan ek my Koning wat my gered het laster?”

Toe die Prokonsul hom dreig met die brandstapel, was sy antwoord: “Jy dreig my met ‘n vuur wat net ‘n kort tydjie brand omdat jy niks weet van die ewige vuur wat op die onbekeerdes wag nie. Waarvoor wag jy? Doen wat jy wil doen”

Toe die soldate vir Polikarpus op die brandstapel wou vasbind, het hy gesê: “Los my net so, want die Here sal my krag gee om stil te staan in die vlamme”. Hulle het hom toe net so laat staan – sonder om hom vas te bind – en die vuur aangesteek. En so het hierdie man van God, die leraar van die Smirna gemeente – bewegingloos in die vuur bly staan en gesterf vir sy Here en Verlosser.

Dit was deel van die vervulling van die Here se woorde in vers 10: “Moenie vrees vir wat julle gaan ly nie. Kyk, die duiwel is op die punt om sommige van julle in die tronk te gooi om julle op die proef te stel en julle sal verdrukking hê vir 10 dae lank. Maar wees getrou tot die dood toe en Ek sal julle die kroon van die lewe gee.”

Die 10-dae periode is waarskynlik ‘n nie-letterlike simboliese getal, want ons weet uit die geskiedenis dat die vervolging omtrent nog 60 jaar aangehou het tot by Polikarpus se dood. Dis net belangrik om raak te sien dat die Here dit vooruit aankondig en dat nie die duiwel nie, ook nie noodlot nie, ook nie omstandighede nie, maar HY soewerein regeer. Dit is die oneindige vertroosting wat die gelowiges gehad het en wat hulle deurgedra het en krag gegee het om getrou te kon bly tot die einde toe.

Dit is die groot kenmerk van ware geloofsvertroue in Christus: dit sal volhard. Dit word nie gebreek deur beproewing nie. Beproewing toets die breekkrag van ware Heilige Gees-gewerkte geloofsvertroue, maar dit breek nie. Matteus 24:13 “Die een wat volhard tot die einde toe, sal gered word” beteken eintlik “die wat gered is, SAL volhard tot die einde toe”.

So seker as wat die Bybel God se Woord is, so seker sal elkeen wat oorwin, die kroon van die lewe ontvang. Dit beteken: die kroon wat die ewige lewe is. Die ewige hemel dus. Jy is getrou dwarsdeur die bitterste beproewing. En wat is die uiteinde daarvan? Die kroon van die lewe!

Die mens wat oorwin – dwarsdeur armoede, dreigemente, vervolging, vyandskap, verdrukking, aanvalle en dood – sal nie deur die “tweede dood” geraak word nie. Jy sal heel waarskynlik die eerste dood sterf – dit is die fisiese dood. Maar jy sal nooit die tweede dood smaak nie. Dit is die geestelike dood. Die ewige dood. Dit sal jou nie raak nie.

Wie is hierdie “oorwinnaars” van wie die Here hier praat? Is dit ‘n sekere tipe Christen? Een wat beter is as ander?

Die goeie nuus is: “oorwinnaar” is ‘n naam wat op ELKE ware gelowige van toepassing is. Indien u 1 Johannes 5 lees, sal u sien hoe hy “oorwinnaar” en “gelowige” as wisselterme gebruik. En so verklaar die Skrif homself.

Die mens wat ‘n ware gelowige in Christus is, SAL oorwin en seëvier. Want dit is DIE kenmerk van die wedergeboorte, die nuwe lewe van die Here: volharding en oorwinning. Dit gaan dikwels nie maklik nie, dit gaan gepaard met bloedsweet – soos met die Here Jesus in Getsemane. Maar, die krag van God wat in die gelowige is, gee die deurslag.

Op só ‘n mens, het die tweede dood absoluut geen effek nie.

Die Here beloof vir Smirna: “Julle is klein en arm, julle is vergruis en vervolg, julle word gemartel en sweet bloed om vir my Naam staande te bly, maar julle is meer as oorwinnaars. Julle is gewillig om eenmaal te sterf, maar julle sal nooit twee keer sterf nie. Julle gaan nie die hel sien nie, slegs die kroon van die lewe.”

Die wat ore het, moet hoor wat die Gees vir die gemeente sê.

Category Openbaring Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)