Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

OPENBARING-REEKS NO 3

VERKOELDE EERSTE LIEFDE – Openb 2:1-7

Om in ‘n verlossende verhouding tot die Here te leef beteken om Hom lief te hê. Dis die kern van hierdie verhouding. Wie pa, ma, seun, dogter MEER liefhet as vir My, is My nie werd nie (Mat 10:38). Vir die Jode sê Jesus: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê” (Joh 8:42). Om God werklik dinamies te ken en ‘n Christen te wees, beteken om die Here Jesus lief te hê. Wie Hom nie liefhet nie, is vervloek (1 Kor 16:22). Mense wat diep verknog is aan Jesus, is geredde mense. Mense wat nie aan Hom verknog is nie, is verlore. Ja, ons het Hom lief, selfs al sien ons Hom nie (1 Pet 1:8).

Alle Christene het dus die Here Jesus lief.

Maar nie alle Christene het Hom altyd met dieselfde intensiteit lief nie. Die intensiteit kan fluktueer. Alle Christene het nie altyd die Here met hulle hele hart, siel, verstand en krag lief nie.

Hoe ernstig hierdie fluktuasie is, sien ons in Open 2:1-7 in die Here se woorde aan die destydse gemeente van Efese. Die gemeente wat haar eerste brandende en verterende liefde verloor het.

Die Here Jesus se woorde aan daardie gemeente is ook Sy woorde aan ons, want die 7 gemeentes aan wie die briewe in Openbaring gerig word en die toestande wat in hulle geheers het, is verteenwoordigend van die Here se kerk oor alle eeue!

Efese was ‘n groot Griekse hawestad teen die Middelandse see in wat vandag se moderne Turkye is. Die stad het ongeveer 50000 inwoners gehad, wat dit ‘n groot stad gemaak het.

Die gemeente het ontstaan deur die apostel Paulus se intensiewe bediening oor ‘n periode van drie jaar. Veertig jaar voordat hierdie brief in Openbaring aan hulle gerig was, het Paulus ook ‘n brief aan hulle geskryf – Efesiërs, in ons NT. Die gemeente in Efese het dus twee briewe ontvang: Paulus se brief. En 40 jaar later die Here Jesus se brief deur die pen van die Apostel Johannes.

Dit was ‘n gemeente wat baie sterk geestelike fondasies gehad het. Nie net Paulus nie, maar ander apostels het daar bedien. Ons lees daarvan in onder andere Handelinge. Timoteus was daar, Akwilla en Priscilla was daar. Die groot prediker Apollos was daar. Die apostel Johannes self was daar as ouderling totdat hy deur keiser Domitianus na die eiland Patmos verban is. Dit was ‘n gemeente van wie die Evangelieboodskap effektief uitgegaan het na ander wêrelddele. Dit was hier waar die Here groot wonders bewerk het deur Paulus – soos genesings wat plaasgevind het slegs deur te raak aan kledingstukke wat Paulus gedra het. Dit was hier waar die Gees met soveel krag gewerk het dat mense tot bekering gekom het en hulle heidense okkultistiese towerboeke in die openbaar verbrand het (Hand 19). Dit was dus ‘n tyd van herlewing, kragtige prediking, baie bekerings en veranderde lewens. Soveel so dat Paulus in 1 Kor 16:8 sê hy wil nie daar weggaan nie omdat daar ‘n groot deur vir wonderlike geleenthede vir hom oopgegaan het.

En dit alles terwyl die stad Efese ‘n uiters bose plek was. Dit was onder andere die sentrum vir die aanbidding van die afgod Artemis (Grieks) of Diana (Romeins). Die reuse tempel vir Diana was in Efese. Die aanbidding in die tempel was niks anders as openlike prostitusie en aanbidding van duiwels nie. ‘n Mens sou kon sê dit was ‘n okkultistiese immorele nes.

Efese was dus ‘n baie bose stad.

En midde-in hierdie duisternis, het die Here vir Hom ‘n gemeente gevestig. Toe die apostel Paulus die Here Jesus Christus daar gaan preek het, het dit ‘n duik geslaan in die Artemis afgodsdiens. Die verkope van afgodsbeelde het gedaal en mense het tot bekering gekom. Dit het weer daartoe gelei dat die kerk vervolg is. Satan was op sy agterpote. Maar desnieteenstaande het die gemeente gegroei en sterk geword. Christus het die lig van Sy Woord laat skyn deur die herders van die kudde – die leraar en ouderlinge wat van die kansel en op huisbesoek die Woord verkondig het. En die blote verkondiging van die Woord het die demone laat rondvlieg – om dit so te stel. Die duisternis het gewyk.

Die brief word gerig aan die gemeente se “boodskapper”. Die Griekse woord “angelos” beteken “boodskapper”. Dit is die woord wat ook “engel” beteken. ‘n Mens hoor ook ‘n weerklank van die Grieks in die Spaanse naam vir die Amerikaanse stad Los Angeles (die engele). ‘n Engel is dus ‘n boodskapper.

Dit beteken nie dat die gemeente in Efese ‘n ENGEL gehad het aan wie die Here die brief rig nie. Maar dit verwys na die BOODSKAPPER van die gemeente – die pastor of leraar. Dit is juis die leraars wat die Here in Sy regterhand hou (1:20). Hy beheers dus die leierskap van Sy ware gemeentes. Hy gee die leraars, Hy voorsien. En Hy hou hulle ook verantwoordbaar en verantwoordelik. Terwyl Hy in die midde van die gemeente teenwoordig is en rondbeweeg (1:13). Dit beteken dat Hy op alles let, dat Hy in alles belangstel, alles evalueer. Hy is nie ver weg nie. Hy is nie onverskillig teenoor Sy gemeente nie.

Kyk nou net hoe intens praat die Here met hierdie gemeente:

Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is – en dit nie is nie – en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook: julle het baie vir my Naam verduur en julle het nie moeg geword nie. Julle het ook dit in julle guns: Julle verafsku wat die Nikolaiete doen, net soos Ek dit ook verafsku.”

Hoor u hoe prys die Here hulle aan? Hy weet presies wat in die gemeente aangaan. Selfs waar die oog nie kan sien nie. Hy prys hulle aan oor hulle “kopos” (Grieks vir harde werk tot op die punt van uitputting). Hulle werk in diens van die Here het met baie inspanning gepaard gegaan. Hulle wou nie vermaak word nie. Hulle wou betrokke wees. Hulle het ander onderrig in die Waarheid, hulle het Christus met ander gedeel, hulle het mense in nood gehelp. Hulle was aktief. En die Here sê Hy weet dit.

Hy weet ook hoe hulle volhard het. Aangehou het. Vasgebyt het. Met geduld. Ten spyte van ontbering, lyding en verlies. Maar hulle het getrou gebly.

Die Here prys hulle ook aan omdat hulle onverdraagsaam was teenoor enige vorm van sonde en boosheid. Hulle kon nie bose mense verdra nie. Hulle het ‘n heilige standaard gehandhaaf. Hulle het nie net ‘n probleem gehad met sonde nie, maar ook met die sondaar. Net soos wat die Here nie net ‘n probleem het met sonde nie, maar ook met die sondaar. Ja, God het sondaars lief. Maar Hy haat hulle ook – in die sin van dat Hy ‘n saak teen hulle het en ‘n probleem met hulle het – solank hulle onbekeerd voortleef. Daarom sê Hy vir die onbekeerde: “Kom, laat ons die SAAK met mekaar uitmaak” (Jes 1:18). Hy het ‘n besliste SAAK met die sondaar SELF! Hy het nie net ‘n probleem met wat hulle doen nie. Hy het ‘n probleem met hullesélf! Psalm 5:6> “Die Here haat almal wat onreg doen”. “Haat” nie in die sondige betekenis van die woord nie, maar in die sin van: Hy het ‘n saak teen hulle! Hiermee het die Efesiërs ook erns gemaak. Hulle het ook ‘n probleem gehad met die sondaar SELF omdat hulle sonde ernstig geneem het en dit gehaat het. En die Here prys hulle daarvoor!

Daarmee saam het hulle geestelike onderskeidingsvermoë gehad en dit toegepas. Hulle het mense wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle apostels is, op die proef gestel en bevind dat hulle vals is. En hulle verbied om op hulle kansel te kom. Hulle was goed onderlê in wat presies die Waarheid van die Evangelieboodskap was, wat die Waarheid van die ware apostels se boodskap was, wat die Waarheid aangaande Christus was – dat hulle predikers daaraan kon toets en sien of hulle vals profete is. En indien hulle vals profete bevind is – is hulle verjaag soos ‘n mens ‘n hond met modderpote uit jou sitkamer jaag.


Ook hierin prys die Here Jesus die gemeente aan. Dis tog immers presies in lyn met die opdrag in 1 Johannes 4:1 > “Moenie enigeen glo wat s
ê dat hy die Gees van God het nie, maar ondersoek elkeen of sy gees van God afkomstig is”. En in 2 Johannes vers 10 sê die Heilige Gees: “As daar iemand na julle kom wat ‘n ANDER leer bring, moet hom nie in julle huise ontvang nie. Moet hom nie eens groet nie”.

Dit is ‘n geweldig belangrike en uitdagende woord in vandag se sogenaamde “post-moderne tyd” van inklusiwiteit – waar almal elkeen sy eie insig mag hê oor wat waarheid is en waar almal geakkommodeer word – in die naam van sogenaamde “liefde”.

‘n Gemeente wat aan Christus getrou wil wees, MAG NIE met die post-moderne tydsgees saamloop nie, maar dit op elke punt konfronteer en verwerp en aan die kaak stel.

‘n Gemeente wat aan Christus en die onfeilbare Woord getrou wil wees, moet leraars en profete en predikers op die proef stel. En as hulle nie absoluut suiwer volgens die Skrif preek EN LEEF nie, mag hulle onder geen omstandighede op die kansel kom nie. Hulle moet uitgewys word en vermy word.

‘n Gemeente wat aan Christus en die onfeilbare Woord getrou wil wees, moet sy kansel met doringdraad afkamp.

Die Efesiërs het dit met die Nikolaïete gedoen. Hulle het die Nikolaïete verafsku – net soos die Here hulle ook verafsku het (vers 6). En die Here prys hulle aan omdat hulle die Nikolaïete verafsku.

Ons weet nie presies wie/wat die Nikolaïete was nie, maar ons kry ‘n leidraad in die brief aan Pergamum – net verder aan in hoofstuk 2. In vers 15 sê die Here dat die Nikolaïete dieselfde sondes aanmoedig as wat Bileam gedoen het toe hy vir Balak geleer het om die volk tot afgodery en seksuele immoraliteit te verlei.

Ons moet terugblaai na Numeri 22 om te sien wat Bileam gedoen het, deur voor te gee dat hy ‘n ware profeet van die Here was, maar die vrug van sy arbeid het tot gevolg gehad dat die volk in seksuele sondes en afgodery verval het.

Dus, wie of wat die Nikolaïete ookal was – hulle het voorgegee om ware profete te wees, maar het deur hulle lering die mense ingelei in vernietigende sondes. Presies in weerspreking van wat die Jerusalemse vergadering van Apostels en ouderlinge in Handelinge 15:20 besluit het: “Weerhouding van afgodsdiens en seksuele immoraliteit”. Maar die Nikolaïete het gesê ‘n mens kan as Christen ‘n hele end met die heidendom saamloop. Valse leer en verkondiging van dwalings lei ALTYD tot ‘n lewe van kompromie en sonde. In die lewe van die vals profeet en ook by die mense wat na hom/haar luister.

‘n Baie resente voorbeeld hiervan is die kwessie van homoseksualteit wat op hierdie oomblik besig is om die NG Kerk te verskeur. Wanneer ‘n mens met ‘n homoseksuele oriëntasie onder die prediking van vals leraars/ Nikolaïete sit, dan lei dit tot immoraliteit en nie tot heiligheid van lewe nie. Dan sal die homoseksuele mense met ‘n skoon gewete gaan saamwoon, homoseksuele praktyke vryelik beoefen, huwelike sluit asof dit die normaalste ding onder die son is. Hierdie onheilige lewensvrug is die bewys dat die lering van vals profete gekom het. Want die vals profeet se prediking het onbybelse onheiligheid in lewensvrug tot gevolg!

Maar die Here prys die Efesiërs omdat hulle hulle afgeskei het van die vals leraars.

U sien dus hoe hemelsbreed ons hedendaagse praktyk in die kerk van die Skrif verskil. En watter diepe bekering nodig is. Die kerk moet tot bekering kom – terug na die Skrif toe.

Die praktyk vandag is: Verdra alles en almal in die naam van “liefde”. Moenie iemand enige aanstoot gee nie. Gun elkeen sy plekkie in die son. Luister maar na al die predikers en neem wat goed is. Niemand mag mos oordeel nie. Niemand mag oor enigiets skuldig voel nie. Die Here moet maar eendag oordeel.

Hierteenoor kom die heldere opdrag van die Skrif: Gebruik skerp onderskeidingsvermoë uit die Skrif om te beoordeel wat jy hoor. Identifiseer die vals profete en skei jou 100% van hulle af. Juis DIT is die vrug van liefde: liefde vir die Here, liefde vir die Woord, liefde vir die Waarheid, liefde vir die gemeente se welstand. Liefde stel die leuen aan die kaak, waarsku mense, preek die waarheid ens.

Die Here prys die Efesiërs aan dat hulle sterk bly staan het en nie links of regs afgewyk het nie.

Dit klink eenvoudig nie of daar ‘n fout met hierdie wonderlike gemeente was nie.

Maar die Here God het wel iets teen hulle. Sy laser-oë sien iets geweldig. Vers 4 > Dat hulle hulle eerste liefde verloor het. Dis nie ‘n apostel wat dit sê nie. Dis die Here self. Daarom is dit ernstig.

Uiterlik was hulle voluit aan die gang vir die Here, maar innerlik was die intensiteit van hulle liefde nie wat dit aan die begin was nie. Hulle geestelike lewe het meganies begin word. Dit was dodelik. Dis so goed soos ‘n man wat vir sy vrou sê: “Ek het jou nie meer so lief soos vroeër nie, maar moenie bekommerd wees nie, niks sal verander nie”. Dit grens aan absurditeit. Die Efesiërs sou vir die Here kon sê: “Here ons het U nie meer so lief soos aan die begin nie, maar moenie bekommerd wees nie, ons sal steeds kerkhou en preek en sing en bid en gee en glo en dwaalleraars uitsnuffel en regsien”.

Waarop die Here antwoord: “Om in ‘n verlossende verhouding met my te leef beteken om my lief te hê. Dis die kern van hierdie verhouding. Wie enigiets of enigiemand MEER liefhet as vir My, is My nie werd nie”.

DAAROM: Onthou en dink van watter hoë plek julle geval het en bekeer julle. Draai 180 grade om en wees wat julle in die begin was toe julle vir die eerste keer tot redding gekom het”.

Geestelike agteruitgang gebeur gewoonlik wanneer ‘n mens vergeet. Veral wanneer ‘n tweede of derde geslag in die kerk inkom. Die tradisie en uiterlike doenighede is nog op standaard, maar die intense innerlike liefde het verkoel.

DINK TERUG aan hoe dit aan die begin was toe die Here Jesus Christus in julle lewe ingestap het. Hoe brandende julle harte was, hoe julle die wêreld vir Hom wou wen, hoe julle die Bybel verslind het en hoe lekker gebed was, hoe graag julle saam met ander Christene wou wees. As dit nie meer so is nie, het julle verkoel. Bekeer julle dan. Anders gaan julle op die ou end niks hê nie. Niks.

Die Here sê vir die Efesiërs: As julle julle nie bekeer nie, gaan ek na julle toe kom en julle lamp van sy plek verwyder.”

Die “lamp” is ‘n simbool van die gemeente self. Die Here waarsku dus dat Hy die gemeente as sulks sal verwyder. Hy gaan die bestaan van die gemeente termineer.

Ons weet dat dit uiteindelik werklik gebeur het. Omtrent 1000jr later is die stad Efese verwoes en het tot niet gegaan. Sewentien eeuse opgrawings wys vir ons vandag waar Efese was. Vandag is Turkye ‘n Moslemland. Dis te tragies vir woorde.

Tog het die gemeente nog vir ‘n lang tyd bestaan. En dit was te danke aan die Here se wonderlike uitnodiging en belofte aan die einde van die brief:

UITNODIGING: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê”. Wat beteken: “Luister asseblief wat ek sê, want ek is bitter ernstig”.

BELOFTE: “Aan elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in die paradys van God is”.

Die boom van die lewe wat in die paradys van God is” is niks anders nie as die hemel. Dis die ewige bestemming van die mens wat uit die Heilige Gees wonderlik wedergebore is.

En die mens wat deur die wedergeboorte God se kind geword is, is die “oorwinnaar” van wie Jesus hier praat.

Dis nie sommige kinders van God wat oorwin AS hulle dit of dat doen nie. 1 Johannes 5 is baie duidelik daaroor dat wie ookal uit God gebore is, ‘n oorwinnaar IS! Dis net ‘n ander woord om ‘n Christus-gelowige te beskryf. Kind van God = oorwinnaar.

Wat die Here dus sê is: Maak seker dat jy werklik aan My behoort, want dan sal jy verseker in die Paradys wees. En maak seker dat jy nie jou eerste liefde verloor nie, want daarsonder is geen betekenisvolle verhouding met My moontlik nie.

 

Category Openbaring Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)