Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Skriflesing: Psalm 121
Tema: ’n Greintjie van God is genoeg

Die heel eerste man, wat in sy ruimteskip in ’n wentelbaan om die aarde was, was ’n Rus met die naam Yuri Gagarin.

Nadat hy veilig terug was op die aarde, was daar ’n personderhoud. Die verslaggewer vra toe vir Yuri Gagarin: “Het jy dalk vir God daar bo iewers gesien?” Yuri Gagarin het geantwoord: “Nee, ek het orals rondgekyk. Al wat ek gesien het, was onmeetlike ruimtes – ontelbare hemelliggame. Maar, ek het nie eens ’n greintjie van God iewers gesien nie.”

Dit is natuurlik baie moontlik om op só ’n manier te kyk en te sien wat Gagarin gesien het. Dit is tewens so eg menslik. Alle mense is van nature Juri Gagarins!

Jy kan met ’n IK van 180 haarfyn na die lewe kyk en elke detail intens & sekuur waarneem. Jy kan kennis van alles hê. Jy kan met arendsoë ALLES sien – behalwe die Here God. Só ’n manier van kyk/sien is tipies menslik. Dit is wat die Sondeval aan almal gedoen het. Dood in sonde (Efes 2). Dit lê in ons almal se gevalle wese en aard. Dit geld nie net vir Yuri Gagarin nie.

Ons almal het die ingebore neiging om te dink dat die SIGBARE die enigste waarheid en werklikheid is. Ons almal kan onsself vereenselwig met die bang-vraag waarmee Psalm 121 begin: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” AL wat ek sien, is die berge, die berge!

Selfs opregte en ware kinders van die Here is geneig om vas te kyk teen SIGBARE dinge en diep, diep innerlike te wonder OF die Here nie dalk geheel afwesig is nie. Ja, jy ervaar gewoon net nie die realiteit (werklikheid) van die lewende Christus nie.

Dit is seker een van die grootste vloeke wat die mensdom getref het – die ontsaglike belang wat SIGBARE dinge vir die mens het. Soveel so dat ons hele lewe gedomineer word deur die sigbare. En daarom is dit so ontsaglik moeilik om innerlik bevatlik te raak vir die ONSIGBARE dimensie. Dis asof die mens se hart afgestomp is. Want, ons geestelike oë is van nature totaal geslote. Geestelike realiteit is vaag en ver. Dit wat saakmaak is wat ek nou/hier kan sien/voel – wat ’n impak/ tasbare invloed op my lewe het. Die BERGE. Die BERGE. Die BERGE. WÁÁR sal my hulp vandaan kom?

Dit is die rede waarom iemand soos ESAU so maklik sy eersgeboortereg vir ’n bordjie lensiesop kon verruil. Die honger van die oomblik. Die reuk van die sop. Die geweldige belang van kos – OORHEERS die feit dat hy, as eersgeborene, dalk die MESSIAS kon voortbring (wat ’n onsigbare GELOOFsaak was).

Hoe dikwels verruil ’n mens nie jou eersgeboortereg vir ’n potjie sop nie. Die menslike hart sal GOD verruil vir die BERGE! Só klop die gevalle natuur van die mens – alle mense. Soos Psalm 106:20 vertel hoe Israel die heerlikheid van God verruil het vir die beeld van ‘n bees wat gras vreet.

Daarom klou ons so vas aan alles wat sigbaar is en verkies ons altyd die sigbare dinge BO die geestelike. Sal byvoorbeeld eerder vir ure aanlyn bly as om vir 15 minute God se Woord te lees. Behalwe as ek sterf, DAN verwag ek moet HY my met ope arms ontvang.

Onsigbare, geestelike, Goddelike, ewige realiteite voel vir ons vaag en ver. Berge en lensiesop en goue kallers is van fundamentele belang. Dit is die groot, magtige leuen waarmee die MEDIA ons elke dag bombardeer: Alles gaan net oor die hier en die nou.

In die proses is die satan self besig om mense in hul miljoene te mislei en te verlei. Dit is dieselfde misleiding waarmee hy na Jesus gekom het (Luk 4) – BROOD.

Hierteenoor die bevrydende waarheid van 2 Kor 4:18 waar iemand wat die HERE leer ken het, aan die woord is – Paulus die Apostel. En hy sê: “Ons kyk NIE na die dinge wat gesien kan word nie, maar ons kyk na die ONSIGBARE, want die sigbare is verbygaande, maar die onsigbare is en en bly vir ewig”. Hoe dom is dit dus om gefasineer te word met dinge wat in elk geval verbygaande is!

Psalm 121 = Pelgrimslied. Dit was deur die gelowiges gesing op reis na Jerusalem en die tempel. Eintlik is die “berge” rondom Jerusalem maar net heuwels in vergelyking met SA standaarde. Hoegenaamd nie te vergelyk met bv Tafelberg nie.

TOG was hierdie berge rondom Jerusalem berug vir sy gevare: glibberige draaitjies, gapende afgronde, plunderende struikrowers. Die heuwels was ook die plekke waar die AFGODE gedien is/ valse duiwelse altare. Jy kon heel maklik Godverlate voel in hierdie berge. Omring deur berge en boewe en gode.

Dis so eg menslik om jou blind te staar teen die BERGE.

Dalk is dit ’n realiteit in ons gemoed hier aan die begin van 2022 – en dit nadat ons ‘n moeilike 2020 en 2021 agter die blad het. Watter kant toe 2022 sal beur, weet ons gewoon nie. Baie, baie, baie mense moes geliefdes en vriende begrawe die afgelope twee jaar as gevolg van Covid19. Hoe sal 2022 wees, wonder ons.

Die aanbreek van die nuwe jaar bring maar altyd sy kwota kwellinge. Ons eie broosheid raak maklik sigbaar wanneer die jare wissel. Ons raak bewus van die verbygaande aard van hierdie lewe. ’n Mens wonder onwillekeurig of álmal wat hierdie afgelope Kersfees om die tafel was, weer daar gaan wees. ’n Mens wonder of jyself nog daar sal wees.

By die aanbreek van die nuwe jaar kan ons onsself so maklik blindstaar teen berge en lensiesop. Ons oë kan so maklik verblind word deur kwellinge/kruise/krisisse. Die realiteite rondom ons kan ons so maklik oorval. Die onsekerhede oor 2022 kan ons geestelik blinddoek.

Dit is dán dat ons voel: “Ag, net ’n greintjie van God sal vir my genoeg wees, dankie.” Juri Gagarin het nie eens ‘n greintjie van God gesien nie, maar vir MY …. selfs net ‘n greintjie sal vir my genoeg wees.

Die mag van geestelike stompheid en blindheid sit só diep in ons lewens, dat net God dit kan breek. Slegs HY kan ons oë oopmaak en ons die ONSIGBARE dinge wys. Dink u dit is moontlik??

Wel, in Psalm 121 gebeur dit regtig. En, dit gebeur nog steeds in Januarie 2022.

Daar vind ’n dramatiese ommeswaai in Ps 121 plaas.

Die digter kyk & sien die een oomblik die realiteit van die berge, maar die volgende oomblik kyk hy ook deur/oor die berge. Hy sien waaragtig IEMAND wat triomfeer oor die berge/onsekerhede/demone & gode/ons bange harte.

Hy sê: My hulp kom van die HERE.

Sien u die geloofsdeurbraak?

Wat die ommeswaai in Ps 121 nog meer dramaties maak is: Die digter sien die Here as Iemand wat Hom werklik inlaat by MENSE. Hy is verlossend NABY. Hy tree in ‘n verbond met mense wat dit glad nie werd is of waardig is nie. Die Immanuel van Kersfees. Beskermer van Israel. Hierdie woord BESKERMER is ’n sleutelwoord. Want dit beteken Hy is die Een wat verlossend NABY is. Soos ‘n skaduwee langs jou – jou skaduwee kan jy nooit verloor nie. Hy regeer nie vanuit die verte nie. “From a distance, He is watching us.”

’n Mens moet hierdie saak egter goed verstaan. ’n Mens moet verstaan hoe/op watter wyse die Here verlossend NABY is en op watter wyse Hy beskerm. NIE soos ’n mens ’n porseleinpoppie in watte toedraai en in ’n glaskassie sit nie. Die berge sink nie sommer in die aarde weg en verdwyn wanneer die Here beskerm nie. Die kruise verdwyn nie noodwendig soos mis voor die son nie. Ons kom nie altyd deur die krisis sonder letsels nie. Ons spring nie altyd die skermutselings met die struikrowers vry nie.

Wat beteken dit dan dat God beskerm? Watter waarde het dit?

Dit beteken: Hy is binne-in die krisis teenwoordig. Soos in die geval van Daniël se vriende wat in die vuuroond was. Die berge is rondom Jerusalem, maar God is in Sy tempel. Hy sluimer nie. Hy slaap nie. Hy is binne-in ons huise/kantore/kinderkamers/klaskamers/dodekamers/vrese/frustrasies/voorspoed/ondergang/blydskap/opwinding.

Om DIT te kan SIEN, is ’n geloofsdeurbraak wat die Heilige Gees in ons lewens kom skep. Nie WIL skep nie, maar SKEP. Dit veroorsaak ’n enorme ommeswaai in jou hele waarneming van alles.

Maarten Luther skryf oor Psalm 121 dat die Here in hierdie Psalm eintlik aan ons onmoontlike dinge beloof. Die mens se hart dink dit is ydele leuens, want WAAR is die Here se beskerming wanneer daar aan ons onreg gedoen word? Wanneer die duiwel ons uitput? Wanneer die Seun van God gekruisig word en Johannes die Doper onthoof word? Soos dit soms vir ons lyk, verontagsaam die Here ons soms.

Ja, so lyk/voel dit vir ons wanneer ons deur die gewone menslike fisiese oë kyk.

Maar die Heilige Gees kom skep in ons die vermoë om met geloofsoë te kyk. En dán sien jy wat dit eintlik beteken dat God beskerm. Dat Hy die Verbondsgod is wat IN jou krisisse teenwoordig is en Hom aan jou vasbind. Dán beleef jy dinge wat Yuri Gagarin nie beleef het nie. Natuurlik beleef jy jou af dae/ donker dae. Dikwels kan die sielevyand jou diep moeg maak. Elia wat onder ‘n besembos gesit het.

Tóg sien die gelowige mens dinge wat ander nie sien nie. Daar is geen ander manier om 2022 binne te gaan nie.

’n Sekere Amerikaner was ook op ’n ruimtereis. Ook ’n perskonferensie ná sy terugkeer. Ook die vraag: Het jy God iewers gesien?

En toe kom sy antwoord (in my eie woorde): “Nee, ek het nie vir God gesien nie. Maar dit was ook nie nodig nie. Voordat ek nog my ruimtepak aangetrek het en opgestyg het, HET ek Hom reeds gesien. Ek het Hom op aarde gesien. Ek het Hom gesien in Sy ywer om aarde toe te kom. Ek het Hom in ’n krip in Betlehem sien lê. Ek het Hom tussen ons mense sien loop/leef/lag/ly. Ek het Hom vasgespyker aan ’n kruis sien hang. Ja, ek het God gesien. Die volle God. Die ware God. Nie net ’n greintjie nie.”

God is so wonderlik in Jesus Christus – dat net ’n greintjie van Hom genoeg is om ons dwarsdeur te dra!

MAAR: IN JESUS CHRISTUS, ken ons nie net ’n greintjie van God nie. Die mens wat in Christus ingesluit is, ken nie net ‘n greintjie nie. Kolos 2:10 verklaar dat die Christus-gelowige alreeds die VOLHEID in Christus besit. Ja, dit is alreeds waar.

Mag 2022 vir u persoonlik en ook vir hierdie gemeente, ‘n jaar van die ware belewenis van die volheid in Christus wees. DIT kan ons nie self vermag nie, maar Hy kan! En op Hom is ons oog gehou en nie op die berge nie!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)