Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TERUGVOER OOR DIE AFGELOPE MORELETAPARKBERAAD EN ‘N OPSOMMING VAN SOMMIGE VAN DIE KERNPROBLEME BINNE DIE NG KERK – Praatjie gelewer te Tafelberg Gemeente (Dolerend) op Sondag 8 Maart 2020

Gaandeweg en oor jare heen, het daar ongemerk ‘n dodelike verskuiwing binne die NG kerk plaasgevind. ‘n Verskuiwing wat veroorsaak dat die NGK wat ons vandag het, nie meer die NGK is waarin ons grootgeword het nie.

Ja, die 2015 en 2019 Algemene Sinodes het inderdaad verklaar dat homoseksuele praktyke binne stabiele verhoudings (asook burgerlike verbintenisse) goed en reg is en die kerk se seën wegdra. Wat totaal in stryd is met die duidelike leer van die Skrif. Indien ‘n mens net die gewone beginsels van gesonde Skrifuitleg (eksegese) volg, soos om die grammatika van die teks te ontleed en die konteks en historiese agtergrond te verdiskonteer, is dit onmoontlik om by ‘n ander konklusie uit te kom dat die Skrif nie die Sinodebesluit steun nie. Dit het niks te make met ‘n sekere manier van hoe die Skrif gelees word nie. Gewone eksegetiese reëls – wat alle predikante geleer het – is al wat nodig is om die teks te verstaan. Indien nie, sou prediking opsigself onmoontlik wees.

MAAR: Daardie sinodebesluit is net die uitloper/vrug van ander dieperliggende dwalings wat rustig soos ‘n adder in die boesem van die kerk geakkommodeer word. Daardie Sinodebesluit het groot reaksie gesneller, ja dis waar – en nou lyk dit asof al die bohaai oor die homoseksualiteitkwessie gaan, maar dit is eintlik ‘n groot mistasting.

Dit is waarom ons kerkraad van die staanspoor af verklaar het dat die gemeente nié doleer primêr oor daardie Sinodebesluit nie, maar oor die algemene toestand en tendens van vervreemding van die Skrif wat oor jare heen in die NG kerk verdra word en wat dit onmoontlik maak vir ‘n individu of gemeente wat daaroor ernstig is om in die ortodokse, regsinnige leer te volhard, om met ‘n skoon gewete voor God binne hierdie kerkverband voort te gaan asof alles in orde is.

Vir sulke individue en gemeentes is dit ‘n kwessie van ‘n gewetenskrisis. Ons wil nie ‘n vreemde, nuwe mensuitgedinkte siening oor die Bybel – wat voorgee dat dit nog altyd die oortuiging van die kerk was, terwyl dit absoluut onwaar is – navolg nie. Ons wil nie ‘n vreemde, nuwe, mensuitgedinkte leer verkondig en omhels nie. Ons wil voortgaan – tot die einde toe – met die Bybel as onfeilbare Woord van God en die gereformeerde leer waarmee ons in die drie susterskerke grootgeword het. Ons wil nie die Bybel by die huidige kultuur aanpas nie. Ons wil die kultuur met die Bybel gaan beïnvloed!

Dit is wat ons met ons dolering helder en duidelik uitroep: NEE vir die nuwe, vreemde, mensgemaakte dinge wat net die wêreld ter wille wil wees en die post-moderne kultuur navolg en wat vandag in die NGK voorgehou word as die geloofsinhoude wat nog maar altyd aan die orde was – NEE vir dit en JA vir die Skrif en die regsinnige leer. Al moet ons uitgekryt word as fundamentalisties en bekrompe en onintellektueel, dan aanvaar ons daardie etikette as komplimente.

Watter nuwe, vreemde en mensuitgedinkte dinge word vandag in NG kringe verdra en word selfs in sommige besluite van Sinodes gereflekteer? Wat is die dinge wat skande en smaad op Christus werp? Gaan dit net oor verskillende maniere van om die Bybel te lees en te verstaan? Die een is so goed soos die ander? Hang maar net af waarby jy meer aanklank vind of met watter bril jy daarna kyk? Die een rigting sien dinge SO en die ander rigting sien dinge SO – terwyl almal nog steeds in dieselfde Jesus glo en eintlik steeds een is in Hom?

Beslis nie! Dit gaan oor twee totaal teenoorstaande en onversoenbare sienings van wat die Bybel in essensie is! En dit bring mee dat daar twee verskillende godsdienste aan die orde is – binne een kerk – onder die dekmantel van die EEN Christelike Geloof.

Dit is nie verskillende sienings oor homoseksualiteit wat die NG Kerk in twee skeur nie. Dit is nie verskillende sienings oor énigiets wat die NG kerk in twee skeur nie. Dit is ook nie verskillende maniere van die Bybel lees & verstaan wat die NG Kerk in twee skeur nie.

Wat die NG Kerk in twee skeur is twee teenoorstaande & onversoenbare sienings van wát die Skrif in essensie is!

Vir GROEP A is die Skrif God se onfeilbare openbaring van absolute waarheid aan die mens (die klassiek-gereformeerde siening). God se Woord in mensetaal.

Vir GROEP B is die Skrif mensewoorde oor God – ‘n nuttige geloofsdokument – die feilbare produk van antieke mense se vroom nadenke oor God.

Reeds in 2002 het die Algemene Sinode ‘n verslag oor Skrifgesag aanvaar waaruit dit duidelik blyk hoe die “menslike aandeel” in die totstandkoming van die Bybel op so ‘n manier beklemtoon word, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees op die agtergrond gedruk word.

Daarom dat daar (volgens die Sinode) “foute in die Bybel mag en behoort te wees”. Sinsnedes soos die volgende kom in die verslag voor: “gewone mensewoorde” > “menslike foute in die Bybel” > “volgens moderne standaarde voldoen die Bybel nie aan wetenskaplike eksaktheid nie” > “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie” > “eindelose voorbeelde van foute in die Bybel” > “As dit gaan oor eksakte historiese feitelikheid kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie” ensovoorts.

Hierdie tipe onderwaardering van wat die Bybel is, is ‘n teëlaarde vir liberale, progressiewe denke. Terwyl die klassiek-gereformeerde siening van wat die Bybel is, ‘n teëvoeter vir liberale, progressiewe denke is.

Die Bybel getuig oor homself dat hy God se onfeilbare openbaring van absolute waarheid aan die mens is – en dit laat nie ruimte vir vrysinnigheid en liberalisme nie. Om vir Koning Mens ter wille te kan wees, moet ‘n kerk eers sy siening oor wat die Bybel in essensie is, verander.

Mense vra soms waar hierdie dinge dan vandaan kom. Wat is nou makliker as om te aanvaar dat wat die Bybel oor homself sê, waar is? En toe te laat dat die Bybel oor jou heers. In plaas daarvan om met jou voete op die Bybel te staan. Die voete van jou logika en rede. En om die Bybel aanvaarbaar te probeer maak vir die post-moderne mens.

Wat ons noem Skrifkritiek of Hoërkritiek word vir dekades reeds in ons teologiese fakulteite omhels – veral in die vakke OT en NT. Dit kom uit die 17de eeu veral uit Europa en is beïnvloed deur die heersende filosofie van daardie tyd. Die doel was om ágter die bybelse teks in te kom en te kyk na historiese agtergronde en outeurskap van Bybelboeke – wat goed en reg is.

Die probleem is dat die Hoërkritiek ontspoor het deur die invloed van die sogenaamde 17-19de eeuse filosofiese rigting in Europa wat as die Verligting bekend staan – waar alles voor die menslike rede moes buig. Filosowe soos René Descarte, Baruch Spinoza, Immanuel Kant het die denke van die tyd beïnvloed en dit het die teologie in veral Duitsland diep geraak. Spinoza het byvoorbeeld gesê dat Goddelike openbaring in beginsel nie moontlik is nie.

Hoërkritiek het begin om die Bybel aan die menslike rede te onderwerp. Enigiets wat aan God se werk toegeskryf word soos die wonder van die skepping, wonderwerke as sulks, profesieë, Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding, hemelvaart, wederkoms – alles is bevraagteken. Profesieë is – volgens Skrifkritiek – geskryf nadat dit vervul is, nie vooraf nie, want dis nie moontlik om iets vooruit te sê nie. Wat die Bybel sê só is, kan onmoontlik nie so wees nie. Dit moet só wees – mits dit vir die mens se rede aanvaarbaar is. Indien die MENS toestemming daartoe gee, dan kan dit, anders kan dit nie.

Skrifkritiek beteken vandag dat die teoloog met sy menslike rede oor die Bybel oordeel en dit op alles wat menslik onmoontlik lyk, te bevraagteken.

‘n Kaapse predikant het net onlangs nog geskryf dat daar ‘n onafwendbare breuk is tussen mense in die NG Kerk wat: letterlik glo wat in die Bybel staan soos wat dit daar staan téénoor diegene wat progressief dink en byvoorbeeld: a) die 6 dae skepping verwerp en b) glo dat omtrent die hele OT eers ‘n paar honderd jaar voor Christus geskryf is en c) dat daar spanning is tussen Rut/Jona en Esra/Nehemia en d) in die NT spanning is tussen Paulus en Petrus en e) dat daar meer as een verlossingsverhaal in die NT is en f) dat die Bybel vol spanning is.

Hy sê dit is die progressiewe denkers (soos hyself) wat éíntlik die Bybel ernstig opneem en nie die behoudendes wat sommer net alles in die Bybel vir soetkoek opeet nie. Dit is immers die progressiewes wat die nuutste wetenskaplike navorsing aanvaar. Bedoelende die manier waarop die menslike rede met die Bybel klaarspeel en afreken met alles in die Bybel wat volgens die menslike rede nie werk nie.

Dit is ‘n voorbeeld van die effek wat die Hoërkritiek op hedendaagse predikante het omdat die teologiese fakulteite dit 100% omhels en studente se denke vir 6 jaar lank daarmee aangetas word.

Hierdie predikant sê dat indien almal nie op hierdie progressiewe pad gaan begin loop nie, daar geen kans is dat ons mekaar in die NG kerk sal vind nie. Dit wys dus hoe diep die skeuring is – en dit kom uit die mond van ‘n nie-behoudende!

Die kern van ons kritiek op die Hoërkritiek is dat dit dít wat die Bybel oor homself getuig (dit wat die Bybel self sê die Bybel is – naamlik die onfeilbare Woord van God), verwerp en iets in die plek daarvan stel wat vir die menslike rede en logika aanvaarbaar is. En so neem die mens God se plek. En dit is afgodery in sy wese. Dit is sonde in sy wese. ‘n Kerk in afgodery gedompel …

Dit alles lei daartoe dat twee verskillende Jesusse in die kerk verkondig word. Ek kry die gevoel dat daar binne die huidige NG Kerk twee verskillende Christusse verkondig word en twee verskillende geeste aan die werk is en twee verskillende evangelies aan die orde is. Ons weet dat dit inderdaad moontlik is (vgl 2 Kor 11:4; Gal 1:6). Uiteraard kan slegs één die waarheid wees. Die ander is vals. Dis onmoontlik dat twee teenoorstaandes beide as waarheid aanvaar kan word!

Om ‘n voorbeeld te noem: Die tipe Jesus wat net almal liefhet en almal in hulle sondes omhels, verwelkom en vashou en versigtig is om aanstoot te gee, is ‘n vals jesus. Die tipe universalistiese Jesus wat net “almal” se verlosser is, is ‘n vals jesus. Die tipe Jesus by wie gedooptes gered is en wie nie oor wedergeboorte, bekering, geloof en heiligheid praat nie, is ‘n vals jesus.

Dit is egter onmoontlik dat daar twee waarhede kan wees. Een is waar en die ander is vals. Die tegniek wat Sinodes volg om twee teenoorstaande sienings te aanvaar as moontlike “waarheid” en die gemeentes die reg te gee om te kies wat hulle dink die beste waarheid is, is niks anders nie as ontrouheid aan die Skrif.

Twyfel word ook oor kernwaarhede by lidmate gesaai.

‘n Scenario aangaande die toekoms van die NG Kerk het by ‘n onlangse Sinodevergadering gedien. Die opstellers voorsien ‘n toekoms waarin daar minder klem gelê sal word op Skrifgebondenheid: Die “vars lewensstroom van teologie, ‘n vernuwende leierskapsvorming wat die klem van die kerk op sorg en onselfsugtige spiritualiteit plaas, eerder as om skrifgebondenheid te beklemtoon” staan in die verslag.

‘n Paar jaar gelede het die persoonlike aard van die duiwel en demone by ‘n Algemene Sinode onder die loep gekom. Die uiteindelike Sinodebesluit was dat lidmate ‘n opsie het of hulle wil glo aan die persoonlike aard van die duiwel of nie.

Oor buite-egtelike saamwonery het die 2013 Algemene Sinode geoordeel dat dit iets goed is, maar tog wel net minder as ‘n huwelik. Kerklike en staatkundige aspekte ontbreek nog en lidmate word aangemoedig om dit in plek te kry. Hier sien ‘n mens reeds hoe die duidelike uitsprake van die Skrif onderspeel word en die heiligheid van die huwelik as instelling van God onderbeklemtoon word.

Oor Christus se maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding uit die dood, word daar gereeld uitsprake van teoloë gehoor wat dit vergeestelik of op een of ander manier herinterpreteer om uiteindelik te ontken dat dit werklik so plaasgevind het soos die Skrif leer. Dis ‘n baie ernstige saak, want kern Skrifwaarhede word hiermee ondermyn en verloën, maar die kerk laat dit toe sonder dat ‘n haan kraai.

Deesdae gebeur dit dikwels dat kettery soos die universalisme aangeprys word: die idee dat alle mense uiteindelik gered sal wees. Die idee dat alle mense by voorbaat reeds ingesluit is by God se genade. Almal is eintlik alreeds kinders van God – hulle moet dit nog net agterkom en begin glo. Van die vroegste tye af is die universalisme deur die kerk afgewys as kettery, maar in die NG kerk word dit vandag wyd verdra.

Samehangend daarmee hoor ons ook die dwaling dat gedooptes ook sonder meer kinders van God is. Verbondsoutomatisme was nog altyd in die gereformeerde tradisie as ‘n dwaling beskou. Gewoonlik steek dit kop uit wanneer daar ander dwaalleer aan die orde is, want dit bied ‘n veilige hawe vir vals leraars om in te skuil. Die onbekeerde voel hom/haarself veilig binne die idee dat “ek is tog ‘n gedoopte verbondskind.”

Iets wat in die jongste tyd erg opvlam – en wat seker die ernstigste kettery en dwaling is – is die verloëning van die eksklusiwiteit van Christus as enigste Verlosser en die Evangelieboodskap as enigste weg tot saligheid. Dis as gevolg hiervan wat die Moslems die Christene se “broers en susters” genoem word en hulle nie meer as sendingvoorwerpe gesien word nie, maar op ‘n manier mede-gelowiges is van wie ons net meer moet leer. Aanhangers van ander godsdienste kan dalk ook – onwetende – die Here Jesus ken. Hulle weet dit nog net nie. Ons mag oor niemand oordeel nie. Dalk het God Christusgelowiges in ander godsdienste. Hiermee word die Evangelieboodskap in sy kern verloën.

Die dekonstruksie en afbreek van die huwelik, gesin en geslagtelikheid is ‘n ontsettende gruwelike aangeleentheid. Transgenderisme word deur sommige beskou as gawe van God en as iets wat bestuur moet word, nie iets waarvan bekeer moet word nie. Dis ‘n aanslag van die bose wat binne die kerk vertroetel word. Die ware kerk van Christus mag onder geen omstandighede hieraan meedoen nie.

Om iets te verstaan van waar baie van hierdie dinge vandaan kom, moet ‘n mens iets besef van die sosiale & kulturele rewolusie waarin groot dele van die wêreld hom huidiglik bevind.

‘n Rewolusie is ‘n kulturele, filosofiese en sosiale opmars waarmee die mensdom besig is ten einde bepaalde ordes omgekeer te kry, maar op die mens se eie terme en voorwaardes, nie op God s’n nie.

Die Bybel – daarenteen – is waar God vir ons sê wat op Sy hart is en ‘n Christen en ‘n ware kerk is veronderstel om in die eerste en laaste plek dáárop te vertrou en nie om vasgevang te word binne die tentakels van ‘n kulturele rewolusie nie.

Die Christen moet dus kies tussen God se openbaring in Sy Woord of die waardes van humanistiese rewolusie. Die kerk mag nie die twee vermeng nie.

Die huidige rewolusie promoveer humanistiese waardes wat baie mooi (en selfs bybels) klink. Byvoorbeeld GELYKHEID EN GEREGTIGHEID. Gelykheid LYK of dit geregtigheid voortbring.

Maar in die Skrif vind ons nie die tipe gelykheid wat deur ons samelewing besing word nie. Hoofsaaklik omdat die Bybel beheers word deur God se soewereine keuse wat dikwels sommiges uitsluit. Sy keuse vir sekere mense om sekere take te verrig byvoorbeeld. Sy keuse van een stam bo ‘n ander. Sy keuse vir die jonger broer bo die ouer broer (Jakob en Esau). Sy keuse vir een nasie bo ‘n ander. Sy keuse dat die manlike geslag sekere rolle in kerk en huwelik het wat die vroulike geslag nie het nie en die vroulike geslag sekere rolle het wat die manlike geslag nie het nie.

Volgens menslike logika lyk God se keuses op die oog af nie altyd billik en in lyn met moderne standaarde van gelykheid nie, maar omdat ons Sy openbaring eerste stel, leef ons daarmee saam en gehoorsaam Hom.

Die eerste eis wat die kulturele rewolusie aan kerke stel is om die feminisme ‘n staanplek te gee en vroue in die kerklike ampte aan te stel en hulle leraars in gemeentes te maak. Dit moet geskied op die basis van gelykheid en geregtigheid soos die kulturele humanistiese rewolusie dit wil, maar nie noodwendig soos die Skrif dit wil nie.

In die NT sien ons ‘n baie fyn rolverdeling tussen manlik en vroulik – iets wat op God se oorspronklike skeppingsordening gebou is.

Jesus kom byvoorbeeld om vir God as VADER te openbaar. God as moeder, sou ‘n ander godsdiens impliseer – dit kán gewoon nie! Die NT plaas nooit vroulike rolle in manlike rolle – of andersom – nie. Dit kan nie rondgeskuif word na menslike willekeur nie. Maar dis die invloed van die kulturele rewolusie in die kerk: Neem gelykheid as jou basis en modifieër ‘n bietjie die rolle van man en vrou soos die NT dit leer, want in die Bybel lyk dit allesbehalwe soos gelykheid en geregtigheid. Die kerk moet dit eenvoudig máák volgens wat die mensdom dit wil hê. En pas net jou interpretasie van die Bybel daarby aan en siedaar!!

Wat ons nie besef nie, is dat hierdie aanpassings God se openbaring in die Skrif onherkenbaar verander.

Wat eintlik daaragter sit, is die feminisme. En die feminisme kom diep vanuit die kulturele rewolusie.

Feminisme sit met ‘n groot ongemak en onverdraagsaamheid teenoor patriargie – die prominensie van die manlike. Patriargie is ‘n vloekwoord binne die kulturele rewolusie. Dis waarom die VADERWEES van God onaanvaarbaar is binne hierdie klimaat. Vader, Seun en Heilige Gees word deesdae in sommige kringe verander na “Skepper, verlosser, onderhouer.” Net om van die manlikheid binne die Godheid ontslae te raak.

By twee van die NG kerk se teologiese fakulteite het sekere dosente die studente onlangs aangeraai (volgens van die studente se eie getuienis) om nie – wanneer hulle eendag predikante is – die doop te gaan bedien in die Naam van Vader, Seun en Heilige Gees nie, maar in naam van iets soos “liefde, vrede en vriendskap” (UP) of “Skepper, liefhebber en vriend” (UV) – enigiets – net nie Vader, Seun en Gees nie. Terwyl NGB Artikel 29 uitdruklik sê dat dit die vals kerk is wat nie die sakramente bedien soos God dit ingestel het nie.

U sien hoe gelykheid die hoogste waarde van die kulturele rewolusie is. Geregtigheid kan nie geskied indien die geslagte funksioneer soos die Skrif dit beskryf nie. Nee, die mens self moet hieroor besluit. Die mens moet ook self kan besluit watter geslag hy/sy wil wees.

Lees ons egter Romeine 1 vanaf vers 18, sien ons dat hoe verder ‘n kultuur en samelewing wegbeweeg van God na afgodery toe, hoe meer vind daar ‘n geestelike, sielkundige en seksuele verwarring plaas en mense verruil natuurlike, Godgeskape geslagtelikheid vir ‘n verskeidenheid van alternatiewe – wat niks anders is nie as ‘n vrug van hulle afgodery.

Volgens die Apostel Paulus, moet hierdie tendens deur Christus se ware kerk weerstaan word en moet daar teruggekeer word na die paradigma wat God in die Skepping gegee het en soos Christus dit verlos het.

Alles begin dus by feminisme wat geregtigheid en gelykheid en inklusiwiteit wil bring tussen die geslagte. Wat mooi klink. Maar sodra gelykheid die hoof filosofiese gedagte geword het – en alles wat die Skrif helder en duidelik leer, herinterpreteer – dan beweeg dit voort na relatiwisme – waar waarheid nie meer absoluut is nie. Van relatiwisme beweeg dit na homoseksuele huwelike en transgenderisme en alle godsdienste wat op gelyke vlak geag moet word. Die rewolusie duld geen diskriminasie teen enigiets nie. Behalwe teen die non-intellektuele Bybelgelowiges wat dit teenstaan.

Die invloed van die kulturele en sosiale rewolusie op die NG Kerk het veroorsaak dat daar nou twee soorte Christelike Gelowe in een kerk gekom het. Twee godsdienste het ontstaan, wat onversoenbaar is. Die keuse is tussen rewolusie (om die Skrif deur die bril van die rewolusie te lees) of Skrif (om die rewolusie deur die bril van die Skrif te lees). Daar is geen versoening tussen die twee moontlik nie.

Mense wat nie die nodige kennis het nie, kan meesal nie die verskil hoor nie en eet alles wat predikante sê vir soetkoek op. Want dit klink so reg en goed en mooi. “Solank ons dominee net uit die Bybel preek en die regte goed doen en sê..”

Wat hulle nie besef nie, is dat die kulturele rewolusie die taal van die Skrif gebruik om hulle aantreklike boodskap van goeie sosiale waardes soos gelykheid, geen diskriminasie, geregtigheid en inklusiwiteit in toe te draai – maar dit is ver verwyder van die outentieke Christelike Geloof.

Die gedagte van gelykheid stoot onvermydelik relatiwisme op die voorgrond – die onwilligheid om te sê dat een waarde beter is as ‘n ander een. Deesdae hoor ons dikwels dat dit arrogansie is om uit die Skrif te sê: “So sê die Here”. Dis arrogant om uit die Skrif die waarheid te spreek – so hoor ons dit van die kant van die post-moderne progressiewes.

Relatiwisme verwyder egter die kerk van die ware Christus wat sê dat HY ALLEEN die weg, die waarheid en die lewe is en dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie! Dit plaas Jesus op dieselfde vlak as ander godsdienstige figure. Dis presies wat deesdae in NG kringe geduld word.

Wat op sommige plekke in die NG Kerk gebeur, is dat die DNA van die Bybelse Apostoliese kerk – soos dit in die Skrif beskryf word – na die DNA van die sosiale rewolusie verander word. Gebeur dit, dan moet eietydse mensgemaakte reëls gemaak word wat aan die voorkeure van die kulturele rewolusie voldoen – en daardie reëls moet voortdurend verander word soos wat die tye verander. Want môre is daar weer ‘n ander wêreldse tendens aan die orde, wat ander voorkeure het. Dan moet die kerk weer die Bybel deur dáárdie lens lees.

Hoe het ons op hierdie plek gekom?

Alle vingers wys na denkpatrone by die Teologiese Fakulteite. Teoloë gaan nie onaangeraak deur die filosofiese strominge van hulle tyd nie. Post-modernisme het ‘n geweldige invloed. Teologie word as ‘n wetenskap aan universiteite bedryf en God is nie wetenskaplik kontroleerbaar nie. Die teoloë sit in ‘n verleentheid met die Bybel – soos wat die Bybel homself aanbied. Die sekulêre humanistiese wetenskap kan vir God nêrens inpas nie. En ook nie Sy Woord nie. So gebeur dit dan dat sommige teoloë met nuwe idees vorendag kom oor God en die Bybel. Hulle wil darem ook as wetenskaplikes by die Universiteit bekendstaan.

Prof Cas Wepener, hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, skryf op 9 Feb 2019 in Beeld:

“Wanneer studente by die universiteit aankom, het hulle gewoonlik ’n bestaande en reeds gevestigde verstaan en oortuigings oor die Bybel. ’n Tipe Sondagskool-teologie. Tussen hulle eerste en derde jaar, gebeur een van twee goed met die studente. Vir ’n klompie tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies”.

Hierdie soort verklarings laat blyk hierdie geleerdes se gewetenloosheid oor gelowige studente wat uit hulle “bestaande sekerhede” losgeruk word.

Dit word bevestig deur die getuienis van ‘n voormalige teologiestudent van Stellenbosch, ene Paul Fouché: “Ek het teologie op Stellenbosch studeer. Ons was 16 in my eerste jaar en net 4 het BTh klaargemaak. 5 het ateïste geword. Ek self het nie verder studeer om my M. Div te voltooi nie. Dit wat ons by die kweekskool geleer het, breek jou geloof af tot niks, en maak godsdiens ʼn wetenskap” (Opmerking by ‘n berig op Netwerk 24 – datum onbekend).

Die tragiese werklikheid is nou: Ons is lankal nie meer een kerk nie!

Ons is inherent op verskillende paaie. Ons is in ons harte verdeeld oor kern geloofswaarhede. Die probleem kan nie met gesprekke opgelos word nie, want die basisvertrekpunt verskil: Twee verskillende sienings van wat die Bybel in essensie is en twee verskillende godsdienste wat mekaar nie kan vind nie.

So iets kan nie uitgefasiliteer word nie. Jesus sê ‘n huis wat verdeeld is kan nie staande bly nie. Daar is nie ‘n manier waarop ons mekaar kan vind nie. Enige gesprek met mekaar oor belangrike sake loop uit op frustrasie en rusie.

Ons harte het reeds uitmekaar gegaan. Ons moet maar net ‘n manier vind om ons in nuwe strukture te hergroepeer, waar ons tuis voel en saam die Here kan dien. Juis daaroor het die pas afgelope Beraad by Moreletapark Gemeente gegaan.

Die kerkraad van Tafelberg Gemeente (Dolerend) het my na die Beraad gestuur en dit was inderdaad ‘n voorreg om daar te wees asook ‘n bemoediging om 450 mense te sien wat opreg besorg is oor die verskeurdheid binne die NG Kerk en na oplossings soek om die verskeurdheid te bestuur sonder om die Waarheid van die Woord van God te kompromiteer. Gemeentes en leraars wat vir die waarheid opstaan en stry, voel soms geïsoleerd en moedeloos, maar die Beraad het gehelp dat ons kon sien dat daar vele ander is wat dieselfde stryd stry en dat ons hande kan vat.

‘n Paneel kundiges waaronder Dr Tokkie Ernst, Di Theo Danzfuss en Helgard J van Rensburg het voorgegaan. Kerkbode verwys neerhalend na hulle as “kundiges” maar die waarheid is dat hierdie persone onkreukbaar die Bybel as onfeilbare Woord van God bely en die Drie Formuliere van Eenheid heelhartig onderskryf asook oor besondere kennis en kundigheid beskik.

Die Beraad het gou besef dat ‘n eenduidige oplossing nie so eenvoudig is nie en dat opvolgvergaderings en voortdurende gesprek nodig sal wees. Die kerklike strukture en hiërargiese sinodale kerkregeringstelsel maak oplossings baie moeilik.

Hier is ‘n kort opsomming van die gevolgtrekkings waartoe daar voorlopig gekom is:

1 > Die kern van die krisis is dat die Algemene Sinode in ‘n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif as God se onfeilbare openbaring in gedrang begin kom het en daar groot verskille oor Skrifverstaan ontstaan het. Daarby is daar ook ‘n afwyking van die gereformeerde leer en belydenis. ‘n Kunsmatige strukturele eenheid hou tans die kerk bymekaar, maar in werklikheid is die kerk deur dwaalleer verskeur en is die vraag of daar ‘n manier is om terug te keer na ware eenheid in leer en belydenis. Skrifbehoudendes sit wesenlik met ‘n gewetenskrisis voor God omdat hulle steeds deel is van ‘n kerkverband wat die pad van die Skrif verlaat het.

2 > ‘n “Niks doen” opsie is onaanvaarbaar. Om maar net te sit en kyk wat gebeur, is ‘n mees oneerbare opsie.

3 > Die aanvaarding van die 2019 Sinodebesluite is net so onaanvaarbaar. Dit sou daarop neerkom om vals kerk te wees soos Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dit stel: “die vals kerk skryf aan homself en sy eie besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God..”

4 > ‘n Afbrekende, afkrakende gesindheid jeens die NG Kerk is ewe eens onaanvaarbaar.

5 > Om die kerk te verlaat en na ‘n ander kerk te gaan is moontlik, maar sou ‘n laaste uitweg wees.

6 > Daar bestaan genoeg regsgronde om die 2019 besluit in die hof ongeldig te laat verklaar. Tog is dit nie die manier waarop ons kerklike geskille oplos nie (1 Kor 6:7)

7 > Gemeentes en ringe word aangemoedig om te doleer, hoewel dit opsigself nie veel sukses waarborg nie. Dit lei nie regtig tot reformasie nie en hou gemeentes steeds gebind aan die Algemene Sinode. Dolering moet eerder saamgaan met ander aksies – soos hieronder genoem. Indien fondse (sinodale aanslag) van streeksinodes weerhou word, moet dit nie as ‘n strafmaatreël gesien word nie, maar om te wys dat funksionering binne die verhouding nie meer moontlik is soos wat dit voorheen was nie.

8 > Kerkorde Artikel 37 – Sinodes. Artikel 37 laat streeksinodes toe om hulle band met die Algemene Sinode los te maak met behoud van naam en alle regte en voorregte. Dit is hoe die NG Kerk voor 1962 gefunksioneer het, want die Algemene Sinode het eers in daardie jaar totstandgekom. Gemeentes en ringe van ander sinodes sou dan hulle kon gaan voeg by Artikel 37-Sinodes. ‘n Artikel 37 Sinode breek nie bande met die NGK nie en is ook nie ‘n nuwe kerk nie, maar breek slegs bande met die Algemene Sinode en is dus nie meer onderworpe aan die AS se besluite nie. Die probleem is dat die besluit om die band met die Algemene Sinode los te maak by elke streeksinode self berus. Goudland het reeds misluk om die besluit te neem. Of Oostelike Sinode dit in April gaan regkry, weet ons nie. Dit lyk onwaarskynlik dat ander sinodes dit sou oorweeg. Kerkrade en ringe kan egter aan hulle streeksinodes versoeke rig om so gou moontlik uit te tree uit die Algemene Sinodale verband.

9 > Gemeentes en ringe word aangemoedig om leergeskille/dispuut met die Algemene Sinode te verklaar. Goudland Sinode het dit reeds gedoen. Kerkrade en ringe kan dit egter ook doen. Individue kan dit ook doen. Hoe meer geskille verklaar word, hoe groter is die kans dat die Algemene Sinode daadwerklik daaraan aandag gee. Gesprek is egter byna ‘n onmoontlikheid omdat Sinodaalgesindes nie bereid is om toegewings te maak nie en slegs daarop ingestel is om almal aan hulle kant te kry of om behoudendes sodanig te paai dat hulle bereid sou word om met Sinodebesluite saam te leef. Gesprek is dus by voorbaat ‘n doodloopstraat.

10 > Gemeentes en ringe word ook aangemoedig om alternatiewe kerkverbande en netwerke te vorm wat bo-oor die huidige struktuur loop. Op grond van Artikel 72 van die NG Kerk se Tussenorde is so iets moontlik. Die Tussenorde was geskep as oorgangsmaatreël om eenheid met die Verenigende Gereformeerde Kerk te bespoedig en dit kerkordelik moontlik te maak vir NG ringe en VGK ringe om alternatiewe verbande te skep terwyl die NG Kerk en VGK nog nie amptelik verenig het nie. Dieselfde Tussenorde sou egter gebruik kon word vir Skrifbehoudende gemeentes en ringe om met mekaar in verband te tree en alternatiewe ringe en selfs ‘n 12de sinode te vorm. Die volle kerkregtelike implikasies hiervan moet egter nog ondersoek word.

MY PERSOONLIKE INDRUK: Ten diepste toe hou die onbybelse strukture van die hiërargiese sinodale kerkregeringstelsel gemeentes wat aan die Woord gehoorsaam wil wees, in ‘n skaakmat posisie. En die Sinodaalgesindes weet dit maar te goed. Hulle steur hulle min aan dolerende gemeentes. Hulle weet dat – selfs al breek sommige sinodes hul band met die Algemene Sinode, daar so ‘n groot persentasie Sinodaalgesindes binne elke sinode is, dat die besluit gou weer omgekeer kan word of dat die stryd binne so ‘n sinode ewiglik sal voortduur.

Hulle weet ook dat geen gemeente in staat is om uit die kerkverband te tree nie, want daarvoor is die toestemming van elke ingeskrewe lidmaat nodig. En in elke gemeente is daar lidmate wat nie sal meegaan nie.

Die opsie om volgens die Tussenorde alternatiewe verbande te skep, lyk belowend, maar is nie uitvoerbaar alvorens alle moontlike kerkregtelike implikasies ondersoek is nie.

Indien dit moontlik is, sou Tafelberg (Dolerend) met gemeentes X, Y en Z – wat waar ookal in die land is – ‘n nuwe ring kon vorm op grond van eenheid in leer en belydenis en dieselfde Skrifbeskouing. Die praktiese moeites hieraan verbonde (soos afstande) is deel van die prys wat gehoorsame dissipelskap in elk geval van alle Christene vereis.

Een van die grootste probleme is en bly dat gemeentelede nie altyd die erns van die saak verstaan nie en dus nie aangevuur voel om deel te wees van oplossings nie. Meeste lidmate is blykbaar min bekommerd oor wat in die kerkverband aangaan – solank hulle net in hulle gemeente gelukkig is. En wanneer daar gestem moet word oor watter kant toe ‘n gemeente moet beweeg, stem hulle daarteen – op grond van sentiment of tradisie en nie omdat dit oor trou aan die Waarheid gaan nie.

Hopelik kon hierdie praatjie meer van diesulkes ‘n besef laat ontwikkel van die erns van die saak en hoe laat dit reeds geword het.

Ten slotte: Sinodaalgesindes beskuldig behoudendes dat dit hulle is wat die NG Kerk skeur. Maar wat leer die Skrif?

“Pasop vir diegene wat verdeeldheid veroorsaak en mense afvallig maak van die leer wat julle van ons apostels ontvang het. Bly weg van hulle af. Hulle dien nie Christus ons Here nie, maar mislei liggelowiges met vleitaal en mooipraatjies.” (Romeine 16:17-18)

Diegene wat die kerk skeur is hulle wat afwyk van die apostoliese leer en nie hulle wat daaroor ernstig is om by die ware leer te bly en waarskuwings laat hoor nie!

Vraag: Is Skrifbehoudendes in die meerderheid in die NG Kerk?

Die antwoord is nie so eenvoudig nie omdat daar ‘n groot middelgroep is wat nie regtig kleur wys nie. Die bogenoemde sake is nie vir hulle belangrik genoeg dat hulle bereid is om daaroor standpunt in te neem nie. Hoe groot die middelgroep is, weet ons nie. Ons kan egter nie op hulle reken nie.

Die Sinodaalgesindes/progressiewes lyk tans of hulle die meerderheid het. Veral onder jonger predikante en teoloë. Hulle is baie goed georganiseerd en hulle beheers meeste strukture en kanale soos byvoorbeeld die voortgesette teologiese opleiding wat predikante moet doen. Hulle is goed met mekaar geskakel op sosiale media groepe ensovoorts. Al drie teologiese fakulteite staan voluit aan die kant van die progressiewes.

Dit lyk dus nie of Skrifbehoudendes veel van ‘n kans het nie. Ons hoop is egter in God self, want Hy SAL ‘n getroue oorblyfsel bewaar. Al is daardie oorblyfsel hoe klein. Dis die almag en trou van God waarop ons hoop gevestig is.

Dr Chris Saayman
Leraar: Tafelberg Gemeente (Dolerend)

Category NG Kerk: Wortelskade

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew