Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Matteus 26-reeks No 3
Tema: Simon Petrus
Skrif: Matteus 26: 26-35, 69-75


As daar één gedeelte in die Bybel is wat ons altyd weer verkeerd-om wil verstaan, is dit sekerlik híérdie een: Petrus wat vir Jesus verloën.

Gewoonlik dink ons soos volg: “Petrus het vreeslik laag gedaal, maar gelukkig was hy darem moreel-geestelik goed genoeg om berou te kon hê. Hy was gelukkig net daardie tikkie beter mens as Judas. Die boodskap vir óns: Ons moet hard probeer om nie te doen wat Petrus gedoen het nie. En indien ons wel faal, moet ons ook probeer berou hê soos Petrus gehad het.”


Indien ons egter van naderby na die Skrif self gaan kyk, maak ons die verrassende ontdekking dat die Bybel op ’n heel ánder manier oor Petrus praat. Ek wil u nooi om vanoggend hierdie ontdekking saam met my mee te maak.

Die groot ding wat ons moet ontdek is dat dit in Petrus se dade éíntlik oor Jesus se groot dade gaan. En, dat Jesus se groot dade vir Petrus hoop gee en ook vir ons hoop gee. Kyk of u dit saam met my kan raaksien en daaroor opgewonde raak.

Dalk sou u nooit kon dink dat ’n mens opgewonde kan raak oor ’n gedeelte soos Petrus-se-verloëning-van-Jesus nie. Nooit! Dis mos ’n neerdrukkende gedeelte oor sonde en mislukking. Dis mos ’n gedeelte wat ’n mens laat inmekaarkrimp van skuldgevoelens. Ja, natuurlik gaan dit oor sonde en mislukking. Maar kyk net mooi en sien raak wat éintlik daar gebeur.


Dit wat voorop staan, is nie Petrus-se-verloëning nie. Wat voorop staan is die manier waarop Jesus – nog
voordat Sy dissipels faal (Ja! ALMAL van hulle en nie nét Petrus nie) – vooruit voorsorg tref om hulle uiteindelik almal te behou – al hét hulle totaal gefaal. Petrus se uiteindelike herstel, was te danke aan die voorsorg wat Jesus getref het nog voordat Petrus geval het!! Kom ons sien stap-vir-stap hoe dit gebeur het.


Toe Jesus en Sy dissipels die pasgamaal eet, die Donderdagaand voor Sy kruisiging, skep Hy letterlik ‘n splinternuwe feesmaal. Voor hulle oë gee Hy aan die Pasgamaal ‘n splinternuwe betekenis. Hy vervul die Pasga in Homself!

So teen die einde van die ete, neem Jesus die ongesuurde brood en die wyn en Hy maak daarvan tekens van Sy eie sterwe: “Sien julle hoe breek Ek hierdie brood en hoe skink Ek hierdie wyn? Só is die paaslammetjie gebreek & geslag en só het die lammetjie se bloed gevloei. Só – soos die brood breek en die wyn vloei. Só sal My liggaam gebreek word en My bloed vloei. Dít is die éintlike betekenis van die destydse uitredding van die volk uit Egipte en duisende jare se pasgafeeste. Dit het alles na Mý vooruit gewys. En dit sal nóú, hierdie nag nog, vervul word. Dan sal My bloed finaal gestort word. Daarom is die brood & wyn nie meer bloedtekens nie. Daarom geen geslagte paaslam meer nie. Tóg sal julle nog steeds die Paaslam eet. Want deur die brood & wyn eet julle Mý– die Paaslam. Hierdie brood ís my liggaam en die wyn ís my bloed.”


Sien u hoe géé Jesus letterlik Homself met die brood & wyn aan Sy mense – tot in hulle binneste – deur die brood & wyn wat hulle eet en drink en insluk. Dit beteken nie dat die brood letterlik die fisiese Christus is/word soos wat die RKK glo nie. Die brood word nie verander om Jesus se vlees te word nie. Wanneer Jesus sê: “Dit IS my liggaam”, sit Hy liggaamlik by hulle aan tafel. Die brood is nie Sy liggaam nie, dit is gewone brood, maar tog ís dit Sy liggaam. Wat beteken dit? Dit is ‘n teken van Sy gebreekte liggaam, net soos wat Kaapstad op ‘n landkaart Kaapstad IS!

Die VERBOND wat deur Jesus se bloed verseël is, waarvan Hy in vers 28 praat, is die verbinding/permanente verhouding met God wat herstel is. Die VERBOND is God se kontrak waarmee Hy Homself aan mense – wat nie aan Hom verbind wil wees nie en wat dit glad nie verdien om aan Hom verbind te wees nie – verbind. Hy verbind Hom aan Sy vyande en Hy versoen hulle sondes deur Sy eie bloed te gee en sodoende wen Hy hulle harte sodat hulle in ‘n verhouding (verbind) met Hom kan/wil leef tot in ewigheid.

Maar kan u sien: hierdie verbinding kan nie realiseer sonder ‘n offer nie, want die mens se skuld versper die pad. En die offer neem die skuld weg. Daarom Hebr 9:22 – sonder bloedvergieting geen vergifnis.

Kyk ook na die twee wonderlike versekerings wat ‘n mens nie moet miskyk nie.

Jesus sê in vers 28 dat Sy bloed vir “baie” vergiet word. Nie vir min nie. Ook nie vir almal nie. Wel vir baie. Soos Hy in Joh 10:11 sê: “Die goeie Herder lê Sy lewe af spesifiek vir die skape.

U sien: Jesus se bloed het ‘n spesifieke groep mense met 100% sekerheid met die Vader versoen: die gelowiges, die wat tot ware geloof sou kom. Die skape. Díé mense wie die Vader voor die grondlegging van die wêreld aan Sy Seun gegee het (Joh 17:2). Húlle is op die kruis verlos en versoen.

Is dit nie ‘n onbeskryflike wete dat – indien ek ‘n Christus-gelowige is – ek mag weet dat my versoening-met-God tot in ewigheid nooit sal misluk nie, want dit is nie iets wat EK in stand moet hou nie. Ék is ingesluit by die “baie” vir wie Jesus na die kruis gegaan het. Hy het nie sommer so in die algemeen vir alle mense gesterf en kyk nou maar wie lus is om dit te wil aanvaar nie. Nee – Hy het met voorbedagte rade vir MY (al die skape) met die Vader versoen. Dit is ‘n voldonge feit. Dis vas. Dis waar. Dis ewig. Dis onvernietigbaar.

Geen wonder dat Jesus – daardie Donderdagaand – met soveel sekerheid ook reeds oor die toekoms kon praat nie. “Júlle gaan die nuwe wyn saam met My drink in die koninkryk van My Vader.” Hy verwys na die ewige saamwees op die nuwe aarde. Maar kyk na die verbysterende sekerheid waarmee die Here praat. Hy koppel daardie kringetjie van elf mensies met die verre toekoms. Daardie eerste nagmaalsaand bepaal die verste toekoms.

En dit is & bly die sekerheid wat die Here tot vandag gee wanneer Hy die brood & wyn laat uitdeel: “Niks kan julle van My skei nie. En niks kan julle van mekaar skei nie.” Tot ons sáám die nuwe wyn sal drink – op die nuwe aarde. Kan u sien waarmee versterk Jesus alreeds vir Petrus nog voordat hy Hom kon verloën?

Net ná die Pasgamaal en nádat Jesus die Nagmaal ingestel het en almal vol goeie moed ’n lofsang gesing het (26:30), kom Jesus se volgende woorde egter soos ’n emmer koue water in hulle gesig:

Julle álmal (nie net Petrus nie) gaan My vannag nog in die steek laat. Binne enkele ure. Soos die Gees eeue tevore deur Sagaria voorspel het: ‘Die Herder sal deur God doodgemaak word en die skape uitmekaar gejaag word.’ Maar, Ek gaan uit die dood opgewek word en dan sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

Jesus sê: “Omdat julle nie verstaan dat/waarom Ek moet ly & sterf nie, gaan julle almal My in die steek laat en sodoende gaan julle júís My lyding bevorder. Tog gaan My lyding – wat julle My aandoen – juis julle verkeerdheid & sonde & onversoendheid met God regmaak. En dit sal alles volgens die Skrif (die OT) gebeur. Dit móét gebeur, want die Skrif sê so. Maar kyk! Julle sal nie in wanhoop verval nie. Want Ek sal deur die Vader uit die dood opgewek word en sal julle vooruitgaan na Galilea.”


Sien u hoe Jesus – met Sy woorde/beloftes – voorsorg tref vir wat nog
gaan gebeur! “Al gaan julle totaal verval en faal, kondig Ek nou reeds julle oorwinning aan! Ek doen dit. Ek sal dit doen. Ek sal My dissipels wat My loslaat nie loslaat nie! Ek gee vir julle selfs ’n WAGWOORD sodat – wanneer Ek uit die dood opgestaan het – julle sal weet dat dit regtig Ék is. Die wagwoord is: GALILEA. Volgende week, ná My opstanding, sal ’n klompie vroue daarvan getuies wees en húlle sal weer die woord GALILEA gebruik. Dan sal julle weet hulle getuienis eg is – wanneer julle hoor hulle praat van GALILEA.”

Hoor u Wie beheers die hele proses? Nie Petrus in sy swakheid nie, maar Jesus, wat vooruit weet dat Sy skape binnekort sonder Herder sal ronddwaal, maar dan magtiglik vooruit sorg dat hulle uiteindelik déúr hulle verwarring gelei sal word. En Hý sal voor stap. Vóórdat die dissipels vlug en val, beskerm Jesus hulle reeds teen die wanhoop daarná. En hoe beskerm Hy hulle vooraf? Met beloftewoorde.

’n Mens wonder onwillekeurig: Hoe sal die dissipels nou op hierdie woorde reageer? Petrus reageer onmiddelik. Maar, toe hy sy mond oopmaak om te praat, begin hy onmiddelik Jesus se woorde vervul. Juis wat hy nie wil doen nie, doen hy. Hy sê: “al sal húlle almal U in die steek laat – ék sal dit nooit doen nie. Ek sal eerder saam met U sterf.”

U sien – dit klink vroom en Petrus het dit ongetwyfeld opreg bedoel, maar eintlik verhard hy hom teen Jesus se woorde. Sy verloëning van Jesus begin eintlik alreeds hier – hier waar hy op sy eie kragte en toewyding vertrou om staande te bly – en hom erg aan Jesus se woorde.

En toe sê Jesus: “Jy wat voorloop in vroomheid, jy sal voorloop wanneer almal begin aanstoot neem. Binne slegs enkele ure sal jy My 3 maal verloën.”

Jesus kón dit só vlymskerp radikaal stel, want onthou: Hy het reeds voorsorg getref. Hy het reeds Petrus se herstel beloof. Hy het reeds beloof dat die pad nie afgebreek sal word nie – dat opstanding op die sterwe sál volg. Daarom kon Hy skerp en reguit oor sonde praat.

Daar is min plekke in die Bybel, waar ’n mens jou eie onbeskryflike swakheid & broosheid so diep raaksien, as juis in Petrus se optrede daardie nag toe Jesus voor die Joodse Raad verskyn het. Let op: Dit was slegs enkele ure nadat Petrus vurig verklaar het hoe hý bereid is om saam met Jesus te sterf. Slegs enkele ure. Toe tuimel Petrus se kragtige “commitment” ineen. En onthou: Ál die dissipels het gevlug. Dus: hierdie inherente swakheid kleef aan almal. Ook aan my. Ook aan ú.

Dit is ’n fatale misverstand om te dink ons kan onsself “by die Here hou” d.m.v. ons keuses/inspanning/besluite/toewyding/berou/trane. Petrus het gedink dat hý baie toegewyd aan Jesus is. Dat hy ’n diepgeestelike gelowige is. Maar, toe die geringste teenstand kom, toe stort die kaartehuis van sy toewyding, inmekaar. Hy moes eers later besef dat wat hom eintlik staande gehou het nie sý toewyding-aan-Jesus was nie, maar Jesus-se-toewyding-aan-hóm. Jesus se belofte van herstel – nog voor Petrus se val – het hom gered.

Het Jesus dan nie in Lukas 22:31 vir Petrus gesê: “Simon, Simon, satan het vurig begeer om jou soos koring te sif, maar Ek het vir jou gebid” nie? Nie Petrus se beloftes aan Jesus nie. Maar Jesus se belofte aan hom. Nie Petrus se gebede nie, maar Jesus se gebede. Juis die einste lyding & sterwe van Jesus – wat Petrus nie verstaan het nie – was sy redding en behoud.

U sien: Die wáre “keuse-vir-Jesus” & “toewyding-aan-Jesus” is om te fokus op Sy keuse vir jou/ Sy belofte aan jou/ Sy lyding en dood wat jou van die helse straf gered het. Ons kies-vir-Jesus is om vas te klem aan Sy keuse vir ons – wat Hy met Sy eie bloed beseël het.

Maar, ’n mens moet eers jou eie ellendige swakheid leer ken voordat jy hierdie dinge regtig begin verstaan. Jy moet eers die totale ontoereikendheid van jou eie godsdienstigheid leer ken, voordat jy leer om op Christus se verdienste ALLEEN te vertrou.

En waar leer ’n mens jou eie ontoereikendheid beter ken as om vir Petrus dop te hou? Dit is byna menslik-ondenkbaar dat Petrus, slegs enkele ure ná sy vurige liefdesverklaring aan Jesus EN nadat Jesus vir hom gesê het dat hy Hom sal verloën, letterlik oopoë in die gevaarsone instap en Hom gaan verloën. En dit terwyl daar geen dwang op hom toegepas was nie. Geen gevaar. Geen mishandeling. Selfs toe die haan die eerste keer kraai ná die éérste verloëning (volgens Markus 14: 68), ruk dit hom nie tot stilstand nie. Jesus se woorde van enkele ure tevore kom nie in sy gedagtes op nie! Hy word wel ’n bietjie onrustig, want hy verlaat die binnehof en gaan na die voorportaal toe. Maar, toe hy dáár wéér ontken dat hy iets met Jesus te make het, bly hy net daar in die voorportaal staan. U sien: dit gaan al hoe makliker – en erger. Want die derde keer ontken hy met eedswering en vervloekinge dat hy Jesus ken.

Op daardie moment gebruik die Here die tweede hanekraai om Jesus se woorde skielik tot Petrus se gemoed te laat deurbreek. Jesus draai om en kyk vir Petrus. Skielik besef hy dat hy presies dít gedoen het wat hy ’n paar uur te vore ontken het ooit sal gebeur! Skaamte en verdriet oorval hom. Nie wanhoop nie. Want hy word gedra deur die woorde-van-voorsorg wat Jesus hom tevore gegee het. Maar wel skaam-verdriet en berou. Berou omdat die Here hom eintlik al vergewe het nog voordat hy gesondig het. Die opstanding was mos al ‘n feit nog voordat die kruisiging plaasgevind het. Jesus sál mos vir Petrus vooruitgaan na Galilea! Daarom kon hy berou hê en vergewe word.

Hoe wonderlik dat die krisisse in ons lewens – wat onssélf veroorsaak – nie die einde van die Here se heerskappy in ons lewens beteken nie. Telkens hoor ons weer: “Ek gaan vooruit. Ek kry jou aan die anderkant. Anderkant jou duistere probleem. Anderkant jou stryd en smart. Selfs anderkant jou dood.”

Category Matteus 26 Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew