Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Kolossense-reeks No 9: Prentjie en versekering
Kolos 2: 11-12

Dit is seker moontlik om ure lank oor hierdie twee verse te praat, want dit vat die hele Bybel se boodskap saam en dit wys vir ons hoe ‘n mens die verhouding (kontinuïteit) tussen die OT en NT moet verstaan. Dit praat ook baie diepsinniglik oor wat met elke Christus-gelowige mens in Christus gebeur het en wat die gelowige se geestelike posisie in Christus behels.

Vir die doeleindes van hierdie boodskap sal ons egter probeer om net kortliks die betekenis van die twee verse te ontgin.

Vers 11 begin met die woorde IN HOM. ‘n Sleutelbegrip wat telkens in die NT voorkom is: IN CHRISTUS. Oftewel: VERBONDE met Christus. Dit beteken gewoon: INGESLUIT by Christus. Dit is hoegenaamd nie van alle mense waar nie, maar wel van alle mense wat die evangelieboodskap tot redding omhels en vertrou. Almal wat vir Jesus as Verlosser en Here ontvang het. HULLE is IN Christus. Hulle is deur die Vader – voor die skepping reeds – gekies en ingesluit by Christus se kruisdood en opstanding. Toe Jesus gesterf het en opgestaan het, was hulle reeds verbonde aan Hom – al was hulle op daardie tydstip nog nie gebore nie. En wanneer hulle gedurende hulle aardse lewe en iewers in hulle lewensgeskiedenis tot bekering & geloof kom en hulle geloofsvertroue op Jesus oorplaas, word hierdie verbondenheid met Christus in hulle lewe – wat uit God se oogpunt reeds sedert Jesus se kruisiging, maar eintlik van voor die skepping reeds bestaan – ‘n persoonlike subjektiewe realiteit.

Ons moet in gedagte hou dat die Christus-gelowiges in die gemeente van Kolosse nie Jode was nie. Hulle was hoofsaaklik Grieke – dus nie-Jode. Hulle het Christene geword vanuit die heidense nie-Joodse nasies (“gentiles”). Hulle was dus nie voorheen as kinders besny nie. Hulle was ONBESNEDE wat die LIGGAAM betref. En hulle was ook nie besny nadat hulle tot bekering en geloof gekom het nie. Die belangrike Jerusalemse kerkvergadering – waarvan Handelinge 15 vertel – het immers besluit dat die besnydenis nie verder nodig is nie. Christus se bloedvloeiing het die bloedvloeiing van die besnydenis vir eens en vir altyd beeïndig.

Daar was egter dwaalleraars in die omgewing wat invloed op die Kolossense uitgeoefen het. Dis juis een van die redes waarom die Apostel Paulus aan hulle hierdie brief skryf – om hulle teen die dwaalleraars te waarsku en vir hulle te onderrig in die waarheid.

Een van die goed waarmee die dwaalleraars die Kolossense verwar het, was met die besnydenis. Die dwaalleraars was van mening dat ‘n mens nie net op Christus se kruisredding moes vertrou tot verlossing nie, maar dat jy OOK gehoorsaam moes wees aan sekere OT-voorskrifte. Daar was dus sekere PLUSSE by Christus. PLUSSE van goed uit die OT-tyd wat nog nagekom moes word om WERKLIKE egte-regte Christene te wees – goed wat nagekom moes word om werklik geestelik te kan groei. Soos byvoorbeeld om die Saterdag-Sabbat te onderhou en die besnydenis toe te pas. Hierdie goed moes gedoen word om God se guns te verseker en om nie geestelik dalk uit te sak nie.

Nou kan ‘n mens presies verstaan waarom Paulus in verse 11-12 sê wat hy sê. Want in Paulus se teologie was die VOLHEID (dit is: volle versoening met God, volle vergifnis van sonde, volle toegang tot God) in Jesus alleen geleë SONDER enige verdere OT-voorskrifte wat die gelowige (hetsy Jood of nie-Jood) moet nakom – vir aanvaarding by God.

Die Apostel sê dus vir die Kolossense: “Ouens, hierdie storie van die besnydenis wat julle ook nog moet onderhou om in God se goeie boekies te bly, is sommer ‘n klomp nonsens. Laat ek vir julle verduidelik presies waar die besnydenis in die hele legkaart van die Woord inpas en hoe dit werk. Dan sal julle verstaan waarom julle rustig van die dwaalleraars se prediking kan vergeet.”

Kom ons kyk nou stukkie-vir-stukkie daarna:

1 Die Christus-gelowiges in Kolosse was nooit liggaamlik besny nie, want hulle was nie Jode nie. Hulle het vanuit die nie-Jodendom tot redding in Christus gekom. Die dwaalleraars het egter vir hulle gesê hulle moet besny word om REGTIGE volwaardige Christene te wees. Die Apostel Paulus sê vir hulle hulle hoef glad nie besny te word nie, want 1) hulle is deur die geloof IN Christus en 2) hulle is met water gedoop. Met ander woorde: Deur gedoop te wees en deur op Christus te hoop BESIT HULLE alreeds alles waarvan die besnydenis in die OT-tyd gepraat het! In die NT sê & beteken die doop en deur-die-geloof-in-Christus-wees ALLES wat die besnydenis en geloof in God se beloftes in die OT gesê & beteken het. Dit is die sin waarin die doop in die besnydenis se plek gekom het – die inhoudelike. Die betekenis van die besnydenis is nou in die doop geleë!

2 Waarvan het die besnydenis in die OT gepraat?

Wel, die besnydenis was twee goed: Dit was ‘n PRENTJIE (teken) van iets en dit was ‘n VERSEKERING (waarborg) van iets anders.

Waarvan was dit ‘n prentjie/tekeninkie EN waarvan was dit ‘n versekering?

Dit was ‘n prentjie van ‘n nuwe geestelike hart. En dit was ‘n versekering van die reggestel-wees met God (geregtigheid) wat die persoon sou kry indien die persoon tot bekering & geloof sou kom.

Die besnydenis het vooraf (van babatjiedag af) aan die OT-persoon die prentjie en die versekering gegee wat verklaar en sê: “Wanneer jy tot bekering & geloof kom, sal jy ‘n nuwe hart kry en jy sal 100% reggestel wees met God – oftewel in die regte verhouding met Hom staan. Vrygespreek van jou sondes”.

Terwyl die outjie nog net 8 dae oud is en vir die res van sy lewe sê & verseker sy besnydenis vir hom: “Haai, ek sê & ek verseker jou dat wanneer jy tot geloof kom, jy ‘n nuwe hart van God sal ontvang en jy sal met Hom reggestel wees.”

Makliker gestel: Die OT seuntjies is op 8 dae besny. (Die dogtertjies kon uiteraard nie besny word nie, maar dieselfde seën het hulle ook toegekom omdat manlikes vroulikes verteenwoordig het. So ook in die volwasse lewe is die vroue by die mans ingereken). Op daardie jong ouderdom kon hulle nog nie glo en bekeer nie en kon hulle dus nie nuwe harte kry en met God reggestel word nie.

Maar die besnydenis was vir hulle lank vooraf 1) ‘n prentjie van die nuwe geestelike hart wat hulle sou ontvang wanneer hulle tot bekering en geloof sou kom en 2) ‘n versekering dat hulle met God perfek REGGESTEL sou wees (vrygespreek – soos in ‘n hof: reggestelde verhouding tot God) wanneer hulle tot bekering en geloof sou kom.

Tussen hakies: Indien ‘n besnedene nooit tot bekering en geloof sou kom nie en in daardie toestand sou sterf (soos die geval was met derduisende van die Godsvolk), sou hy NIE ‘n nuwe hart hê nie en nie reggestel wees met God nie. Dan sou sy besnydenis teen hom getuig en ‘n teken van oordeel word.

Waar is die Skrifbewyse dat hierdie prentjie en versekering die betekenis van die besnydenis was?

A Dat dit ‘n prentjie van ‘n nuwe hart was = Deut 10:16 en Jeremia 4:4.

B Dat dit ‘n versekering was van (geregtigheid) reggestel wees met God = Romeine 4:11.

3 Paulus sê nou vir die gelowiges in Kolosse: Julle hoef op geen manier julle koppe te breek oor die besnydenis nie, want julle het alreeds beide die betekenisse (prentjie en versekering) van die besnydenis in/deur julle geloof in Christus en die waterdoop ontvang. Die betekenis van die besnydenis word net so in die doop vervat.

Want die doop bevestig aan julle presies dit wat die besnydenis bevestig het naamlik: die volle verlossing wat julle in Jesus se dood en opstanding deelagtig word wanneer julle tot bekering en geloof kom. En julle HET tot bekering en geloof gekom. Dus IS julle nou ingesluit by Sy dood, Sy begrafnis en Sy opstanding. Dus IS julle saam met Hom begrawe en saam met Hom opgewek. Dus HET julle nou nuwe geestelike harte. En dis presies wat julle doop aan julle betuig. So waarom wil julle nog besny word? Dis onnodig man! Vergeet dit. Vergeet wat die dwaalleraars vir julle kom vertel het.

4 Die besnydenis was ‘n handeling wat met mensehande verrig is. ‘n Stukkie vlees is deur iemand anders met ‘n mes afgesny. Maar dit was net ‘n prentjie van ‘n ANDER soort besnydenis wat moes plaasvind: CHRISTUS se besnydenis – wat glad nie deur mensehande verrig word nie, want dit is innerlik, in die hart, in die menslike gees. Dit word deur die HEILIGE GEES verrig. En dit behels nie die afsny van ‘n stukkie vlees nie. Dit behels ‘n geestelike hartoorplanting: Die hele pakket van sonde en sondige natuur word afgesny! Die hele verdorwe menswees in Adam word afgesny. Dis ‘n geestelike besnydenis!

Dit beteken nie dat die gelowige prakties nou sondeloos is en nie meer in staat is tot sonde nie. Dit beteken dat die sondige natuur (in die geval van die gelowige) in beginsel IN CHRISTUS afgesny is en op die Nuwe Aarde finaal verwyder sal wees.

5 Van ELKE mens wat waarlik IN CHRISTUS is, IS die volgende drie verbysterende realiteite alreeds waar:

1) Die sondige verdorwe gevalle mens is in beginsel reeds dood en verwyder
2) die sondige natuur en menswees IS saam met Christus gekruisig en is dus dood
3) Saam met Christus se opstanding het daar ‘n nuwe menswees opgestaan wat vir ewig sal bly.

6 Wat vir die kind van God oorbly, is om daagliks VANUIT hierdie realiteite te lewe. OMDAT my sondige oue mens saam met Christus gesterf het, MOET ek myself doodreken vir sonde. Romeine 6 spel dit in soveel woorde uit. Ek hoef dus nie te sondig nie. Ek hoef nie aan versoekings toe te gee nie. Ek KAN in oorwinning leef. Nie deur op my tande te kners en te probeer nie, maar deur die Here se Woord & die getuienis van my doop te vertrou wat vir my sê DAT ek 2000jr gelede saam met Christus gesterf het (ingesluit) en dat my sondige natuur IN CHRISTUS afgesny is en dat ek ‘n NUWE MENS saam met Christus is!

Dis die manier hoe ‘n Christen elke dag oorwinnend leef.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Kolossense Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew